Haumea (kleinplaneetnommer 136108) is ’n dwergplaneet wat buite Neptunus se wentelbaan geleë is. Dit is in 2004 ontdek deur ’n span onder leiding van Mike Brown van die Kaliforniese Tegnologiese Instituut (Caltech) by die Palomar-sterrewag en in 2005 formeel aangekondig deur ’n span van die Sierra Nevada-sterrewag in Spanje wat dit daardie jaar in voorafontdekkingsbeelde ontdek het wat in 2003 deur die span geneem is. Ná die aankondiging het dit die voorlopige benaming ontvang.
Op 17 September 2008 is dit genoem na Haumea, die Hawaise godin van geboorte en vrugbaarheid, in verwagting van die Internasionale Sterrekundige Vereniging (IAU) dat dit as ’n dwergplaneet geklassifiseer sou word. Na raming is dit die derde grootste bekende trans-Neptunus-voorwerp (TNV), ná Eris en Pluto, en ongeveer so groot soos Uranus se maan Titan. Voorafontdekkingsbeelde van Haumea is teruggevoer tot 22 Maart 1955.
Haumea se massa is ongeveer 'n derde dié van Pluto en 1/1 400 dié van die Aarde. Hoewel sy vorm nie direk waargeneem is nie, stem berekeninge uit sy ligkurwe ooreen met dié van ’n ellips, met sy lengteas twee keer so lank soos sy breedteas. In Oktober 2017 het sterrekundiges die ontdekking van ’n ringstelsel om Haumea aangekondig, die eerste een wat om ’n trans-Neptunus-voorwerp en ’n dwergplaneet ontdek is.
Daar is tot onlangs gemeen Haumea se swaartekrag is voldoende om dit in hidrostatiese ewewig te hou, hoewel dit nou onseker is. Daar word gemeen Haumea se uitgerekte vorm, tesame met sy vinnige rotasie, ringe en hoë albedo (as gevolg van ’n oppervlak van kristallyne waterys), is die gevolge van ’n reusebotsing, wat Haumea as die grootste lid van ’n botsingsfamilie (die Haumeafamilie) gelaat het. Hierdie familie sluit verskeie groot trans-Neptunus-voorwerpe in, asook Haumea se twee bekende mane, Hiiaka en Namaka.
Geskiedenis Ontdekking Twee spanne maak aanspraak op die ontdekking van Haumea. ’n Span onder Mike Brown van Caltech het Haumea op 28 Desember 2004 ontdek op beelde wat hulle op 6 Mei 2004 geneem het. Op 20 Julie 2005 het hulle ’n aanlynopsomming van ’n verslag gepubliseer wat bedoel was om die ontdekking by ’n konferensie in September 2005 aan te kondig.
Omstreeks dié tyd het José Luis Ortiz Moreno en sy span by die Sierra Nevada-sterrewag in Spanje Haumea gevind op beelde wat op 7-10 Maart 2003 geneem is. Ortiz het die nag van 27 Julie 2005 ’n e-pos aan die Kleinplaneetsentrum (KPS) gestuur om hulle ontdekking bekend te maak.
Brown het aanvanklik aan Ortiz die erkenning vir die ontdekking gegee,Michael E. Brown. How I Killed Pluto and Why It Had It Coming, hoofstuk 9: "The Tenth Planet" maar die Spaanse span later van bedrog begin verdink nadat hy verneem het die Spaanse sterrewag het die dag voor die aankondiging van die ontdekking toegang tot Brown se waarnemingslogboeke verkry, ’n feit wat hulle nie in die aankondiging bekend gemaak het nie. Dié logboeke het genoeg inligting bevat om die Ortiz-span in staat te stel om Haumea in hulle 2003-beelde vooraf te ontdek, en hulle het weer toegang daartoe verkry kort voordat Ortiz teleskooptyd geskeduleer het om bevestigingsbeelde vir ’n tweede aankondiging aan die KPS op 29 Julie te kry. Ortiz het later erken hy het toegang tot die Caltech-waarnemingslogboeke verkry, maar enige oortreding ontken en verklaar hy wou bloot verifieer of hulle ’n nuwe voorwerp ontdek het.
Die IAU-protokol bepaal erkenning vir die ontdekking van ’n kleinplaneet gaan aan die persoon wat eerste ’n verslag by die KPS indien met genoeg posisionele data vir ’n redelike bepaling van sy wentelbaan, en dat die erkende ontdekker voorkeur het met die keuse van ’n naam. Die IAU se aankondiging op 17 September 2008 dat Haumea benoem is deur ’n gesamentlike komitee wat ingestel is vir liggame wat na verwagting dwergplanete sou wees, het egter geen ontdekker genoem nie. Die plek van ontdekking is as die Sierra Nevada-sterrewag van die Spaanse span aangedui, maar die gekose naam, Haumea, was die Caltech-voorstel. Ortiz se span het "Ataecina", die antieke Iberiese godin van die lente, voorgestel; as ’n chtoniese godheid sou dit gepas gewees het vir ’n plutino, wat Haumea nie is nie.
Naam en simbool Voordat dit ’n permanente naam gekry het, het die Caltech-ontdekkingspan die bynaam "Santa" onder mekaar gebruik, omdat hulle Haumea op 28 Desember 2004, net ná Kersfees, ontdek het. Die Spaanse span was die eerste om in Julie 2005 ’n aanspraak op die ontdekking by die KPS in te dien. Op 29 Julie 2005 het Haumea die voorlopige benaming 2003 EL61 gekry gebaseer op die datum van die Spaanse ontdekkingbeeld. Op 7 September 2006 is dit genommer en in die amptelike katalogus van kleinplanete opgeneem as (136108) 2003 EL61.
Ingevolge riglyne wat destyds deur die IAU vasgestel is, waarvolgens klassieke Kuipergordelvoorwerpe name moet kry van mitologiese wesens wat met skepping verbind word, het die Caltech-span in September 2006 formele name uit die Hawaise mitologie aan die IAU voorgelê vir beide (136108) 2003 EL61 en sy mane, "om hulde te bring aan die plek waar die satelliete ontdek is". Die name is voorgestel deur David Rabinowitz van die Caltech-span. Haumea is die moedergodin van die eiland Hawaii, waar die Gemini-sterrewag en W.M. Keck-sterrewag op Mauna Kea geleë is. Daarbenewens word sy met Papa, die godin van die aarde en vrou van Wākea (ruimte), geïdentifiseer. Dit het destyds gepas gelyk omdat daar gemeen is Haumea bestaan byna geheel en al uit soliede rots, sonder die dik yslaag oor ’n klein rotsagtige kern wat tipies is van ander bekende Kuipergordelvoorwerpe. Laastens is Haumea die godin van vrugbaarheid en geboorte, met baie kinders wat uit verskillende dele van haar liggaam voortgespruit het; dit stem ooreen met die swerm ysagtige liggame wat vermoedelik tydens ’n antieke botsing van die hoofliggaam afgebreek het. Die twee bekende mane, wat ook vermoedelik op hierdie manier gevorm het, is gevolglik genoem na twee van Haumea se dogters, Hiiaka en Namaka.
In 2008 het die IAU aangekondig die naam van die dwergplaneet sou Haumea wees, eerder as Ataecina, die voorstel van die Ortiz-span. Die huidige riglyne bepaal name van onderwêreldgode (soos Ataecina) word eerder vir plutino's gebruik. Plutino’s is in ’n 3:2-resonansie met Neptunus, terwyl Haumea in ’n swak 7:12-resonansie is.
’n Planetêre simbool vir Haumea is in Unicode op U+1F77B ingesluit. Planetêre simbole word nie meer algemeen in die sterrekunde gebruik nie, maar meestal deur astroloë. Dit is egter ook deur Nasa gebruik.
links|290px|thumb|Haumea se wentelbaan buite Neptunus (blou) is soortgelyk aan dié van Makemake (groen). Die posisies is dié van 1 Januarie 2018. Wentelbaan Haumea het ’n wentelperiode van 284-285 aardjare, ’n perihelium van 35 AE en ’n baanhelling van 28°. Dit het vroeg in 1992 deur afelium beweeg en is tans meer as 50 AE van die Son af. Dit sal in 2133 sy perihelium bereik. Haumea se wentelbaan het ’n effens groter eksentrisiteit as dié van die ander lede van sy botsings. Dit is vermoedelik te wyte aan Haumea se swak 7:12-wentelresonansie met Neptunus, wat sy aanvanklike wentelbaan geleidelik oor die verloop van ’n miljard jaar verander het.
Met ’n skynbare magnitude van 17,3 is Haumea die derde helderste voorwerp in die Kuipergordel ná Pluto en , en dit is maklik met ’n groot amateurteleskoop waarneembaar. Die planete en die meeste klein Sonnestelselliggame deel egter ’n gemeenskaplike baanoriëntasie wat ontstaan het tydens hulle vorming in die oerskyf van die Sonnestelsel. Daarom het die meeste vroeë opnames van verafgeleë voorwerpe gefokus op die projeksie van hierdie gemeenskaplike vlak aan die hemel, wat die sonnebaan genoem word.
Namate die hemelgebied naby die sonnebaan deeglik ondersoek is, het latere opnames begin soek na voorwerpe wat dinamies in wentelbane met groter hellings gebring is, asook na meer verafgeleë voorwerpe met stadiger gemiddelde bewegings oor die hemel. Dié opnames het uiteindelik die ligging van Haumea gedek, met sy groot baanhelling en huidige posisie ver van die sonnebaan.
Dit is onwaarskynlik dat Haumea se toekomstige wentelbaan oor die bestaan van die Sonnestelsel stabiel sal wees. ’n Studie waarin die toekomstige wentelbane van 34 trans-Neptunus-voorwerpe gesimuleer is, het getoon Haumea is statisties die waarskynlikste om binne die volgende miljard jaar uit sy wentelbaan na die interstellêre ruimte of die binneste Sonnestelsel uitgeslinger te word.
Moontlike resonansie met Neptunus Haumea is vermoedelik in ’n 7:12-baanresonansie met Neptunus. Sy stygende knoop Ω presesseer met ’n periode van ongeveer 4,6 miljoen jaar, en die resonansie word twee keer per presessiesiklus verbreek, of elke 2,3 miljoen jaar, net om ongeveer honderdduisend jaar later terug te keer.
Aangesien dit nie ’n stabiele resonansie is nie, klassifiseer die Amerikaanse sterrekundige Marc Buie dit as nieresonerend.
Fisiese eienskappe Grootte, vorm en samestelling Die grootte van ’n Sonnestelselvoorwerp kan uit sy optiese magnitude, sy afstand en sy albedo afgelei word. Voorwerpe lyk vir waarnemers op Aarde helder óf omdat hulle groot is óf omdat hulle hoogs weerkaatsend is. Indien hulle weerkaatsing (albedo) bepaal kan word, kan ’n ruwe skatting van hulle grootte gemaak word. Vir die meeste verafgeleë voorwerpe is die albedo onbekend, maar Haumea is groot en helder genoeg dat sy termiese uitstraling gemeet kan word. Dit verskaf ’n benaderde waarde vir sy albedo en gevolglik sy grootte.
Die berekening van sy afmetings word egter bemoeilik deur sy vinnige rotasie. Daar word gemeen die grootste deel van die wisseling in Haumea se helderheid word nie deur plaaslike verskille in albedo veroorsaak nie, maar deur die afwisseling tussen die syaansig en die aansig van die punte soos dit vanaf die Aarde gesien word. Daar word aangevoer die rotasie en amplitude van Haumea se ligkurwe plaas sterk beperkings op sy samestelling. Indien Haumea in hidrostatiese ewewig was en ’n lae digtheid soos Pluto gehad het, met ’n dik mantel van ys oor ’n klein rotsagtige kern, sou sy vinnige rotasie dit in ’n groter mate verleng het as wat die wisselings in sy helderheid toelaat. Dié oorwegings beperk sy digtheid tot ’n reeks van 2,6-3,3 g/cm3. In vergelyking het Hiiaka, wat rotsagtig is, ’n digtheid van 3,3 g/cm3, terwyl Pluto, wat tipies is van ysagtige voorwerpe in die Kuipergordel, ’n digtheid van 1,86 g/cm3 het.
Haumea se moontlik hoë digtheid is kenmerkend van silikaatminerale soos olivien en piroksien, wat baie van die rotsagtige voorwerpe in die Sonnestelsel vorm. Dit het ook daarop gedui dat die grootste deel van Haumea uit rots bestaan wat deur ’n betreklik dun laag ys bedek word. ’n Dik yslaag, wat meer tipies van Kuipergordelvoorwerpe is, kon weggeskiet het tydens die botsing wat die Haumeafamilie gevorm het.
Omdat Haumea mane het, kan die massa van die stelsel uit hulle wentelbane bereken word deur Kepler se wet te gebruik. Die resultaat is , 28% van die massa van die Plutostelsel en 6% van dié van die Maan. Byna al hierdie massa is in Haumea vervat.
Verskeie berekeninge van Haumea se afmetings met behulp van ellipsmodelle is gemaak. Die eerste model wat ná Haumea se ontdekking opgestel is, is bereken uit grondgebaseerde waarnemings van Haumea se ligkurwe by optiese golflengtes. Dit het ’n totale lengte van 1 960 tot 2 km en ’n visuele albedo (pv) van meer as 0,6 opgelewer. Die waarskynlikste vorm is ’n ellips met drie asse en benaderde afmetings van 2 000 × 1 500 × 1 000 km. Waarnemings deur die Spitzer-ruimteteleskoop het ’n deursnee van en ’n albedo van opgelewer uit fotometrie by infrarooi golflengtes van 70 μm. Daaropvolgende ontledings van die ligkurwe het ’n ekwivalente sirkelvormige deursnee van 1 450 km voorgestel.