thumb|260px|Ses belangrike gode (atua) wat deur godestokkies van hout voorgestel word, van links: Tūmatauenga, Tāwhirimātea, Tāne Mahuta, Tangaroa, Rongo-mā-Tāne en Haumia-tiketike.
Maori-mitologie en Maori-tradisies is twee groot kategorieë waarin die mondelinge tradisies van Nieu-Seeland se Maori's verdeel kan word. Maori-mites is fantasieverhale oor die oorsprong van die waarneembare wêreld vir die pro-Europese Maori's, en dit behels dikwels gode en halfgode. Maori-tradisies bevat eerder volkslegendes, wat dikwels gaan oor historiese of halfhistoriese voorvaders. Die twee kategorieë smelt saam in whakapapa om die algehele oorsprong van die Maori's te verduidelik, asook hulle verbintenisse met die wêreld waarin hulle woon.
Die Maori's het nog nie 'n skryfstelsel ontwerp teen die tyd dat hulle in 1769 kontak met die Europeërs gemaak het nie, en hulle het dus geen manier gehad om hulle geskiedenis, tradisies of mitologie aan te teken nie. Hulle het dit mondelings van geslag tot geslag oorvertel. Die drie uitdrukkingsvorme in die Maori- en Polinesiese kultuur is genealogiese voordrag, gedigte en vertellende prosa.
Die rituele, gelowe en algemene wêreldsiening van die Maori's is geskoei op 'n uitgebreide mitologie wat oorgeërf is van 'n Polinesiese tuisland met die naam Hawaiki en vir hulle nuwe blyplek aangepas en ontwikkel is. Benewens verskillende Polinesiese kulture wat verskillende weergawes van 'n sekere tradisie vertel, sal dieselfde storie oor 'n karakter, gebeurtenis of voorwerp baie verskillende variasies hê by elke individu wat dit oorvertel. Dit beteken daar is nooit 'n vaste of "korrekte" weergawe van 'n spesifieke verhaal nie.
Mites Mites speel in die vere verlede af en het dikwels te doen met die bonatuurlike. Hulle gee die Maori's se idees weer oor die skepping van die heelal en die oorsprong van die gode (atua) en mense. Die mitologie gee rekenskap van natuurverskynsels, die weer, sterre en maan, die visse van die see, die voëls van die woud en die woude self. Baie van die kulturele gebruike van die Maori's kom uit die mites, soos die openingseremonies wat met dagbreek uitgevoer word om die koms van die lig in die wêreld te weerspieël.
Die Maori's se begrip van die ontwikkeling van die heelal is in genealogiese vorm uitgedruk. Dié geslagsregisters verskyn in baie weergawes, met verskeie simboliese temas wat voortdurend herhaal word. Die kosmogoniese geslagsregisters begin gewoonlik by die twee name Rangi en Papa (die lugvader en aardmoeder). Uit die huwelik tussen dié hemelse paar het die gode en uiteindelik alle lewende dinge op aarde ontstaan.
Die hoofkorpus van die mitologie ontvou in drie siklusse, wat insluit die oorsprong van die wêreld, die stories van die halfgod Maui en die Tāwhaki-mites.
Skepping Begin van die heelal Volgens een algemene vertelling van die skepping van die heelal was daar in die begin Te Kore (Die Niks, Leemte), wat Te Korematua (Die Ouerlose Leemte) geword het wat wou voortplant. Daaruit het Te Pō (Die Nag) voortgevloei, en dit het Te Pōroa (Die Lang Nag) geword en toe Te Pōnui (Die Groot Nag). Geleidelik het Te Ao (Die Lig) ontstaan, en dit het na al die hoeke van die heelal uitgebrei en Te Aotūroa (Die Langdurige Lig) geword. Volgende het Te Ata (Die Dagbreek) gekom en daaruit Te Mākū (Die Vogtigheid) en Mahoranuiatea (Wolk van die Dagbreek). Te Mākū en Mahoranuiatea het getrou en Rangi gevorm.
Skepping van die aarde thumb|150px|links|Papa en Rangi in ’n stywe omhelsing.
Papa is gewoonlik Rangi se vrou, maar hulle is deur die hele Polinesië bekend, selfs al is hulle nie getroud nie. Die egpaar was in 'n stywe omhelsing gewikkel wat die lig uit die aarde blokkeer het. Uit hulle is die kinders Haumia, Rongo, Tāwhiri, Tangaroa, Tū en Tāne gebore. Sommige tradisies noem ook onder andere Rehua, Urutengangana, Aituā, Tiki, Whiro of Ruaumoko. 'n Oorlog of geveg tussen die sibbes eindig dikwels in hulle wat die voorouers van sekere begrippe, gebruike, maniere, diere, gereedskap of plante word wat elkeen verteenwoordig. Tāne het byvoorbeeld Tāne Mahuta, die vader van die voëls en die woud, geword en Tū het Tūmatauenga, die vader van die mens en sy bedrywighede soos oorlog, geword.
Eindelik raak die kinders gefrustreerd met die klein ruimte en hulle skei die egpaar: deur Rangi die lug in te stuur en Papa onder te los om vir hulle te sorg. Soms styg Tāne Mahuta op na die lug om Ranginui in sterre te klee; dié rou oor sy vrou elke keer dat dit reën. Net so span Papatūānuku haar in om die lug te bereik en veroorsaak aardbewings, en die mis kom uit haar sugte.
In een weergawe stem Tāwhiri "eindelik" in tot die skeiding, terwyl Whiro dit teenstaan. Tāne gee Tumatakaka en Tū opdrag om byle te kry om Rangi se arms af te kap, en die bloed wat van hom af op Papatūānuku drup, is glo waar die rooi sonsondergang vandaan kom. Dit verskil van die weergawe waarin Tāne Tū se voorstel verwerp om hulle ouers te vermoor. Daarin is Tāwhiri die broer wat die meeste ontstel word deur die idee om hulle ouers hoegenaamd te skei.
In die tradisies van Suideiland trou Rakinui met minstens drie vroue, insluitende Papatūānuku. Poharuatepō is een van sy vroue en hulle is die ouers van Aoraki. In dié weergawes word die gode wat gewoonlik as Rakinui se kinders beskou word, mekaar se halfsibbes. Van hulle word selfs Rakinui se kleinseuns.
Skepping van Suideiland Aoraki en sy broers Rakiora, Rakirua en Rarakiroa vaar oor die water om Rakinui se nuwe vrou, Papatūānuku, te besoek. Toe hulle terugkeer, slaan hulle kano op 'n rif om en hulle klim bo-op sodat hulle nie verdrink nie. Hulle vries en verander in klip, en so word hulle die hoogste pieke van die Nieu-Seelandse Alpe. Daarna word hulle deur Tūterakiwhānoa ontdek, wat Kahukura se hulp inroep om die land te vorm en aan te trek. So het Te Waka o Aoraki Suideiland geword.
In 'n effens ander weergawe land Aoraki en sy oupa Kirikirikatata by Shag Point, waar hulle in berge verander. Kirikirikatata oorreed Aroarokaehe om daar by hulle te kom sit, terwyl haar man, Mauka Atua, 'n piek van die Ben Ohau-berge word.
Oorsprong van die mens Daar is baie mitologieë wat die oorsprong van die mens beskryf. Hoewel Tūmatauenga die hoofgod is wat met die mens en sy bedrywighede verbind word, kry Tāne Mahuta soms die eer vir die skepping van die mens. Tāne is die Maori-woord vir "man". Soms is Tiki ook betrokke. In een storie verlaat Tāne Mahuta sy vrou Rangahore omdat sy 'n klip gebaar het.
Nog 'n legende oor die mens se oorsprong is een waarin Tāne Mahuta die eerste vrou, Hineahuone, uit die aarde skep. By haar word hy die pa van Hinetītama. Tāne Mahuta steek van haar weg wie haar ouers is en het kinders by haar. Toe sy besef hy is haar pa, vlug Hinetītama na die onderwêreld en verander haar naam na Hinenuitepō. Sy word die godin van die nag, die dood en die onderwêreld, waar sy die siele van hulle afstammelinge in ontvangs neem. In 'n soortgelyke storie vind Tiki die eerste vrou in 'n poel, wat hy hom verbeel deur middel van sy weerspieëling, en hy maak haar werklik deur die poel met grond te bedek. Sy raak later opgewerk toe sy 'n paling sien. Sy steek Tiki aan en dit lei tot die eerste voortplantingsdaad.
Maui se wedervarings
Die son word vertraag In die dae van die ou Tamanuiterā (songod), het die son te vinnig deur die lug beweeg en kon die mens nie sy daaglikse take voltooi nie. Die nagte was lank en koud en het baie ure geduur terwyl Tamanuiterā geslaap het. Māui en sy broers het na die plek gereis waar Tamanuiterā slaap. Hulle het 'n lang tou by hulle gehad wat in sommige stories van hulle suster Hina se hare gamaak was. Die broers het 'n lus of net van die tou gemaak en Tamanuiterā vasgebind. Met 'n knuppel (patu) wat van hulle ouma Murirangawhenua se kakebeen gemaak was, het Maui die son geslaan totdat hy ingestem het om stadiger te beweeg sodat die dae langer kon wees.
Noord- en Suideiland In Suid-Westland is die Ngāi Tahu-stam se Te Tauraka Waka a Maui Marae genoem na die tradisie waarvolgens Maui se kano by Bruce Bay geland het toe hy in Nieu-Seeland aankom.
In 'n storie wat by 'n Kāi Tahu-vrou gehoor is, gooi Maui 'n reus in die see en begrawe hom onder 'n berg by die Banks-skiereiland. Die volgende winter was die reus nog onder die berg, maar in die somer het hy beweeg. Dit het veroorsaak dat die land verdeel en Akaroa-hawe gevorm het. Maui het aangehou om grond bo-op die reus te gooi, maar elke somer sou die reus beweeg en so het hy 'n meer en baai gevorm. Dit het so aangehou totdat hy nie meer kon beweeg nie.
Maui se broers het hom voortdurend ontwyk en wou nie hê hy moes saam met hulle gaan hengel nie. Eendag het hy in hulle kano weggekruip en saam met hulle gegaan. Toe hulle ver op die see uit was, het hy uitgekom en Murirangawhenua se kakebeen, waarvan nou 'n vishoek gemaak is, gebruik om vis te vang. Omdat sy broers hom nie wou toelaat om hulle aas te gebruik nie, het hy sy neus deurboor en sy bloed as aas gebruik. Gou het Maui 'n groot vis, wat glo 'n geskenk van Murirangawhenua was, aan sy hoek gehad. Hy het dit suksesvol uit die see getrek en die kano het bo-op Mount Hikurangi vasgehaak, waar dit volgens 'n sekere tradisie steeds is. Maui het die vis gaan besigtig en dit deur priesters van Hawaiki laat seën in die hoop dat sy broers dit sal oppas. Die broers was egter jaloers, en hulle het die vis geslaan en oopgesny. Hulle het die berge en valleie wat Te Ika-a-Māui (Noordeiland) sou word daaruit gekerf. Te Waka a Māui (Suideiland) was die naam van Maui se kano, Te Punga a Māui (Stewart-eiland), was sy ankerklip en Te Matau-a-Māui (Cape Kidnappers) sy vishoek.
Die mens kry vuur Een nag het Maui uit nuuskierigheid al die vure in sy dorp geblus om uit te vind waar vuur eintlik vandaan kom. Sy ma, Taranga, die dorp se stamhoof, het Maui daarna na sy ouma Mahuika, die godin van vuur, gestuur om nog vuur te kry. Sy ouma het aan hom 'n vingernael gegee, maar hy het dit geblus. Sy het aangehou om vir hom vingernaels te gee, maar hy het hulle almal geblus. Eindelik het sy ouma kwaad geword en die land en see aan die brand gesteek om Maui aan te val. Hy het hom in 'n valk verander om te ontsnap, maar die vuur het die onderkant van sy vlerke rooi geskroei. Hy het gebid dat sy voorouers Tāwhirimātea en Whaitirimatakataka reën stuur om die vuur te blus. Mahuika het haar laaste nael na Maui gegooi, maar het hom misgegooi en die bome aan die brand gesteek. Maui het die droë takke van 'n boom na sy mense teruggeneem om vir hulle te wys hoe om self vuur te maak.
Hina en Tinirau Maui het Hina se man, Irawaru, in die eerste hond verander ná 'n rusie op 'n hengeluitstappie. Toe Hina dit uitvind, het sy in die see gespring. In plaas daarvan om te verdrink het sy na Motutapu gedryf, waar sy die vrou van hoofman Tinirau, die seun van Tangaroa, geword het. Sy het die naam Hinauri aangeneem om haar bui te weerspieël nadat Maui Irawaru verander het. By Tinirau het Hina die ma van Tūhuruhuru geword.
In 'n ander weergawe was Hina die vrou van Maui. Sy het soms 'n swempoel besoek waar Te Tunaroa, die vader van palings, haar gemolesteer het. Uit wraak het Maui Te Tunaroa se liggaam in stukke gesny en hulle op verskillende plekke gegooi, waar hulle verskillende soorte vis geword het.
Mislukte poging om die dood te oorwin Eendag is Maui saam met sy ma na die onderwêreld op soek na sy pa, Makeatutara. Dié het per ongeluk die dooprituele vir Maui verkeerd uitgevoer en so verseker dat hy sou sterf. Maui het besluit om die dood te fnuik deur sy voormoeder Hinenuitepō te trotseer. Sy metgeselle verskil van weergawe tot weergawe, maar is gewoonlik óf sy broers óf klein voëls. Om Hinenuitepō te oorwin moes Maui in die vorm van 'n wurm deur haar vagina kruip en deur haar mond uitklim. Ongelukkig het een van sy metgeselle begin lag toe hy sien hoe Maui sy taak begin. Hinenuitepō het wakker geword en Maui tussen haar bene vermorsel.