Die Dromedaris is een van die bekendste skepe in die Suid-Afrikaanse maritieme geskiedenis. Dit is een van die vyf skepe in die vloot wat deur die Kamer van Amsterdam van die VOC onder bevel van Jan van Riebeeck uitgestuur is om 'n halfwegstasie aan die Kaap te stig.
Eerste reis Die skip van 560 ton is in 1645 in Amsterdam gebou en vertrek op sy eerste reis op 23 April 1646 vanaf Texel, die mees westelike van die Waddensee-eilande na Nederlands-Indië. Op 23 Junie 1647, na presies 9 maande op see, arriveer dit in Batavia. Die retoervaart begin op 19 Januarie 1649. Met 'n tussenstop aan die Kaap is dit op 1 Augustus 1649, dus na 'n kort reis van 6 maande en 13 dae weer op Texel terug.
Na die Kaap In Julie 1651 het Jan van Riebeeck opdrag gekry om met 'n vloot bestaande uit 5 skepe, naamlik die vlagskip Dromedaris en die Reyger, Hoope (ook genoem Goede Hoop), Walvis en Oliphant na die Kaap te seil. Op 14 Desember vertrek hy saam met sy vrou Maria van Riebeeck, hul seuntjie Lambertus en Van Riebeeck se twee niggies Elisabeth en Sebastiana van Opdorp aan boord van die Dromedaris oor die Suidersee na Texel. Na 4 dae by die eiland verlaat op Oukersaand 'n uur na sononder die Dromedaris (onder kapt. David Coninck), die Reyger (onder kapt. Jan Hooghsaet) en die Hoope (onder kapt. Sijmen Turver) die rede van Texel. Beide die Walvis en Oliphant is vertraag deur die lae waterstand van die Suidersee tussen die destydse eiland Wieringen en Noord-Holland. Dus vertrek daardie twee skepe eers op 3 Januarie van Texel. Rondom die jaareinde word die Dromedaris op die oop see geteister deur reën, hael en storms. Die bootsmanne besef dat die skip gans te lig gelaai is vir hierdie weerstoestande en dat dit gevaarlik is om verder te seil. Dus is besluit om ekstra ballas in Engeland in te skeep, maar die storms verhoed die plan. Van Riebeeck besluit om die gevare te trotseer. Toe hulle verby die plekke is waar seerowers dikwels toeslaan, laat Van Riebeeck 9 kanonne van die dek na die ruim verskuif. Dit het die balans van die skip herstel. Met die gesondheid van die opvarendes het dit so goed gegaan, dat van die aanvanklike plan om by die Kaap-Verdiese Eilande aan te doen afgesien is. Toe die Dromedaris sy ankers in Tafelbaai uitgooi, het slegs een man en 'n baba die reis nie oorleef nie. Die drie skepe het elkeen op sy eie tyd hul reis na die Ooste voortgesit. Op 25 Mei vertrek die Dromedaris en arriveer in Batavia op 22 Julie. Die skip bly daar totdat dit in 1661 uit die vaart geneem word. Die Walvis en die Oliphant arriveer op 7 Mei in Tafelbaai en het onderskeidelik 45 en 85 sterfgevalle aan boord gehad tydens hierdie reis.
Skip Geen boutekeninge van die Dromedaris het behoue gebly nie. Die Dromedaris was egter 'n tipiese VOC-skip, 'n Oos-Indiëvaarder, wat in die 17de eeu heen en weer tussen Amsterdam en Batavia gevaar het. Die skip moes ongeveer 30 m lank van boeg tot agterstewe gemeet het met 'n breedte van 8 m en 'n diepgang van 2 m. Die boeg was 5 m en die agterstewe was tenminste 9 m bo die seevlak. So 'n skip was breër op die seevlak as hoër op teen sy wande. Langs elke kant was daar 'n ry skietgate. Voor op die skip was 'n boegbeeld van 'n leeu wat met sy kop op sy pote lê. Alle Nederlandse skepe van die tyd het 'n vlak diepgang en 'n plat bodem gehad weens die sandbanke in die Suidersee. Alle skepe het die kleur van geoliede hout gehad. Houtsnee- en skilderwerk het die skip versier. Bo die deur van die groot kajuit was daar waarskynlik by die naam van die skip 'n gegraveerde dromedaris. Daar was drie belangrike maste en die boegspriet. Aan die voormas en die hoofmas was elke 3 seile en aan die besaansmas een. Saam met ander kleiner seile was daar 10 seile. Almal gemaak van bruin seildoek. Vlae het aan verskeie stokke gehang. Aan die agterstewe het 'n groot rooi-wit-blou-vlag met die VOC-embleem in die middel van die wit band gewapper.
Naam en afbeelding Dadelik na sy aankoms het Van Riebeeck 'n fortjie laat bou en dit Fort De Goede Hoop genoem. Op elkeen van die vier hoeke was 'n blokhuis met die name Drommedaris, Reyger, Walvis en Oliphant. Op 5 April 1952 tydens die Van Riebeeckfees het 'n replika van die Dromedaris Tafelbaai binnegeseil. Die SAS Dromedaris was die duikboothawe wat in ±1970 in Simonstad in gebruik geneem is. Tussen 1931 en 1964 was die Suid-Afrikaanse een pennie-muntstuk versier met 'n skip wat die Dromedaris voorgestel het. Rondom 1926 het die Dromedaris op Suid-Afrikaane posseëls gepryk. Op 'n destydse ampstaf van die Volksraad word die Dromedaris uitgebeeld.
Bibliografie https://www.shipstamps.co.uk/forum/viewtopic.php?t=7650 https://www.stephensandkenau.com/ship/drommedaris/ https://za.pinterest.com/SPPetersen/dromedaris/
Kategorie:VOC Kategorie:17de eeu Kategorie:Skepe