Charles Milles Manson (gebore Maddox; 12 November 1934 - 19 November 2017) was in die laat 1960's 'n Amerikaanse misdadiger en musikant wat die leier was van die Mansonbende, ook bekend as die Manson Family, 'n kultus wat in Kalifornië gebaseer was. Van die lede van die bende het in Julie en Augustus 1969 nege moorde op vier plekke gepleeg. In 1971 is Manson skuldig bevind aan moord en sameswering om moord te pleeg vir die dood van sewe mense, onder andere die aktrise Sharon Tate. Volgens die staat het Manson nooit regstreeks opdrag vir die moorde gegee nie, maar sy ideologie het as 'n openlike daad van sameswering gegeld.

Voor die moorde het Manson meer as die helfte van sy lewe in korrektiewe instellings deurgebring. Terwyl hy sy bende bymekaargemaak het, was Manson 'n sanger en liedjieskrywer aan die rand van die Los Angeles-musiekbedryf, hoofsaaklik danksy 'n toevallige verbintenis met Dennis Wilson van die Beach Boys, wat Manson aan die vervaardiger Terry Melcher voorgestel het.

In 1968 het die Beach Boys Manson se liedjie "Cease to Exist" opgeneem, hernoem tot "Never Learn Not to Love", maar sonder erkenning aan Manson. Manson het daarna probeer om 'n platekontrak deur Melcher te kry, maar was onsuksesvol.

Manson sou dikwels van die Beatles praat, insluitende hulle album met dieselfde naam van 1968. Volgens die Los Angeles-distriksprokureur Vincent Bugliosi het Manson gevoel hy word gelei deur sy vertolking van die Beatles se lirieke en het hy die naam "Helter Skelter" gebruik om 'n komende apokaliptiese rasseoorlog te beskryf. Tydens sy verhoor het Bugliosi geredeneer Manson wou 'n rasseoorlog begin, maar Manson en ander het dit ontken. Manson self het ontken dat hy enigiemand opdrag gegee het om te moor.

Manson se berugtheid was 'n embleem van waansin, geweld en die popkultuur wat deur die makabere beïnvloed is. Opnames van liedjies wat deur Manson geskryf en uitgevoer is, is kommersieel uitgereik; die eerste een was "Lie: The Love and Terror Cult" (1970). Nadat hy tronk toe is, is sommige van sy liedjies deur verskeie kunstenaars gesing. Hoewel hy aanvanklik in 1971 ter dood veroordeel is, is sy vonnis later tot lewenslank versag met die moontlikheid van parool.

Hy het sy vonnis in die Kaliforniese Staatsgevangenis, Corcoran, uitgedien en is laat in 2017 op 83-jarige leeftyd oorlede.

1934-1967: Vroeë lewe Kinderjare Charles Manson is op 12 November 1934 in die akademiese gesondheidsentrum van die Universiteit van Cincinnati in Ohio gebore vir die 15-jarige Kathleen Manson-Bower-Cavender, gebore Maddox (1919-1973).Kathleen Maddox; geni.com Hy is Charles Milles Maddox genoem.Reitwiesner, William Addams. Provisional ancestry of Charles Manson ; besoek op 26 April 2007.

Manson se biologiese vader was vermoedelik Colonel Walker Henderson Scott sr. (1910-1954) van Catlettsburg, Kentucky. Scott het af en toe by plaaslike meulens gewerk en het 'n reputasie as 'n swendelaar gehad. Hy het Maddox laat glo hy is 'n weermagkolonel, hoewel Colonel bloot sy voornaam was. Toe Maddox vir Scott vertel sy is swanger, het hy gesê hy moet vir weermagsake weggaan; ná verskeie maande het sy besef hy gaan nie terugkom nie. Manson het dalk nooit sy biologiese pa geken nie.

In Augustus 1934, voor Manson se geboorte, is Maddox getroud met William Eugene Manson (1909-1961), wat by 'n droogskoonmakery gewerk het. Maddox het dikwels saam met haar broer Luther gaan drink en Charles by talle verskillende babaoppassers gelos. Die egpaar is op 30 April 1937 geskei. Charles het William se van, Manson, behou. Op 1 Augustus 1939 is Luther en Kathleen Maddox in hegtenis geneem vir aanranding en roof. Hulle is onderskeidelik tot tien en vyf jaar gevangenisstraf gevonnis.

Manson is in die huis van 'n oom en tante in McMechen, Wes-Virginië, uitgeplaas. Sy ma is in 1942 op parool vrygelaat. Weke ná haar vrylating het die gesin na Charleston, Wes-Virginië, verhuis waar Manson voortdurend stokkiesgedraai en sy ma haar aande omgedrink het. Sy is vir diefstal in hegtenis geneem, maar nie skuldig bevind nie.

Die gesin het later na Indianapolis getrek. Hier het Maddox 'n alkoholis met die van "Lewis" deur vergaderings van Alkoholiste Anoniem ontmoet, en hulle is Augustus 1943 getroud.

Eerste oortredings In 'n onderhoud met die Amerikaanse TV-joernalis Diane Sawyer het Manson gesê hy het sy skool aan die brand gesteek toe hy nege jaar oud was."Charles Manson – Diane Sawyer Documentary. Manson het ook in die moeilikheid beland vir stokkiesdraaiery en geringe diefstal. In 1947, op 13-jarige ouderdom, is Manson in die Gibault-seunskool vir jong, manlike wetsoortreders in Terre Haute, Indiana, geplaas – dit is deur Katolieke priesters bestuur. Gibault was 'n streng skool, waar leerlinge vir selfs die kleinste oortreding onder meer met 'n houtspaan of leergordel geslaan is. Manson het weggeloop van Gibault af en het in die woude of onder brûe geslaap, of waar hy ook al plek gekry het.

Manson het na sy ma gevlug en het Kersfees 1947 in McMechen, by sy oom en tante se huis, deurgebring. Sy ma het hom na Gibault teruggeneem. Tien maande later het hy na Indianapolis weggeloop. In 1948 het Manson sy eerste bekende oortreding in Indianapolis gepleeg toe hy 'n kruidenierswinkel beroof het. Aanvanklik was die rooftog bloot om iets te ete te kry. Manson het egter 'n sigaarboks met net oor 100 dollar daarin gekry en die geld gevat. Hy het die geld gebruik om 'n kamer in Indianapolis te huur en kos te koop.

Vir 'n ruk het Manson 'n werk gehad; hy het boodskappe afgelewer in 'n poging om van misdaad weg te bly. Hy het egter gou begin steel. Hy is eindelik gevang, en in 1949 het 'n simpatieke landdros hom na Boys Town, 'n instelling vir jeugdiges, in Omaha, Nebraska, gestuur.Charles Manson – Diane Sawyer Interview. Ná vier dae in die instelling het hy en sy medestudent Blackie Nielson 'n wapen in die hande gekry en 'n motor gesteel. Hulle het dit gebruik vir twee gewapende rooftogte op pad na die huis van Nielson se oom in Peoria, Illinois. Nielson se oom was 'n professionele dief en toe die seuns by hom kom, het hy hulle na bewering as leerlinge ingeneem.

Manson is twee weke later in hegtenis geneem tydens 'n nagtelike rooftog op 'n winkel in Peoria. In die ondersoek na die roof is dit verbind met sy twee vroeëre gewapende rooftogte. Hy is gestuur na die Indiana Boys School, 'n streng verbeteringskool. By die skool het ander studente Manson na bewering onder aanhitsing van 'n personeellid verkrag, en hy is dikwels geslaan. Hy het 18 keer van die skool weggeloop.

Terwyl hy in die skool was, het Manson 'n selfverdedigingstegniek ontwikkel wat hy later die "waansinspeletjie" genoem het. Wanneer hy homself nie fisiek kon verdedig nie, het hy geskree, gesigte getrek en sy arms geswaai om dit te laat lyk of hy waansinnig is. In Februarie 1951 het hy ná twee mislukte pogings saam met twee ander seuns ontsnap. Die drie ontsnaptes het vulstasies beroof terwyl hulle probeer het om in gesteelde motors na Kalifornië te ry. Hulle is in Utah gearresteer. Vir die federale misdaad om staatsgrense met 'n gesteelde motor oor te steek is Manson na Washington, D.C. se Nasionale Opleidingskool vir Seuns gestuur. In toetse by sy aankoms is vasgestel hy is ongeletterd, maar het 'n IK van 109, wat hoër as gemiddeld is. Die persoon wat met hom gewerk het, het gemeen hy is aggressief antisosiaal.

Eerste tronkstraf Op 'n psigiater se aanbeveling is Manson in Oktober 1951 verskuif na Natural Bridge Honor Camp, 'n minimumsekuriteitsinstelling. Sy tante het hom besoek en aan administrateurs gesê hy kan in haar huis bly en sy sal hom help werk soek. Manson sou in Februarie 1952 vir parool in aanmerking kom, maar in Januarie is hy betrap dat hy 'n ander seun met 'n mes dreig en verkrag. Manson is oorgeplaas na die Federale Verbeteringskool in Petersburg, Virginië. Daar het hy nog "agt ernstige, strafbare oortredings gepleeg, waarvan drie homoseksuele dade behels". Hy is daarna geskuif na 'n maksimumsekuriteitsverbeterinskool in Chillicothe, Ohio, waar hy na verwagting sou bly tot met sy vrylating op sy 21ste verjaardag in November 1955. Goeie gedrag het daartoe gelei dat hy vroeg, in Mei 1954, vrygelaat is en hy het by sy oom en tante in McMechen gaan woon. thumb|200px|Foto geneem met sy aankoms by Terminal Island, 2 Mei 1956.

In Januarie 1955 het Manson getrou met die hospitaalkelnerin Rosalie Jean Willis. Omstreeks Oktober, sowat drie maande nadat hy en sy swanger bruid in Los Angeles aangekom het in 'n motor wat hy in Ohio gesteel het, is Manson weer aangekla van die federale misdaad om staatsgrense met 'n gesteelde voertuig oor te steek. Ná 'n psigiatriese ondersoek is hy op 'n proeftyd van vyf jaar vrygelaat. Manson het nie vir 'n verhoor in Los Angeles opgedaag op 'n soortgelyke aanklag wat in Florida gelê is nie, en hy is in Maart 1956 in Indianapolis in hegtenis geneem. Sy parool is teruggetrek en hy is drie jaar gevangenisstraf in die korrektiewe instelling Terminal Island in Los Angeles opgelê.

Terwyl Manson in die tronk was, het Rosalie die lewe geskenk aan hulle seun, Charles Manson jr. Tydens sy eerste jaar in Terminal Island het Manson besoeke ontvang van sy vrou en ma, wat nou saam in Los Angeles gewoon het. In Maart 1957, toe Rosalie hom nie meer besoek nie, het sy ma hom ingelig sy woon saam met 'n ander man. Minder as twee weke voordat hy vir parool in aanmerking sou kom, het Manson probeer ontsnap deur 'n motor te steel. Sy parool is geweier.

Tweede tronkstraf Manson het in September 1958 vyf jaar parool gekry, in dieselfde jaar dat Rosalie 'n egskeidingsbevel teen hom gekry het. Teen November was hy die koppelaar van 'n 16-jarige meisie en het hy ook geld gekry van 'n ander meisie met ryk ouers. In September 1959 het hy skuld beken daarop dat hy 'n vervalste staatstjek probeer trek het. Hy het beweer hy het dit uit 'n posbus gesteel. Hy het 'n opgeskorte vonnis van 10 jaar en parool gekry nadat 'n jong vrou met die naam Leona, wat gereeld vir prostitusie in hegtenis geneem is, 'n "tranerige pleidooi" in die hof gelewer het dat sy en Manson "baie verlief" is en sal trou "as Charlie vrygelaat word". Sy is voor die einde van die jaar met Manson getroud, waarskynlik sodat sy as sy vrou nie gedwing kon word om teen hom te getuig nie.

Manson het Leona en nog 'n vrou na Nieu-Mexiko geneem vir doeleindes van prostitusie, en daarvoor is hy ondervra oor die oortreding van die Mann Act, 'n wet wat dié daad onwettig maak. Hoewel hy vrygelaat is, was Manson reg toe hy vermoed die ondersoek is nog nie beëindig nie. Toe hy sy parool verbreek deur te verdwyn, is 'n lasbrief vir sy inhegtenisneming uitgereik. In April 1960 is hy aangekla van die oortreding van die Mann Act. Nadat een van die vroue vir prostitusie in hegtenis geneem is, is Manson in Junie in Laredo, Texas, gearresteer en teruggebring na Los Angeles. Omdat hy sy parool vir die tjekvonnis verbreek het, is hy gelas om sy vonnis van 10 jaar uit te dien.

Manson het 'n jaar lank probeer om appèl aan te teken teen die terugtrekking van sy parool. In Julie 1961 is hy van die Los Angeles-gevangenis na die McNeil Island-gevangenis in Washington gestuur. Daar het hy kitaarlesse geneem by die bendeleier Alvin "Creepy" Karpis en het hy by 'n ander gevangene 'n kontaknaam by Universal Studios in Hollywood, Phil Kaufman, gekry. Onder sy medegevangenes in dié tyd was Danny Trejo, wat aan verskeie hipnosesessies deelgeneem het. Volgens Jeff Guinn se biografie van 2013 oor Manson het sy ma tydens sy tronkstraf in McNeil Island na Washington getrek om nader aan hom te wees. Sy het daar naby as 'n kelnerin gewerk.