Julie & Julia is 'n Amerikaanse biografiese rolprent van 2009 wat deur Nora Ephron geskryf en geregisseer is. Die hoofakteurs is Meryl Streep en Amy Adams in die titelrolle, Stanley Tucci, Chris Messina en Linda Emond.
Die prent gaan oor die kontras tussen die lewe van die sjef Julia Child (Streep) in die vroeë jare van haar kosloopbaan, en die lewe van die New Yorker Julie Powell (Adams), wat probeer om al 524 resepte in Child se resepteboek in 365 dae te maak – 'n uitdaging wat sy beskryf op haar gewilde blog, The Julie/Julia Project.
Ephron se draaiboek is op twee boeke geskoei: My Life in France, Child se outobiografie wat sy saam met Alex Prud'homme geskryf het, en Powell se memoires, Julie & Julia: 365 Days, 524 Recipes, 1 Tiny Apartment Kitchen (wat later hernoem is tot Julie & Julia: My Year of Cooking Dangerously).
Albei boeke is tussen 2004 en 2006 geskryf en gepubliseer. Powell se boek is geskoei op haar blog; daarop dokumenteer sy haar daaglikse ondervindings in haar pogings om al 524 resepte in Child se resepteboek van 1961, Mastering the Art of French Cooking, binne 'n jaar te maak.
Die fliek is die eerste groot rolprent wat op 'n blog geskoei is.
Die première was op 30 Julie 2009 in New York. Die prent is op 7 Augustus in die res van Amerika uitgereik.
Julie & Julia was Ephron se laaste rolprent voor haar dood in 2012.
Rolverdeling
Meryl Streep as Julia Child Amy Adams as Julie Powell Stanley Tucci as Paul Child, Julia se man Chris Messina as Eric Powell, Julie se man Linda Emond as Simone Beck ("Simca"), saam met wie Julia Mastering the Art of French Cooking geskryf het Mary Lynn Rajskub as Sarah, Julie se beste vriendin Jane Lynch as Dorothy Dean Cousins, Julia se suster Frances Sternhagen as Irma Rombauer Helen Carey as Louisette Bertholle, medeskrywer van Mastering the Art of French Cooking Deborah Rush as Avis DeVoto, Julia se penvriendin Joan Juliet Buck as Madame Elisabeth Brassart van Le Cordon Bleu, waar Childs die Franse kookkuns geleer het
Verwysings
Skakels
Kategorie:Amerikaanse rolprente