Anna Margaretha Louw (31 Desember 1913 - 12 Junie 2003) was 'n Afrikaanse skryfster en 'n wenner van die Hertzogprys.
Biografie Sy is naby Calvinia in die destydse Kaapprovinsie, Unie van Suid-Afrika gebore. Na hoërskool studeer sy aan die Universiteit van Stellenbosch, met hoofvakke Engels, Afrikaans, Nederlands, Duits, Frans en Sielkunde. Na universiteit trou sy met Lewis Hurst. Die egpaar gaan woon twee jaar in New York, Verenigde State.http://www.stellenboschwriters.com/louwa.html
Met haar terugkeer na Suid-Afrika behaal sy 'n verdere baccalaureus-graad aan die Universiteit van Kaapstad. Sy skei van haar eerste man, en begin te skryf - aanvanklik tydskrifartikels en kortverhale wat in die Sarie gepubliseer is -- kort na haar huwelik met Gerhard Bassel. Die egpaar reis baie rond, onder meer in Europa en Meksiko.
Sy het vyf kinders gehad, Wendy, Nicholas en Elizabeth vanuit haar eerste huwelik; en 'n tweeling, Christina en Editha met haar tweede man.
Sy verower die Olive Schreiner-prys vir Prosa in 1964, vir Twenty Days That Autumn; die Scheepersprys vir Jeugliteratuur in 1968 vir Die voortreflike familie Smit; die W.A. Hofmeyr-prys in 1971 vir Die groot gryse; die Hertzogprys in 1976 vir Kroniek van Perdepoort, asook die W.A.Hofmeyer-prys en die CNA-prys in 1977 vir dieselfde werk.
Sy word deur vooraanstaande akademici as een van die belangrikste Afrikaanse romanskrywers beskou. Die ewige stryd tussen die goeie en die bose word besonder kreatief in haar werk ontplooi, en sy word geloof vir haar wegbreking vanaf die literêre tradisie van plaaslike realisme.http://www.litnet.co.za/anna-m-louw-1913-2003/
Sy sterf in Rondebosch, Kaapstad, Republiek van Suid-Afrika.
Lewe en werk Anna Margaretha Louw is op 31 Desember 1913 op die plaas Soetwater in die distrik Calvinia gebore.http://esat.sun.ac.za/index.php/Anna_M._Louw Haar pa is hier ’n skaapboer en deeltydse skaapinspekteur, terwyl haar ma onderwyseres was op die skool op die plaas. Sy is die tweede van vier kinders en is ’n kleinniggie van N.P. van Wyk Louw en W.E.G. Louw. Sy behaal standerd ses op die plaasskool op Soetwater, waar N.P. van Wyk Louw in 1924 ’n kwartaal lank vir haar skoolhou terwyl haar ma op kraamverlof was. Op vyftienjarige leeftyd matrikuleer sy aan die Hoërskool Calvinia en verwerf beurse vir verdere studie aan die universiteite van Stellenbosch en Kaapstad met haar goeie resultate. Hierna studeer sy vanaf 1930 tale (Afrikaans-Nederlands, Engels, Duits en Frans), Etiek en Sielkunde aan die Universiteit van Stellenbosch, waar sy in 1932 ’n B.A.-graad verwerf.
Sy begin na universiteit werk by die versekeringsmaatskappy Sanlam. Na sowat agtien maande tree sy op twintigjarige ouderdom in die huwelik met dr. Lewis Hurst, later professor in Psigiatrie aan die Universiteit van die Witwatersrand, ’n huwelik waaruit drie kinders (Wendy, Nicholas en Elizabeth) gebore word. Sy vergesel haar man op 25-jarige ouderdom op ’n studiereis na die Verenigde State van Amerika, waar sy vir twee jaar in New York woon en kursusse in kuns en joernalistiek aan die Universiteit van Columbia volg. Hier het sy ook die geleentheid om drie maande lank per motor in die Verenigde State van Amerika, Meksiko en Kanada te reis. In 1943 skryf sy weer in as student by die Universiteit van Kaapstad en in 1944 behaal sy die B.Soc.Sc.-graad. Na haar egskeiding trou sy met die ekonoom dr. Gerhard Bassel en die egpaar vestig hulle in Rosebank in Kaapstad. Twee kinders (die tweeling Christina en Editha) word uit die huwelik gebore.
Sy het ’n besondere belangstelling in die mistieke en verskillende godsdienste, wat sy vir meer as dertig jaar bestudeer en hierdie belangstelling vind neerslag in haar werk. Verder onderneem sy uitgebreide besoeke aan Wes-Europa, die Skandinawiese lande, Rusland en Israel en oor hierdie ervarings publiseer sy verskeie reisverhale. Vir haar romans oor Paul Kruger doen sy uitgebreide navorsing en besoek onder andere Den Haag in Nederland waar sy by die Koninklike Argief navorsing doen oor Kruger se besoek aan Nederland, waarna sy ook in die voetstappe van Kruger sy reisplan na en deur Europa volg. Onderweg reis sy langs die ooskus van Afrika, deur die Suez-kanaal en die Middellandse See na Europa. In Suid-Afrika doen sy navorsing in die Kaapse Argief en op Boekenhoutfontein, Kruger se plaas naby Rustenburg, terwyl sy Pretoria ook meermale besoek. Vir Wolftyd doen sy ’n jaar lank navorsing en besoek Berlyn, Innsbruck en die omliggende Tirool om eerstehands kennis op te doen van die landskap wat die hoofkarakter tydens Nazi-Duitsland gevorm het.
In 1975 aksentueer sy haar alleenloperskap met betrekking tot literêre bewegings, deur uit die Afrikaanse Skrywersgilde te bedank en te dien in die Kaapse komitee van die Publikasieraad. Die grondwet van die Gilde het dit onmoontlik gemaak om lid te wees van die Gilde en ’n staatsliggaam wat sensuur toepas. In 1977 bedank sy as lid van die Publikasieraad uit protes teen die verbanning van Magersfontein, O Magersfontein! van Etienne Leroux. In 1982 bedank sy ook as lid van die paneel deskundiges wat die Direktoraat van Publikasies adviseer. Na haar man se dood in 1990 vestig sy haar in ’n woonstel in Rondebosch in Kaapstad. Sy is op Donderdag 12 Junie 2003 in haar woonstel in Rondebosch oorlede, nadat haar gesondheid sodanig verswak het dat sy die laaste paar maande van haar lewe weens long- en hartkwale gereeld in en uit die hospitaal was.
Skryfwerk Op skool reeds beïndruk haar opstelle en sy hou vir die eerste keer dagboek tydens haar verblyf in Amerika. Sy verken verskillende mediums vir haar kreatiwiteit en skryf onder andere kortverhale, reisverhale, jeugverhale, romans, novelles, dramas en radiodramas. Eers toe die kinders betreklik selfstandig is, begin sy ernstiger skryf en debuteer met ’n kortverhaal in Die Huisvrou, destyds onder redakteurskap van Audrey Blignault. Hierdie kortverhaal handel oor ’n wit seun wat in ’n Kleurling-weeshuis grootword en dan sy plek in die witmanswêreld moet soek. Daar verskyn ook van haar kortverhale, vervolgverhale en novelles in Die Huisgenoot, Die Brandwag, Tydskrif vir Letterkunde, Naweekpos en Sarie Marais. Van die vervolgverhale wat so verskyn, is Tweede liefde (Naweekpos 1954–1955), Huis van wraak (Die Huisgenoot 1955), Duister bestemming (Naweekpos 1956–1957) en Die Groot Trek van die du Toits (Sarie Marais 1957). In hierdie tyd neem sy aan verskeie letterkundige wedstryde deel en wen ’n eerste prys in ’n vervolgverhaalwedstryd van Naweekpos. Met hierdie prysgeld finansier sy haar eerste Europese reis.
Romans en novelles Dit is veral op die gebied van die roman en novelle wat sy ’n groot bydrae maak tot die Afrikaanse letterkunde. Die onverdeelde uur verskyn oorspronklik in Sarie Marais en speel af langs die sterfbed van ’n boer waar die drie hoofkarakters met die verlede, die hede en dit wat kon gewees het, gekonfronteer word. In ’n mindere mate bring sy reeds hier vernuwing in die Afrikaanse prosa deur hede en verlede deurentyd te vermeng en weg te beweeg van die tot op daardie stadium algemene chronologiese vertelling. Die verhaal speel af tydens die sterwensure van die boer Giel van Rensburg, waaruit die verlede dan opgeroep word. Ook met die vertellersperspektief bring sy ’n interessante nuwe tegniek (vir die tyd) na vore. Die hede word verhaal deur ’n alwetende verteller, terwyl die verlede telkens deur die gedagtewêreld van een van die drie sentrale figure met al die implikasies daarvan gesien word. Dwarsdeur die novelle is daar dus ’n gedurige wisseling van beide die tyd en vertellersperspektief. Die karakters is die trotse boer Giel van Rensburg, sy broer Jan met sy vrou Elmien en hulle seun Collie. Giel aard na sy oupa (ook Giel) en was sterk en vooruitstrewend, terwyl sy broer Jan na hulle ouers aard en ’n swakkeling is. Albei is op die buurdogter Elmien verlief, wat heimlik op Giel verlief is maar eindelik met Jan trou. Giel wou die verwaarloosde plaas met die hulp van Jan en met Elmien as sy vrou weer opnuut opbou, maar Jan het nie sinnigheid in die boerdery gehad nie en besluit sonder Giel se medewete om in Kaapstad op die spoorweë te gaan werk. Elmien word onderwyseres by die plaasskooltjie en interpreteer Giel se onvermoë om sy ware gevoelens teenoor haar in woorde te formuleer verkeerd as ’n gebrek aan ware belangstelling en trou daarom met Jan. Giel bly dan vereensaam met sy hartseer op die plaas agter en probeer vrugteloos om ’n sukses van die boerdery te maak. Die titel van die verhaal wys op die onverdeelde uur waarin Giel en Elmien, wat eintlik vir mekaar bestem was, eindelik vir die eerste en laaste keer uitsluitend by en vir mekaar is. Giel is die dominante en sentrale karakter en Jan en Elmien se optredes in die verlede word gemeet aan Giel, terwyl die ontwikkeling wat in karakters soos Jan en Collie in die loop van die roman plaasvind, ook slegs geskied as gevolg van hulle interaksie met Giel. As leemtes kan uitgewys word die karakter van Collie, wie se kinderagtige optrede en toekomsdrome ongeloofwaardig aandoen, terwyl die verhouding tussen Jan en Elmien nie voldoende ontwikkel en gemotiveer word nie, veral gegewe hulle huwelik van ongeveer veertig jaar. Rob Antonissen beskou hierdie novelle as een van die “waarlik goeie dinge” in die Afrikaanse letterkunde van sy tyd.Antonissen, Rob. Standpunte. Nuwe reeks 17 en 18, Mei-Desember 1957Antonissen, Rob. Kern en tooi. Nasou Beperk Eerste uitgawe Eerste druk Elsiesrivier 1963
In Die koms van die komeet lei die bonatuurlike verskyning van die komeet wat moontlik met die aarde kan bots tot ’n eksistensiële krisis by 'n aantal mense in die stad en word hulle gedwing om ernstige selfondersoek te doen. Die geneesheer in ’n voorstedelike woonbuurt, dr. Ters Malherbe, is die hoofkarakter en die gebeure speel af met hom en die mense met wie hy in aanraking kom. Epidemies breek uit en die paniek loop hoog, waardeur sommige tot histerie gedwing word en ander die toets van beproewing deurstaan. Met die vooruitsig op vernietiging toon die mense hulle ware beeld en word hulle gedwing tot eerlikheid en helderheid oor die doel van hulle bestaan en die waardes waarvolgens hulle lewe. Die interessante tema kom egter nie tot sy reg in hierdie roman nie, hoofsaaklik omdat die spanning van die buitengewone omstandighede nie voelbaar gemaak word nie en die karakters oor die algemeen nie genoegsaam met die angs en dringendheid van die verskynsel besiel word in hulle denke en optrede nie. Die analogie tussen Maria Vercuyl en haar ongewenste kind wat nêrens welkom is nie, is verder ’n te geforseerde en weinig funksionele analogie met Maria en Christus.Antonissen, Rob. Kern en tooi. Nasou Beperk Eerste uitgawe Eerste druk Elsiesrivier 1963