Die Boeing F-47 is 'n opkomende lugsuperioriteit sesdegenerasie-vegvliegtuig wat deur Boeing ontwikkel sal word vir die Amerikaanse Lugmag (USAF) onder die Next Generation Air Dominance (NGAD)-program. Dit is bedoel om die opvolger van die Lockheed Martin F-22 te wees. Volgens amptenare van die Amerikaanse Lugmag vind eksperimentele toetse reeds sedert 2020 plaas, en die lugmag beoog om die vliegtuig teen die einde van die dekade in gebruik te neem, wanneer dit die eerste Amerikaanse sesdegenerasie-vegvliegtuig sal word. Die Amerikaanse Lugmag is van plan om ongeveer 200–250 F-47's aan te koop.

Ontwikkeling Die F-47-program is deel van die Amerikaanse Lugmag se Next Generation Air Dominance-inisiatief, wat daarop gemik is om die verouderende Lockheed Martin F-22 Raptor-vloot te vervang. Die inisiatief beoog 'n "familie van stelsels"-benadering, met 'n bemande vegvliegtuig, waarna verwys word as die Penetrating Counter-Air (PCA), wat sal dien as die sentrale platform en ondersteun sal word deur onbemande samewerkende vegsvliegtuie (CCA). Die PCA is bedoel om 'n langafstand, hoëspoed, sluip sensor-vegvliegtuig te wees, vergesel van CCA's wat bykomende ammunisie sal dra en ander ondersteunende operasies sal uitvoer.

Die wenner van die NGAD-ontwikkelingskontrak sou in 2024 gekies word, maar die Sekretaris van die Lugmag het die program in Mei 2024 onderbreek, nadat die geprojekteerde koste die hoogte ingeskiet het, met die prys van 'n enkele vegvliegtuig wat beraam is op drie keer dié van 'n F-35. Verder moes 'n interne studie uitgevoer word om die lewensvatbaarheid van die programbenadering tot lugsuperioriteit en -verdediging, in die lig van verskeie vinniggroeiende lugverdedigingstegnologieë, te bepaal, veral dié van die VSA se teenstanders. In Maart 2025 het die leierskap van die Amerikaanse Lugmag, wat tydens die Air & Space Forces Association (AFA) se 2025 Warfare Simposium voorleggings gemaak het, tot die gevolgtrekking gekom dat die NGAD-program volgens die interne studie voortgesit sal word. Kenneth Wilsbach van die Air Combat Command (ACC) het voorgestel dat bemande sesdegenerasie vliegtuie nodig sal wees vir die toekomstige gevegsomgewing, veral met verwysing na die toenemende risiko's wat Chinese sesdegenerasie vliegtuigontwikkeling inhou.

Op 21 Maart 2025 het president Donald Trump aangekondig dat die F-47 ingenieurs- en vervaardigingsontwikkelingskontrak, ter waarde van meer as $20 miljard, aan Boeing toegeken sal word. In reaksie op die aankondiging het Boeing se aandeelprys 7% hoër gesluit as die vorige dag se sluiting en Lockheed Martin se aandeelprys 5.7% laer gesluit as die vorige dag se sluiting.

Hierdie kontrak sal na verwagting Boeing se militêre lugvaartafdeling laat herleef, veral sy vegvliegtuigproduksielyn in St. Louis, Missouri. "Boeing het die afgelope paar jaar miljarde in die bou van nuwe fasiliteite gestort en 'n groot waagkans geplaas op die sukses van NGAD en ander volgende-generasie programme, in die hoop om uiteindelik sy verdedigingsarm na winsgewendheid terug te bring", het Defense One geskryf. Steve Parker, tussentydse uitvoerende hoof van Boeing se verdedigingseenheid, het hierdie opbou "die belangrikste belegging in die geskiedenis van ons verdedigingsbesigheid" genoem.

Die program vlieg sedert 2020 met X-vliegtuie — dit wil sê eksperimentele vliegtuie wat bedoel is om ontwerp- en tegnologiese elemente te toets— en generaal David Allvin van die Amerikaanse Lugmag het aangekondig dat die F-47 na verwagting aan die begin van 2029 operasioneel sal wees.

Ontwerp Besonderhede oor die F-47 se ontwerp bly geklassifiseer. Die F-47 "se reikwydte en vlugure sal aansienlik hoër wees as die van sy voorganger, met meer gevorderde sluipvermoë ("stealth") en meer volhoubaarheid as ons vyfdegenerasie-vegvliegtuie" - dit wil sê die F-22 en F-35, het Allvin gesê. Hy het ook gesê dit sal "minder kos" as die F-22, in groter getalle aangekoop word, "meer aanpasbaar wees vir toekomstige bedreigings," en "sal aansienlik minder mannekrag en infrastruktuur vir ontplooiing benodig." Daar word verwag dat gevorderde sluipvermoë, sensorsamesmelting en die vermoë om operasies saam met hommeltuig-swerms te koördineer, gekombineer sal word om voordele in luggevegte te bied.

Verwysings

Kategorie:Vegvliegtuie