Bennet Mzwenqaba Bhanga (gebore 28 Augustus 1977), bekend as Nqaba Bhanga, is 'n Suid-Afrikaanse politikus. Hy is die huidige provinsiale leier van die Demokratiese Alliansie (DA) in die Oos-Kaap. Hy is ook die voormalige leier van die amptelike opposisie in die Oos-Kaapse Provinsiale Wetgewer, 'n voormalige lid van die burgemeesterskomitee vir menslike nedersettings in die Nelson Mandelabaai Metropolitaanse Munisipaliteit, 'n voormalige parlementslid, en die DA se voormalige skaduminister van samewerkende regering en tradisionele sake (COGTA).
Lewensloop Bhanga is op 28 Augustus 1977 in KwaZakhele, Port Elizabeth, gebore. Terwyl hy op die Hoërskool KwaZakhele was, het hy vir die eerste keer by studentepolitiek betrokke geraak. Hy is later verkies as die streekvoorsitter van die Congress of South African Students (Cosas).
Bhanga het by die African National Congress aangesluit en die party se Nelson Mandelabaai-jeugleier en SR-president van die Port Elizabeth Technikon geword waar hy sy eerste kwalifikasie in Publieke Administrasie verwerf het. Hy het later 'n nagraadse kwalifikasie in Maritieme Studies behaal. Bhanga het ook as die nasionale sekretaris-generaal van die South African Student Congress (SASCO) gedien.
In 2016 is hy tot raadslid verkies en is aangestel as die burgemeesterskomiteelid vir menslike nedersettings van die Nelson Mandelabaai Metro onder burgemeester Athol Trollip, wie hy in 2017 as Provinsiale Leier van die DA-party opgevolg het.
Op 4 Maart 2020 het Bhanga uit die Oos-Kaapse Provinsiale Wetgewer bedank. Die DA het hom as hul burgemeesterskandidaat vir Nelson Mandelabaai aangewys, en hy is op 4 Desember 2020 onbestrede as burgemeester verkies. Op 23 Augustus 2021 het John Steenhuisen, DA-leier, aangekondig dat Bhanga die DA se burgemeesterskandidaat vir Nelson Mandelabaai in die munisipale verkiesing van 2021 sou wees.
Verwysings
Eksterne skakels Profiel op People's Assembly Nqaba Bhanga – Oos-Kaapse Provinsiale Leier van die Demokratiese Alliansie
Kategorie:Geboortes in 1977 Kategorie:Lewende mense Kategorie:Lede van die Nasionale Vergadering van Suid-Afrika Kategorie:Politici van die African National Congress Kategorie:Politici van die Demokratiese Alliansie Kategorie:Xhosas