Die Tanzaniese nasionale krieketspan (Engels: Tanzania national cricket team; Swahili: Timu ya kriketi ya Tanzania), met die bynaam “The Cows”, is die nasionale krieketspan wat Tanzanië in internasionale krieket verteenwoordig. Krieket word in Tanzanië deur die Tanzaniese Krieketvereniging (TCA, van Engels: Tanzania Cricket Association; Swahili: Shirikisho la Kriketi Tanzania) beheer. Tanzanië is sedert 2001 ’n assosiaatlid van die Internasionale Krieketraad (IKR). Ná die toetslande Suid-Afrika en Zimbabwe, asook die assosiaatlede Kenia, Namibië en Uganda is Tanzanië saam met Nigerië tradisioneel een van die sterker nasionale Afrikakrieketspanne.
Krieket in die huidige Tanzanië is in 1890 vir die eerste keer op die eiland Zanzibar deur matrose en bemanningslede van die Britse Vloot gespeel en ná die Britse oorname van die vastelandse Tanganjika het krieket ook daar begin versprei. Hulle het egter eers van die vroeë 1950’s af gereeld teen ander spanne begin speel en gereeld reekse teen die plaaslike mededingers Kenia en Uganda beslis. Voor dié Afrikaland se naamverandering in 1964 het die nasionale span onder die naam Tanganjika opgetree. Van 1966 af het Tanzanië spelers beskikbaar gestel vir die gesamentlike Oos-Afrikaanse span wat in 1989 die Oos- en Sentraal-Afrikaanse span geword het; as Oos-Afrika het hulle aan die eerste Krieketwêreldbeker 1975 deelgeneem.
In April 2018 het die IKR besluit om aan al sy lede volle T20I-status toe te ken. Vervolgens word al die T20I-wedstryde wat Tanzanië ná 1 Januarie 2019 teen ander IKR-lede speel as ’n volle T20I erken. Tanzanië is tans (Mei 2026) 34ste op die Twintig20-wêreldranglys.
Beheerliggaam
Die Tanzaniese Krieketvereniging (Engels: Tanzania Cricket Association, TCA; Swahili: Shirikisho la Kriketi Tanzania) is in 1958, voor Tanganjika se onafhanklikwording, as die Tanganjikaanse Krieketvereniging (Engels: Tanganyika Cricket Association, TCA; Swahili: Shirikisho la Kriketi Tanganyika) gestig. Ná Tanganjika se vereniging met Zanzibar in 1964 het die beheerliggaam sy huidige naam verkry. Die beheerliggaam is verantwoordelik vir die reël van krieket in Tanzanië. In 2001 het dit ’n assosiaatlid van die Internasionale Krieketraad (IKR) geword. In dieselfde jaar het hulle by die Afrikakrieketvereniging (Africa Cricket Association, “ACA”) aangesluit.
Die Tanzaniese Krieketvereniging bestuur al die Tanzanië-verteenwoordigende nasionale spanne, insluitende die mans, vroue en jeug. Hulle is ook verantwoordelik vir die bestuur en organisasie van T20I-reekse teen ander spanne, en die reël van internasionale wedstryde tuis. Daarbenewens is die TCA verantwoordelik vir inkomsteverkryging deur die verkoop van kaartjies, borgskappe en uitsaairegte, veral in verband met die Tanzaniese span.
Kinders en jongmense word reeds op skool aan krieket bekend gestel en na gelang van hul belangstelling en talent begin hulle met hul afrigting. Net soos ander krieketlande beskik Tanzanië oor ’n o/19-nasionale span wat aan die o/19-krieketwêreldbeker deelneem.
Geskiedenis Beginjare Britse koloniste het krieket aan die einde van die 19de eeu na die huidige Tanzanië gebring. Matrose en bemanningslede van die Britse Vloot het die spel vir die eerste keer in die destydse Sultanaat Zanzibar gespeel. In 1890 is die eerste gedokumenteerde wedstryd op die eiland Zanzibar tussen Britse setlaars en lede van die Britse Vloot beslis. Reeds in 1916, tydens die Oos-Afrika-veldtog, het Britse troepe Lushoto naby Tanga in die destydse Duits-Oos-Afrika bereik en krieket na die vasteland gebring. In dieselfde jaar is daar gereeld krieket in dié gebied gespeel. Ná die Britse oorname van die voormalige Duitse kolonie as die Volkebondmandaat Tanganjika in 1919 het die spel op die vasteland verder begin versprei. Aan die begin was krieket veral langs die kus en op die eiland Zanzibar gevestig met vername ontwikkelinge in Dar-es-Salaam, die nuwe magsentrum onder die Britte. Nasionale wedstryde (“Amptenare t Settlers”) is tot in 1964 gereeld beslis, maar geen interterritoriale wedstryde is gespeel nie.
In die vroeë 1920’s het Britse militêre en burgerlike beamptes die Government Service Sports Club, die Railways Sports Club en die Dar es Salaam Gymkhana gestig, terwyl die Indian Sports Club deur Indiese handelaars en spoorwegwerkers gestig is. Ná die toestroming van Indiese arbeiders na Afrika om die streek se spoornetwerk op te rig het die gewildheid van krieket toegeneem. Immigrante van die Indiese subkontinent het teen die 1930’s die meeste spelers gestel, met ’n aansienlike Europese minderheid, terwyl die Afrikabevolking geen belangstelling in die spel getoon het nie. Teen dié tyd was krieket goed gevestig in Dar-es-Salaam en die leidende krieketklubs het op 20 Maart 1935 die Dar-es-Salaam Krieketvereniging ter bevordering en organisasie van krieket gestig. Hoewel die beheerliggaam multi-etnies was, was die etniese groepe lede van hulle eie krieketklubs. In die 1930’s en 1940’s het die Britse en Indiese gemeenskappe krieket na ander dele van die land geneem. Die groot afstande tussen die stede en die stadige vervoer het die reël van wedstryde egter gekniehalter, waarvolgens die spel in die binneland nie dieselfde status bereik het soos aan die kus nie. Aan die einde van die Tweede Wêreldoorlog was dit een van die mees beoefende sportsoorte in die streek.
Oos-Afrikaanse span
duimnael|Vlag van die Oos-Afrikaanse nasionale krieketspan, later Oos- en Sentraal-Afrika duimnael|Die Tanganjikaanse krieketspan nadat hulle die driehoekige toernooi teen Kenia en Uganda in die vroeë 1960’s gewen het In 1951 is die Oos-Afrikaanse Krieketkonferensie (Engels: East Africa Cricket Conference, EACC; later die Oos- en Sentraal-Afrikaanse Krieketkonferensie, East and Central Africa Cricket Conference, ECACC) gestig as die beheerliggaam van krieket in die streek. Hulle het toesig gehou oor die interkoloniale wedstryde tussen die drie stigtingslede Kenia, Uganda en Tanganjika. Later dieselfde jaar het ’n saamgestelde Oos-Afrikaanse span Rhodesië gehuisves. Ook in 1951 het ’n Tanganjikaanse span vir die eerste keer in ’n driehoekige toernooi teen Kenia en Uganda hul eerste internasionale wedstryde gespeel. Een jaar later is Tanganjika deur Uganda met vyf paaltjies geklop. Ongereelde wedstryde teen Kenia en Uganda is dwarsdeur die 1950’s gespeel en Zanzibar het van 1956 af ook teen Uganda gespeel.
Oos-Afrika se volgende gedokumenteerde wedstryd was in 1956 teen ’n besoekende Pakistanse span. Onder die kapteinskap van Denis Dawson (die broer van die Suid-Afrikaanse toetsspeler Ossie Dawson) het die Oos-Afrikane die driedaagse wedstryd met agt paaltjies verloor. In die volgende jaar is die Oos-Afrikane deur die besoekende Sunder-krieketklub met nege paaltjies verslaan. In 1958 het ’n Suid-Afrikaanse span met spelers van ’n nie-Europese herkoms na die streek getoer en een wedstryd teen Oos-Afrika in Nairobi gespeel. Onder hul kaptein Malcolm Ronaldson, ’n voormalige eersterangse speler vir die Oostelike Provinsie, is Oos-Afrika in dié wedstryd deur die Suid-Afrikane met sewe paaltjies verslaan. In 1958, nog voor Tanganjika se onafhanklikwording, is die beheerliggaam Tanganjikaanse Krieketvereniging (Engels: Tanganyika Cricket Association, TCA; Swahili: Shirikisho la Kriketi Tanganyika) gestig en ná die vereniging van Tanganjika met Zanzibar in 1964 is dit in Tanzaniese Krieketvereniging (TCA, van Engels: Tanzania Cricket Association; Swahili: Shirikisho la Kriketi Tanzania) hernoem. In ooreenstemming met die Afrikaland se naamverandering is die nasionale span van Tanganjika in Tanzanië hernoem.
Ander teenstanders het ook na Tanganjika begin toer, waaronder die Marylebone-krieketklub (MKK) in 1957 en 1963, asook in 1958 ’n Suid-Afrikaanse nie-Europese span (wat ook teen Zanzibar gespeel het) en in 1964 ’n Pakistan International Airlines-span. Daarnaas het baie van die Oos-Afrika besoekende spanne teen Tanganjika (later Tanzanië) te staan gekom, waaronder Pakistan Cricket Writers (in 1956), Sunder Cricket Club (in 1957), Gujarat (in 1959), F.R. Brown’s XI (in 1961) en Commonwealth XI (in 1962), met die Pakistan Cricket Writers, Sunder, Gujarat en F.R. Brown’s XI wat ook Zanzibar ontmoet het. Aangesien baie van die toerende spanne ook ervare toetsspelers ingesluit het, het die gashere geen oorwinning aangeteken nie. Tanganjika, oftewel Tanzanië, het in vier onbesliste wedstryde gespeel en ses nederlae gely, terwyl Zanzibar een onbesliste uitslag aangeteken het en in vier wedstryde verslaan is.
Gedurende die 1960’s het Oos-Afrika verskeie toerende spanne ontmoet. In 1962 het hulle twee wedstryde teen die Statebond se krieketspan gespeel. In die eerste wedstryd in Nairobi (10 tot 12 Februarie 1962) is die Oos-Afrikane met 20 lopies geklop. Dié wedstryd word veral onthou vir ’n vinnige honderdtal deur Basil D'Oliveira in die Statebondspan se tweede beurt. In die tweede wedstryd in Oktober, ook in Nairobi, het die Statebondspan Oos-Afrika met 118 lopies geklop. Die besoekende MKK het in 1963/64 drie wedstryde in Uganda gespeel, een in Tanganjika en sewe in Kenia. Een van dié wedstryde teen die Oos-Afrikaanse span in Kampala het die MKK met ’n beurt en 71 lopies gewen. In 1966 het Oos-Afrika by die Internasionale Krieketkonferensie (IKK; nou Internasionale Krieketraad, IKR) as ’n assosiaatlid aangesluit. In dieselfde jaar het Zambië by die jaarlikse toernooi aangesluit, wat daarmee ’n vierhoekige toernooi geword het. In Augustus 1967 het die besoekende Indiërs teen Uganda met ses paaltjies en een driedaagse eersterangse wedstryd teen Oos-Afrika met agt paaltjies gewen. In 1968 het ’n internasionale span van Engelse eersterangse spelers in ’n driedaagse wedstryd teen Oos-Afrika in Nairobi onbeslis gespeel. In dieselfde jaar het Tanzanië die vierhoekige toernooi teen Kenia, Uganda en Zambië vir die eerste keer gewen. Die toernooi het neergekom in die laaste wedstryd teen Zambië in Nairobi wat Tanzanië met ses paaltjies gewen het. In dié wedstryd het C. D. Patel vir Zambië gespeel, terwyl sy broer R. D. Patel deel was van die Tanzaniese span.
In Junie en Julie 1972 het Oos-Afrika Engeland vir 18 wedstryde teen plaaslike spanne besoek en ’n oorwinning oor Noord-Wallis aangeteken. Geen van dié wedstryde het eersterangse status geniet nie. Die MKK het in 1973/74 weer Oos-Afrika besoek. In Desember 1973 het hulle twee wedstryde in Zambië gespeel, gevolg deur nog twee in Tanzanië en toe vier in Kenia. Hul enigste wedstryd teen die volle Oos-Afrikaanse span, wat oor eersterangse status beskik het, is deur die MKK met 237 lopies gewen.
As gevolg van die Arusha-verklaring van 1967 is baie besighede in die 1970’s genasionaliseer en die meeste Indiërs en Britte het die land begin verlaat. Krieketspelers soos R. D. en C. D. Patel het die land verlaat en hulle in Zambië gevestig, waarna die krieketvlakke in Tanzanië agteruitgegaan het en daarna weer op Dar-es-Salaam beperk was. Die jong en belowende krieketspeler John Solanky het reeds in 1967 na Engeland vertrek, waar hy vir Glamorgan gespel het, en nooit na Tanzanië teruggekeer nie. Die veelsydige Solanky het die bekendste Tanzaniese “krieketuitvoer” geword en gedurende sy vier jaar vir Glamorgan (1972–1976) 275 paaltjies geneem en 3 508 lopies in eersterangse en Lys A-krieket aangeteken. Nogtans het Tanzanië hul eerste en enigste toer buite Oos-Afrika aangepak en in Februarie en Maart 1974 na Nigerië getoer. Hulle het dié reeks van drie wedstryde ná twee oorwinnings en een onbesliste wedstryd beklink. Sedert die 1970’s het die Tanzaniese Krieketvereniging ter vermyding van ’n verdere agteruitgang van die spel daarop gefokus om die spel onder Afrikane te vestig.