260px|thumb|'n Maori-haka in 2012. thumb|260px|'n Wharenui (vergaderhuis) op die dorp Ohinemutu, Rotorua, met 'n tekoteko bo-op.
Die Maori-kultuur (Maori: Māoritanga) is die gebruike, kultuurpraktyke en geloofsoortuigings van die inheemse Maori-volk van Nieu-Seeland. Dit het uit die Oos-Polinesiese kultuur ontstaan en is steeds deel daarvan. Die Maori-kultuur vorm 'n kenmerkende deel van die Nieu-Seelandse kultuur en danksy 'n groot diaspora en die opneem van Maori-motiewe in die gewilde kultuur word dit wêreldwyd aangetref. Onder die Maori's, en in 'n mindere mate dwarsoor Nieu-Seeland, word die woord Māoritanga dikwels gebruik as min of meer 'n sinoniem vir die Maori-kultuur. Die Maori-agtervoegsel -tanga is rofweg 'n ekwivalent van die Afrikaanse agtervoegsel "-heid" of "-skap". Dit is ook al vertaal as "'n Maori-lewenswyse".
Vier aparte maar oorvleuelende kultuurtydperke het histories tot die Maori-kultuur bygedra:
Die tyd voordat die Maori-kultuur van die ander Polinesiese kulture begin verskil het (Argaïese tydperk); Die tyd voor wydverspreide Europese kontak (Klassieke tydperk); Die 19de eeu, waarin die Maori's intensiewer wisselwerkings met Europese besoekers en setlaars gehad het; en Die moderne tyd, sedert die begin van die 20ste eeu.
Māoritanga in die moderne tydperk word al hoe meer beïnvloed deur verstedeliking, groter kontak met Nieu-Seelanders van Europese afkoms 'n herlewing van tradisionele praktyke.
Tradisionele Maori-kuns speel 'n groot rol in Nieu-Seelandse kuns. Dit sluit in whakairo (houtsnywerk), raranga (weefwerk), kapa haka (groepoptrede), whaikōrero (redenaarskuns) en tā moko (tatoes). Die patrone en karakters wat voorgestel word, is 'n weerspieëling van die geloofsoortuigings en geslagsregisters (whakapapa) van die Maori's. Kunstenaars volg dikwels die tegniek van hulle voorouers, maar in die 21ste eeu sluit Māoritanga ook kontemporêre kunste soos rolprente, televisie, poësie en die teater in.
Die Maori's se taal is bekend as te reo Māori, wat verkort word tot te reo (letterlik "die taal"). Aan die begin van die 20ste eeu het dit gelyk of te reo Māori en ander aspekte van die Maori's se lewenswyse kan verdwyn. In die 1980's het regeringsgeborgde skole (Kura Kaupapa Māori) mense met Europese én Maori-herkoms egter in te reo begin onderrig.
Tikanga Māori is 'n stel kultuurwaardes, gebruike en praktyke. Dit sluit begrippe in oor wat heilig is, om jou gemeenskap te versorg, grondregte en ander verhoudings tussen mense en hulle omgewing. Tikanga verskil van 'n Westerse etiese of regstelsel omdat dit nie deur 'n sentrale owerheid of 'n stel dokumente voorgeskryf word nie. Dit is 'n vloeibaarder en dinamieser stel praktyke, en gemeenskapsaanspreeklikheid is "die doeltreffendse maganisme vir die afdwing van tikanga".
Geskiedenis Die Maori's se kultuurgeskiedenis is onlosmaaklik verbind aan die kultuur van Polinesië as 'n geheel. Die Nieu-Seelandse eilandgroep vorm die suidwestelike hoek van die Polinesiese Driehoek, 'n groot deel van die Stille Oseaan met drie eilandgroepe by sy hoeke: die Hawaise Eilande, Rapa Nui (Paaseiland) en Nieu-Seeland (Aotearoa in Maori). Die baie eilandkulture in die Polinesiese Driehoek het soortgelyke tale wat afstam van 'n proto-Maleis-Polinesiese taal wat 5 000 jaar gelede in Suidoos-Asië gepraat is. Polinesiërs het ook kultuurtradisies gedeel soos godsdiens, sosiale organisasie, mites en materiële kultuur. Antropoloë glo alle Polinesiërs stam af van 'n protokultuur van die suidelike Stille Oseaan wat deur 'n Austronesiese (Maleis-Polinesiese) volk ontwikkel is wat uit Suidoos-Asië migreer het. (Ander Polinesiese hoofkulture sluit dié in van Rapa Nui (nou bekend as Paaseiland), Hawaii, die Marquesaseilande, Samoa, Tahiti, Tonga en die Cookeilande.) Oor die laaste vyf millenniums het proto-Polinesiërs en hulle afstammelinge 'n reeks ingewikkelde en merkwaardige transoseaniese trektogte deurgemaak. Die finale dele van dié togte het oor ekstreme en ongeëwenaarde afstande plaasgevind: na Hawaii, Rapa Nui en Aotearoa.
Polinesiese seevaarders was seenavigators en sterrekundiges. Polinesiërs het lang afstande op see afgelê. Die teenwoordigheid van baie vroue onder die vroeë setlaars in Nieu-Seeland dui daarop dat die Polinesiese migrasievaarte nie toevallig was nie, meer met voorbedagte rade. Die mees onlangse betroubare bewyse dui daarop dat aanvanklike vestigings in Nieu-Seeland omstreeks 1280 vanaf die Geselskapseilande plaasgevind het. In 1769 het die ervare navigator Tupaia van die Geselskapseilande by kaptein Cook op die skip Endeavour aangesluit op sy vaart suidwaarts. Ondanks 'n gaping van honderde jare kon Tupaia die Maori-taal verstaan, want dit het ooreengestem met sy moedertaal. Sy teenwoordigheid en vermoë om te vertaal het baie van die wrywing tussen die Europese verkenners en die Maori's in Nieu-Seeland uit die weg geruim.
Europese matrose, insluitende kaptein Cook, het op Polinesiese matrose afgekom wat ter see verdwaal het, en dit dui daarop dat kennis van langafstandnavigasie teen die middel 18de eeu nie oral voorgekom het nie.
Argaïese tydperk, c. 1300 thumb|240px|links|Vroeë Maori-voorwerpe soortgelyk aan Polinesiese vorms (Wairau Bar, Marlborough). Let op die vulkaanglas van Noordeiland (links bo).
Navorsers noem dikwels die tydperk tussen omstreeks 1280 en omstreeks 1450 die Argaïese tydperk, of die "Moajagterstydperk" na die moa, die groot, nievlieënde voël wat 'n groot deel uitgemaak het van die vroeë Polinesiese setlaars se dieet. In dié tyd het die Maori's by hulle nuwe omgewing aangepas, maar kultureel het hulle min verander van hulle voorouers van die tropiese Stille Oseaan.
thumb|180px|Tradisionele amptelike kleredrag uit die Klassieke tydperk, insluitende 'n hondevelmantel en 'n patu (kort knuppel). Die immigrante het baie eetbare plante van die tuiseilande in die sentrale Stille Oseaan met hulle saamgebring. Een hiervan was die patat (kūmara), wat die belangrikste een geword het. Die verre suidelike deel van Aotearoa was egter te koud vir enige van dié gewasse. Groot hoeveelhede van die koolpalm se bolle is geëet – dit is stadig in grondoonde gekook om van die gif ontslae te raak en 'n effens soet pulp te skep. Skulpvis, vis, haaie en robbe was ook algemene kossoorte. Honde en rotte is van ander eilande gekoop. Die invoer van rotte het ongetwyfeld 'n groter impak op Nieu-Seeland se natuurlewe gehad as enige ander organisme buiten die mens. Die honde het die mense help jag, maar is ook geëet.Irwin pp 10–14.
Die nuwe omgewing het eise aan die Polinesiese setlaars gestel. Die kouer klimaat het beteken dat tropiese stapelgewasse versigtig verbou moes word om te oorleef, en van hulle het glad nie plaaslik gegroei nie. Patats (kūmara) was 'n belangrike gewas wat die Polinesiese setlaars saam met hulle gebring het. 'n Groot deel van die kweek van die patat het geritualiseer geraak – dit is selfs verbind met Rongomātāne (Rongo), 'n hoë godheid (atua).
Kūmara word ook in 'n spreekwoord gebruik wat mense aanmoedig om nederig te wees: Kaore te kūmara e kōrero mo tōna māngaro. ("Die kūmara praat nie van sy eie soetigheid nie.")
Seisoenale bedrywighede sluit in tuinmaak, hengel en die jag van voëls. Die hooftake is tussen mans en vroue verdeel, maar daar was ook baie groepsbedrywighede, soos kosversameling.
Dié vroeë koloniste het Nieu-Seeland verken op soek na klippe om gereedskap van te maak. Die hoofbronne van klippe sluit in Mayor Island, Taupo en Kerikeri (obsidiaan, of lawaglas). Jade en pakohe (argilliet) is vroeg reeds op Suideiland ontdek om die hedendaagse Reefton en Nelson.Davidson, Janet. "Roger Shepherd Duff". Dictionary of New Zealand Biography. Ministry for Culture and Heritage. Besoek op 23 April 2017. Basalt is later ook ontdek en in bouwerk gebruik. Klippe is gebruik in alle aspekte van die Polinesiese lewe: van hout kap en kos sny tot as ankers vir kano's en visnette, om die hitte in 'n grondoond te reguleer en klipknuppels te maak. Dié praktyke, wat goed bewaar gebly het by die argeologiese terrein Wairau Bar, was kenmerkend van die Oos-Polinesiese kultuur van dié tyd.
Twee Polinesiese artefakte verbind vroeë setlaars met Polinesië. Een, 'n toringskulp wat net op die eilande van die suidelike Stille Oseaan aangetref word, veral die Geselskapseilande, is bewerk om 'n klein beitel te maak wat by Wairau Bar ontdek is en dateer van omstreeks 1300. Die ander een is 'n 6 cm lange Polinesiese pêrel wat deur hengelaars as lokaas gebruik is en in 1962 by Tairua ontdek is. Dié lokaas dateer van die middel 14de eeu. Dit is ontdek in 'n tipiese klein moajagterskamp aan die kus.CFG Heritage Ltd. Louise Furey. 2009. Report to Historical Places Trust.2009.
Die nuwe land het ook nuwe geleenthede geskep. Die Maori's het geleer hoe om plaaslike bronne te gebruik, soos pounamu ('n soort klip), hout, vlas en die oorvloedige voëllewe vir praktiese gereedskap en kos, sowel as pragtige ornamente en kledingstukke. Dié aanpassing by die geleenthede en uitdagings van die nuwe omgewing het gelei tot die ontwikkeling van die Klassieke Maori-kultuur.
Klassieke tydperk, c. 1500 thumb|links|220px|'n Model van 'n pā. thumb|180px|'n Tradisionele amptelike rok uit die Klassieke tydperk. Daar is 'n hei-tiki (ornamentele halssnoer) om haar nek, 'n jade- en 'n haaitandoorbel aan haar ore en twee huia-vere in haar hare.
Maori-artefakte het rondom die 15de eeu begin verander van 'n Oos-Polinesiese tot 'n makliker herkenbare Klassieke Maori-styl, 'n styl wat tot goed in die kontaktydperk in die 18de en 19de eeu voortgeduur het. Terselfdertyd het Maori-groepe minder nomadies geraak en het hulle meer in gedefinieerde gebiede begin woon en begin staatmaak op tuinbou as 'n voedselbron.
Afhanklikheid van gebergde kos soos patats het beteken pakhuise moes beskerm word teen diewe. Die wydverspreide oprigting van groot versterkte geboue met die naam pā op prominente heuwels en berguitlopers in dié tyd is 'n bewys van die ontwikkeling van 'n krygshaftige stamkultuur.
Nie alle aspekte van dié kultuur het oral plaasgevind nie, veral nie op Suideiland, waar kūmara nie maklik gegroei het, nie.
Kolonisasie, van c. 1800 Baie min Europeërs het in die 18de en vroeë 19de eeu in Nieu-Seeland aangekom en die basiese waardes van die Maori-kultuur het dus aanvanklik min verander. Die sendeling Henry Williams het die Europeërs op Noordeiland in 1839 op sowat 1 100 geraam, van wie 200 sendelinge was, en daar was altesaam 500-600 Europeërs in die Bay of Islands. Die Maori-bewoners in dié tyd is geraam op sowat 30 000 tot 40 000, terwyl dit 50 jaar vroeër sowat 100 000 was. Dié afname in getalle was hoofsaaklik weens Europese siektes wat na Nieu-Seeland gebring is, soos masels en griep, en die Musketoorloë van 1807-'37.
Samuel Marsden van Nieu-Suid-Wallis het in 1814 Aotearoa se eerste Christelike sending in die Bay of Islands gestig. Omdat die sendelinge van die Maori's afhanklik was vir baie basiese benodigdhede, het hulle muskette en ystergereedskap vir kos verruil. Teen die tyd dat dié praktyk deur eerwaarde Williams ontmoedig is en eindelik deur die goewerneur verbied is, het dit reeds die oorloë tussen Maori-stamme aansienlik verander en gelei tot die Musketoorloë van die 1820's en 'n geweldige toename in die aantal slagoffers. Alkohol was nie in die Maori-kultuur bekend voor hulle kontak met Europeërs nie en dit het 'n negatiewe uitwerking op individuele en kollektiewe gesondheid gehad. Baie Maori's het eerwaarde Williams gesteun in sy teenstand van die bedrywighede van die "ongodsdienstige Europeërs in die Bay of Islands". Die sending by "Paihia, reg oorkant die berugte, wettelose nedersetting Kororāreka (later Russell), [is gestig] om Christenskap te kontrasteer met die dekadente vorme van Europese lewe".