Herman Charles Bosman (1905–1951) was 'n Suid-Afrikaanse skrywer en joernalis.HAT Taal-en-feitegids, Pearson, Desember 2013, Hy was ’n meester van die kortverhaal en is veral bekend vir sy 'Oom Schalk Lourens-stories' wat in die omgewing van Groot Marico afspeel.Esat: http://esat.sun.ac.za/index.php/Herman_Charles_Bosman Hy skryf ook onder die skuilnaam Herman Malan (sy ma se nooiensvan was Malan).NB-Uitgewers: http://www.nb.co.za/authors/2895

Lewe en werk

Vroeë lewe en herkoms Herman Charles Bosman is op 3 Februarie 1905 in Kuilsrivier naby Kaapstad gebore.Rosenberg, Valerie. Sunflower to the sun. Human & Rousseau Cape Town Second Edition 1981 Sy moeder is Elisa Malan, ’n onderwyseres van Potchefstroom wat in 1904 onverwags die dorp verlaat, vermoedelik as die resultaat van ’n mislukte liefdesverhouding. Haar ouers is oorspronklik van die Wes-Kaap en sy verhuis hierheen. Kort na haar aankoms in die Kaap, op 26 April 1904, trou sy in Kuilsrivier met Jacobus Abraham Bosman, wat later 'n mynwerker in Johannesburg was. Daar is bespiegeling dat Jacobus Bosman nie sy werklike vader is nie en meer as een ander moontlike biologiese vader word genoem, maar hierdie bewerings kon tot dusver nog nie bewys word nie.Levin, Doreen. Herman Charles Bosman was no love child. Sunday Times, 4 Mei 1980 Valerie Rosenberg beweer in haar biografie van Bosman dat hy eerder die biologiese kind is van sy oom Charles Malan (sy ma se broer),Rosenberg, Valerie. Sunflower to the sun. Human & Rousseau Cape Town Second Edition 1981 bl.11-18 wat 'n getuie by Hermanus Charles se doop op 12 Maart 1905Profiel van Herman Charles Bosman op Wikitree. was. Die radio-omroeper Friedel Hansen beweer egter in sy boek, Die handdruk van die dood: Die onvertelde storie van Eugène Marais, dat Herman die kind is van die skrywer Eugène N. Marais, wat volgens hom vroeg in 1904 as loseerder by die Malans in Potchefstroom gewoon het.Rousseau, Leon. Die siel van Marais rus nie. Beeld, 6 Desember 2014 Hansen neem klaarblyklik nie in ag dat die geboorte meer as nege maande nadat Elisa Malan in die Kaap getroud is, eers plaasgevind het nie. Herman word in Kuilsrivier se NG Kerk gedoop as Hermanus Charles Bosman. Sy broer Pierre Malan Bosman word in 1906 gebore. Die gesin verhuis gereeld wanneer die vader van werk verwisselEsaach: http://www.esaach.org.za/index.php?title=Bosman,_Herman_Charles en trek na Krugersdorp in 1916 en dan na Potchefstroom. In 1917 gaan Herman skool aan die Potchefstroom College, maar wanneer sy pa werk in die myne by Johannesburg kry, begin hy vanaf Junie 1918 met skool by Jeppe Central en dan vanaf 1919 gaan hy skool op Jeppe High. Hy verander weer van skool en studeer vanaf 1921 aan Houghton College, waar hy in 1922 matrikuleer. Daar word vertel dat hy sy Wiskunde vraestel beantwoord het met ’n opstel, waarin hy redeneer dat kennis van Wiskunde onnodig is, aangesien sy vermoëns in Engels en Afrikaans so uitstaande is.

Vanaf 1923 skryf hy gelyktydig in as student by die Universiteit van die Witwatersrand en die Normal College. Sy pa is in hierdie jaar in ’n mynongeluk oorlede. Sy feitlik legendariese reputasie as poetsbakker word geïllustreer deur ’n episode waar hy ’n gedig van die beroemde Engelse digter Percy Bysshe Shelley onder sy eie naam in ’n Universiteitskompetisie inskryf – en die derde plek behaal. Hierna maak hy onmiddellik sy bron bekend tot groot verleentheid van die beoordelaars. Hy sluit ook aan by die Young Communist League, hoofsaaklik omdat hy daarvan hou om deel te neem aan straatoptogte en nie weens enige sterk gevoelde politiese oorwegings nie. In 1925 behaal hy sy Transvaalse Onderwysdiploma.

Lewe na universiteit Hy ontmoet Vera Sawyer gedurende in 1925 en trou met haar in die landdroshof op Vrydag 21 Januarie 1926. Sy het ’n standvastige werk by ’n lewensversekeringsmaatskappy en die idee was dat sy sou aanhou werk en by haar ouers bly, aangesien Herman nog nie die vermoë gehad het om ’n gesin te onderhou nie. Hulle vertel nie eens aanvanklik aan haar ouers dat hulle getroud is nie en weens verdere gebeure het hulle nooit as man en vrou saamgebly nie

Kort na sy troue vertrek hy op 23 Januarie 1926 na Marico, waar hy vanaf die einde van Januarie 1926 in Afrikaans skoolhou op die plaasskooltjie op Heimweeberg in die Dwarsberggebied van die Groot Marico-distrik. Hier is hy die assistent vir Charles Terblanche. Hy sal uiteindelik slegs ses maande hier vertoef, maar hierdie omgewing is nogtans die inspirasie van vele van sy latere verhale, met Oom Schalk Lourens meestal as die verteller.ZAR: http://zar.co.za/bosman.htm

Gevangenisstraf Intussen is sy moeder in 1925 weer getroud, hierdie keer met die welgestelde Ier William Russell. Hulle woon in Isipingostraat 19 in die voorstad Bellevue-Oos. Herman keer hierheen terug vir die Julie skoolvakansie. Wanneer hy op 18 Julie 1926 sy stiefbroer David Russell tydens ’n argument doodskiet,Mail & Guardian: http://mg.co.za/article/2013-12-20-00-the-good-the-bad-and-the-bosman word hy in November 1926 ter dood veroordeel en gevange gehou in die Sentrale Gevangenis in Pretoria. Die gebeure wat gelei het tot die skietery is steeds onseker, maar dit wil voorkom asof David en Herman se broer Pierre geargumenteer het, waarna Herman ook betrokke geraak het. Hy is vir ’n ruk in die dodesel, maar word op 10 Januarie 1927 begenadig deur die Minister van Justisie (Tielman Roos) en sy vonnis versag tot tien jaar harde arbeid. Die eerste jaar in die gevangenis spandeer hy in die drukkerswinkel, waarna hy vir twee en ’n halwe jaar in die steengroewe werk. Hierna werk hy in die skrynwerkerswinkel en boekbindery. Op 15 Augustus 1930 word hy op parool vrygelaat. Hy spandeer na vrylating ’n paar weke op sy oom, Victor Malan, se plaas in Bronkhorstspruit en verhuis dan na Boksburg, waar hy ’n kort ruk by sy tante aanbly.Mind of SA murderer: http://mindofhesouthafricanmurderer.blogspot.co.za/2009/04/herman-charles-bosman-1916-reprieved.html

Lewe na die tronk Vanaf November 1930 is hy saam met Aegidius Jean Blignaut (saam met wie hy ook in hierdie tyd bly) mederedakteur van die nuwe literêre tydskrif Touleier. Wanneer hierdie tydskrif vroeg in 1931 misluk, loods hulle die New LSD (wat in 1933 tot niet gaan) en die New Sjambok (wat teen die einde van 1931 misluk). In hierdie tyd skryf en publiseer hy die (vir daardie tyd) pornografiese storie Nun’s story (van ’n non wat masturbeer) en word op aanklagte van godslastering voor die Magistraatshof gedaag en skuldig bevind.

Sy huwelik met Vera eindig in 1932 in ’n egskeiding en op 7 Oktober 1932 trou hy met Ella Manson, wat onder meer ’n knap pianiste is. Herman is nie bereid om enige kinders te hê nie en wanneer Ella verwagtend raak, ondergaan sy noodgedwonge ’n aborsie. In Februarie 1934 vertrek hulle na Europa, waar hulle kort tye in Parys en Brussel deurbring, maar veral in Londen woon. In Londen lewer hy bydraes aan verskeie koerante, onder andere die Sunday Critic (waar hy vir ’n ruk werk as assistent vir John Webb), Empire Movement Annual en News Digest. Hy bedryf ook sy eie drukkersmaatskappy, The Ardent Godbold Press. In hierdie tyd stuur hy ’n reeks van sy Schalk Lourens stories, essays en gedigte aan ’n skoolvriend, Bernard Sachs, wat dit in die letterkundige tydskrif South African Opinion laat publiseer.

Geldelike en persoonlike probleme Die Bosmans is gereeld sonder geld en gee selfs per geleentheid voor dat Herman oorlede is, waarna hulle versoek dat geld gestuur word vir die begrafnisonkoste. Die hele familie, Bosman se moeder inkluis, glo hierna dat hy dood is. Wanneer sy moeder Londen besoek, doen sy egter navraag en vind hom springlewendig. Na die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog in September 1939 verlaat hulle Londen en land weer in Suid-Afrika in Januarie 1940. In die oorlogstyd is werk skaars en hy probeer met verskeie los werkies om die pot aan die kook te hou. So is hy vryskut joernalis, proefleser en advertensieverkoper, terwyl Ella musieklesse gee. Hy skryf ook bydraes vir verskeie publikasies.

Vroeg in 1943 word hy aangestel as redakteur van The Zoutpansberg Review op Pietersburg. Hier ontmoet hy vir Helena René Stegmann, ’n Afrikaanse onderwyseres op die dorp. Sy was die dogter van ’n sendeling van Riversdal en oud-student aan die Universiteit van Stellenbosch. Wanneer sy verwagtend raak, forseer Herman haar ook om ’n aborsie te ondergaan en hy dien self die inspuiting toe. Sy word ernstig siek en moet in die hospitaal opgeneem word. Wanneer daar ’n hofsaak is om Bosman van aborsie aan te kla word hy onskuldig bevind, maar as gevolg van die hofsaak word hy gevra om afstand te doen van sy redakteurskap van die koerant. Sy opvolger, ene Hugh Hayes, en sy vrou Ella begin met ’n verhouding en alhoewel Ella vir Herman vergesel na Johannesburg teen die einde van 1943, keer sy ’n paar weke later terug na Hayes in Pietersburg. Hulle skei op 6 Maart 1944 en Herman en Helena Stegmann trou op 18 Maart 1944 in Johannesburg.

Kort na sy troue in 1944 word hy deur Bernard Sachs aangestel as letterkundige redakteur van South African Opinion. Hierdie betrekking beklee hy tot einde Februarie 1947, wanneer finansies die tydskrif noop om ’n samesmelting met Trek aan te gaan. In hierdie tyd doen hy ook werk vir die Jewish Times, verkoop advertensies en neem ’n deeltydse werk aan as onderwyser by ’n privaat kollege om die pot aan die kook te hou. Dan word hy deur Colin Reed-McDonald in diens geneem om klassieke meesterwerke uit die wêreldletterkunde in Afrikaans te vertaal, vir ’n boekklub wat hy die Afrikaanse Kulturele Leserskring noem.

In Mei 1947 verhuis hulle met hierdie doel na Kaapstad. So vertaal hy die Rubaiyat van Omar Chajjam in Afrikaans. Hierdie inisiatief is egter dood gebore en hulle is genoodsaak om ’n paar maande later terug te keer na Johannesburg, waar Herman advertensies verkoop vir Trek en ook bydraes tot hierdie tydskrif lewer. Uit die bloute word hy nou deur Central News Agency genader met ’n versoek om ’n bundel kortverhale te publiseer, wat uitloop op die publikasie van Mafeking Road laat in 1947. Die resensies is oorwegend baie gunstig en hy volg hierdie sukses op met die publikasie in 1949 van sy tronkmemoires onder die titel Cold stone jug. Intussen skryf hy ook die suksesvolle reeks Voorkamer stories, wat weekliks in die Forum verskyn. In die winter van 1949 begin hy met ’n nuwe werk as proefleser by Sunday Express. Die inkomste uit al hierdie bronne stel die egpaar in staat om in 1949 hulle eerste motor aan te skaf, ’n Opel uit die lae prysklas, en aan die begin van 1951 het sy finansiële posisie so verbeter dat hulle ook ’n huisie in Miltonstraat in Lombardy-Oos aankoop. Bosman noem die huisie Paradise Regained.

Literêre nalatenskap Sy totale literêre nalatenskap, wat vele ongepubliseerde manuskripte insluit, ook in Afrikaans, word na sy dood aan die Universiteit van Texas in Austin in die Verenigde State van Amerika verkoop. Dit word in die Harry Ransom Humanities Research Center op die kampus bewaar. Daar word dit in die sewentigerjare bestudeer deur Stephen Gray, waarna Gray baie van sy werke redigeer en uitgee. Gray en Craig MacKenzie is verantwoordelik vir die herstel van die gepubliseerde werke na aanleiding van die oorspronklike manuskripte, aangesien vorige uitgewers verskeie snitte en veranderinge aangebring het. Hulle versorg ook die uniforme uitgawe van al sy werke (waarvan ’n groot aantal vir die eerste keer gepubliseer word). Van sy werke word vertaal en verskyn onder andere in Frans. Hy het ook etlike hoofsaaklik waterverfskilderye gemaak, sommige daarvan klaarblyklik bedoel as illustrasie vir sy eie werk, wat saam met sy letterkundige geskrifte by Austin bewaar word.

Hy is op 14 Oktober 1951 in Edenvale aan ’n hartaanval oorlede en word in Wespark in Johannesburg begrawe. Die bekende kunstenaar Gordon Vorster laat 25 jaar na sy dood in 1976 ’n grafsteen vir sy graf oprig.

Skryfwerk