Die Vrouerugbywêreldbeker 2033 (Engels: 2033 Women’s Rugby World Cup) sal in 2033 in die Verenigde State beslis word. Dit is die twaalfde vrouerugbywêreldbekertoernooi van die vierjaarlikse vrouerugbywêreldkampioenskap en die tiende wat deur Wêreldrugby aangebied word. Ná die Vrouerugbywêreldbeker 2006 in Kanada sal dit die tweede toernooi wees wat in Noord-Amerika aangebied word.
Toewysing Op 10 Junie 2021 is VSA Rugby amptelik aanvaar as ’n kandidaat vir beide die 2027- en 2031-toernooie, asook die Vrouerugbywêreldbeker 2029. Die Verenigde State het op 20 Oktober 2021 hul amptelike bod ingedien met sekere belangstellende stede met groot Amerikaanse voetbal-stadions. Destyds was die Verenigde State die enigste kandidaat vir die toernooi en in April 2022 het die President van die Verenigde State, Joe Biden, ’n brief aan Wêreldrugby geskryf om sy ondersteuning vir die Amerikaanse bod te wys. Tydens ’n spesiale vergadering van Wêreldrugby wat op 12 Mei 2022 in Dublin gehou is, het Wêreldrugby die toernooie van 2025 tot 2033 toegewys met die Vrouerugbywêreldbeker 2025 wat aan Engeland toegeken is, Australië as gasheer van beide die Rugbywêreldbeker 2027 en Vrouerugbywêreldbeker 2029 benoem is en beide die Rugbywêreldbeker 2031 en Vrouerugbywêreldbeker 2033 aan die Verenigde State toegewys is.
Die Vrouerugbywêreldbeker 2033 is een van vyf groot internasionale sporttoernooie wat die Verenigde State binne een dekade sal aanbied, saam met die T20I-wêreldbeker 2024 (saam met Wes-Indië), die FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 2026, die Olimpiese Somerspele 2028 en die Rugbywêreldbeker 2031.
Deelnemers 16 nasionale vrouerugbyspanne mag aan die Vrouerugbywêreldbeker 2033 deelneem. Die gasvroue Verenigde State en die vier beste spanne van die Vrouerugbywêreldbeker 2029 sal almal regstreeks kwalifiseer.
(gasvroue)
Stadions Altesaam 24 Amerikaanse stede is op die kortlys vir die Vrouerugbywêreldbeker 2033 geplaas. Van die stede op die kortlys sluit in Atlanta, Austin, Baltimore, Birmingham, Boston, Charlotte, Chicago, Dallas, Denver, Houston, Kansas City, Los Angeles, Miami, Minneapolis, Nashville, New York, Orlando, Philadelphia, Pittsburgh, Phoenix, San Diego, San Francisco, Seattle en Washington, D.C. Die meeste van die stede beskik oor NFL-stadions, terwyl ander oor MLS-stadions beskik. Van die 24 stede wat vir die 2033-toernooi beoog word, is elf as gasheerstede vir die FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 2026 aangewys.
Sien ook
Verwysings
Eksterne skakels Webwerf van die Amerikaanse bod
Kategorie:Geskiedenis van die Verenigde State van Amerika Kategorie:Rugbykompetisies in die Verenigde State van Amerika 2033 Kategorie:Sport in 2033