Alabama (Engels: [ˌæləˈbæmə], ), amptelik die Deelstaat Alabama (Engels: State of Alabama), is 'n deelstaat in die suidooste van die Verenigde State. Met 'n bevolking van byna as 5,2 miljoen en 'n oppervlakte van 135 765 vierkante kilometer is dit die 30ste grootste en die 24ste mees bevolkte Amerikaanse deelstaat. Die hoofstad is Montgomery, maar byna 'n kwart van die bevolking is in die metropolitaanse gebied van Birmingham, die grootste stad in Alabama, saamgetrek.
duimnael|links|Herfstyd in die Mount Cheaha-gebied duimnael|links|Beck Place in Camden, Suidwes-Alabama, is 'n herehuis wat tussen 1850 en 1860 volgens 'n plaaslike interpretasie van die Greek Revival-boustyl opgerig is duimnael|links|Die Gordon Persons-brug, genoem na die 43ste goewerneur van Alabama, oorspan die Intracoastal Waterway en verbind Dauphin-eiland in die Golf van Meksiko met die hawestad Mobile duimnael|links|Die oggendson se helder strale breek deur donker wolke oor die duinlandskap van die Bon Secour-natuurbewaringsgebied duimnael|links|Die spieëls vir Nasa se James Webb-ruimteteleskoop is in Alabama vervaardig en getoets Alabama word in die noorde deur Tennessee, in die ooste deur Georgia, in die suide deur Florida en die Golf van Meksiko, en in die weste deur Mississippi begrens. Hierdie ligging maak van Alabama die geografiese sentrum van die Amerikaanse Diep Suide.
Die deelstaat bestaan naas die kusgebied hoofsaaklik uit vlaktes waardeur die Tombigbee-, Black Warrior- en Alabamariviere vloei, asook dele van die Tennessee-vallei en Cumberland-plato in die noorde. Histories het Alabama veral bekend gestaan vir sy katoenplantasies en wit marmer-steengroewe.
Die kenmerkende diversiteit van sy landskappe, geologie en topografie gee 'n besondere karakter aan Alabama. Tussen die Appalache-bergreeks en die kusvlaktes van die Golf van Meksiko word van die rykste natuurlike flora- en faunahabitatte in die Verenigde State aangetref. Die Tennessee-riviervallei in die uiterste noorde van die deelstaat is danksy sy vrugbare grond uiters geskik vir landbou. Die ruwe bergterrein van die Appalache-reeks se suidoostelike uitlopers strek vanaf Noordoos-Alabama in suidwestelike rigting.
Die Black Belt, wat sy naam aan sy donker vrugbare grond te danke het en as hartland van die katoenbedryf 'n beslissende rol in die geskiedenis van Alabama gespeel het, is aan die voet van die bergreeks geleë. Suid daarvan word dennebosse en kusvlaktes aangetref wat tot by die mosbedekte eikeboom-landskap van Mobile, Alabama se belangrikste seehawe, en die wit sandstrande van die Golf van Meksiko strek.
Maar ondanks sy mineraalrykdomme en groot watervoorrade is Alabama vir die grootste deel van sy geskiedenis met armoede en ekonomiese agterlikheid verbind. Onafhanklikheidsgesinde grootgrondbesitters, wat slegs 'n klein persentasie van Alabama se blanke bevolking verteenwoordig en alle politieke, ekonomiese en kulturele invloede van buite afgeweer het, het daarin geslaag om swart bewoners as slawe op hulle katoenplantasies aan te hou en groot rykdom te versamel. Op die hoogtepunt van dié proses het hulle in 1861 saam met die heersende elites van ander suidelike deelstate die besluit geneem om die Unie te verlaat en as Gekonfedereerde State voort te gaan met 'n politieke en ekonomiese stelsel wat op die uitbuiting van swart mannekrag berus het.
Die gevolge was rampspoedig. Meer as 'n vyfde van die ekonomies aktiewe blanke mans het in die Amerikaanse Burgeroorlog gesneuwel, terwyl die opheffing van slawerny deur die seëvierende Noordstate honderde miljoene se kapitaal in die suidelike landbousektor vernietig het.
Nogtans het die Noorde uiteindelik nie daarin geslaag om sy politieke liberale strukture in die Suidstate te vestig nie. Konserwatiewe blankes het hul oorheersende invloed op Alabama se politieke en ekonomiese lewe herwin en hul eie stelsel van rasseskeiding gevestig wat tot in die sestigerjare van die 20ste eeu sou voortduur en waarin swart bewoners net soos armblankes van hul politieke regte ontneem is.
Dié stelsel, wat deur sommige waarnemers as 'n voortsetting van die Burgeroorlog beskryf is, is ook nie deur die proses van ekonomiese omwenteling en industrialisering geraak nie. Alabama se katoenmonokultuur het sy agteruitgang met die vestiging van nuwe nywerhede beleef, terwyl die swaartepunt van ekonomiese aktiwiteite van Mobile se hawe en ander nedersettings langs die groot riviere na nuwe stedelike sentra in die binneland verskuif het wat deur spoorweë met mekaar en ander dele van die VSA verbind is.
Met Alabama se nuwe grondwet, wat in 1901 afgekondig is, is alle politieke weerstand in landelike gebiede hardhandig verwyder en die ou konserwatiewe stelsel van blanke oorheersing, ras- en klasverdeling vasgeskryf. Die grootste deel van Afro-Amerikaners het, net soos baie armblankes en blankes uit die werkersklas, feitlik hul stemreg verloor.
In die 1960's het die Burgerregtebeweging protes teen die politieke wantoestande aangeteken. Maar eers deur die intervensie van die Amerikaanse Kongres, die federale regering en federale howe kon die stryd teen die politieke onreg momentum kry. Alabama se landbou en swaar nywerhede is in die proses in 'n krisis gedompel, terwyl die rassekonflik in groot stede soos Birmingham en Montgomery geleidelik handuit geruk het. Alabama se politieke leiers kon nie langer daarop aanspraak maak dat hulle die pad vir die ekonomiese vooruitgang en nasionale leierskap van die "Nuwe Suide" sou berei.
Ná dekades van agteruitgang en verval het Alabama in die laaste kwart van die 20ste eeu ekonomiese en politieke hernuwing beleef. Stede soos Huntsville, Birmingham, Montgomery en Mobile het volgehou met 'n nuwe groeifase namate steeds meer Afro-Amerikaners tot die hoofstroom van die politieke, ekonomiese en kulturele lewe toegetree het. Vandag floreer die deelstaat in die geglobaliseerde wêreldekonomie, terwyl 'n nuwe generasie van verligte entrepreneurs die pad na rasversoening, maatskaplike vooruitgang, sosiale geregtigheid en opvoedkundige modernisering definieer.
Etimologie Die Europees-Amerikaanse benaming van die deelstaat en die gelyknamige rivier is afgelei van die Alabama, 'n Indiaanse stam van die Muskogee-taalgroep wat oorspronklik hoër geleë gebiede naby die samevloeiing van die Coosa- en Tallapoosa-riviere bewoon het. William A. Read: Indian Place Names in Alabama. Tuscaloosa, AL: University of Alabama Press 1984 In die Alabama-taal word na 'n bewoner van die deelstaat as Albaamo verwys (ander vorme soos Albaama of Albàamo kom in plaaslike dialekte voor; die meervoudsvorm is Albaamaha). Cora Sylestine, Heather Hardy en Timothy Montler: Dictionary of the Alabama Language. Austin: University of Texas Press 1993
Die huidige mening is dat die Alabama-Indiane hul eie naam uit die verwante Choctaw-taal ontleen het. William W. Rogers, Robert D. Ward, Leah R. Atkins en Wayne Flynt: Alabama: the History of a Deep South State. Tuscaloosa, AL: University of Alabama Press 1994 Historiese bronne verskil ten opsigte van sy spelling. Die oudste dokumente, waarin dit as Alibamo voorkom, is drie verslae oor die ontdekkingsreis wat Hernando de Soto saam met Garcilaso de la Vega in 1540 onderneem het. Die Ridder van Elvas en Rodrigo Ranjel gee dit in hul transkripsies respektiewelik as Alibamu en Limamu weer. Reeds vanaf 1702 het Franse bronne na die stam as Alibamon verwys, terwyl die rivier se naam op Franse kaarte as Rivière des Alibamons aangedui word. Ander bekende historiese spellings sluit Alibamu, Alabamo, Albama, Alebamon, Alibama, Alibamou, Alabamu en Allibamou in. Charles A. Wills: A Historical Album of Alabama. Brookfield, CT: The Millbrook Press 1995
Die betekenis van die naam is moeilik om te bepaal. Volgens 'n artikel, wat in 1842 in die dagblad Jacksonville Republican verskyn het, kan dit as "Hier rus ons" vertaal word. Gedurende die 1850's het die Amerikaanse politikus, skrywer en digter Alexander Beaufort Meek hierdie stelling in sy werke oorgeneem sodat dit algemeen aanvaar is. Deskundiges, wat navorsing oor die Muskogee-tale doen, kon egter geen bewyse vind wat dié vertaling staaf nie.
Byname en simbole duimnael|Alabama se amptelike leuse We Dare Defend Our Rights op 'n padmerker buite Huntsville Alabama dra geen amptelike bynaam nie, maar dikwels is of word na die deelstaat verwys as die Heart of Dixie, The Yellowhammer State ('n naam wat van die gelyknamige staatsvoël afgelei is) en die Cotton State.
Die bynaam The Heart of Dixie is eers in die 1950's vir bemarkingsdoeleindes deur Alabama se Handelskamer bedink, maar het uiteindelik so gewild geraak dat dit vanaf 1955 op die deelstaat se nommerplate verskyn het. Tussen 2002 en 2009 was die amptelike leuse op Alabama se nommerplate Stars Fell on Alabama. Dit het sy oorsprong in 'n jazz-treffer gehad wat in 1934 deur Frank Perkins gekomponeer is. Mitchell Perish het die lirieke geskryf. Die huidige leuse op nommerplate is Sweet Home Alabama. David Shirley en Joyce Hart: Alabama. Celebrate the States. Tweede uitgawe. Tarrytown, NY: Marshall Cavendish Benchmark 2009, bl. 55
Geografie Met 'n oppervlakte van 135 765 km² is Alabama die 30ste grootste deelstaat van die Verenigde State. Waterliggame beslaan sowat 3,2 persent van die oppervlakte – die 23ste hoogste persentasie in die Unie – en sluit die tweede grootste binnelandse waterwegstelsel met 'n totale lengte van 2 100 km in.
Noord-Alabama word deur bergagtige terrein gekenmerk. Die Tennesseerivier het hier 'n groot vallei deur die landskap gesny en talle stroompies, riviere, bergpieke en mere gevorm. Suid hiervan strek saggies golwende vlaktes met weilande en 'n effense afwaartse helling na die Mississippirivier en die Golf van Meksiko.
Landskapsvorme Noord-Alabama duimnael|Tennesseerivier se ravyn Noord-Alabama word – van noord na suid – in vier streke verdeel: die Highland Rim, die Cumberland-plato, die Appalache- of Alabama-rug- en -vallei, en die Piedmont Upland.
Die Highland Rim, waarvan die Tennessee-riviervallei deel uitmaak, is danksy die vrugbare grond van die vallei uiters geskik vir landbou. Die Cumberland-plato is 'n hoogland wat uit sandsteen gevorm is en opmerklike eenvormigheid toon. Dit strek langs die westelike kant van die Appalache vanaf Kentucky suidwaarts tot Alabama, op 'n gemiddelde hoogte van 1300 voet.
Die Appalache-rug en -vallei met ryk afsettings van steenkool, ystererts en kalksteen is suid van die plato geleë. Die gebied, wat deur die Coosarivier gedreineer word, het tot 'n beduidende sentrum van die staalbedryf ontwikkel. Die Coosa was oorspronklik berug vir sy stroomversnellings, maar is in die vroeë 20ste eeu gedeeltelik opgedam om hidroëlektriese krag vir Alabama se snelgroeiende nywerhede op te wek. Die heuwelagtige Piedmont Upland met sy vrugbare valleie is die mees suidelike landskap van Noord-Alabama. Die Piedmont is nóg 'n landskapsvorm wat vanaf Alabama noordwaarts oor groot dele van die Ooskus tot New Jersey strek. In Alabama is die Piedmont se landboupotensiaal al lank ontsluit. Cheaha Mountain, op 2407 voet bo seevlak die hoogste piek in die deelstaat, is hier geleë.
duimnael|links|Coosarivier teen dagbreek Noordoos-Alabama word deur die mees suidelike dele van die Appalache oorheers, 'n groot bergreeks wat langs die Amerikaanse Ooskus noordooswaarts tot Maine strek. Suid van die Appalache-reeks begin die landskap verander in 'n terrein met sandsteenriwwe, diep groen valleie en die kronkelende bergpieke van die Beaver Creek Mountains. Sand- en kalksteenontginning het diep spore gelaat nadat mynbouondernemings dele van die riwwe en heuwels opgeblaas en steil rooi kleiwande agtergelaat het. Belangrike nedersettings in hierdie streek is Gadsden, Scottsboro, Anniston en Fort Payne.