duimnael|Die NAMC YS-11 het twee Rolls-Royce Dart-turboskroefenjins en ’n totale brandstofvermoë van 7270 liter. Die NAMC YS-11 is ’n mediumgroot passasierslynvliegtuig wat in Japan ontwikkel is. Konstruksie van die eerste van twee prototipes het in Maart 1961 begin en die laaste vliegtuig is op 1 Februarie 1974 afgelewer. Die naam/name van die maatskappy(e) wat die YS-11 vervaardig het, word as die NAMC/Nihon Kokuki Seizo Kabushiki Kaisha/Nihon Kokuki Seizo Kabushiki Kaisha (Nihon Aeroplane Manufacturing Company Beperk van Japan) aangegee.
As gevolg van die besluit wat in 1956 geneem is om ’n mediumgroot passasierslynvliegtuig in Japan te ontwikkel, is ’n Transportvliegtuigontwikkelingsassosiasie in Mei 1957 gestig. Hierdie assosiasie is in Junie 1959 deur Nihon opgevolg, wat vir die ontwikkeling en produksie van die tweemotorige NAMC YS-11-turboskroeflynvliegtuig verantwoordelik was wat aan lugrederye in die VSA, Europa en die Verre-Ooste, en aan die Japannese Lugselfverdedigingsmag (JLSVM), afgelewer is. Die eerste van twee YS-11-prototipes het sy nooiensvlug op 30 Augustus 1962 gehad. Die eerste produksievliegtuig het op 23 Oktober 1964 gevlieg en aflewerings het in Maart 1965 ’n aanvang geneem. Produksie van die YS-11 is gestaak nadat die 182ste vliegtuig gebou is, en hy is op 1 Februarie 1974 afgelewer. Nihon het een vliegtuig vir die JLSVM as ’n YS-11E ECM omskep. Die Japannese Verdedigingsagentskap het die YS-11E op 29 Januarie 1977 gesertifiseer. Dit was ’n vliegtuig wat bestem was om vir elektroniese-oorlogvoering-opleiding gebruik te word. Nog twee YS-11E’s was geskeduleer om tussen 1979 en 1980 omskep te word. Hierdie paragraaf is op Jane’s Encyclopedia of Aviation, Jane’s 1974-75 en Jane’s 1978-79 gegrond.
Vervaardiging van die YS-11 duimnael|Japannese Lugselfverdedigingsmag reeksnommer 52-1151 Die vervaardiging van die YS-11 is tussen ses belangrike vervaardigers verdeel, wat deur ander komponent-, bybehore- en toerustingvervaardigers bygestaan is. Elkeen van hierdie vervaardigers was vir die volgende verantwoordelik:
Misubishi vir die vervaardiging van die romp en die toerusting daarvan en eindmontering; Kawasaki vir die vlerke en enjinnaselle; Fuji vir die sterteenheid; Shin Meiwa vir die agterromp; Nippi vir die rolroere en klappe; en Showa Aircraft vir die heuningkoekstruktuurkomponente.
NAMC het verantwoordelikheid vir die ontwerpwerk, die algehele beheer van produksie, gehalte en verkope van die vliegtuig behou.
Variante van die YS-11 wat gebou is
duimnael|Japannese Maritieme SelfverdedigingsmagDie YS-11-100 is die basiese 60-sitplek-passasierstransportvliegtuig. Twee prototipes en 47 produksievliegtuie is gebou en al 49 is verkoop. Die YS-11A-200 het 60 sitplekke en 95 vliegtuie is vervaardig. Die YS-11A-300 is ’n gemengdeverkeervariant van die YS-11A, met ’n vragdeur aan die linkerkant van die voorste deel van die romp. Hierdie tipe is vir die eerste keer in die somer van 1968 gevlieg. Altesaam 16 is verkoop. Die YS-11A-400 is ’n vragvliegtuig, met ’n versterkte vloer en ’n vragdeur aan die linkerkant van die agterste deel van die romp. Die eerste vlug van hierdie tipe het op 17 September 1969 plaasgevind. Altesaam nege is vervaardig. Die YS-11A-500 is soortgelyk aan die YS-11A-200., maar met ’n verhoging van 500 kilogram in die maksimum opstygmassa. Vier vliegtuie is vervaardig. Die YS-11A-600 is soortgelyk aan die YS-11A-300, maar met dieselfde verhoging in maksimum opstygmassa as die -500. Nege is vervaardig.
Bogenoemde inligting is op Jane’s 1974-75 gegrond.
Enjins en brandstofvermoë Die YS-11 het twee Rolls-Royce Dart Mk 542-10K (RDa.10/1)-turboskroefenjins, wat elk 3000 perdekrag lewer met water-metanolinspuiting vir opstyging. Brandstof word in vlerktenke gestoor, wat bestaan uit twee saktipe tenke aan die binnekant van die enjins en twee integrale tenke aan die buitekant van die enjin. Die totale brandstofvermoë is 7270 liter.
Konstruksienommers
1001/2001 en 1003/2002: die twee prototipes 2003 tot 2049: YS-11-100 2050 tot 2069: YS-11A-200 2070 tot 2182 bestaan uit verskillende modelle
Konstruksienommer 2051 duimnael|250x250px|Die YS-11 met die registrasienommer 3D-DYS op 30 Desember 2003 by die Randse Lughawe. Die vliegtuig is destyds deur Gabon Express Cargo bedryf. Die NAMC YS-11A-205 met die konstruksienommer 2051 het sy eerste vlug op 1 Desember 1967 gehad. Die identiiteitsrekord van hierdie skroefvliegtuig is JA8687, N158P, N911AX, 3C-QRM, 3D-DYS, 9Q-CYS, 9U-BKA en N744TZ. Die skroefvliegtuig is in Januarie 2002 as 3C-QRM geregistreer. Air Kasai van die Demokratiese Republiek die Kongo het die vliegtuig gedurende 2002 as 3C-QRM van Fields Airmotive (Edms) Bpk gebruikhuur. YS-11 3C-QRM is op 15 Desember 2002 met die naam Gabon Express Cargo in groot letters by die Randse Lughawe gesien. Die masjien is in 1967 vervaardig.
Verwysings