Fort Knokke was een van ‘n reeks verdedigingswerke wat Tafelbaai en die Kaapse Vlek (Kaapstad) teen vyandelike aanvalle moes beskerm.

Agtergrond Weens die destydse geïsoleerde geografiese ligging van die Kaap het dit sedert die stigting van die verversingspos lank nog die karakter van ‘n militêre buitepos behou. Die fortifikasies is telkemale tydens die vele oorloë in die 17de en 18de eeu vermeerder en verbeter om vyandige amfibiese landings te verhoed, te keer dat vyandelike skepe naby genoeg aan die kus kom om die vestiging te bombardeeer en die ankerplek te beskerm. Daarby was die nedersetting ook kwesbaar en ‘n maklike teiken vir kanonne van ‘n moontlike vyand op Seinheuwel, Kloofnek en die berghange van Tafelberg. Die Kasteel die Goeie Hoop het boonop ‘n swak strategiese ligging gehad.

Skanse, vestings ‘n Netwerk van forte, wagposte en battery is rondom Tafelbaai gebou. Baron Van Imhoff het opdrag gegee dat die verdediging baie versterk moet word met die oprigting van onder andere die Zeelinie. Hierdie ry fortjies sou verdediging teen landings op die strand bied van oos van die Kasteel tot by Fort Knokke aan die mond van die Soutrivier. In 1781 is ook nog die Franse Linie deur die Franse soldate van die Pondicherry-regiment opgerig. Dit het gestrek van Fort Knokke aan die strand tot by Roodebloem aan die laer hange van Duiwelspiek om die Kaap teen ‘n aanval oor land uit die rigting van Valsbaai te beskerm. Na die aanbou van verdere batterye, skanse en vestings was daar ‘n halfmaan van vestingwerke van die mond van die Soutrivier tot by Kampsbaai en Houtbaai.

Fort Knokke Dit was ‘n klein stervormige vesting van grond en messelklei en is gebou deur soldate en slawe. Die hoeksteen van die fortjie, kruithuis en waghuisies is op 24 Oktober 1743 gelê. VOC-kommissaris Abraham Josias Sluysken, kol. Robert Jacob Gordon, kol. Gilquin en die militêre ingenieurs het nie ‘n hoë dunk van hierdie en die ander vestingwerke gehad nie. In 1827 is die Zeelyn met uitsondering van Fort Knokke afgebreek. Hierdie fortjie is juis gemoderniseer. Maar dit moes in die 1960’s wyk vir die uitbreiding en modernisering van die Kaapstad-stasie.

Waghuisie Een van die waghuisies het egter behoue gebly en staan voor die ingang van die Suid-Afrikaanse Museum in die Kompanjiestuin. Die huisie weeg 14 ton.

Naam Waarom Fort Knokke sy naam gekry het, kan nie meer agterhaal word nie. Die Nederlandse woord knokken beteken vuisslaan. In België is daar ‘n strandoord met die naam Knokke.

Persone kol. Philippus Hermanus Gilquin was as genie-offisier aktief in die jare 1786 tot 1792 baron Gustaaf Willem van Imhoff (*Leer, Wes-Friesland, in die moderne Duitsland, 8 Augustus 1705 - †Batavia, 1 November 1750), goewerneur-generaal van Nederlands-Indië

Lees ook Amsterdam-battery Chavonnes-battery

Bibliografie Burman, Jose: The Cape of Good Intent. Kaapstad: Human & Rousseau, 1969 de Wet, Con en Leon Hattingh en Jan Visagie (reds.): Die VOC aan die Kaap, 1652 – 1795. Pretoria: Protea, 2016. ISBN 978-1-4853-0019-9 Green, Lawrence G.: Grow lovely, growing old. The story of Cape Town’s three centuries – the streets, the houses, the characters, the legends, traditions and folklores, the laughter and tears. Kaapstad: Howard B. Timmins, 1951 Oberholster, J.J.: Die historiese monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Kultuurstigting Rembrandt van Rijn vir die Raad vir Nasionale Gedenkwaardighede, 1972.

Kategorie:Forte in Suid-Afrika Kategorie:Monumente en gedenkwaardighede in Suid-Afrika Kategorie:VOC