Trailer Park Boys is 'n Kanadese spotdokumentêr/sitkom vir televisie wat deur Mike Clattenburg geskep is. Dit het in 2001 begin wys as 'n voortsetting van sy twee kortprente “The Cart Boy” van 1995 en “One Last Shot” van 1998.

Die reeks gaan oor die lewe van 'n groep inwoners van 'n woonwapark wat in die fiktiewe "Sunnyvale Trailer Park" in Nova Scotia woon. Die première was op 22 April 2001 op Showcase.

Die oorspronklike reeks was sewe seisoene lank en het op 7 Desember 2008 met 'n spesiale episode van 'n uur lank geëindig. Vier rolprente het tussen 2006 en 2024 uit die reeks voortgespruit: The Movie, Countdown to Liquor Day, Don't Legalize It en Standing on the Shoulders of Kitties: The Bubbles and the Shitrockers Story.

In 2013 het Robb Wells, John Paul Tremblay en Mike Smith, die akteurs wat die rolle van onderskeidelik Ricky, Julian en Bubbles vertolk, die regte tot die reeks van die oorspronklike vervaardigers gekoop en hulle eie stromingsdiens op die internet, SwearNet, begin. Van Maart 2014 af het SwearNet nuwe episodes van die reeks vir Netflix vervaardig, en die première van die agtste seisoen was op 5 September 2014. Verskeie spesiale episodes en minireekse is in die daaropvolgende jare gemaak. 'n Spotprentspeletjie, Trailer Park Boys: Greasy Money, het ook intussen die lig gesien. Klante word vir besighede gekoop, en die besighede en karakters kan opgegradeer word.

Geskiedenis In 1998 het die regisseur Mike Clattenburg ’n kortfilm met die titel One Last Shot geskryf en geregisseer; dit is in swart-wit verfilm. Die prent het gegaan oor die wedervarings van twee vriende, Rob (Robb Wells) en Gary William of GW (John Paul Tremblay), hoewel dit nie in dieselfde milieu as Trailer Park Boys afspeel nie. Dit was die eerste keer dat Wells, Tremblay en John Dunsworth (die karakter Lahey) saamgewerk het. In die 1999-rolprent Trailer Park Boys verklaar die karakter Julian voor die kamera dat hy wil hê sy lewe moet gedokumenteer word nadat ’n telefoonsiener voorspel het hy sal binnekort sterf. Hy het gehoop die prent sou ander afskrik van die misdaadlewe wat hy gekies het.

Die rolprent is in 1999 by die Atlantiese Rolprentfees in Kanada vertoon en het die aandag getrek van die vervaardiger Barrie Dunn, wat die potensiaal vir ’n televisiereeks gesien het. Clattenburg, Wells en Tremblay het aan ’n voorstel vir ’n seisoen van 13 episodes van die program gewerk en na Toronto gereis om die program aan The Comedy Network voor te lê. Nadat die voorstel afgekeur is, het hulle skielik besluit om dit aan Showcase in Kanada voor te lê voordat hulle na Nova Scotia terugkeer. Tremblay onthou: "Ons het die loodsprogram aan Showcase gewys en hulle het regtig van die karakters en die spotdokumentêr-gevoel daarvan gehou. Dit was ’n baie lae begroting. Dit was die regte tyd en die regte plek om dit voor te lê."

Die netwerk was ontvanklik. ’n Voormalige programmeerder by Showcase onthou: "Dit was oorspronklik, gewaagd en buitensporig. Hulle het gevloek, gerook en gedrink. Dit het nuut gevoel. Binne ’n week het ons gepraat oor hoe ’n reeks sou lyk." Die netwerk het hulle teruggestuur met ’n verbintenis tot ’n eerste seisoen, op voorwaarde dat ’n tweede ervare vervaardiger (wat uiteindelik Michael Volpe was) bygevoeg word om die span te help. Die eerste ses episodes van 'n halfuur elk is daarna geskryf en verfilm. Sekere wysigings is aan die karakters en storielyn vir die reeks aangebring, en meer humor is bygevoeg. Die program het op 22 April 2001 op Showcase gedebuteer.

Die grootste verandering van die rolprent na die reeks was die byvoeging van Mike Smith se die karakter, "Bubbles"; hy is oorspronklik ontwikkel vir die vroeëre kortprent The Cart Boy van 1995. Smith se karakter het gou gegroei van ’n herhalende rol tot een van die program se hoofspelers. Trailer Park Boys het vir sy eerste sewe seisoene by Showcase gebly. Van die agtste seisoen af is die reeks op Netflix uitgereik nadat Wells, Smith en Tremblay die volle regte vir die reeks gekoop het.

Op 28 Maart 2016 het Netflix die 10de seisoen van Trailer Park Boys aangekondig. Dit bestaan uit 10 eisodes en sluit verskynings deur verskeie bekende sterre soos Snoop Dogg en Jimmy Kimmel in. Seisoen 12, die finale een wat deel van Netflix was en wat geskiet is net voor Dunsworth se dood op 71, was op 30 Maart 2018 beskikbaar.

Opset en karakters Smith sê die reeks "is regtig soos The Waltons, met gewere en dwelms en drank". Die episodes gaan eintlik oor die Sunnyvale-inwoners Ricky, Julian en Bubbles wat geld probeer maak met klein misdade terwyl hulle die polisie ontwyk. Hulle planne word bemoeilik deur die inmenging van die park se wraaksugtige en alkoholistiese toesighouer, Jim Lahey, en sy assistent en lewensmaat, Randy. Ricky, Bubbles en Julian se onbeholpenheid word geëwenaar deur Lahey se dronk onbevoegdheid. Deur die reeks beland Ricky, Julian en Bubbles herhaaldelik in en uit die tronk, met die meeste van hulle planne wat misluk. Latere seisoene het ’n sikliese formule aangeneem: Elke seisoen se laaste episode wys hoe die manne se planne slaag en hulle toekoms optimisties lyk, terwyl die volgende seisoen se eerste episode wys hoe hulle verduidelik dat alles intussen skeefgeloop het.

Elke karakter het sy of haar eie kenmerkende maniërismes of eienskappe. Julian neem dikwels ’n leiersrol aan en bedink planne, alles terwyl hy ’n Cuba Libre met ys in sy hand hou. Ricky beskou homself as dom, en sy spraak is dikwels deurspek met verkeerde woorde, wat aanhangers "Rickyismes" noem; hy woon in ’n vervalle Chrysler New Yorker van 1975 (met die bynaam "die Shitmobile") en kweek dagga. Bubbles dra 'n bril wat sy oë uiters groot laat lyk en woon in ’n skuur met baie katte.

Daar is ook ’n aantal byspelers. Ray is Ricky se wettige, maar nie biologiese pa nie en gebruik ’n rolstoel. Hy is ’n voormalige vragmotorbestuurder en selfverklaarde Calvinis wat in die geheim ongeskiktheidsbedrog pleeg, benewens dat hy ’n alkoholis en dobbelverslaafde is. Barbara is die eienaar van die woonwapark en Lahey se eksvrou. Cory en Trevor is onbeholpe beste vriende wat Ricky en Julian help en verafgod, dikwels onbewus daarvan dat hulle as sondebokke sal dien wanneer Ricky en Julian se planne onvermydelik skeefloop; Jacob vervang later vir Trevor ná sy verdwyning uit Sunnyvale. Lucy is die ma van Ricky se dogter, Trinity, terwyl Sarah, ’n vriendin, by Lucy ingetrek het ná Ricky se eerste tronkstraf. J-Roc (regte naam Jamie) is ’n wit aspirant-rapper wat selde sonder sy vriend Tyrone gesien word.

Die rolverdeling is soos volg: John Paul Tremblay as Julian Robb Wells as Ricky Mike Smith as Bubbles John Dunsworth as Lahey Patrick Roach as Randy Barrie Dunn as Ray Corey Bowles as Cory Michael Jackson as Trevor Jacob Rolfe as Jacob Lucy DeCoutere as Lucy Jeanna Harrison as Trinity Sarah E. Dunsworth as Sarah Jonathan Torrens as J-Roc Tyrone Parsons as Tyrone Richard Collins as Philadelphia "Phil" Collins Elliot Page as Treena LaheySy naam verskyn as Ellen Page; Page het in 2020 as 'n trans man uitgekom en sy naam verander.

Ontvangs Die reeks was in talle lande baie gewild. Die hooftrio het voorheen saam met die rockgroep Our Lady Peace getoer, saam met wie Bubbles sy kenmerkende lied "Liquor and Whores" sing. Die akteurs het ook in musiekvideo’s saam met die rockgroep The Tragically Hip verskyn, terwyl Bubbles saam met die musikante George Canyon en Snow verskyn het. Hulle was ook aanbieders op talle toekenningsvertonings – altyd in karakter.

Trailer Park Boys was ’n sukses vir die kabelnetwerk Showcase; dit was die netwerk se hoogs gegradeerde Kanadese oorspronklike reeks. Dis is in baie ander lande uitgesaai, soos Australië, Brittanje, Spanje, Ysland, Israel, Duitsland, Pole, Nederland, Denemarke en Bulgarye. Dit is ook beskikbaar op Netflix (afhangend van die land waar die diens verkry word).

Notas

Verwysings

Skakels

Kategorie:Kanadese televisiereekse