Die Klara Majola-sage is ‘n aandoenlike verhaal van moed, onverskrokkenheid en veral selfopoffering deur ‘n agtjarige meisie. Daarom is Klara ‘n merkwaardige karakter in die Afrikaanse folklore (volksoorlewering).

Geskiedenis Klara Majola (die noemnaam van Violet Jansen) was die middelste van die drie kinders van April Majola Jansen (bynaam Lemmie) en Maria Jansen (bynaam Agnes). Hulle het op die plaas Die Eike in die Agter-Witzenberg van Ernst van Dyk gewoon. Aanvanklik was Lemmie 'n skaapskeerder en ook werksaam in die vrugteboorde. Stadigaan het Lemmie so swaksiende geword dat sy werk tot die oppas van sy kinders en die versamel van brandhout beperk is. Agnes het die vrou van die plaaseienaar met die huishouding bygestaan.

Hierdie deel van die Koue Bokkeveld is bekend om sy besondere koue winters met reën, sneeu en soms selfs ys. Einde Julie 1950 was daar weer so ‘n koue periode. Die brandhout in die huis het opgeraak en Lemmie het uitgegaan om nog takke te versamel. Hy bly lank weg en toe Agnes tuiskom, is hy nog nie terug nie. Klara gaan soek hom. Na ‘n rukkie kom Lemmie tuis en raak die huisgenote bekommerd oor waar Klara dan is. ‘n Soekgeselskap onder leiding van die plaasbestuurder Martin du Preez gaan soek Klara tydens die sneeustorm wat woed. By ‘n stroompie met gladde klippe tref hulle die lyk van die verkluimde Klara aan. Sy het klaarblyklik verdwaal, gegly en geval.

Gedenktekens Op die grafsteen van Klara in die plaaskerkhof staan die datums 14 April 1942 – 27 Julie 1950. Voor die Togryersmuseums in Ceres is ‘n bronsbeeld wat Klara uitbeeld. Dit is deur Pieter de Villiers geskep en op 26 Augustus 2023 onthul. Hierdie verhaal van Klara Majola is die onderwerp van verhale, gedigte en liedere deur onder andere D.J. Opperman, Dana Snyman en Stef Bos.

Bibliografie https://ceresmuseum.co.za/main/history/klara-majola/ https://maroelamedia.co.za/leefstyl/goeie-nuus/beeld-van-brawe-klara-majola-onthul/ https://www.onsknk.co.za/Businesses/SeeDo/klara-majola-gedenkteken/3456

Kategorie:Monumente en gedenkwaardighede in Suid-Afrika