Beatrice Barbara Slippers, professioneel bekend as Bibi Slippers, (gebore 24 Oktober 1983) is ‘n Suid-Afrikaanse skryfster, inhoudregisseuse en redaktrise.

Lewe en werk

Beatrice Barbara Slippers is op 24 Oktober 1983 in Bloemfontein gebore en word in KwaZulu-Natal groot. Haar pa, Stephen Slippers, was ’n akademikus wat aan die Universiteit van Zoeloeland in dierevoeding gespesialiseer het. Haar ma, Betsie, was ’n maatskaplike werker asook 'n kleremaker. In ’n onderhoud met Rooi Rose verduidelik Slippers dat albei haar ouers kreatief en uitstekende storievertellers is. Sy noem ook dat hul hardwerkende geaardheid en kuns ’n invloed op haar gehad het. Slippers het as kind verse geskryf en van drama en kunswedstryde gehou. Ná hoërskool in Empangeni, het sy vir ’n jaar by C-Kruis aangesluit om drama te studeer. Die volgende jaar het sy besluit om ’n B.A-graad in beeldende kuns en tale aan die Universiteit van Pretoria te studeer.https://maroelamedia.co.za/afrikaans/boeke/bibi-slippers-n-fotostaat-vol-foute-en-gemaklik-daarmee/ Besoek op 5 Januarie 2026

Tydens haar voorgraadse studie, versterk Slippers se belangstelling in die kunste. In haar studentejare is sy aan kontemporêre skrywers bekendgestel, en begin eksperimenteer met skryf. Slippers het verskeie poësiewerkwinkels bygewoon, en een van haar pogings is gepubliseer. In haar vierde jaar het sy ’n projek aangepak waar sy 'n grootskaalse-installasiekunswerk moes skep wat haar volgende kunswerk geïnisieer het. Nadat sy haar studie voltooi het, woon sy in Nieu-Seeland en werk as advertensieskrywer vir ’n radionetwerk. Hierna vertrek sy na Australië waar sy in ’n biblioteek werk. In 2010 keer sy terug na Suid-Afrika en behaal ’n meestersgraad in kreatiewe skryfwerk aan die Universiteit Stellenbosch. In hierdie tydperk het sy ook by Litnet se aanlynskryfskool aangesluit en na haar studies as inhoudbestuurder daar gewerk. Slippers was ook artikelredaktrise by My Tyd en VISI. Sy werk ook as vryskutskrywer, inhoudregisseuse en aanbieder in die TV-bedryf. Sy is welbekend vir haar TV-program, In die bed met Bibi ('n reeks waar sy boeke met haar gaste bespreek), wat op kykNET uitgesaai is.

Skryfwerk

In ’n onderhoud met Rooi Rose erken Slippers dat haar posisie en ervarings as buitestaander tydens haar verblyf in Nieu Seeland tot introspeksie sowel as die skryf van vele gedigte en stories gelei het. Die gedigte wat sy tydens hierdie tydperk geskryf het, is in Nuwe Stemme 4 opgeneem.

Haar debuutbundel, Fotostaatmasjien, is in November 2016 deur Tafelberg gepubliseer en was deel van haar meestersgraad. Die bundel is onder leiding van Marlene van Niekerk en Willem Anker geskryf en deur Loftus Marais geredigeer. Hierdie bundel is geïnspireer deur haar fassinasie met die fotostaatmasjien, sowel as die idee dat alle skeppings ’n soort kopiëring is van die ander, maar terselfdertyd uniek is as gevolg van foute en verskille wat onvermybaar is in die proses van duplisering. Slippers bevraagteken die aard, vorm en funksie van poësie in die kontemporêre konteks, waar elektroniese media só belangrik is in die alledaagse lewe.

Slippers se insluiting van humor en satire in die  bundel verskil van konvensionele taalgebruik deur gebruik te maak van informele taal, wat verskillende vorms van dig moontlik maak.https://www.litnet.co.za/litnet-akademies-resensie-essay-die-spieel-met-bibi-fotostaatmasjien-2016-deur-bibi-slippers/ Besoek op 5 Januarie 2026 Sy beskou die titel, Fotostaatmasjien, as ’n onderwerp waaronder verskeie temas bespreek kan word. Verskillende temas (insluitend kreatiwiteit,  oorspronklikheid, representasie, vertaling en weergawe) kom voor in die bundel en funksioneer as ’n geheel om by die tema van die bundel aan te sluit.http://joanhambidge.blogspot.com/2016/11/bibi-slippers-fotostaatmasjien-2016.html Besoek op 5 Januarie 2026 Die gedigte verskil in terme van struktuur en vorm en bevat ook poëtiese middels soos satire.

Verskeie letterkundige pryse aan hierdie bundel toegeken, insluitend die UJ debuutprys, Eugene Marais-prys, Elisabeth Eybers-prys en die ATKV-woordveertjie vir poësie. Die bundel was ook op die kortlys vir die Ingrid Jonker-prys vir poësie.

In 2023 is haar tweede digbundel, Soekenjin, gepubliseer.

Van haar stories en gedigte is ook in versamelbundels soos Nuwe Stemme 4 en Nuwe stories 1 gepubliseer. Bibi was ook ‘n samesteller van Nuwe Stemme 6.

Eerbewyse

2017: UJ-debuutprys 2017: Eugène Marais-prys 2017: Elisabeth Eybers-prys 2017: ATKV-woordveertjie vir poësie

Publikasies +JaarPublikasie 2016Fotostaatmasjien2017Nuwe Stemme 62023Soekenjin

Bronnelys

Internet Meyer, M. (9 November 2016). Foto-onderhoud met Bibi Slippers oor Fotostaatmasjien. Litnet: https://www.litnet.co.za/foto-onderhoud-bibi-slippers-oor-fotostaatmasjien.html Salzwedal, I. (2017). Wie is Bibi Slippers? Afrikaans.com: https://afrikaans.com/2018/01/11/wie-is-bibi-slippers.html Viviers, Z., & Minnaar, S.Z. (8 Mei 2017). Bibi Slippers in gesprek met Andries Visagie: verslag en klankopname.: https://www.litnet.co.za/bibi-slippers-gesprek-met-andries-visagie-verslag-en-klankopname.html

Tydskrifte Salzwedel, I. (10 November 2017). Bietjie Meer oor Bibi Slippers. Rooi Rose.

Verwysings

Kategorie:Afrikaanse digters Kategorie:Afrikaanse skrywers Kategorie:Suid-Afrikaanse skrywers Kategorie:Geboortes in 1983 Kategorie:Lewende mense