thumb|280px|Friends is 'n ensemble-TV-reeks; die hoofakteurs, kloksgewys van links heel bo Lisa Kudrow, Jennifer Aniston, Courteney Cox, Matthew Perry, Matt LeBlanc, en David Schwimmer, kry dieselfde skermtyd.
In die vervaardiging van dramatiese produksies is 'n ensemblerolprent of ensembleprogram een waarin daar baie hoofkarakters is wat min of meer dieselfde tyd op die skerm deurbring.Random House: ensemble acting Linked 2013-07-17
In teenstelling met die gewilde model, waarin daar gewoonlik een of twee hoofakteurs is, is daar in 'n ensemblerolprent eerder 'n sin van "samesyn en 'n gemeenskaplike geheel".
Rolprente Ensemble-akteurs is in September 1916 al in rolprente gebruik, met D.W. Griffith se epiese stilrolprent Intolerance. Daarin is vier aparte, maar parallelle storielyne. Die prent volg die lewe van verskeie individue oor honderde jare, en verskeie kulture en tydperke. Die vereniging van die verskillende storielyne is 'n sleutelkenmerk van ensembleflieks; 'n plek, voorval of oorkopelende tema verbind die dele en karakters.
Sulke prente lê gewoonlik klem op die onderlinge verbintenis van die karakters, al is hulle vreemdelinge vir mekaar. Voorbeelde van ensemblerolprente is Love Actually, Crash en Babel, wat almal sterk onderliggende temas het wat verweef is in die storielyn wat elke prent verenig. Raaiselmisdaadflieks, soos Death on the Nile, het dikwels karakters wat onderling verbind is omdat hulle almal verdagtes is. In die fliek Asteroid City van die regisseur Wes Anderson kom 'n groep vreemdelinge bymekaar vir 'n junior sterrekykkonvensie, maar leer mekaar ken toe hulle in kwarantyn geplaas word ná 'n besoek deur 'n buiteaardse wese in 'n VVV.
The Avengers, X-Men en Justice League is drie voorbeelde van ensembleflieks in die superheldgenre. Regisseurs wat bekend is vir hulle ensemblerolprente is onder andere Robert Altman, Woody Allen, Spike Lee, Quentin Tarantino en Wes Anderson.
Televisie Die ensembletegniek het ook in televisiereekse gewild geraak, want dit gee die skrywers die vermoë om in verskillende episodes op verskillende karakters te fokus. Verder is dit minder ontwrigtend as akteurs die reeks verlaat. Die televisiereekse The Golden Girls en Friends is tipiese voorbeelde van ensemble-TV-sitkoms. Die wetenskapsfiksieraaiseldrama Lost het 'n ensemble van hoofkarakters. Tot 20 of meer hoofkarakters is algemeen in sepies, 'n genre wat swaar steun op karakterontwikkeling. Dit is ook in dié genre nodig dat die hoofkarakters voortdurend aangevul word, want sepies soos General Hospital, Days of Our Lives, The Young and the Restless en The Bold and the Beautiful bly dekades lank op die kassie.
'n Voorbeeld van 'n suksesvolle ensemblereeks is die gewilde Game of Thrones, wat een van die grootste ensemblerolverdelings op televisie het. Die reeks is bekend vir die dood van hoofkarakters en daarom moet die akteurs voortdurend aangevul word.
Verwysings
Skakels
Kategorie:Rolprentgenres