GCIRS 13E is 'n infrarooi- en radiovoorwerp naby die middel van die Melkweg. Dit is vermoedelik 'n swerm warm, swaar sterre wat moontlik 'n middelgroot swartkolk in die middel het.
GCIRS 13E is eers geïdentifiseer as GCIRS 13, maar is later in twee komponente verdeel: GCIRS 13E en W. GCIRS 13E is aanvanklik as een onderwerp beskou, moontlik 'n dubbelvoorwerp. Dit is selfs as 'n Wolf-Rayetster met die naam WR 101f geklassifiseer vanweë sy sterk emissielynspektrum. Daarna is dit in sewe Wolf-Rayet- en Klas O-sterre verdeel.
Op infrarooibeelde met 'n hoë resolusie en in spektroskopie kan 19 voorwerpe nou in GCIRS 13E geïdentifiseer word, waarvan 15 digte gasstreke is. Die oorblywende vier voorwerpe is sterre: WN8 en WC9, Wolf-Rayetsterre; 'n OB-superreus; en 'n K3-reus.
Die beweging van die lede van GCIRS 13E dui blykbaar daarop dat dit 'n veel groter massa het as waarvoor rekenskap gegee kan word deur die sigbare voorwerpe. Daar is al voorgestel dat daar 'n middelgroot swartkolk met 'n massa van sowat 1 300 sonmassas in die middel is. Daar is 'n paar probleme met dié teorie, maar die ware aard van die swerm is steeds onbekend.
GCIRS 13E is 'n klein swerm wat deur 'n paar swaar sterre oorheers word. Swaar sterre kan vermoedelik nie so naby 'n supermassiewe swartkolk vorm nie, en omdat swaar sterre 'n kort leeftyd het, word geglo GCIRS 13E het dalk nader aan die sentrale swartkolk migreer oor die afgelope sowat 10 miljoen jaar, moontlik vanaf sowat 60 ligjare weg. Die sterre is moontlik die oorblyfsels van 'n bolswerm waar 'n middelgroot swartkolk kon ontwikkel het deur weghol-sterbotsings. GCIRS 13E kan ook 'n donker sterreswerm wees wat in die binneste sterrestelsel kan vorm as die verdampingstempo van sterre van die swerm vanweë 'n sterk getyveld vinniger is as die uitputting van die swartkolkinhoud deur uitwerpings.
Verwysings
Skakels
Kategorie:Boogskutter (sterrebeeld) Kategorie:Swartkolke Kategorie:Sterreswerms Kategorie:W-tipe sterre Kategorie:Veelvoudige sterre