Pieter Georg du Plessis (14 Julie 1934 – 7 Junie 2017), bekend as PG du Plessis, was 'n Afrikaanse skrywer, dramaturg en akademikus.P.G. du Plessis op ESAT, besoek op 28 Junie 2014 Hy lewer 'n groot verskeidenheid skryfwerk, met 'n beduidende bydrae tot die Afrikaanse drama. Sy rubrieke wat gedurende sy loopbaan as joernalis gepubliseer is, het later uitgeloop op die TV-reeks Koöperasiestories. Sy roman Fees van die Ongenooides (2008) is wyd vereer as een van die beste Afrikaanse letterkundige werke tot op hede.Van der Walt, Leana Storiewerf: http://www.storiewerf.co.za/onderhoude/oh_pgduplessis.htm
Lewe en werk
Vroeë lewe en opleiding Pieter Georg du Plessis is op 14 Julie 1934 as die jongste van drie kinders en enigste seun van die onderwyser Frikkie du Plessis op Boshof in die Oranje-Vrystaat gebore. Sy ouer susters is Nettie en Miemie. Hy begin sy skoolopleiding op die plaasskool by Kameelpan, en gaan vanaf sy negende jaar na die skool op Cornelia, waar sy vader Engelsonderwyser was. Hy voltooi sy standerd nege en matriek dan aan die Hoër Volkskool Heidelberg. Op skool speel hy tennis, rugby en krieket, neem deel aan die skietvereniging en is leier van die Christelike Studentevereniging (CSV). In standerd nege word ’n gedig van hom in Die Huisgenoot gepubliseer. Hy studeer verder aan die Universiteit van Pretoria waar hy in 1955 'n B.A.-graad behaal met Afrikaans-Nederlands en Geskiedenis as hoofvakke. Op universiteit neem hy deel aan verskeie van die studentebedrywighede en is onder andere lid van die Afrikaanse Studentebond, die Na-uurse Sosiale Raad en is hy assistent-veldkornet van die Voortrekkers vir die Christiaan de Wet-kommando aan die Laerskool Pretoria-Oos.
Verdere studie en begin van loopbaan Na kwalifikasie werk hy vanaf 1956 vir ’n tyd by die Transvaalse Provinsiale Administrasie as klerk terwyl hy deeltyds aan die Pretoriase Onderwyskollege studeer vir sy Transvaalse Hoër Onderwysdiploma. Vanaf 1957 gee hy onderwys aan die Hoërskool Fakkel in Johannesburg. Hier ontmoet hy sy toekomstige vrou, Marie van der Merwe, die dogter van die skoolhoof. Benewens onderwys gee is hy ook betrokke by sportafrigting en skryf hy saam met Tom Smit die operette Baron Silvestro, wat deur die skool opgevoer word.
In 1960 behaal hy die B.A. Honneurs-graad aan die Universiteit van die Witwatersrand.Esaach: http://www.esaach.org.za/index.php?title=Du_Plessis,_Pieter_Georg Hy word dan in 1961 vir ’n jaar lank dosent by die Johannesburg College of Education, waarna hy in 1962 deur N.P. van Wyk LouwEsat: http://esat.sun.ac.za/index.php/P.G._du_Plessis aangestel word as dosent in Afrikaans-Nederlands aan die Universiteit van die Witwatersrand en in 1968 bevorder word tot senior lektor. Hy promoveer in 1966 onder N.P. van Wyk Louw aan die Universiteit van die Witwatersrand met ’n verhandeling getitel Die literêre verwysing aan die hand van voorbeelde uit die Afrikaanse poësie, wat in 1968 as Die verwysing in die literatuur gepubliseer word. In die sestigerjare dien hy op die redaksie van die letterkundige tydskrif Kol.Cloete, T.T. “Standpunte” Nuwe reeks 82, April 1969
Insituut vir Taal, Lettere en Kuns In 1970 word hy adjunkdirekteur van die nuutgestigte Instituut vir Taal, Lettere en Kuns van die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing in Pretoria, waar hy aanvanklik onder professor P.J. Nienaber werk. Vanaf Junie 1974 word hy bevorder tot Direkteur. Een van die eerste ondernemings van die Instituut was die ondersoek na die stand van Afrikaans en die daarstel van die Dokumentasiesentrum. In Oktober 1974 word hy eindredakteur van Standpunte, ’n taak wat hy in 1976 neerlê.
Joernalistieke loopbaan Sy joernalistieke loopbaan begin op 1 Augustus 1978 as assistent-redakteur by Die Transvaler en vervolgens vanaf 15 Augustus 1979 as hoofredakteur van Hoofstad. Hy verlaat hierdie pos in Februarie 1983, maar bly steeds aan as deeltydse medewerker aan die Perskor koerante. Hierna word hy vryskutskrywer, filmmaker en deeltydse boer. Op televisie is hy in hierdie tyd aanbieder van die baie gewilde geselsprogramme P.G. gesels met… (waarin hy onderhoudend gesels met verskeie bekende persoonlikhede) en Spies en Plessie (waarin hy saam met Jan Spies verskeie stories en vermaaklike anekdotes aanbied waarby die breë gemeenskap aanklank vind). Die latere sukses van die televisiereeks Koöperasiestories motiveer hom om sy eie rolprentmaatskappy, Sommatel, te stig.
Taalstryder Hy neem aktief deel aan die openbare debat oor letterkundige sake. In Sondagstem van 14 Julie 1964 lewer hy kommentaar oor die herrie wat losgebars het oor die toekenning van die Hertzogprys aan Sewe dae by Silbersteins en vra die vraag Kan ons ’n hele letterkunde aan bande lê? en wys daarop dat daar ’n groot verskil bestaan tussen ’n boek van gehalte en ’n smerige boek. In Kol van Oktober 1969 besin hy Oor pornografie, fatsoenlikheid en die letterkunde en by die Hertzogprys bekroningsplegtigheid in 1972 aanvaar hy hierdie prys met ’n boodskap waarin hy pleit vir subsidiëring deur die staat van gehalte letterkunde.
Hy lewer op 26 Maart 1976 die referaat Staat en kuns: enkele aspekte by die sesde vyfjaarlikse kongres van die Afrikaanse Skrywerskring in Pretoria. Hy is pleitbesorger vir ’n meer verantwoorde benadering tot sensuur as wat in die sewentigerjare in Suid-Afrika die geval was. By die eerste skrywersberaad van die Afrikaanse Skrywersgilde in Julie 1975 op Broederstroom waarsku hy dat die Afrikaanse literatuur vir die eerste keer in sy bestaan van staatsweë bedreig word en dat die gilde die Afrikaanse letterkunde moet bevorder en alles wat die vrye bestaan van ’n verantwoordelike letterkunde bedreig, moet beveg. Op 8 Augustus 1975 voer hy saam met Bartho Smit samesprekings met minister Connie Mulder oor sensuur en op 3 Desember 1975 neem hy saam met Chris Barnard deel aan ’n radio-onderhoud met Connie Mulder oor sensuur. In Radio en TV-Dagboek van 8-14 Augustus 1977 bevestig hy weereens sy standpunt oor sensuur, naamlik dat letterkundige meriete van ’n werk by beoordeling daarvan in berekening gebring moet word, dat letterkundige werke deur deskundiges beoordeel moet word en dat die waarskynlike leser die maatstaf moet wees.
Hy lewer in 1988 die D.F. Malan-gedenklesing aan die Universiteit van die Vrystaat onder die titel Volk en literatuur.
Persoonlike lewe Uit sy huwelik met Marie word ’n seun, Frits, en dogter, Marieta, gebore. Hulle bly eers in Johannesburg en daarna in Meyerspark in Pretoria, maar in 1980 koop hy by sy skoonpa ’n plasie by Rysmierbult naby Ventersdorp in die Wes-Transvaal, wat hy Sémoér noem. Hier word hoofsaaklik daglelies gekweek en dit is ook die plek waar hy na aftrede gaan bly het.SA Vryskutskrywer: http://www.savryskutskrywer.co.za/mediamekka_pg_du_plessis.htm
Skryfwerk
Literator As literator behartig hy vir etlike jare die letterkundige rubriek van Sondagstem (later Dagbreek en Sondagnuus en toe Dagbreek en Landstem) en hy skryf resensies en artikels wat in Standpunte, Lantern en Die Huisgenoot verskyn. As medewerker lewer hy opstelle oor Etienne Leroux en Dolf van Niekerk vir Perspektief en Profiel (destyds onder redaksie van P.J. Nienaber) en skryf hy ook die hoofstuk oor prosa na 1900 vir die boek Inleiding tot die Afrikaanse letterkunde onder redaksie van Ernst Lindenberg.
Sy proefskrif word as Die verwysing in die literatuur gepubliseer, waarin hy uitvoerig ondersoek instel na verwysing in veral die poësie, aan die hand van die teorie onderliggend daaraan en toegelig met voorbeelde uit die digkuns. Later onttrek hy hom egter geheel en al aan die letterkundige kritiek en weier om verder resensies of artikels te skryf of om hom oor die kwaliteite van letterkundige werke uit te laat.
Drama
Gepubliseerde dramas Die kwaliteit van sy debuutdrama Die nag van Legio maak hom onmiddellik ’n belangrike Afrikaanse dramaturg. Die titel verwys na die duiwelbesetene van Gadara in Lukas 8:30, waar die besetene verklaar dat sy naam Legio is, want baie duiwels het in hom ingevaar, terwyl die nag van die titel duisternis en dus die bose impliseer, as teenpool van dag en lig. Hierdie drama ontgin die verhoog en die moontlikhede van die tydruimtelike in die teater op bekwame wyse en gee ’n ontstellende blik op die bose se alomteenwoordigheid. Die stuk opper universeel relevante kwessies soos massahisterie, demoniese besitname, magspel en manipulasie en die onderwerping van die individu. Dit speel af in ’n saal in ’n inrigting vir sielsiekes, waar vier pasiënte met verskillende ernstige en minder ernstige afwykings gehuisves word. In die loop van die aand sluit ’n vyfde pasiënt, Dogoman, by hulle aan omdat daar nie vir hom ander plek is nie.Kannemeyer, J.C. “Standpunte” Nuwe reeks 89, Junie 1970Kannemeyer, J.C. “Konfrontasies” Academica Pretoria en Kaapstad Eerste uitgawe 1977 In 1990 verwerk PG die stuk op versoek van SUKOVS vir vrouespelers en hierdie weergawe word ook verskeie kere opgevoer, terwyl die Engelse vertaling, My name is Legion, in 1993 in Radio Africa se Monday Night Playhouse oor die radio uitgesaai word. Die nag van Legio ontvang in 1970 die W.A. Hofmeyr-prys en in 1972 die Hertzogprys.
Die nag van Legio word opgevolg deur Siener in die suburbs, ’n onthutsende kyk na die stryd van arm mense om die werklikheid van hulle omgewing te ontsnap. Die stuk speel af in die armoedige suidelike voorstede van Johannesburg, met die sprankelende dialoog wat hierdie mense se taalgebruik realisties weergee. Hoewel die drama aansluit by die maatskaplike probleemdrama, styg dit bo hierdie tema uit om die algemeen menslike en veral die verhoudings tussen mense ook aan te spreek. Al die karakters word uitgebeeld as mense met hulle eie persoonlikhede, problematiek en drome wat baie meer universeel is as slegs tiperend van die sogenaamde lae klas.Brink, André P. “Voorlopige Rapport” Human & Rousseau Kaapstad en Pretoria Eerste uitgawe 1976Kannemeyer, J.C. “Standpunte” Nuwe reeks 98, Desember 1971Opperman, A.J. “Beeld” 8 Oktober 2015 Hierdie drama word verfilm, in 1986 oor televisie gebeeldsaai en in 1992 ook oor die radio opgevoer, ’n opvoering wat drie Artes-benoemings tot gevolg het. Siener in die suburbs ontvang die C.N.A.-prys in 1971 en die Hertzogprys in 1972. Wanneer hierdie drama in 2002 weer voor vol gehore speel by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees, word die Insig Afrikaans Onbeperk Pioniersprys aan P.G. du Plessis toegeken.
Plaston: DNS-kind is gebou rondom die eksperimente van wetenskaplikes om hulle eie mense kunsmatig voort te bring en dan in die samelewing te integreer. Plaston (van die Grieks wat beteken “hy wat gemaak is”) word deur die Professor geskep en wanneer hy negentien jaar oud is, na die afgeleë dorpie Aardendal gebring om vir die eerste keer in sy lewe ander mense te ontmoet. Die mense hier is ’n deursnit van die samelewing, met karakters soos onder andere die dorpsidioot, die mooi jong meisie Kotie en die predikant Genopen (’n samevoeging van Genesis en Openbaring, wat suggereer dat hy die hele Bybel in hom omdra). Plaston is ’n wese in wie daar geen kwaad is nie, maar wat juis ’n diep begeerte het om mens te word, pyn en liefde te ervaar en probeer om bo sy programmatiese self uit te styg. Die Professor en sy personeel (’n sosioloog en ’n rekenaartegnikus) hou elke beweging wat hy maak fyn dop en luister na elke woord wat hy sê. Hulle raak onthuts wanneer Plaston afwyk van sy programmatiese beheer en sy nuutgevonde vryheid besef en begin geniet.Brink, André P. “Rapport” 18 November 1973Kannemeyer, J.C. “Standpunte” Nuwe reeks 113, Junie 1974Olivier, Fanie “Die Huisgenoot” 1 Februarie 1974 Plaston DNS-kind verower in 1973 die W.A. Hofmeyr-prys. Die radio-uitsending van hierdie drama in 1993 besorg aan Robert Young ’n Artes as beste regisseur.