Dinamo Moskou (Russies: Дина́мо Москва́) is ’n Russiese professionele sokkerklub gebaseer in Moskou. Dynamo het vir die 2017/18-seisoen na die Russiese Premierliga teruggekeer ná een seisoen in die tweedevlak Russiese Nasionale Sokkerliga.

Dinamo was die enigste klub wat voortdurend in die hoogste vlak van Sowjet-sokker (saam met Dinamo Kijif) en in Russiese sokker gespeel het vanaf die einde van die Sowjet-era totdat hulle in 2016 gerelegeer is. Ten spyte hiervan het hulle nog nooit die moderne Russiese Premierliga-titel gewen nie en het hulle die Russiese Beker slegs een keer gewen, in die seisoen van 1994/95.

Gedurende die Sowjet-era was hulle geaffilieer met die Ministerie van Binnelandse Sake en met die KGB en was deel van die Dinamo-sportvereniging. Die hoof van die Sowjet-sekuriteits- en geheimepolisie-apparaat, Lawrenti Beria, was ’n beskermheer van die klub tot sy val. Om hierdie rede is die span en sy ondersteuners die bynaam “die polisie” (menty) gegee.

Vanaf 10 April 2009 was VTB Bank die eienaar van Dinamo nadat dit ’n 74%-aandeel in die klub verkry het. Boris Rotenberg Sr. was voorsitter totdat hy op 17 Julie 2015 bedank het. Op 29 Desember 2016 het die Dinamo-sportvereniging ingestem om VTB Bank se aandele vir 1 roebel terug te koop. Op 14 Februarie 2019 is die klub weer aan VTB verkoop vir 1 roebel, voordat die aandele op 24 Februarie 2022 weer aan die Dinamo-sportvereniging oorgedra is.

Dinamo se tradisionele kleure is blou en wit. Hul embleem bestaan uit ’n blou letter “D”, geskryf in ’n tradisionele kursiewe styl op ’n wit agtergrond. Die klub se leuse is “Krag in beweging”, oorspronklik voorgestel deur Maksim Gorki, die beroemde Russiese skrywer wat eens ’n aktiewe lid van die Dynamo-sportvereniging was.

Bekende spelers

Lef Jasjin

Sien ook

Dinamo Kijif Dinamo Minsk Dinamo Tbilisi

Verwysings

Eksterne skakels Amptelike webwerf

Kategorie:Russiese sokkerklubs Kategorie:Moskou