Die Alcatraz-gevangenis (Engels: United States Penitentiary, Alcatraz Island), ook net bekend as Alcatraz of The Rock, was 'n federale maksimumsekuriteitsgevangenis op Alcatraz-eiland, sowat 2 km van die kus van San Francisco, Kalifornië, VSA. Sedert die 1850's was daar 'n fort op die eiland; die selblok is in 1910-'12 as 'n militêre tronk opgerig.

Die Amerikaanse departement van justisie het die dissiplinêre kasernes op Alcatraz op 12 Oktober 1933 aangeskaf. Die eiland is in Augustus 1934 aangepas en as 'n gevangenis gebruik nadat die geboue gemoderniseer en die sekuriteit verhoog is. In die lig van die hoë sekuriteit en die eiland se ligging in die koue water en sterk seestrome van San Francisco-baai is geglo niemand sal van Alcatraz kan ontsnap nie en dat dit Amerika se sterkste tronk sou wees.

Die hoofselblok van drie verdiepings het die vier selblokke ingesluit – van blok A tot blok D – asook die hoofbewaarder se kantoor, besoekerskamer, biblioteek en haarkapper. Die tronkselle was gewoonlik 2,7 m x 1,5 m groot en 2,1 m hoog. Hulle was primitief en het geen privaatheid gebied nie. Hulle was toegerus met 'n bed, lessenaar, wasbak, toilet teen die agterste muur en min ander voorwerpe buiten 'n kombers. Swart Amerikaners is van ander gevangenes geskei weens die rassisme van die Jim Crow-tydperk.

Die ergste gevangenes is in blok D aangehou, en ses selle aan die punt daarvan is "Die Gat" genoem. Gevangenes met gedragsprobleme is vir tydperke van dikwels wrede strafbehandelings hierheen gestuur. Die eetsaal en kombuis het uit die hoofselblok gestrek. Die gevangenes en bewaarders het drie keer per dag saam geëet. Die hospitaal was bo die eetsaal geleë.

Die gange tussen selle is na bekende Amerikaanse strate genoem, soos Broadway en Michigan Avenue. Gevangenes het dit as 'n voorreg beskou om in die tronk te werk. Dié met spesiale regte het bedags in die nywerheidsgeboue gewerk, waar hulle met onder meer naald- en houtwerk aktief betrokke was in die verskaffing van goedere aan die weermag.

Nadat Alcatraz in 1963 as 'n tronk gesluit is, is dit as 'n openbare museum heropen. Dit is een van San Francisco se grootste toeristeattraksies en lok sowat 1,5 miljoen besoekers per jaar.

Geskiedenis Konstruksie thumb|300px|Die hoofselblok op Alcatraz.

Toe die hoofselblok van 1910 tot 1912 gebou is, is dele van die ou fort op die eiland uit 1859 ingesluit in die ontwerp. Toe dit voltooi is, was die gebou van 150 m glo die langste betongebou in die wêreld. Dié gebou is in 1933 en 1934 gemoderniseer en het die hoofdeel van die federale tronk geword. Die departement van justisie het gehoop 'n nuwe tronk sou die misdaadvlaag van die 1920's en 1930's beëindig. Die gebou is in 1963 gesluit.

Vroeë geskiedenis Alcatraz is beplan vir gevangenes wat aanhoudend probleme verooorsaak het in ander federale tronke. Dit sou 'n "laaste uitweg" wees om die ergste misdadigers te huisves wat geen kans op rehabilitasie gehad het nie.

thumb|160px|Die ingang. Op 11 Augustus 1934 het die eerste groep van 137 gevangenes in Alcatraz aangekom van die gevangenis in Leavenworth, Kansas. Die meeste was berugte bankrowers, vervalsers of moordenaars.

Onder die eerste gevangenes was ook 14 mans van die McNeil Island-gevangenis in Washington. Op 22 Augustus 1934 het 43 gevangenes van Atlanta en 10 van Pennsilvanië gearriveer. Op 1 September het een gevangene van Washington en sewe van Virginië aangekom. Op 4 September het nog 'n groep van 103 per trein van Leavenworth gearriveer.

Gevangenes het tot in 1935 bly aankom, hoofsaaklik van Leavenworth en Atlanta, en op 30 Junie 1935, die herdenking van die tronk se eerste bestaansjaar, het dit 242 gevangenes gehuisves.

Op 10 Januarie 1935 het 'n woeste storm 'n modderstorting op Alcatraz veroorsaak en een van die nywerheidsgeboue beskadig. Dit het 'n paar strukturele veranderings aan die eiland genoodsaak. Probleme met dié en ander ou geboue het gelei tot uitgebreide moderniserings in 1937.

In 1939-'40 is 'n herontwikkelingsprogram van $1,1 miljoen begin, waarin 'n nuwe nywerheidsgebou gebou is, die kragsentrale van 'n nuwe dieselenjin voorsien is, 'n nuwe watertoring gebou is om die waterbergingsprobleme te beëindig, nuwe woonstelle vir bewaarders gebou, verbeterings aan die dok aangebring en die D-blok in 'n afsonderingsblok omskep is. Die veranderings is in Julie 1941 voltooi.

Reputasie 160px|thumb|Die "Voëlman van Alcatraz".

Alcatraz was van die begin af berug as die taaiste tronk in Amerika, of as die vreesaanjaendste gevangenis in die wêreld. Voormalige gevangenes het vertel van die wreedheid en onmenslike toestande wat 'n groot toets vir hulle geestesgesondheid was. Ed Wutke was die eerste gevangene wat in Alcatraz selfmoord gepleeg het. Rufe Persful het sy vingers afgekap nadat hy 'n byl van 'n brandweerwa af gegryp het en 'n ander gevangene gesmeek om dieselfde met sy ander hand se vingers te doen.

Een skrywer het Alcatraz beskryf as "die groot vullisblik van San Francisco-baai waarin elke federale tronk sy vrotste appels weggooi".

Die tronk se reputasie het nie juis verbeter met die aankoms van nog van Amerika se gevaarlikste tronkvoëls nie, onder andere Robert Stroud, die "Voëlman van Alcatraz" in 1942. Hy het op 19-jarige ouderdom in die tronkstelsel beland en dit nooit verlaat nie. Hy was 17 jaar lank in Alcatraz. Stroud het 'n bewaarder vermoor, met ander gevangenes baklei en 42 van sy 54 jaar in die tronk in eensame opsluiting deurgebring.

thumb|220px|links|Henri Young, wat in 1941 tereggestaan het op aanklag van moord op 'n medegevangene. Ondanks sy reputasie en die feit dat baie voormalige gevangenes dit "Hellcatraz" genoem het, het sommige gevangenes beweer die lewensomstandighede daar was baie beter as in ander tronke in die land, veral die kos, en baie is vryillig na Alcatraz oorgeplaas.

Op 3 Desember 1940 het Henri Young sy medegevangene Rufus McCain vermoor. Hy het met die trappe af gehardloop van die meubelwinkel na die kleremakerswinkel, waar McCain gewerk het, en hom in sy nek gesteek; McCain is vyf uur later dood. Young is in 1933 na Alcatraz gestuur weens moord en was later in 'n ontsnappingspoging betrokke saam met Doc Barker, wat in die voorval doodgeskiet is. Hy het daarna 22 maande in eensame opsluiting gebly, maar is eindelik toegelaat om in die meubelwinkel te werk.

Young is in 1941 verhoor en sy advokate het beweer hulle kliënt kan nie vir sy daad verantwoordelik gehou word nie omdat bewaarders hom glo net voor die moord aan "wrede en ongewone strafbehandeling" onderwerp het. Die verhoor het 'n verdere skadu oor Alcatraz gegooi. Young is eindelik aan manslag skuldig bevind en sy tronkstraf is net met 'n paar jaar verleng.

Laaste jare Teen die 1950's het toestande in Alcatraz verbeter en gevangenes het algaande meer voorregte geniet, soos om musiekinstrumente te bespeel, oor naweke flieks te kyk, te skilder en radio te luister. Die streng stiltekode is verslap en gevangenes is togelaat om stilweg te gesels. Dit was egter verreweg die duurste tronk in Amerika en baie het dit steeds beskou as die land se mees ekstreme gevangenis. In sy jaarverslag vir 1952 vra die direkteur van die gevangenisburo James V. Bennett dat 'n meer gesentraliseerde instelling Alcatraz vervang.

thumb|240px|Van links: Tronkhoof James A. Johnston, onderhoof E.J. Miller en die distriksprokureur Frank J. Hennessy. Volgens 'n verslag van 1959 was Alcatraz meer as drie keer so duur om in stand te hou as die gemiddelde Amerikaanse gevangenis: $10 per gevangene per dag teenoor $3 in die meeste ander tronke. Die probleem is vererger deur die strukturele agteruitgang van die gebou weens blootstelling aan sout sproei, wat $5 miljoen sou verg om te herstel. Groot herstelwerk is in 1958 begin, maar teen 1961 het ingenieurs die gevangenis as 'n verlore saak beskou. Die prokureur-generaal Robert F. Kennedy het planne ingedien vir 'n nuwe maksimumsekuriteitsgevangenis in Marion, Illinois.

'n Ontsnappingspoging vanaf Alcatraz in Junie 1962 het tot hewige ondersoeke gelei. Saam met die groot struktuurprobleme en duur instandhouding het dit gelei tot die sluiting van die tronk op 21 Maart 1963. Die finale verslag van die gevangenisburo oor Alcatraz lui: "Die instelling het 'n belangrike doel gedien om die druk weg te neem van die ouer en grootliks oorbevolkte instellings in Atlanta, Leavenworth en McNeil Island, want dit het ons in staat gestel om na kleiner, goed bewaakte instellings te beweeg vir die ontsnapkunstenaars, die groot afpersers, die aartssamesweerders en dié wat beskerming teen ander groepe nodig het."

Die voormalige gevangenis is nou 'n museum. Dit is een van San Francisco se grootste toeristeattraksies en lok jaarliks sowat 1,5 miljoen besoekers (2010). Besoekers kom per boot op die eiland aan en onderneem 'n toer van die selblok en eiland. Hulle sien ook 'n skyfievertoning en vertelling met aanhalings deur voormalige gevangenes en bewaarders in Alcatraz. Die atmosfeer word steeds beskou as "grillerig", "spookagtig" en "ysingwekkend". Die gebou word nou deur die nasionale parkdiens en nasionale register van historiese plekke onderhou en die soutskade word nou herstel en in bedwang gehou.

Beplande heropening

Op 4 Mei 2025 het Donald Trump, die president van die Verenigde State, op Truth Social aangekondig dat die tronk weer in werking sou tree om die land se 'mees meedoënlose' oortreders te huisves.

Ontsnappogings thumb|260px|Alcatraz-eiland, soos gesien van San Francisco af, Maart 1962.

Volgens die tronk se korrektiewe beamptes was 'n gevangene se eerste gedagte wanneer hy op Alcatrazkaai aangekom het, oor hoe om dit weer te verlaat.Bruce, p. 7 Die gevangenis beweer geen gevangene het daarin geslaag om te ontsnap in sy 29 jaar lange bestaan nie. Altesaam 36 gevangenes het 14 pogings aangewend (twee mans twee keer); 23 is gevang, 6 is doodgeskiet tydens die voorval, 2 het verdrink en 5 word aangegee as "vermis en vermoedelik verdrink".

Die eerste ontsnappoging is op 27 April 1936 deur Joseph Bowers aangewend toe hy vullis by die verbrandingsoond moes verbrand. Hy was besig om oor 'n heining aan die kant van die eiland te klim toe hy gesien word. Toe hy weier om die bevele van 'n korrektiewe beampte te gehoorsaam om af te klim, is hy geskiet. Hy is ernstig gewond in die val van verder as 15 m en is aan sy wonde dood.

Die tweede poging was op 16 Desember 1937 deur Theodore Cole en Ralph Roe. Tydens een van hulle werksessies in 'n werkwinkel het hulle die plat ysterstawe voor 'n venster afgesny en in die baai gespring. Dit was 'n stormagtige dag en die see was rof. Die tronkowerhede glo hulle het in die baai verdrink en dat hulle liggame die see in gespoel is.

Slag van Alcatraz thumb|240px|Coy, Hubbard en Cretzer is in die Slag van Alcatraz dood. Die gewelddadigste ontsnappoging het op 2-4 Mei 1946 plaasgevind, toe 'n mislukte poging deur ses gevangenes gelei het tot wat bekend staan as die "Slag van Alcatraz".

thumb|links|200px|Carnes, Shockley en Thompson op pad na die hof. Bernard Coy, Joseph Cretzer, Sam Shockley, Clarence Carnes, Marvin Hubbard en Miran Thompson het beheer van die tronk oorgeneem deur korrektiewe beamptes te oorrompel. Hulle het die wapenkamer binnegegaan, waar hulle aangedring het op die sleutel van die deur na die buitenste ontspanningsarea.

Een van die wagte, William Miller, het vinnig gedink en al die sleutels vir hulle gegee, buiten dié van die buitedeur. Die gevangenes wou per boot van die dok af ontsnap, maar toe hulle nie by die buitedeur kon uitkom nie, het hulle besluit om te veg. Hulle het Miller en nog 'n wag gyselaar gehou.

Shockley en Thompson het Cretzer aangespoor en hy het die gyselaars van naby af geskiet. Miller en die tweede wag, Harold Stites, is albei aan hulle beserings dood. Hoewel Shockley, Thompson en Carnes na hulle selle teruggekeer het, het die ander drie (Coy, Cretzer en Hubbard) steeds probeer ontsnap.