Julián Alvarez (gebore 31 Januarie 2000) is ’n Argentynse professionele sokkerspeler wat as ’n aanvaller speel vir Atlético Madrid in La Liga en vir die Argentynse nasionale span.
Alvarez het sy sokkerloopbaan in sy geboorteland Argentinië begin, waar hy ’n jeugspeler by River Plate was. Hy het in 2018 sy debuut vir die eerste span gemaak. Daar het hy vier seisoene gespeel en die Copa Argentina, die Copa Libertadores in 2018, en die Argentynse Primera División in 2021 gewen, waar hy ook die topdoelskieter was. Hy is in 2021 aangewys as Suid-Amerikaanse Sokkerspeler van die Jaar.
In 2022 het Manchester City hom onderteken. In sy eerste seisoen het hy ’n “treble” gewen: die Premier League, die FA Cup en die UEFA Champions League. In 2024 het hy na Atlético Madrid vertrek in ’n klubrekord-oordrag van tot €95 miljoen.
Álvarez het voorheen vir Argentinië op verskeie jeugvlakke gespeel, insluitend by die FIFA Onder-20 Wêreldbeker. Hy het in 2021 sy debuut vir die senior nasionale span gemaak en was deel van die spanne wat die Copa América in 2021, die Finalissima in 2022, die Wêreldbeker in 2022, en die Copa América in 2024 gewen het.
Verwysings
Kategorie:Argentynse sokkerspelers Kategorie:Geboortes in 2000 Kategorie:Lewende mense