350px|duimnael|regs|Doksisiklien
Doksisiklien is 'n breëspektrum-antibiotikum wat in die groep tetrasikliene val. Dit word gebruik in die behandeling van infeksies wat deur bakterieë en sekere parasiete veroorsaak word. Doksisiklien word gereeld gebruik vir die behandeling van bakteriële longontsteking, aknee, chlamydia-infeksies, Lyme-siekte, cholera, tifus en sifilis. Dit word ook gebruik om malaria te voorkom, en in kombinasie met kinien, om malaria te behandel. Doksisiklien kan per mond of deur inspuiting in 'n aar geneem word.
Algemene newe-effekte sluit in diarree, naarheid, braking en 'n verhoogde risiko vir sonbrand. Gebruik na die eerste trimester van swangerskap of by jong kinders kan lei tot verkleuring van die tande. Die gebruik daarvan tydens borsvoeding is waarskynlik veilig. Soos ander agente van die tetrasiklienklas, vertraag doksisiklien bakteriese voortplanting of dood dit deur proteïenproduksie te inhibeer. Dit maak malaria dood deur die apikoplast, 'n plastiede organel, aan te val.
Doksisiklien is in 1957 gepatenteer en het in 1967 in kommersiële gebruik gekom. Dit is op die lys van noodsaaklike medisyne van die Wêreldgesondheidsorganisasie. Verskeie handelsmerke is in die mark beskikbaar, aangesien die oorspronklike patentreg reeds 'n geruime tyd verval het en dit ook as generiese medisyne beskikbaar is.
Verwysings
Kategorie:Antibiotika Kategorie:Wêreldgesondheidsorganisasie se essensiële medisynelys