Zecharia Sitchin (11 Julie 1920 - 9 Oktober 2010) was die skrywer van ’n aantal boeke wat ’n verklaring voorstel vir menslike oorsprong wat antieke ruimtevaarders behels. Sitchin het die skepping van die antieke Sumeriese kultuur toegeskryf aan die "Anunnaki", wat hy beweer het ’n ras van buiteaardse wesens van ’n planeet anderkant Neptunus genaamd Nibiru was. Hy het beweer die Sumeriese mitologie dui daarop dat dié hipotetiese planeet Nibiru in ’n verlengde, 3 600 jaar lange elliptiese wentelbaan om die Son is. Miljoene eksemplare van Sitchin se boeke is wêreldwyd verkoop en dit is in meer as 25 tale vertaal.
Sitchin se idees word verwerp deur wetenskaplikes, akademici, historici (insluitend Sumeroloë, Oriëntaliste en Assirioloë) en antropoloë wat sy werk as skynwetenskap en skyngeskiedenis afmaak. Sy werk word gekritiseer vir gebrekkige metodologie, die ignorering van argeologiese en historiese bewyse en verkeerde vertalings van antieke tekste, asook vir foutiewe sterrekundige en wetenskaplike bewerings.
Idees en werk Volgens Sitchin, wat in Bakoe in die Sowjetse Azerbeidjan gebore is, se vertolking van Mesopotamiese ikonografie en simbolisme, soos uiteengesit in sy boek The 12th Planet van 1976 en die opvolge daarvan, is daar 'n onontdekte planeet anderkant Neptunus met 'n lang, elliptiese wentelbaan wat die binneste Sonnestelsel rofweg elke 3 600 jaar bereik. Dié planeet word Nibiru genoem en met Mardoek verbind, hoewel Jupiter die planeet is wat in die Babiloniese kosmologie met dié god verbind is.Jastrow, jr., Morris (1911). Aspects of Religious Belief and Practice in Babylonia and Assyria, G.P. Putnam's Sons: New York and Londen. pp. 217-219.
Sitchin het gemeen Nibiru was eens 'n weesplaneet en is kort ná die vorming van die Sonnestelsel aangetrek. Dit het rampspoedig met Tiamat gebots. Dié was 'n ander planeet tussen Mars en Jupiter. Die botsing het glo die Aarde, die asteroïedgordel en die komete gevorm. Hy het gesê Tiamat het middeldeur gebreek toe dit deur een van Nibiru se mane getref word, en daarna het Niburu self die fragmente getref. Die een helfte van Tiamat het die asteroïedgordel geword en die ander helfte, wat weer deur een van Nibiru se mane getref is, is in 'n nuwe wentelbaan gestamp en het die Aarde geword.
Sitchin het ook geglo Pluto was oorspronklik 'n maan van Saturnus, maar Nibiru se swaartekrag het dit versteur, dit na die buitenste Sonnestelsel gestoot en dit sy huidige wentelbaan gegee wat met Neptunus s'n kruis.
Volgens Sitchin word Nibiru "die 12de planeet" genoem omdat die Sumeriese gode al agt planete plus Pluto, die Son en die Maan getel het. Dit was die tuiste van die tegnologies gevorderde, mensagtige buiteaardse ras met die Sumeriese naam Anunnaki ("sterk mense van die ou tyd" in Genesis). Hulle het glo ontwikkel nadat Nibiru die binneste Sonnestelsel binnegegaan het, en het moontlik 450 000 jaar gelede op die Aarde aangekom op soek na minerale, veral goud. Hulle het dit in Afrika gevind en gemyn.
Sitchin het aangevoer die Anunnaki het gemuit weens ontevredenheid met hulle werksomstandighede en Enki (die Sumeriese god van water en menslike kultuur) het voorgestel primitiewe werkers (Homo sapiens) word as slawe geskep om hulle in die goudmyne te vervang. Dit is gedoen deur buiteaardse gene met dié van Homo erectus te kruis. Die Anunnaki was aktief in menslike sake totdat hulle kultuur deur wêreldwye rampe vernietig is, veroorsaak deur die skielike einde van die laaste ystydperk sowat 12 000 jaar gelede. Aangesien mense oorleef het maar alles wat hulle gebou het vernietig is, het die Anunnaki die Aarde verlaat nadat hulle mense die geleentheid en middele gegee het om hulleself te regeer.
Volgens Sitchin meld antieke inskripsies dat die menslike beskawing in Sumer onder leiding van dié "gode" gevestig is, en dat menslike koningskap ingestel is om tussengangers tussen die mensdom en die Anunnaki daar te stel. Hy het gesê sy navorsing stem ooreen met baie Bybelse tekste, en dat Bybelse tekste oorspronklik uit Sumeriese geskrifte kom.
Verwysings
Skakels Amptelike webtuiste Kilgannon, Corey. "Origin of Species, From an Alien View", The New York Times, 10 Januarie 2010. p. MB4.
Kategorie:Skynwetenskappe Kategorie:Skrywers