In 1955 het 'n komitee van die Fakulteit Natuurwetenskap en Tegniek aanbeveel dat 'n erepenning toegeken word "vir werk van skeppende aard op die gebied van die tegnologie, d.w.s. werk van praktiese uitvinding en vernuf ... gepaard met 'n uitgesproke element van tegniese vaardigheid". Op 4 April 1956 besluit die Akademieraad: "Daar die Havengaprys in eerste instansie van toepassing is op oorspronklike navorsing en publikasies en waar daar besondere tegnologiese en ander prestasies voorkom wat nie stiptelik binne die kader van die Havengaprys val nie, sal die Akademie voortaan erepennings toeken vir sulke besondere prestasies wat nie gedek word deur die Havengaprys volgens die nuwe opvatting nie." So kom die Erepenning vir Natuurwetenskaplike Prestasie tot stand, wat in 1972 groter luister kry toe dit omskep word in die "Goue Akademiemedalje vir Natuurwetenskaplike en Tegniese Prestasie".
Die medalje is 'n nege karaat goue medalje met 'n deursnit van 63 mm.
Lys van wenners Erepenning vir Natuurwetenskaplike Prestasie (1956-1971) 1958 – J.J. la Grange (prestasies in Antarktika op die gebied van weerkundige waarneminge en ondersoek) 1959 – dr. C.M. Krüger (prestasies op die gebied van die staalbedryf) 1963 – prof. J.H. Neethling (teling van nuwe koringvariëteite) en dr. R.P.M. Krahmann (werk i.v.m. die ontdekking van die Wes-Wits-lyn) 1964 – dr. T.L. Wadley (ontwikkeling van die tellurometer) 1966 – prof. J.C. Bonsma (teling van die Bonsmara-beesras) 1967 – dr. N. Stutterheim (ontwikkeling van die hoogoond-slaksementbedryf) 1968 – prof. C.N. Barnard en die hartspan van die Groote Schuur-hospitaal (eerste hartoorplanting ter wêreld) 1969 – W.S. Garrett (redding van die Wes-Driefonteinmyn) 1970 – prof. J.H.S. Gear (bestryding van tropiese en aansteeklike siektes in Suider-Afrika) 1971 – dr. G.J. Stander (waterherwinning)
Goue Akademiemedalje vir Natuurwetenskaplike en Tegniese Prestasie (sedert 1972) 1972 – mnr. P.A.L. Steyn (teel van geskikte kultivars vir die vrugtebedryf) 1973 – dr. C.J.G. Niehaus (bevordering van Suid-Afrikaanse sjerrie) 1974 – mnr. T.G. la G. Joubert (teling van groentegewasse) 1977 – dr. R.S. Loubser 1978 – mnr. H.S. Scheffel (ontwikkeling van die hoëstabiliteitsdraaistel) 1980 – mnr. H.D. Hölscher 1981 – dr. J.H. Barnard (nuwe tussenvlakmeganisme vir loopvlakremming van spoorbaanvoertuie) 1982 – dr. D.G. Krige 1983 – prof. G. en dr. H.C. Falkson (egpaar) (hulle werk in kankernavorsing) 1984 – dr. D.M. Kemp 1985 – dr. J.L. Barnard 1987 – dr. J. Coetzer 1991 – Krygkor (Rooivalk-gevegsteunhelikopterprojek) ook: AEK (Kernbrandstof-vervaardigingsaanleg) 1992 – MINTEK (Koolstof-in-pulp-proses) 1993 – prof. C.F.B. Hofmeyr 1994 – Nasionale Versnellersentrum te Faure 1997 – Ronald Anderson 1998 – mnr. Gervan Lubbe 1999 – Sunsat Projek (Stellenbosch Universiteit Satellietprojek) 2004 – prof. L. van Rensburg 2005 – prof. F. Hugo 2007 – prof. J. van Staden 2008 – prof. T.F. Kruger 2009 – prof. J.N. Eloff 2010 – prof. A. Lochner
Bron Die artikel is aanvanklik verwerk vanaf Akademiepryse 1909-
Kategorie:SA Akademie vir Wetenskap en Kuns