Hierdie artikel handel oor die manskriekettoernooi. Vir die artikel oor die vrouekriekettoernooi, sien T20I-vrouewêreldbeker 2024.

Die T20I-wêreldbeker 2024 (Engels: 2024 ICC Men’s T20 World Cup) is van 1 tot 29 Junie 2024 in die Verenigde State en Wes-Indië beslis. Dit was die negende T20I-wêreldbekertoernooi in T20I-krieket wat deur die Internasionale Krieketraad (IKR) aangebied word en die eerste kriekettoernooi ooit in die Verenigde State, terwyl Wes-Indië voorheen die 2010-toernooi aangebied het. Daarbenewens was die Verenigde State die eerste medegasheer in die Amerikas buite Wes-Indië. Die vyf Karibiese eilandstate Antigua en Barbuda, Barbados, St. Lucia, St. Vincent en die Grenadine en Trinidad en Tobago, asook Guyana en die Verenigde State het gesamentlik opgetree as gashere van dié toernooi, meer as by enige ander T20I-wêreldbekertoernooi. Dit was ná die Krieketwêreldbeker 2007 en die T20I-wêreldbeker 2010 die derde vername kriekettoernooi in Wes-Indië. Engeland was die verdedigende wêreldkampioen nadat hulle die T20I-wêreldbeker 2022 gewen het.

duimnael|links|upright|Die T20I-wêreldbekertrofee waarom meegeding is Die T20I-wêreldbeker 2024 was die eerste toernooi met 20 deelnemende nasionale krieketspanne, teenoor die 16 van die vorige vier T20I-wêreldbekertoernooie. Die 20 deelnemende nasionale krieketspanne was: Die twee gashere (die Verenigde State en Wes-Indië), die agt beste spanne van die vorige toernooi (Australië, Engeland, Indië, Nederland, Nieu-Seeland, Pakistan, Sri Lanka en Suid-Afrika), saam met die twee naasbeste spanne op die T20I-ranglys soos op 14 November 2022 (Afghanistan en Bangladesj) en die wenners van die kontinentale kwalifiseringstoernooie. In Julie 2023 het Ierland en Skotland die twee Europese plekke bepreek, terwyl Papoea-Nieu-Guinee die Oos-Asiatiese-Stille-Oseaan-plek bespreek het. In Oktober 2023 het Kanada as Amerikaanse kwalifiseerder gevolg en een maand later Nepal en Oman as Asiatiese kwalifiseerders, asook Namibië en Uganda as Afrikakwalifiseerders. Kanada, Uganda en die Verenigde State het vir die eerste keer vir ’n T20I-wêreldbekertoernooi gekwalifiseer, waardeur vir die eerste keer drie spanne uit die Amerikas deelgeneem het.

Tydens die T20I-wêreldbeker 2024 is 55 wedstryde gespeel, waaronder 40 tydens die eerste rondte, twaalf in die Super Agt, en drie in die uitklopfase, insluitende die eindstryd. Die spanne is in vier groepe van vyf elk verdeel, waarvan elke span een keer teen al die ander spanne in die groep gespeel het. Die twee beste spanne van elke groep het hierna gekwalifiseer vir die Super Agt, waarvandaan die vier beste spanne vir die halfeindrondte gekwalifiseer en die wenners mekaar in die eindstryd ontmoet het. Elke wedstryd het bestaan uit 20 boulbeurte per span. Die agt beste spanne van die T20I-wêreldbeker 2024 het saam met die twee gashere van die 2026-toernooi regstreeks vir die volgende T20I-wêreldbeker 2026 in Indië en Sri Lanka gekwalifiseer.

Afghanistan, Engeland, Indië en Suid-Afrika het vir die halfeindrondte gekwalifiseer. Suid-Afrika het Afghanistan geklop en Indië vir die verdedigende wêreldkampioen Engeland, waardeur Indië en Suid-Afrika mekaar in die eindstryd ontmoet het. Indië het Suid-Afrika in die eindstryd op die Kensington-ovaal in Bridgetown, Barbados, met sewe lopies verslaan en sodoende ná 2007 sy tweede T20I-wêreldbekertitel ingepalm, waarmee hulle ná Wes-Indië in 2016 en Engeland in 2022 die derde span geword het wat die T20I-wêreldbekertrofee vir ’n tweede keer kon wen. Beide die gashere die Verenigde State en die tweemalige wenner Wes-Indië is in die Super Agt uitgeskakel. Beide Namibië en Uganda het nie die Super Agt gehaal nie.

Die T20I-wêreldbeker 2024 het om verskeie redes geskiedenis gemaak: Dit was die eerste T20I-wêreldbekertoernooi waaraan 20 nasionale krieketspanne kon deelneem en waartydens 55 wedstryde gespeel is. Drie spanne het vir die eerste keer aan ’n T20I-wêreldbekertoernooi deelgeneem: Kanada, Uganda en die Verenigde State; al drie die debutante kon ook minstens een oorwinning aanteken. Uganda het die altesaam vyfde Afrikaspan geword wat vir ’n IKR-toernooi kon kwalifiseer. Dit was ook die eerste T20I-wêreldbekertoernooi met drie spanne van die Amerikas (die meeste in ’n IKR-toernooi sedert die Krieketwêreldbeker 2007). Nieu-Seeland het vir die eerste keer sedert die 2014-toernooi versuim om die halfeindrondte te haal, terwyl Pakistan vir die eerste keer in die eerste rondte uitgeskakel is. Daarteenoor kon Afghanistan vir die eerste keer die halfeindstryd haal en die Verenigde State die tweede rondte van ’n IKR-toernooi. Die Suid-Afrikaanse Proteas het vir die eerste keer in die eindstryd van ’n krieketwêreldbeker- of T20I-wêreldbekertoernooi vir mans verskyn, waarmee elke vasteland deur minstens een nasionale span in ’n eindstryd verteenwoordig is. Vir die eerste keer het twee onoorwonne spanne die eindstryd gehaal en Indië het sodoende die eerste krieketspan geword wat ’n T20I-wêreldbekertoernooi sonder ’n nederlaag kon wen. Die Kensington-ovaal het die eerste krieketstadion geword wat die T20I-wêreldbekereindstryd tweekeer – ná die 2010-toernooi – gehuisves het.

Toewysing Die T20I-wêreldbeker 2024 is deur die Internasionale Krieketraad in November 2021 aan die Verenigde State en Wes-Indië toegewys. Ná jare se voorbereidings is ’n gemeensame bod deur Krieket Wes-Indië en VSA Krieket as deel van ’n strategiese ooreenkoms tussen dié twee beheerliggame ingedien. Die IKR het beoog om met die toernooi die “Verenigde State op die internasionale krieketkaart te plaas”. Die toernooi is aan Noord-Amerika toegewys, omdat dié vasteland deur die wêreldbeheerliggam as een van die hoofgroeimarkte beskou word en hulle die doel gehad het, om die sport in die land te vertoon, waar die Olimpiese Somerspele 2028 beslis word, waartydens vir die eerste keer T20I-krieket ’n Olimpiese sportsoort sal wees. Die T20I-wêreldbeker 2024 was een van vyf groot internasionale sporttoernooie wat die Verenigde State binne een dekade sal aanbied, saam met die FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 2026 (saam met Kanada en Meksiko), die Olimpiese Somerspele 2028, die Rugbywêreldbeker 2031 en die Vrouerugbywêreldbeker 2033.

In Oktober 2022 is berig dat die IKR VSA Krieket van sy regte as medegasheer ontneem het, nadat dié beheerliggaam steeds nie aan die IKR se finansiële protokolle voldoen het nie en kommer uitgespreek is oor VSA Krieket se finansiële situasie, insluitende ’n tekort aan sowat $650 000. Soos verwag het dit egter nie die aanbieding van wedstryde in dié land geraak nie.

Deelnemers Kwalifisering Aan die T20I-wêreldbeker 2024 het 20 spanne deelgeneem. Die volgende twaalf spanne het regstreeks vir die T20I-wêreldbeker 2024 gekwalifiseer: Die twee gashere (Verenigde State en Wes-Indië), die agt beste spanne van die vorige T20I-wêreldbeker 2022 (Australië, Engeland, Indië, Nederland, Nieu-Seeland, Pakistan, Sri Lanka en Suid-Afrika) en die twee naasbeste spanne op die T20I-ranglys soos op 14 November 2022 (Afghanistan en Bangladesj). Indien die Verenigde State en Wes-Indië die 2022-toernooi nie onder die beste agt spanne kon afsluit nie sou dit beteken dat die twee beste ongekwalifiseerde spanne op die IKR se T20I-ranglys vir die 2024-toernooi kwalifiseer; sou een van die twee gashere onder die beste agt spanne gewees het, sou hul plek aan die naasbeste ongekwalifiseerde span gegaan het, indien nodig. Die oorblywende agt plekke is tydens plaaslike kwalifiseringstoernooie bespreek, met twee spanne elk uit Afrika, Asië en Europa, saam met een span elk uit die Amerikas en die Oos-Asië-Oseanië-streek. In Mei 2022 het die IKR die plaaslike kwalifiseringstoernooie vir Europa, Oos-Asië-Oseanië en Afrika bevestig. Dit was ook die eerste T20I-wêreldbekertoernooi met drie spanne uit die Amerikas, nadat beide die medegasheer die Verenigde State en Kanada hul debuut gemaak het.

Ierland en Skotland het die twee Europese kwalifiserende spanne geword, nadat hulle dié streek se kwalifisering in Julie 2023 onderskeidelik in die eerste en tweede plek afgesluit het. In dieselfde maand het Papoea-Nieu-Guinee die Oos-Asiatiese-Stille-Oseaan-kwalifisering gewen. In Oktober 2023 het Kanada die Amerikaanse kwalifisering gewen en vir die eerste keer vir ’n T20I-wêreldbekertoernooi gekwalifiseer. Een maand later het Nepal en Oman die Asiatiese kwalifisering se eindstryd gehaal en sodoende vir die toernooi gekwalifiseer. In dieselfde maand het Namibië en Uganda die twee Afrikaplekke bespreek. Namibië kon vir sy derde agtereenvolgende toernooi kwalifiseer, nadat hulle die Afrikakwalifisering onoorwonne afgesluit het, terwyl Uganda vir sy eerste internasionale kriekettoernooi ooit kon kwalifiseer. In dié proses het albei spanne onder andere die volle lid Zimbabwe en Kenia geklop; vir Uganda was dit die eerste oorwinning oor ’n volle lid ooit, waarmee Zimbabwe die enigste lid met dié status was wat die T20I-wêreldbeker 2024 misgeloop het. Daarbenewens het Uganda ná die volle lede Suid-Afrika en Zimbabwe, asook die assosiaatlede Namibië en Kenia die vyfde Afrikaspan geword wat vir ’n internasionale kriekettoernooi kon kwalifiseer.

Kwalifiserende spanne duimnael|400px|Uitslag van die T20I-wêreldbeker 2024-kwalifisering; altesaam 83 lande het deelgeneem. SpanKwalifiseringmetodeVerskynings by eindstrydeLaaste verskyningVorige beste prestasieGasheerNegende2022Kampioen (2012, 2016)Eerste –DebuutRegstreeksNegende2022Kampioen (2021)Negende2022Kampioen (2010, 2022)Negende2022Kampioen (2007)Sesde2022Tweede rondte (2014, 2022)Negende2022Naaswenner (2021)Negende2022Kampioen (2009)Negende2022Kampioen (2014)Negende2022Halfeindrondte (2009, 2014)T20I-ranglys op14 November 2022Sewende2022Tweede rondte (2016, 2021, 2022)Negende2022Tweede rondte (2007, 2014, 2016, 2021, 2022)Europese kwalifiseringAgtste2022Tweede rondte (2009, 2022)Sesde2022Super Twaalf (2021)Oos-Asiatiese-Stille-Oseaan-kwalifiseringTweede2021Eerste rondte (2021)AmerikakwalifiseringEerste –DebuutAsiatiese kwalifiseringTweede2014Eerste rondte (2014)Derde2021Eerste rondte (2016, 2021)AfrikakwalifiseringDerde2022Super Twaalf (2021)Eerste –Debuut

Stadions In April 2023 het Krieket Wes-Indië ’n deeglike bodproses begin vir lande in die Karibiese gebied en die Verenigde State wat wedstryde van die T20I-wêreldbeker 2024 wou aanbied.

In Julie 2023 het die Internasionale Krieketraad vier plekke in die Verenigde State op die kortlys geplaas: Fort Lauderdale (Sentrale Browardpark), Morrisville (Church Street Park), Dallas (Grand Prairie-stadion) en New York (Van Cortlandtpark); waarvolgens die toernooi in tien stede dwarsdeur Wes-Indië en die Verenigde State beslis sou word. Bronx-inwoners het protes aangeteken teen die beplande krieketstadion by Van Cortlandtpark en aangevoer dat dit publieke toegang tot die park vir ’n aansienlike tyd sou beperk, kommer oor die omgewingsimpak uitgespreek en sy ekonomiese lewensvatbaarheid bevraagteken, waarvolgens die IKR besluit het om pleks daarvan ’n krieketstadion by Eisenhowerpark op te rig.

Op 20 September 2023 het die Internasionale Krieketraad drie Amerikaanse stede vir die toernooi goedgekeur: Fort Lauderdale (Sentrale Browardpark), Dallas (Grand Prairie-stadion) en New York (Eisenhowerpark). Die IKR het besluit om ’n tydelike modulêre stadion, Eisenhowerparkkrieketstadion met ’n kapasiteit van 34 000, in Eisenhowerpark in Nassau County in New York op te rig en gelyktydig die kapasiteit vir die bestaande stadions in Fort Lauderdale en Dallas te verdubbel deur modulêre stadionoplossings soos sitplek-, media- en premium-gasvryheidsareas uit te brei.