Tydens die Slag van Draaibosch in die Negende Grensoorlog is die eerste Victoriakruis in Suid-Afrika verwerf.

Ligging Die slagveld was wes van Komga (Qumrha) rondom die huidige spoorweghalte Bleakmoor, destyds ‘n uitspanning vir ossewaens bekend as Draaibosch. ‘n Gedenkteken ter herinnering aan die gebeure staan langs die R63-pad by 32° 35′ 4.37″ suid en 27° 46′ 24.41″ oos. Dit is in 1957 opgerig en in 2022 herstel.

Veldslag Op 29 Desember 1877 kom ‘n mag van ±300 impi’s (waarvan sommige te perd) te staan teenoor 32 meesal berede konstabels van die Connaught Rangers (88ste Regiment) gelei deur maj. H.G. Moore. Een van die Britte, ene Giese, ondervind probleme met sy perd. Moore, sers. Dan Harber, korporaal J. Court en manskap Martindale skiet Giese te hulp, maar kon hom nie red nie. Moore raak gewond in sy arm en sy perd gekwes. Die Xhosa-mag word egter verdryf. Die volgende dag is Moore weer op patrollie. Op ‘n heuwel oos van Draaibosch word sy groepie deur ‘n Xhosa-mag van 1600 man aangeval. Deur Moore se taktiek jaag hy die vyand op die vlug. Hy verloor twee man in die skermutseling en sy perd doen drie wonde op. Die eerste Victoriakruis (“VC”) verwerf op Suid-Afrikaanse bodem is aan Moore vir hierdie dapper optrede toegeken. Hierdie besondere eerbewys is in die Africana Museum in Johannesburg te sien.

Persoon Hans Garrett Moore (* Dublin, 1835 - † verdrink by Lough Derg op 6 Oktober 1889) was ‘n Britse beroepsoldaat. Hy sluit al jonk by die leër aan en neem deel aan die Indiese opstand van 1857, die Ashanti-oorlog (1824-1900), die Kaapse grensoorloë en die Anglo-Egiptiese Veldtog van 1882.

Bibliografie https://artefacts.co.za/main/Buildings/bldgframes_mob.php?bldgid=12041 https://www.theheritageportal.co.za/files/rededication-draaibosch-memorial-24-september-2022-border-historical-societyjpeg

Kategorie:Oos-Kaap Kategorie:Monumente en gedenkwaardighede in Suid-Afrika