Die Tanzaniese Krieketvereniging (Engels: Tanzania Cricket Association, afgekort “TCA”; Swahili: Shirikisho la Kriketi Tanzania) is die bestuursliggaam wat krieket in Tanzanië beheer. Die beheerliggaam is in 1958 gestig en in Dar-es-Salaam gesetel. Sedert 2001 verteenwoordig dit Tanzanië by die Internasionale Krieketraad (IKR) as ’n assosiaatlid en ook by die Afrikakrieketvereniging (Africa Cricket Association, “ACA”).
Geskiedenis Die Tanzaniese Krieketvereniging is in 1958, voor Tanganjika se onafhanklikwording, as die Tanganjikaanse Krieketvereniging (Engels: Tanganyika Cricket Association, TCA; Swahili: Shirikisho la Kriketi Tanganyika) gestig. Ná Tanganjika se vereniging met Zanzibar in 1964 het die beheerliggaam sy huidige naam verkry. In 2001 het dit ’n assosiaatlid van die Internasionale Krieketraad (IKR) geword. In dieselfde jaar het hulle by die Afrikakrieketvereniging (Africa Cricket Association, “ACA”) aangesluit.
Taak Die Tanzaniese Krieketvereniging organiseer verskeie nasionale spanne, insluitend Tanzanië se nasionale seniorkrieketspan vir mans (The Cows), vroue en jeug. Hulle is ook verantwoordelik vir die bestuur en organisasie van T20I-reekse teen ander spanne, en vir die reëling van internasionale wedstryde tuis. Daarbenewens is die Tanzaniese Krieketvereniging verantwoordelik vir inkomsteverkryging deur die verkoop van kaartjies, borgskappe en uitsaairegte, veral in verband met die Tanzaniese span.
Daarbenewens bestuur die beheerliggaam kinder- en jeugkrieket in Tanzanië. Net soos ander krieketlande beskik Tanzanië oor ’n o/19-nasionale span wat aan die o/19-krieketwêreldbeker deelneem.
Die beheerliggaam reël ook die plaaslike kompetisies. Die belangrikste krieketliga in Tanzanië is die TCA Superliga.
Kenteken Die Tanzaniese nasionale krieketspan se bynaam is The Cows. Die Tanzaniese Krieketvereniging se kenteken toon ’n Masai-kameelperd, die nasionale dier van die land.
Verwysings
Eksterne skakels Amptelike webwerf van die Tanzaniese Krieketvereniging
Kategorie:Krieket in Tanzanië Kategorie:Krieketbeheerliggaam Kategorie:Internasionale Krieketraad