duimnael|Die FAAM BAe 146 styg op 14 Julie 2014 op. Die FAAM-luglaboratorium was ’n atmosfeerwetenskapnavorsingsfasiliteit wat van 2004 tot 2026 bedryf is. Die vliegtuig was op die Cranfield-universiteit se kampus langs die Cranfield-lughawe in Bedfordshire in Engeland gebaseer. Die laboratorium is in 2001 by wyse van samewerking tussen die Meteorologiese Kantoor van die Verenigde Koninkryk en die Natural Environment Research Council (NERC) gestig. Die bedrywighede van die FAAM-luglaboratorium is op 31 Maart 2026 gestaak.

Waarom die vliegtuig aan diens onttrek is Die Verenigde Koninkryk (VK) se enigste atmosfeernavorsingsvliegtuig, ’n hoogs gemodifiseerde BAe 146-300, is aan diens onttrek nadat die Natural Environment Research Council (NERC) aangekondig het dat hy die befondsing vir die Fasiliteit vir Lug- Atmosferiese Metings (FAAM)-program gaan beëindig. NERC het gesê dat die besluit geneem is nadat ’n strategiese hersiening tot die gevolgtrekking gekom het dat die vliegtuig weens stygende bedryfskoste en geprojekteerde lae gebruik nie meer waarde vir geld bied nie. Die beëindiging van die program sal na verwagting bykans £32 miljoen gedurende die huidige bestedingoorsigtydperk bespaar. Befondsing gaan eerder aan ontluikende navorsingstegnologieë toegewys word, insluitende onbemande vliegtuigstelsels, afstandopsporingstoerusting en grondgebaseerde vermoëns.

Die Nasionale Sentrum vir Atmosferiese Wetenskap het bevestig dat die FAAM-luglaboratorium formeel gesluit is en dat alle bedrywighede op 31 Maart 2026 gestaak is nadat die UKRI-NERC-befondsing onttrek is.

Werk wat die FAAM-vliegtuig gedoen het Die British Aerospace 146-300 met die registrasienommer G-LUXE is sedert 2001 deur die Natural Environment Research Council (NERC) befonds en deur die Nasionale Sentrum vir Atmosferiese Wetenskap (NCAS) as deel van sy Fasiliteit vir Lug- Atmosferiese Meting (FAAM)-projek bedryf.

FAAM is in Augustus 2001 deur NERC, die Meteorologiese Kantoor van die Verenigde Koninkryk (VK) en die universiteitsgemeenskap in die VK gestig om ’n toetsbed vir atmosferiese navorsing te verskaf. Die BAe 146 het by ’n ander vliegtuig oorgeneem.

Die vliegtuig word deur Airtask Group bedryf, wat by die Exeter-lughawe in Devon in die VK gebaseer is, en word deur UK Research and Innovation (UKRI) besit.

Die primêre doel van die vliegtuig ingevolge die FAAM-program die afgelope 25 jaar was om luggebaseerde atmosferiese navorsing te doen, klimaatstudies uit te voer en atmosferiese besoedeling te meet.

Die grootste deel van die vliegure is gebruik om UKRI-befondsde navorsingprojekte te lewer. Die enigste ander wesenlike gebruik van die FAAM-vliegtuig was deur ’n vennootskap met die VK se Meteorologiese Kantoor, wat in 2024 geëindig het.

Die vliegtuig het meer as 10000 uur op missies in 30 lande gevlieg en het meer as 120 VK- en internasionale wetenskapprojekte ondersteun. Hierdie werk het die volgende ingesluit: die monitering van vulkaniese uitbarstings, die insameling van data oor lugbesoedeling en die onderneming van die VK se eerste volhoubarelugvaartbrandstof-eksperiment.

Hierdie gedeelte is op Aerospace Global News gegrond.

Geskiedenis van die FAAM-vliegtuig Die vliegtuig wat deur FAAM as luglaboratorium gebruik is, was die eerste Model 146 wat deur British Aerospace gebou is. Die tuig het die lewe as ’n Reeks 100 met die konstruksienommer E1001 begin. Sy eerste vlug was op 3 September 1981 en hy is op 23 Maart 1981 as G-SSSH op naam van British Aerospace geregistreer. Sy laaste vlug as Reeks 100 was op 7 Augustus 1986. Daarna is hy rondom 1 April 1987 in die Reeks 300-prototipe omskep.

As Reeks 300 het die vliegtuig die nuwe konstruksienommer E3001 gekry en sy eerste vlug op 1 Mei 1987 voltooi. Sy tydelike registrasie op naam van British Aerospace was G-5-300, maar hy is op 9 April 1987 as G-LUXE geherregistreer.

Tot op hierdie punt is die vliegtuig as ’n demonstrasiemodel deur British Aerospace gebruik. Hy is in Desember 2001 by Woodford gestoor en is daarna deur FAAM vir lug- atmosferiese opmetings gebruik.

Vanaf Mei 2004 is G-LUXE namens die Facility for Airborne Atmospheric Measurements (FAAM) deur Airtask Group bedryf (tot April 2014 van British Aerospace gebruikhuur). Airtask Group het die tuig in Junie 2004 in gebruik geneem. Die vliegmasjien is vanaf April 2014 van die Natural Environment Research Council (NERC) gebruikhuur. Die vliegtuig is vanaf Augustus 2016 namens FAAM Airborne Laboratory deur Airtask Group bedryf en is sedert Augustus 2025 geparkeer.

Die inligting wat hierbo verstrek word, is op die volgende drie bronne gegrond:

Inligting oor die foto's

Foto 1: Die British Aerospace 146-100-demonstrasievliegtuig met die registrasienommer G-SSSH in September 1981. Die vliegtuig se konstruksienommer was in hierdie stadium E1001.

Foto 2: Die BAe 146-300 as G-LUXE by Farnborough in die Verenigde Koninkryk vertoon in September 1988. Teen hierdie tyd het die masjien die konstruksienommer E3001 gehad.

Foto 3: G-LUXE van FAAM lewer op 9 Julie 2012 tydens die Royal International Air Tattoo (RIAT) ’n vertoning.

Foto 4: Die volgende kan op die vliegtuig op 18 Julie 2024 gesien word (van voor tot agter): die naam en logo van Airtask Group, “Atmospheric Research Aircraft”, die name en logo’s van BAE Systems, die Met Office en UKRI/die Natural Environment Research Council. Dit is die name van instansies wat by die ontwerp en bedryf van die vliegtuig betrokke was.

Verwysings