SGR 1935+2154 (of SGR J1935+2154) is 'n sagtegammaherhaler (SGR) en antieke steroorblyfsel in die sterrebeeld Vos. Dit is oorspronklik in 2014 deur die Neil Gehrels Swift-sterrewag ontdek. Sulke voorwerpe word as magnetars beskou.

Op 28 April 2020 is waargeneem dié steroorblyfsel, wat sowat 30 000 ligjare van die Aarde af in die Melkweg geleë is, hou verband met 'n kragtige radiopuls bekend as 'n vinnige radioflits (FRB 200428), en 'n verwante X-straalflits. Dit was die eerste vinnige radioflits wat in die Melkweg bespeur is, en die eerste een wat aan 'n bekende bron verbind is. Later in 2020 is bevind SGR 1935+2154 hou verband met herhaalde vinnige radioflitse.

Geskiedenis Swift het die sterrekundige gemeenskap vir die eerste keer gewaarsku oor ’n toename in aktiwiteit vanaf die steroorblyfsel toe dit ’n flits op 27 April 2020 bespeur het. Die volgende dag het die Canadian Hydrogen Intensity Mapping Experiment (CHIME) die eerste keer die opsporing van twee helder radioflitse van 400-800 MHz in die rigting van die voorwerp gerapporteer, wat die verband tussen radioflitse en die steroorblyfsel gevestig het. Hulle het geraam die flits se energie is soortgelyk aan dié van die helderste reusepulse van die Krap-pulsar, iets wat nog nooit tevore van ’n magnetar af gesien is nie. ’n Onafhanklike waarneming van die flits teen 1,4 GHz deur die STARE2-span het bevestig dat die flits, nou FRB 200428 genoem, soortgelyk is aan vinnige radio-uitbarstings op buitegalaktiese afstande. Hulle het berig die sterkte van die flits is meer as duisend keer soveel as wat CHIME berig het.

Drie satelliete het verskeie kort X-straalflitse op 29 en 30 April 2020 van die steroorblyfsel af gerapporteer en bevestig die magnetar is steeds in sy aktiewe fase.

Planetêre stelsel Die herhaalde X-straalflitse kan maklik verduidelik word deur botsings van fragmente wat veroorsaak word deur die gedeeltelike getyverstrooiing van ’n planeet wat om die steroorblyfsel wentel. Hierdie fragmente ontsnap van die planeet se oppervlak en val op SGR 1935+2154, en dit veroorsaak die X-straalflitse. Die planeet behoort uit yster saamgestel te wees, met ’n massa van 18,1 aardmassas en ’n radius van 1,6 aardradiusse. Dit het ’n wentelperiode van sowat 238 dae, ’n halflengteas van 0,85 AE en ’n baie hoë eksentrisiteit van 0,992. Die X-straaluitbarstings vind plaas wanneer die planeet by periastron, sy naaste afstand van die steroorblyfsel af, is.

Verwysings

Skakels

Kategorie:Magnetars Kategorie:Vos (sterrebeeld)