thumb|250px|Die veranderlike ster V838 Monocerotis, vergesel van 'n ligeggo, is al verkeerdelik uitgebeeld as 'n naderende planeet of bruindwerg in 'n botsingsbaan met die Aarde.
Die Nibiru-ramp is 'n veronderstelde rampspoedige botsing of amperbotsing tussen die Aarde en 'n groot planetêre voorwerp wat volgens sekere groepe in die 21ste eeu sal plaasvind. Mense wat in dié oordeelsdagvoorval glo, verwys gewoonlik na die voorwerp as "Nibiru" of "Planeet X".
Die idee is in 1995 die eerste keer opgehaal deur Nancy Lieder, stigter van die webtuiste ZetaTalk. Lieder beweer sy is 'n kontakpersoon met die vermoë om boodskappe van buiteaardse wesens van die Zeta Reticuli-stergroep te ontvang deur 'n inplanting in haar brein. Sy beweer sy is gekies om die mens te waarsku die voorwerp sou in Mei 2003 deur die binneste Sonnestelsel beweeg (hoewel dié datum later uitgestel is) en dat dit die Aarde 'n rampspoedige poolverskuiwing sou laat ondergaan wat die grootste deel van die mensdom sou uitwis.
Die voorspelling het daarna verder as Lieder se webtuiste versprei en is deur talle oordeelsdaggroepe op die internet omarm. Sedert 2012 het meldings van die Nibiru-ramp dikwels weer in die populêre media verskyn, gewoonlik gekoppel aan nuusmakende sterrekundige voorwerpe soos Komeet Ison of Planeet Nege. Hoewel die naam "Nibiru" afgelei is van die werke van die "antieke ruimtevaarder"-skrywer Zecharia Sitchin en sy vertolkings van Babiloniese en Sumeriese mitologie, het hy enige verband tussen sy werk en verskeie bewerings van ’n komende apokalips ontken. ’n Voorspelling deur die selfverklaarde "Christelike numeroloog" David Meade dat die Nibiru-ramp op 23 September 2017 sou plaasvind, het uitgebreide mediaberiggewing ontvang.
Die idee dat ’n planeetgroot voorwerp in die nabye toekoms met die Aarde sal bots of naby daaraan sal verbybeweeg, word nie deur enige wetenskaplike bewyse ondersteun nie en is deur sterrekundiges en planetêre wetenskaplikes as skynwetenskap en ’n internetbedrogspul verwerp. Só ’n voorwerp sou die wentelbane van die planete in so ’n mate ontwrig het dat die uitwerking daarvan vandag maklik waarneembaar sou gewees het. Sterrekundiges het baie planete anderkant Neptunus veronderstel, en hoewel die bestaan van baie weerlê is, is daar sommige wat moontlik bly, soos Planeet Nege. Al die huidige hipoteses beskryf planete in wentelbane wat hulle deurgaans ver buite Neptunus sou hou, selfs wanneer hulle op hulle naaste aan die Son is.
Geskiedenis Nancy Lieder en ZetaTalk Die idee van die Nibiru-ramp het ontstaan by Nancy Lieder, ’n vrou van Wisconsin wat beweer sy is as kind gekontak deur grys buiteaardse wesens genaamd "Zetane" (van Zeta Reticuli), wat ’n kommunikasietoestel in haar brein ingeplant het. In 1995 het sy die webtuiste ZetaTalk begin om haar idees te versprei.
thumb|220px|links|Nancy Lieder in Junie 2013. Sy het vir die eerste keer openbare aandag op internetnuusgroepe getrek tydens die opbou na Komeet Hale-Bopp se perihelium (die naaste nadering van die Son) in 1997. Sy het verklaar, en beweer dat sy namens die Zetane praat: "Die Hale-Bopp-komeet bestaan nie. Dit is ’n bedrog, gepleeg deur dié wat die wemelende massas rustig wil hou totdat dit te laat is. Hale-Bopp is niks meer as ’n verafgeleë ster nie, en dit sal nie nader beweeg nie." Sy het beweer die Hale-Bopp-storie is geskep om mense se aandag af te lei van die naderende groot planetêre voorwerp, "Planeet X", wat binnekort by die Aarde sou verbybeweeg en die beskawing sou vernietig.
Nadat Hale-Bopp se perihelium dit as een van die helderste en langste waargenome komete van die afgelope eeu bevestig het, het Lieder die eerste twee sinne van haar aanvanklike verklaring van haar webtuiste verwyder, hoewel dit steeds in Google se argiewe gevind kan word. Haar bewerings het uiteindelik die New York Times gehaal.
Lieder het Planeet X beskryf as ongeveer vier keer so groot soos die Aarde, en gesê sy naaste nadering sou op 27 Mei 2003 plaasvind, wat sou veroorsaak dat die Aarde se rotasie vir presies 5,9 aarddae sou ophou. Dit sou gevolg word deur die destabilisering van die Aarde se pole in ’n poolverskuiwing wat veroorsaak sou word deur die magnetiese aantrekking tussen die Aarde se kern en die magnetisme van die verbygaande planeet. Dit sou op sy beurt die Aarde se magnetiese kern ontwrig en lei tot die verplasing van die Aarde se kors. Nadat die 2003-datum sonder enige voorval verbygegaan het, het Lieder gesê dit is bloot ’n "wit leuen ... om die establishment te flous". Sy het geweier om die ware datum bekend te maak en gesê dit sou aan dié in mag genoeg tyd gee om krygswet af te kondig en mense in stede vas te keer tydens die verskuiwing, wat tot hulle dood sou lei.
Zecharia Sitchin en Sumer thumb|250px|Die "Gevleuelde Son van Thebe" uit Egyptian Mythology and Egyptian Christianity, in 1863 deur Samuel Sharpe geskryf. Aanhangers van die Nibiru-ramphipotese noem dit dikwels as 'n antieke voorstelling van Nibiru.
Hoewel Lieder aanvanklik na die voorwerp as "Planeet X" verwys het, is dit later verbind met Nibiru, 'n planeet uit die werk van die antieke ruimtevaarder-voorstander Zecharia Sitchin, veral sy boek The 12th Planet. Volgens Sitchin se begrip van antieke Mesopotamiese godsdienstige tekste, wat blykbaar berus op 'n verkeerde begrip van Sumeriese tekste,Zechariah Sitchin , Mark Pilkington, Fortean Times, Augustus 2003. steek 'n reuseplaneet (met die naam Nibiru of Mardoek) die Aarde elke 3 600 jaar verby, en dit stel sy bewoners in staat om met die mensdom in wisselwerking te tree. Sitchin het dié wesens geïdentifiseer as die Anunnaki in die Sumeriese mitologie, en het beweer hulle was die mens se eerste gode. Lieder het die verband tussen Nibiru en Planeet X in 1996 op haar webtuiste genoem. ("Planeet X bestaan nie; dit is die 12de planeet, dieselfde ding".)
Sitchin, wat in 2010 dood is, het enige verband tussen sy werk en Lieder se bewerings ontken. In 2007 het hy, deels uit reaksie op Lieder se bewerings, 'n boek gepubliseer met die naam The End of Days. Daarin sê hy die laaste verbygang van Nibiru by die Aarde was in 556 v.C. Dit sou beteken dit sou omstreeks 2900 n.C. weer hier verbykom, as 'n mens sy wentelperiode van 3 600 jaar in ag neem.
Moderne aanhangers van die Nibiru-ramphipotese haal dikwels die simbool van die "gevleuelde son" aan asof dit Nibiru verteenwordig. Hulle glo de planeet sal soos 'n "gevleuelde ster" lyk.
2012 en die Majas se kalender Hoewel Lieder self nie ’n nuwe datum vir die voorwerp se terugkeer gespesifiseer het nie, het baie groepe haar idee oorgeneem en hulle eie datums bepaal. Een datum wat dikwels genoem is, is 21 Desember 2012. Dié datum het baie apokaliptiese verbintenisse gehad, aangesien dit die einde van ’n siklus in die Majas se kalender was. Verskeie skrywers het boeke gepubliseer wat die ramp met 2012 verbind het. Ten spyte daarvan dat dié datum verbygegaan het, hou baie webtuistes steeds vol Nibiru / Planeet X is op pad na die Aarde.
In 2012 het Lieder beweer die Amerikaanse president Barack Obama het vergeefs probeer om die teenwoordigheid van Nibiru naby die Son aan te kondig. Ná 2012 het sy beweer verskeie wêreldleiers was van plan om die teenwoordigheid van Nibiru naby die Son op 20 Oktober 2014 aan te kondig. Twee weke ná die sogenaamde aankondigingsdatum het sy beweer dat dit nie plaasgevind het nie as gevolg van ontsteltenis onder die establishment.
Herlewing in 2017 200px|thumb|David Meade het geglo Nibiru se aankoms op 23 September 2017 is gekoppel aan ’n astrologiese interpretasie van die Vrou van die Apokalips in Openbaring.
In 2017 het ’n samesweringsteoretikus en selfverklaarde "Christelike numeroloog" genaamd David Meade die Nibiru-ramp laat herleef deur dit aan verskeie gedeeltes uit die Bybel te koppel. Meade het verklaar dié gedeeltes bevat geheime numerologiese kodes wat die presiese datum onthul waarop Nibiru sou aankom. Hy het ook sy voorspellings geskoei op die geometrie van die Gizapiramides. Meade het aanvanklik voorspel Nibiru sou in Oktober 2017 aankom, maar het later die datum na 23 September teruggeskuif. Die spesifieke fokus van sy voorspelling het gedraai om die Vrou van die Apokalips, wat verwys na ’n sogenaamd unieke konfigurasie op daardie datum van die Son, Maan en planete in die Maagd. Hy het die sonsverduistering van 21 Augustus 2017 as ’n voorteken aangehaal.
Meade se bewerings het groot aandag in die media ontvang. Vals nuusstories het soos 'n veldbrand oor die internet versprei en niebestaande bevestigings deur Nasa aangevoer van Nibiru se bestaan op ’n baan "reguit op pad na die Aarde". In werklikheid is Nasa se standpunt, en was dit nog altyd, dat Nibiru nie bestaan nie.
Meade het ook kritiek van mede-Christene ontvang; Ed Stetzer, wat vir Christianity Today geskryf het, het verklaar: "Daar bestaan nie iets soos ’n 'Christelike numeroloog' nie." Hy het Meade beskryf as ’n "uitgedinkte kenner in ’n uitgedinkte veld wat oor ’n uitgedinkte gebeurtenis praat". Christopher M. Graney, ’n professor verbonde aan die Stigting van die Vatikaansterrewag, het opgemerk dat die sogenaamd unieke gebeurtenis in werklikheid redelik algemeen is en vier keer in die afgelope millennium voorgekom het.
Sy teorieë oor 23 September is ook weerlê deur die Time-skrywer Jeff Kluger. Die Brasiliaanse sterrekundige Duília de Mello het sy voorspellings en veronderstellings as onsin bestempel en gesê Nibiru sou tydens die verduistering gesien gewees het en dat Meade berekenings gebruik het wat op die Gregoriaanse kalender gebaseer is.
Nadat sy voorspellings nie bewaarheid is nie, het Meade dit hersien en verklaar Nibiru sou op 5 Oktober 2017 aankom, nie op 23 September nie. Meade het aangekondig Nibiru sou op 5 Oktober die Son verduister, en dat Noord-Korea, China en Rusland ’n gesamentlike kernaanval op die Verenigde State sou loods. Daarna sou die Aarde verwoes word deur ’n reeks aardbewings van magnitude 9,8, die Aarde se magnetiese pole sou met 30 grade verskuif, die Verenigde State sou in twee verdeel word en Barack Obama sou vir 'n ongrondwetlike derde termyn tot president verkies word.
Meade het ook voorspel dat die sewejarige Groot Verdrukking waarvan in die Bybel vertel word, op 15 Oktober sou begin. Toe Oktober aanbreek, het ’n ander apokaliptiese skrywer, Terral Croft, die aankoms van Nibiru vir 19 November voorspel, ’n voorspelling wat weer in die Britse poniekoerantpers berig is. Croft beskryf Nibiru as ’n "swart ster" aan die rand van die Sonnestelsel wat, eerder as om met die Aarde te bots, ’n apokaliptiese konjunksie met die Aarde sou vorm, wat tot massiewe aardbewings sou lei. Croft het beweer aardbewings het wêreldwyd toegeneem in die aanloop tot die konjunksie, hoewel The Washington Post vinnig daarop gewys het dat aardbewings oor die jaar in beide krag en frekwensie afgeneem het.
Wetenskaplike verwerping thumb|220px|links|'n Lenssteurvlek teen 'n blou agtergrond, in die middel van die foto. Sterrekundiges verwerp die idee van Nibiru en het pogings aangewend om die publiek in te lig dat daar geen sodanige bedreiging vir die Aarde is nie. Hulle wys daarop dat ’n voorwerp wat so naby aan die Aarde is, maklik met die blote oog sigbaar sou gewees het en 'n merkbare uitwerking op die wentelbane van die buitenste planete sou veroorsaak het. (hierdie bladsy hou verband met die aanvanklike veronderstelde aankoms in 2003, maar geld net so goed vir latere datums soos 2012) Die meeste foto’s wat veronderstel is om "Nibiru" langs die Son te wys, is lenssteurvlekke, vals beelde van die Son wat veroorsaak word deur weerkaatsings binne die lens. Bewerings dat die voorwerp agter die Son versteek is, is belaglik.