thumb|280px|Petrogliewe in die Nasionale Park Hawaii-vulkane.
Antieke Hawaii is die tydperk in die geskiedenis van Hawaii voor die vereniging in 1810 van die Koninkryk Hawaii deur Kamehameha die Grote. Navorsers het tradisioneel geraam dat die eerste vestigings op die Hawaise eilande sporadies tussen 400 en 1100 n.C. plaasgevind het deur Polinesiese langafstandnavigators van die Samoa-, Marquesas- en Tahiti-eilande in wat nou Frans-Polinesië is.
In 2010 is die resultate gepubliseer van 'n studie met moderne radiokoolstofdatering wat betroubaarder resultate gelewer het; daarvolgens het mense hulle heelwat later eers op die eilande gevestig, in 'n kort tydperk van omstreeks 1219 tot 1266.Janet M. Wilmshurst, Terry L. Hunt, Carl P. Lipo, and Atholl J. Anderson. "High-precision radiocarbon dating shows recent and rapid initial human colonization of East Polynesia", PNAS, vol. 108 no. 5, , Besoek op 26 Oktober 2015
Die eilande in Oos-Polinesië word gekenmerk deur die ineenskakeling van hulle kulture, en die kort migrasietydperk kan dit verduidelik. Gediversifiseerde agrobosbou en akwakultuur het bronne verskaf vir inheemse Hawaise voedsel. Tropiese materiale is aangepas vir plaaslike huise. Uitgebreide tempels, wat heiau genoem is, is gebou van die lawarotse wat beskikbaar was.
Die ryk natuurlike hulpbronne het 'n relatief digte bevolking ondersteun wat bestaan het uit 'n heersersklas en 'n sosiale stelsel met godsdiensleiers.
Kaptein James Cook het sover bekend in 1778 die eerste kontak met die antieke Hawaiërs gemaak. Sy voorbeeld is deur baie ander Europeërs en Amerikaners gevolg.
Migrasie na die Hawaise eilande 270px|thumb|'n Kaart van die migrasie van die Austronesiërs.
Die mening het verander oor wanneer die eerste Polinesiërs hulle op die Hawaise eilande gevestig het. Radiokoolstofdatering in Hawaii het aanvanklik daarop gedui dat dit moontlik so vroeg as 124 n.C. was.Emory, K.P.; Bonk, W.J.; Sinoto, Y.H. (1959). "Hawaiian Archaeology: Fishhooks". Bernice P. Bishop Museum Special Publication 47. Honolulu In Patrick Vinton Kirch se vroeë boeke oor die Hawaise argeologie is 'n datum van omstreeks 300 n.C. genoem, met meer onlangse voorstelle deur Kirch van 600 n.C. Volgens ander teorieë was dit so laat as 700-800 n.C.
thumb|220px|links|Priesters vaar deur Kealakekuabaai vir die eerste kontakrituele. In 2010 het navorsing nuwe resultate van hoëpresisie-koolstofdatering aangekondig wat betroubaarder was as dié van vorige studies. Daarvolgens het die eerste migrasie van Oos- en Noord-Polinesiërs baie later plaasgevind, in 'n korter tydperk van twee golwe: "die vroegste in die Geselskapseilande omstreeks 1025-1120, vier eeue later as wat voorheen veronderstel is; toe, ná 70-265 jaar, het verspreiding in een groot golf voortgeduur na alle oorblywende eilande omstreeks 1190-1290".
Volgens dié navorsing is die Hawaise eilande omstreeks 1219-1266 beset. Dié vinnige kolonisasie verduidelik vermoedelik die "merkwaardige eenvormigheid van die Oos-Polinesiese kultuur, biologie en taal".
Volgens die Hawaise mitologie was daar ander setlaars in Hawaii: volke wat deur nuwe aankomelinge na afgeleë valleie gedwing is. Daar word beweer stories oor menehune, klein mense wat heiau en visdamme gebou het, bewys die bestaan van antieke volke wat voor die Hawaiërs op die eilande gewoon het.Beckwith, Hawaiian mythology, pp. 321–336.
Vroeë Hawaise terreine Waiʻahukini-rotsskuiling (terrein H8) Die Wai'ahukini-rotsskuiling, terrein H8, lê in 'n lawatonnel naby die suidkus van die eiland Hawaii. Weens die gebrek aan lig en ruimte wat vir normale lewenstoestande nodig is, is dit onwaarskynlik dat mense hier gewoon het. Uitgrawings van terrein H8 het in 1954 begin en is gedoen deur William J. Bonk en studente van die Universiteit van Hawaii, Hilo. Dit is in 1958 afgehandel. Agt vuurherde is op verskillende dieptes op die terrein ontdek, sowel as 1 671 artefakte wat dierreste, vishoeke en tufmateriale van basalt en vulkaanglas insluit. Die verspreiding van die artefakte op terrein H8 dui daarop dat dit aaneenlopend as 'n hengelskuilplek gebruik is tot met die uitbarsting van Mauna Loa in 1868.
'n Vroeë raming oor die tyd van die terrein se aanvanklike besetting in 1969 deur Emory en Sinoto dui op 750 n.C., maar 'n meer onlangse studie met moderne radiokoolstofdatering dui op 'n veel later datum, iewers in die middel 14de eeu.
thumb|220px|Dissels, byle met die kapgedeelte loodreg met die hef. Hālawa-duinterrein Die Hālawa-duinterrein is op die eiland Molokai geleë en is in 1964 ontdek. Dit bestaan uit twee heuwels. In die somer van 1970 het Patrick Vinton Kirch uitgrawings op die grootste van die twee heuwels, heuwel B, gedoen en ses groot lae ontbloot. In die vierde laag was artefakte, begrafnisoorblyfsels en huisfondamente. Van die 496 artefakte wat in dié laag ontdek is, is die belangrikstes vishoeke en dissels ('n soort byl). Die dissels wat in heuwel B gevind is, was soortgelyk aan dié wat op Nihoaeiland en Neckereilande ontdek is, en volgens Kirch en McCoy dien dit as "bewys dat die Hālawa-duinterrein 'n vroeë fase verteenwoordig in die ontwikkeling van die Hawaise materiaalkultuur". Aanvanklike datering dui op 'n tydperk van 600 tot 1200 n.C., maar 'n nuwer datering in 2007 wys die terrein is nie ouer as 1300 n.C. nie en is hoofsaaklik tussen 1400 en 1650 beset.
Vestiging Vroeë setlaars het klere, plante (sogenaamde "kanoplante") en vee saam met hulle gebring en nedersettings aan die kus en groter valleie gevestig. Met hulle aankoms het die setlaars taro, piesangs, kokospalms en broodvrugtebome gekweek en varke, hoenders en ʻīlio ('n soort hond) grootgemaak. Vleis is egter minder dikwels as vrugte, groente en seekos geëet. Smaakmiddels het ingesluit sout, bankoelneute, seewier en suikerriet, wat as beide 'n versoeter en medisyne gebruik is.Adams, 2006, pp. 90–92
thumb|220px|Die Polinesiese of Pasifiese rot het saam met die Polinesiërs na Hawaii gekom. Benewens die kosse wat hulle saamgebring het, het die setlaars ook patats aangeskaf en teen omstreeks 1000 n.C. of vroeër oor die hele Polinesië gekweek. Die patat is inheems aan Suid-Amerika. 'n Ontleding van die DNS van 1 245 patatvariëteite van Asië en die Amerikas is onlangs gedoen en navorsers het 'n genetiese skakel ontdek wat bewys die plant is omstreeks 1100 van die Andes na Polinesië gebring. Dié bevinding is 'n verdere bewys daarvan dat antieke Polinesiërs interaksies met die volke van Suid-Amerika kon gehad het lank voor die aankoms van Europeërs op die vasteland.
Die Pasifiese rot het ook saam met die mens na Hawaii gekom. Volgens David Burney het mense en die diere wat hulle saam met hulle gebring het (varke, honde, hoenders en rotte), veroorsaak dat baie inheemse spesies voëls, plante en groot landslakke tydens die kolonisasie uitgesterf het.Burney, Back to the Future in the Caves of Kaua'i. pp. 83
Vroeë Polinesiese setlaars het estuariums en strome in visdamme omskep: reeds in 500 n.C. of vroeër. Grond en gekapte stene is gebruik om woonplekke te bou, en dit het die antieke Hawaise akwakultuur van die gevorderdste van die oorspronklike mense van die Stille Oseaan gemaak.Burney, Back to the Future in the Caves of Kaua'i. pp.60-62 Teen die tyd van kaptein James Cook se koms was daar reeds minstens 360 visdamme wat 900 000 kg vis per jaar geproduseer het.
Die nuwe setlaars het hale (huise) en heiau (tempels) gebou. Argeoloë glo vandag die eerste vestigings het aan die suidpunt van die eiland Hawaii plaasgevind en dat die mense vinnig noordwaarts versprei het met die seekus en maklik toeganklike riviervalleie langs. Namate die bevolking toegeneem het, is nedersettings verder noordwaarts gestig.
Omdat die eilande so klein is, was die bevolking baie dig. Voor Europese kontak was die bevolking reeds in die omgewing van 200 000 tot 1 000 000 mense. Ná Europese kontak het die bevolking egter vinnig afgeneem weens siektes soos pokke.
'n Tipiese dorpie 220px|thumb|Twee antieke heiau, Hāpaialii en Keeku Heiau. thumb|220px|'n Tekening van 'n heiau, by Waimea, Kauai.
'n Tradisionele dorpie van antieke Hawaii het verskeie strukture ingesluit. In 'n volgorde van belangrikheid was daar:
Heiau, 'n tempel aan die gode. Daar was twee hoofsoorte. Die landboutipe mapele is opgedra aan Lono en kon gebou word deur die adel, priesters en opperhoofde. Die seremonies was oop vir almal. Die tweede soort, luakini, was groot oorlogstempels waar dier- en mensofferandes gemaak is. Hulle is op hoë klipterrasse gebou en versier met idole wat uit hout en klip gekerf is. Die luakini, 'n bron van groot mana (goddelike mag), kon net deur die adel en priesters binnegegaan word. Hale alii, die huis van die opperhoof. Dit is gebruik as die woonplek van die belangriste hoof en as ontmoetingsplek van die minder belangrike hoofde. Dit is altyd op 'n hoë klipfondament gebou om die sosiale aansien aan te dui. Kāhili, of veerbaniere, is buite geplaas om te wys hoe belangrik die gebou was. Vroue en kinders kon dit nie binnegegaan het nie. Hale pahu, die huis van die heilige hula-instrumente. Die pahu-tromme is daar gehou. Dit is as 'n godsdienstige plek beskou omdat die hula 'n godsdiensaktiwiteit was ter ere van die godin Laka. Hale papaa, die koninklike bergplek. Dit is gebou om koninklike voorwerpe te berg, soos materiale, knuppels, spiese en ander wapens. Hale ulana, die huis van die wewer. Dit is die plek waar die wewervroue elke dag sou byeenkom om mandjies, waaiers, matte en ander voorwerpe van droë blare te weef. Hale mua, die mans se eetplek. Dit is as 'n heilige plek beskou omdat dit gebruik is om idole, of voorouergode, uit klip te kerf. Dit is so ontwerp dat mans dit vinnig kon binnegaan en verlaat. Hale aina, die vroue se eetplek. Vroue het apart van die mans geëet. Mans kon nie saam met hulle eet nie, uit vrees dat die vroue hulle mana, of goddelike gees, sou steel. Hale waa, die huis van die kano. Dit is aan die kus gebou as bergplek vir hengelbote en die hout waarvan die kano's gebou is. Hale lawaia, die huis van hengel. Dit is aan die strande gebou om visnette en te berg. Hulle is van sterk tou gemaak. Vishoeke is van die bene van mense, varke of honde gemaak. Implemente in die hale lawaia was die waardevolstes in die hele dorp. Hale noho, die leefhuis. Dit is gebou vir gesinne om in te woon en slaap. Imu, die gemeeskaplike oond. Dit is in die grond gegrawe en gebruik om die hele dorpie se kos te kook. Net mans mag in die imu gekook het.
thumb|220px|'n 18de-eeuse Hawaise helm en mantel, tekens van koninklikheid. Kastestelsel Antieke Hawaii het 'n kastestelsel gehad. In The overthrow of the kapu system in Hawaii beskryf Stephenie Seto Levin die hoofklasse:
Alii. Dié klas het bestaan uit die hoë en laer hoofde van die verskillende gebiede. Hulle het met goddelike mag, of mana, regeer. Kahuna. Priesters wat godsdiensseremonies by die heiau en ander plekke uitgevoer het. Die beroepslui het ingesluit meestertimmermanne, skeepsbouers, sangers, dansers, doktors en helers. Makaāinana. Gewone mense wat geboer, gehengel en die eenvoudiger kunste beoefen het. Hulle het nie net vir hulleself en hulle gesinne gewerk nie, maar ook om die opperhoofde en kahuna te onderhou. Kauwā. 'n Breë en neerhalende term wat na diensknegte, slawe en uitgeworpenes verwys het. Huwelike tussen die hoër kastes en die kauwā was streng verbode. Die kauwā het vir die opperhoofde gewerk en die mans is dikwels as menslike offerandes gebruik deur hulle by die heiau te verdrink. (Ander mense wat as offerandes gebruik is, is wetsoortreders en verslane politieke teenstanders.)
Opvoeding