Hierdie artikel handel oor die manskriekettoernooi. Vir die artikel oor die vrouekriekettoernooi, sien T20I-vrouewêreldbeker 2026.
Die T20I-wêreldbeker 2026 (Engels: 2026 ICC Men’s T20 World Cup; Hindi: 2026 पुरुष टी20 विश्व कप; Singalees: 2026 වි20 ක්රිකට් ලෝක කුසලානය; Tamil: 2026 ஐசிசி ஆண்கள் இருபது20 உலகக்கிண்ணம்) is van 7 Februarie tot 8 Maart 2026 in Indië en Sri Lanka beslis. Dit was die tiende T20I-wêreldbekertoernooi in T20I-krieket wat deur die Internasionale Krieketraad (IKR) aangebied word en die tweede in beide Indië en Sri Lanka. Indië het voorheen die T20I-wêreldbeker 2016 aangebied, terwyl Sri Lanka die 2012-toernooi gehuisves het. Die medegasheer Indië was ook die verdedigende wêreldkampioen nadat hulle die T20I-wêreldbeker 2024 gewen het.
duimnael|links|upright|Die T20I-wêreldbekertrofee waarom meegeding is Die toernooi se formaat van 2024 het onveranderd gebly en 20 krieketspanne het aan die T20I-wêreldbeker 2026 deelgeneem: Die twee gashere (Indië en Sri Lanka), die ná Indië sewe beste spanne van die vorige toernooi (Afghanistan, Australië, Bangladesj, Engeland, Suid-Afrika, die Verenigde State en Wes-Indië), saam met die drie naasbeste spanne op die T20I-ranglys soos op 30 Junie 2024 (Ierland, Nieu-Seeland en Pakistan) en die wenners van die kontinentale kwalifiseringstoernooie. In Junie 2025 het Kanada die Amerikaanse plek bepreek en een maand later het Italië en Nederland as Europese kwalifiseerders gevolg. Aan die begin van Oktober het die Afrikaspanne Namibië en Zimbabwe asook twee weke later Nepal, Oman en die Verenigde Arabiese Emirate in die gesamentlike Asië-Stille-Oseaan-kwalifisering gekwalifiseer. Italië het vir die eerste keer vir ’n internasionale kriekettoernooi gekwalifiseer en die altesaam vyfde span van Europa geword wat vir ’n IKR-toernooi kon kwalifiseer. In Januarie 2026, slegs een maand voor toernooibegin, het Bangladesj aangekondig dat hulle sou weier om in Indië te speel, waarna hulle met die naasbeste span op die T20I-ranglys, Skotland, vervang is. Gevolglik het vir die eerste keer vyf Europese spanne aan ’n internationale kriekettoernooi deelgeneem, terwyl dit ook die eerste T20I-wêreldbekertoernooi was waaraan Bangladesj nie deelgeneem het nie. Bangladesj was ook die enigste volle lid wat nie aan die T20I-wêreldbeker 2026 deelgeneem het nie.
Tydens die T20I-wêreldbeker 2026 is 55 wedstryde gespeel, waaronder 40 tydens die eerste rondte, twaalf in die Super Agt, en drie in die uitklopfase, insluitende die eindstryd. Die spanne is in vier groepe van vyf elk verdeel, waarvan elke span een keer teen al die ander spanne in die groep gespeel het. Die twee beste spanne van elke groep het hierna gekwalifiseer vir die Super Agt, waarvandaan die vier beste spanne vir die halfeindrondte gekwalifiseer en die wenners mekaar in die eindstryd ontmoet het. Elke wedstryd het bestaan uit 20 boulbeurte per span. Die agt beste spanne van die T20I-wêreldbeker 2026 het saam met die twee gashere van die 2028-toernooi regstreeks vir die volgende T20I-wêreldbeker 2028 in Australië en Nieu-Seeland gekwalifiseer.
Engeland, Indië, Nieu-Seeland en Suid-Afrika het vir die halfeindrondte gekwalifiseer. Nieu-Seeland het Suid-Afrika geklop en Indië vir Engeland, waardeur Indië en Nieu-Seeland mekaar in die eindstryd ontmoet het. Die medegasheer en verdedigende wêreldkampioen Indië het Nieu-Seeland in die eindstryd op die Narendra Modi-stadion, Ahmedabad, Indië, met 96 lopies verslaan en sodoende ná 2007 en 2024 sy derde T20I-wêreldbekertitel ingepalm. Daarmee het hulle die eerste span geword wat die T20I-wêreldbekertrofee vir ’n derde keer kon wen, dit suksesvol verdedig en ook tuis gewen het. Die medegasheer Sri Lanka en die tweemalige wenner Wes-Indië is in die Super Agt uitgeskakel. Namibië is ná vier nederlae reeds in die eerste rondte uitgeskakel, terwyl Zimbabwe vir die tweede keer ná 2022 die tweede rondte van ’n T20I-wêreldbekertoernooi gehaal het, waar hulle ná drie nederlae uitgeskakel is.
Toewysing Die T20I-wêreldbeker 2026 is deur die Internasionale Krieketraad in November 2021 aan Indië en Sri Lanka toegewys. Sri Lanka het voorheen die 2012-toernooi gehuisves, terwyl Indië die 2016-toernooi aangebied het. Dit was egter die eerste keer wat albei lande saam as medegashere van ’n T20I-wêreldbekertoernooi opgetree het. Oorspronklik wou Sri Lanka die T20I-wêreldbeker 2026 op sy eie aanbied, maar weens die gebrek aan geskikte stadions het die Internasionale Krieketraad die toernooi aan beide Indië en Sri Lanka toegewys. Saam met die Vrouekrieketwêreldbeker 2025 was dit een van twee vername internasionale kriekettoernooie wat binne ses maande in beide Indië en Sri Lanka beslis is.
Op 19 Desember 2024, ná ’n ooreenkoms tussen die Raad vir Beheer van Krieket in Indië en die Pakistanse Krieketraad het die Internasionale Krieketraad ’n hersiening uitgereik oor die toernooie wat deur Indië en Pakistan aangebied is, waarvolgens albei nasionale spanne se wedstryde in mekaar se lande tussen 2024 en 2027 op neutrale plekke gehuisves is. Vervolgens het Pakistan sy wedstryde tydens die T20I-wêreldbeker 2026 in Sri Lanka gespeel.
Deelnemers Kwalifisering Aan die T20I-wêreldbeker 2026 het 20 spanne deelgeneem. Die twee gashere Indië en Sri Lanka, die ná Indië sewe beste spanne van die vorige T20I-wêreldbeker 2024 (Afghanistan, Australië, Bangladesj, Engeland, Suid-Afrika, die Verenigde State en Wes-Indië) en die drie naasbeste spanne op die T20I-ranglys soos op 30 Junie 2024 (Ierland, Nieu-Seeland en Pakistan) het regstreeks vir die T20I-wêreldbeker 2026 gekwalifiseer. Die oorblywende agt plekke is tydens plaaslike kwalifiseringstoernooie bespreek, met aanvanklik twee spanne elk uit Afrika, Asië en Europa, saam met een span elk uit die Amerikas en die Oos-Asië-Oseanië-streek. Op 22 Julie 2024 het die Internasionale Krieketraad egter aangekondig dat die Asiatiese en Oos-Asië-Oseanië-plekke saamgevoeg en een gesamentlike kwalifisering om drie plekke beslis word.
In Junie 2025 het Kanada die Amerikaanse kwalifisering gewen en sodoende vir sy tweede agtereenvolgende T20I-wêreldbekertoernooi gekwalifiseer. Een maand later het Italië en Nederland die twee Europese kwalifiserende spanne geword, nadat hulle dié streek se kwalifisering in Julie 2025 onderskeidelik in die eerste en tweede plek afgesluit het. Vir Nederland was dit die sewende toernooideelname, terwyl Italië aan sy eerste internasionale kriekettoernooi ooit deelgeneem het; hulle het in die kwalifisering die meermalige deelnemer Skotland uitgeskakel. Daarbenewens het Italië ná die volle lede Engeland en Ierland, asook die assosiaatlede Nederland en Skotland die vyfde Europese land geword wat vir ’n wêreldbekertoernooi kon kwalifiseer. Aan die begin van Oktober 2025 het Namibië en Zimbabwe die twee Afrikaplekke bespreek. Namibië het vir sy vierde agtereenvolgende toernooi gekwalifiseer, terwyl dit Zimbabwe se sewende toernooideelname was. Daarbenewens was dit ná die 2022-toernooi die tweede T20I-wêreldbekertoernooi waaraan dié twee Suider-Afrikaanse spanne saam deelgeneem het. Twee weke later het Nepal, Oman en die Verenigde Arabiese Emirate die Asië-Stille-Oseaan-kwalifisering beklink. Die twee Arabiese buurlande Oman en die Verenigde Arabiese Emirate het vir die eerste keer by dieselfde T20I-wêreldbekertoernooi verskyn. Nadat Bangladesj op 24 Januarie 2026 met Skotland vervang is, was dit die eerste IKR-toernooi waaraan vyf Europese spanne deelgeneem het.
Onttrekking van Bangladesj Op 3 Januarie 2026, ná die BCCI se besluit om die Bengaalse krieketspeler Mustafizur Rahman van die Indiese Premierliga 2026 uit te sluit, het die Bengaalse Krieketraad (BCB) die Internasionale Krieketraad (IKR) versoek om hulle wedstryde uit Indië te skuif en na die “veiligheid en welstand” van hulle spelers verwys. Op 6 Januarie het ESPNcricinfo berig dat die Internasionale Krieketraad die BCB se aansoek verwerp het en dat Bangladesj punte sou verbeur indien hulle weier om te speel. Die volgende dag het die BCB egter hierdie bewerings ontken en aangevoer dat die “IKR sy bereidwilligheid te kenne gegee het om met die BCB nou saam te werk om [ons] bekommernisse aan te spreek”.
Op 11 Januarie het die Pakistanse Krieketraad (PCB) aangebied om Bangladesj se wedstryde in Pakistan te huisves indien plekke in Sri Lanka nie beskikbaar sou wees nie. Die volgende dag het die krieketverenigings van beide Tamil Nadu en Kerala aangedui dat Bangladesj sy wedstryde op die M. A. Chidambaram-stadion en Greenfield Internasionale Stadion kon speel pleks van Eden Gardens en Wankhedestadion, waar hulle oorspronklik sou gespeel het. Op 12 Januarie het die IKR Bangladesj se sekuriteitsassessering geweier en aangevoer, dat “daar geen algehele bedreiging vir die [span]” was nie en “lae tot matige risiko’s [vir die span] in sommige plekke en lae tot nul in ander” was. Die volgende dag het die BCB sy aansoek herhaal om Bangladesj se wedstryde uit Indië te skuif en veiligheidskwessies aangevoer.
Op 17 Januarie het die BCB versoek om hul groep met Ierland, wat hul wedstryde in Sri Lanka gespeel het, om te ruil, maar dit is ondanks die PCB se ondersteuning vir dié skuif deur die IKR verwerp. Daarna is berig dat, indien BCB sou besluit om vir die toernooi nie na Indië te reis nie, hulle vir die toernooi met die naasbeste span op die T20I-ranglys vervang sou word (destyds Skotland). Op 21 Januarie sou die finale besluit gemaak word. Ná ’n IKR-raadsvergadering op 21 Januarie is aangekondig dat die sperdatum met een dag verleng is. Die volgende dag het Bangladesj sy weiering om in Indië te speel herhaal. Gevolglik het die IKR op 24 Januarie Bangladesj amptelik met Skotland vervang, aangesien die Skotte die naasbeste span op die T20I-ranglys was. Aansluitend het die BCB die IKR van “dubbele standaarde” beskuldig en na Indië se weiering om tydens die Kampioenetrofee 2025 in Pakistan te speel verwys. In ’n persberig wat op 9 Februarie uitgereik is, het die IKR verklaar dat die BCB in verband met sy onttrekking geen finansiële, sport- of administratiewe boete opgelê is nie. Verder is bevestig dat die BCB die reg het om appèl aan te teken kragtens die IKR-regulasies en dat voor 2031 ’n toernooi aan Bangladesj toegewys word.
Op 1 Februarie 2026 het die Pakistanse regering die nasionale span toegelaat om wél aan die toernooi deel te neem, maar hulle aangewys om nie in die vir 15 Februarie in Colombo geskeduleerde wedstryd teen Indië te speel nie. Hoewel die IKR nie amptelik van dié besluit in kennis gestel is nie, is dit volgens berigte geneem in protes teen die IKR se weiering om Bangladesj se wedstryde uit Indië te skuif, ’n versoek wat veral deur Pakistan ondersteun is. Die IKR het die PCB gewaarsku oor moontlike sanksies vir ’n potensiële boikot van die wedstryd teen Indië. Die IKR het later met beide die BCB en die PCB vergader om ’n oplossing in die saak te vind. Die IKR het later verklaar dat hy in ’n konstruktiewe dialoog met belanghebbendes betrokke was en herhaal dat sy benadering tot deelnamekwessies gelei is deur neutraliteit en fasilitering eerder as deur strafmaatreëls. Gevolglik het die Pakistanse regering op 9 Februarie die nasionale span aangewys om in die wedstryd teen Indië te speel.
Kwalifiserende spanne duimnael|400px|Uitslag van die T20I-wêreldbeker 2026-kwalifisering; altesaam 87 lande het deelgeneem.