Wlotzkasbaken is ‘n vakansieplek en veral gewilde hengelaarsoord aan die kus van Namibië.

Ligging Hierdie vakansiedorpie aan die kus in die Namibwoestyn is by 22° 25′ suid, 14° 27′ oos, in die Dorob Nasionale Park, 33 km noord van Swakopmund, 37 km suid van Hentiesbaai, suidwes van Usakos en langs die C34-kuspad. Naby is ‘n landingstroook vir ligte vliegtuie.

Dorpie Die eerste hut is in 1936 opgerig en die nedersetting het sedertdien gegroei tot ‘n aantal eenvoudige kleurryk geverfde huise. Rye stene baken die erwe af. Hier is baie min permanente inwoners, deels daaraan te wyte dat die beskikbaarheid van elektrisiteit en drinkwater ‘n probleem is. Toe daar pogings was om uraan in die omgewing te ontgin is in 2010 hier die eerste ontsoutingsaanleg suid van die Sahara begin. Twee watertorings is van ver af sigbaar. ‘n Fees bekend as “Marterpfahl” sowel as motorfietswedrenne vind jaarliks tussen Kersfees en Nuwejaar plaas. Plantkundiges is besonder geïnteresseerd in die korsmos, veral van die geslag Teloschistes, wat in die omgewing voorkom.

Stigter Paul Hermann Wlotzka (*Allenstein, Duitsland, 1870 - †Swakopmund, 1942) was ‘n Duitse koetsier wat hom na die Eerste Wêreldoorlog en die gevolglike Duitse onttrekking in Suidwes-Afrika gevestig het. Omdat hy die kusstrook tydens die Duitse koloniale era goed leer ken het, het hy dikwels as gids vir besoekers aan die woestyn opgetree. By ‘n sekere landmetersbaken was hy as hengelaar baie suksesvol en daarom het daardie baken as Wlotzkasbaken bekend geword.

Bibliografie padlangsnamibia.com/padlangs-namibia/whats-in-a-name-wlotzkasbaken phmuseum.com/projets/Wlotzkasbaken-namibia wlotzka.com.na/?page_id=1040

Kategorie:Namibië