Hendrik (Hennie) Johannes Jacob Bingle (1910–2007) was 'n Calvinis, opvoeder en rektor van die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys in Potchefstroom, Suid-Afrika.
Herkoms Bingle is op 15 Augustus 1910 op Colesberg in die destydse Kaapprovinsie gebore. Hy was die seun van Pieter Willem Bingle en Albertje Catharina Andria Coetzee. Hy is in 1936 met Anna Susanna de Klerk getroud. Hy is op 29 Junie 2007 oorlede.
Opvoeding Hy het sy matriek aan Hoërskool Paul Kruger in Steynsburg geslaag. Hy was 'n onderwyser op Steynsburg, Vryburg, Messina en in Johannesburg. In 1931 het hy by die Staatsargief gewerk. Hy het 'n M.Ed. in 1935 en 'n PhD in 1940 aan die Potchefstroomse Universiteit behaal.
Loopbaan In 1945 is hy as senior lektor in Opvoedkunde aan die Potchefstroomse Universiteit aangestel. In 1949 is hy tot professor bevorder. Hy is in 1951 as Dekaan van die Onderwysdepartement aangestel, tot 1962. Hy was nou betrokke by die universiteit wat in 1951 onafhanklik geword het. Hy was een van die skrywers van die Universiteitswet.
Op 20 November 1963 word hy deur die Universiteitsraad as Rektor verkies. Bingle was 'n Calvinis, en het 'n instituut op die kampus gestig vir die bevordering van Calvinisme. Hy was voorsitter van die Afrikaanse Calvinistiese Beweging.
Die universiteit het in sy tyd as rektor in studentegetalle gegroei. Hy het 16 universiteite wêreldwyd besoek om te sien hoe om die universiteit konstruktief uit te brei. Hy het noue bande gehad met die regering van die dag, deur lidmaatskap van nasionale komitees. Die graad Doctor Educationis (Honoris Causa) is in 1981 aan hom verleen en hy het in 2001 die Kanseliersmedalje ontvang. Vandag dra die studentesentrum op kampus sy naam.
Verwysings
Kategorie:Afrikaners Kategorie:Geboortes in 1910 Kategorie:Sterftes in 2007 Kategorie:Akademiese personeel van Noordwes-Universiteit