Edin Džeko (Bosniese uitspraak: [ědin dʒêːko]; gebore 17 Maart 1986) is ’n Bosniese professionele sokkerspeler wat as ’n aanvaller speel vir Schalke 04 en die kaptein is van die Bosniese nasionale span. Hy word beskou as een van die beste doelskieters van sy generasie. Hy is ook die algehele topskieter en die speler met die meeste wedstryde vir sy land.
Met meer as 400 doele vir klub en land, is Džeko drie jaar agtereenvolgens as Bosniese Sokkerspeler van die Jaar aangewys. Onder ondersteuners en joernaliste staan hy bekend as die “Bosniese Diamant”.
Džeko het sy professionele loopbaan in 2003 by Željezničar begin. In 2005 het hy na die Tsjeggiese klub Teplice geskuif, wat hom kortliks uitgeleen het aan Ústí nad Labem. Voor sy skuif na Schalke 04 het hy vir verskeie groot klubs gespeel, insluitend Manchester City, Roma, Internazionale, Fenerbahçe en Fiorentina.
Hy het egter veral roem verwerf tydens sy tyd by VfL Wolfsburg, waar hy die Bundesliga in die 2008/09-seisoen gewen het. Daardie seisoen het hy 26 doele aangeteken (tweede beste), en in 2009/10 was hy die topskieter met 22 doele. In albei seisoene het hy ook 10 doele aangegee.
In die 2011/12 Premier League-seisoen het hy vier doele in een wedstryd vir Manchester City teen Tottenham Hotspur aangeteken. Op die laaste dag van daardie seisoen het hy ’n gelykmakende doel in die 92ste minuut teen Queens Park Rangers aangeteken. Kort daarna het Sergio Agüero die wen-doel aangeteken, wat Manchester City hul eerste liga-titel in 44 jaar besorg het.
In die 2016/17-seisoen was Džeko die in Serie A met 29 doele vir Roma. In 2018 het hy sy 50ste ligadoel vir die klub aangeteken en sodoende die eerste speler geword wat 50 doele in drie van Europa se top vyf ligas aangeteken het.
Op internasionale vlak het Džeko in 2007 sy debuut vir Bosnië en Herzegowina gemaak. Sedertdien het hy meer as 140 wedstryde gespeel en 73 doele aangeteken.
Op 7 September 2012 het hy die land se topskieter van alle tye geword ná ’n driekuns teen Liechtenstein. In 2018 het hy ook die speler met die meeste wedstryde vir sy land geword. Sy 10 doele in die kwalifisering het Bosnië en Herzegowina gehelp om vir hul eerste groot toernooi, die 2014 FIFA Wêreldbeker, te kwalifiseer.
Verwysings
Kategorie:Bosniese sokkerspelers Kategorie:Geboortes in 1986 Kategorie:Lewende mense