Die nasionale vlag van Noorweë (Bokmål: Norges flagg; Nynorsk: Det norske flagget) is op 13 Julie 1821 amptelik in gebruik geneem. Die vlag vertoon ’n donkerblou Skandinawiese kruis met wit fraiings op ’n donkerrooi veld. Die vertikale arm van die kruis is in die rigting van die vlagpaal verskuif volgens die patroon van die ander Skandinawiese vlae. Die Skandinawiese kruis verteenwoordig Christenskap.

Die handelsvlag het ’n vlagverhouding van 16:22 en die staatsvlag ’n vlagverhouding van 16:27. Die rooi kleur is PMS 200 en die blou kleur PMS 281 volgens die Pantone-kleurstelsel, onderskeidelik #BA0C2F (rooi) en #00205B (blou) en #FFFFFF (wit) in die RGB-stelsel.

Die vlag is in 1821 ontwerp deur Fredrik Meltzer. Sy ontwerp van ’n Skandinawiese kruis in die drie kleure blou, rooi en wit ’n was gebaseer op die vlae van Denemarke en Swede wat in die verlede gesag uitgeoefen het oor Noorweë. Volgens die ontwerper is die kleure ook direk beïnvloed deur die vlae van Frankryk, Nederland, die Verenigde Koninkryk en die Verenigde State, wat volgens hom almal vryheid aandui. Nadat Noorweë in 1905 onafhanklik geword het, het dit ook die nasionale vlag van die land gebly.

Ontwerp

Die vlagverhouding van die nasionale vlag is 16:22 en die kleurelemente het lengtes van 6:1:2:1:6 en 6:1:2:1:12. Die vlagverhouding van die staatsvlag is 16:27, of 6:1:2:1:6 vertikaal en 6:1:2:1:6:11 horisontaal.

Die Noorse vlagwet deur die Departement van Buitelandse Sake bepaal die kleure as donkerrooi en donkerblou (“høirødt” og “mørkeblåt”) en wit, sonder verwysing na ’n spesifieke kleurstelsel.

Vlagvervaardigers gebruik gewoonlik die rooikleur 200 en die bloukleur 281 van die Pantone-kleurstelsel (let op dat geen agtervoegsels in hierdie PMS-waardes gespesifiseer word nie, aangesien die bedekte C-weergawe normaalweg aanvaar word). Hierdie kleure van die Noorse vlag is ook gedefinieer op bladsy 79 van die publikasie Flags and anthems manual, London 2012 en is gebruik op die Olimpiese Somerspele 2012 in Londen. Die Oslose Oorlogsvereniging bepaal die kleure ook as Pantone 200 en 281. Die vlagvervaardiger Langkilde & Søn verwys selfs na Pantone 200 as “Noorse rooi” en Pantone 281 as “Noorse blou”. Die Nordiese Raad gebruik ook die Pantone 200 en 281.

Ander bronne het verskillende kleure vir die rooi en die blou gespesifiseer met betrekking tot die Pantone-kleurstelsel (PMS). In ’n dokument op die Noorse regering se webblaaie word die rooikleur bepaal as “Pantone 032 U” en die bloukleur as “Pantone 281 U”. Noorse vlagvervaardigers beskou egter hierdie rooi kleur as verkeerd en het gekla dat die Noorse staat propageer wat hulle as verkeerde inligting beskou. Daar is byvoorbeeld geargumenteer dat pantone-agtervoegsels (soos C en U) slegs relevant is vir papierdruk en dus nie gebruik moet word om vlagkleure te spesifiseer nie. Noorse owerhede het sedertdien verduidelik dat die kleure slegs ’n interne aanbeveling was spesifiek vir sifdrukkuns en nie ’n wetlike definisie nie en het die aanbeveling intussen teruggetrek. Die Nordiese Vlagvereniging definieer tans die rooi kleur as PMS 186 en die blou kleur as PMS 287. Die Nordiese Raad het voorheen in sy bron ’n soortgelyke kleurbeskrywing gegee, maar hulle het die rooi kleur intussen as “Pantone 186 C” (let op die C-agtervoegsel) bepaal, terwyl blou ooreenstem met die bron (“Pantone 287”). In 2010 het dieselfde webwerf die blou kleur egter as “Pantone 301” gedefinieer.

Op 25 April 2018 het die Noorse Minister van Buitelandse Sake aanbeveel dat Noorse vlagvervaardigers inisiatief neem vir ’n tegniese standaard om te bepaal watter kleure vir die vlag van Noorweë gebruik word, soortgelyk aan die bepalings in Denemarke. Dansk Standard DS 359:2005 Daar word beklemtoon dat die kleur van die finale produk belangrik is en dat dit daartoe kan lei dat die gids verskillende kleurkodes vir materiaal-, papier- en webgebruik beskryf.

As gevolg van die baie uiteenlopende metodes waarop kleure op fisiese vlae weergegee word, teenoor dié op digitale skerms (webkleure) is daar natuurlik geen presiese RGB-ekwivalent vir Pantone-kleure nie. ’n Goeie benadering kan egter bereik word deur die amptelike vertaling na webkleure in die Pantone-formulegids te volg. Die faktiese standaard wat deur Noorse vlagvervaardigers gebruik word is PMS 200 en 281, wat die ooreenstemmende webkleure is volgens die amptelike Pantone-bypassende stelsel #BA0C2F vir PMS 200 (donkerrooi) en #00205B vir PMS 281 (donkerblou).

Kleure Die kleurskema word hieronder gelys:

40pxKleurskema Blou Rooi Wit Pantone 281 C 200 C Wit RAL 5026 3020 9016 CMYK 100-65-0-64 0-94-75-27 0-0-0-0 HEX #00205B #BA0C2F #FFFFFF RGB 0-32-91 186-12-47 255-255-255

Die vlag van Noorweë het dieselfde kleure as die vlae van Ysland en die Faroëreilande, waarmee Noorweë sterk voorvaderlike bande het, maar elkeen in ’n omgekeerde volgorde.

Geskiedenis duimnael|’n Noorse koning hou die historiese embleme en wapens van Denemarke, Noorweë en Swede duimnael|Die eerste oorlogsvlag van die onafhanklike Noorweë, ingevoer op 27 Februarie 1814 en vervang op 7 Maart 1815 deur ’n gemeensame oorlogsvlag vir Swede en Noorweë In die antieke tydperk en die Middeleeue was daar nog nie so iets soos nasionale vlae nie. Daarenteen het heersers en ander leiers wél oor hul eie vlae beskik; die krygsvolk het hulle gewoonlik om die koninklike vlag geskaar. Dit is moeilik om te bepaal watter vlag eerste in Noorweë gebruik is. Volgens historiese oorlewerings het Sint Olaf (Olaf II Haraldsson) in die slag teen Nesje ’n wit kenteken met ’n slang daarop gebruik.

Middeleeuse vlae en wapens Voor hierdie tydperk was kentekens met ’n raaf en ’n draak gebruiklik. Magnus die Goeie het oor dieselfde kenteken as Sint Olaf s’n beskik, terwyl Harald Hardråde ’n raaf gebruik het. Dié vlag is deur verskeie Wikinghoofmanne en ander Skandinawiese heersers in die 9de, 10de en 11de eeue gebruik. Koning Inge I se simbool was ’n rooi leeu op ’n goue agtergrond, terwyl Sverre ’n arend in goud en rooi gebruik het. Erik Magnusson het vanaf 1280 ’n goue leeu met ’n kroon en ’n byl op ’n rooi agtergrond as sy wapen gevoer. Hierdie kenteken het ook as wapen gedien en ten opsigte van sy ontwerp en motief met die huidige Noorse koningsvlag ooreengekom. Dit is waarskynlik deur latere Noorse monarge oorgeneem en het geleidelik ook as skeeps- en vestingsvlag gedien. Die oudste betroubare afbeelding is hertogin Ingebjørg se seël uit die jaar 1318.

Teen 1500 het skepe die vlag van hul tuisland begin hys om hul nasionaliteit te wys. ’n Rooi vlag met die goue leeu op en ’n silwer hellebaard is in ’n Nederlandse vlagboek van 1669 en 1670 as die Noorse vlag uitgebeeld. Munksgaard, Jan Henrik (2012): Flagget − Et nasjonal symbol blir til. Årbok Vest-Agder-museet, Kristiansand, bl. 15

Ontwikkeling van die 17de eeu af Die leeuvlag het onder meer in 1698 steeds oor die vesting Akershus gewapper. Die Noorse leeu is in 1641 op die vlae van al die Noorse regimente geplaas. Dit is daarnaas ook op skepe en in ander vestings gebruik, maar uiteindelik gedurende die 17de en 18de eeu geleidelik uitgefaseer. Reeds in die 16de eeu was dit op see internasionaal gebruiklik om die land van herkoms met ’n nasionale vlag aan te dui, tog is die bevel om die Deense Danebrog as enigste wettige handelsvlag op Noorse skepe te hys nie voor die jaar 1748 gegee nie.

Vanweë die politieke unie met Denemarke is die Deense vlag vanaf die 17de eeu ook in Noorweë gehys. In 1814 het Noorweë as selfregerende staat die leeu van die rykswapen in die Deense vlag se veld links bo gevoeg en dit tot in die jaar 1821 in die noordelike seegebiede gebruik. In 1815 is ’n gemeenskaplike Sweeds-Noorse staats- en oorlogsvlag vir albei ryksdele ingevoer – die Sweedse vlag met ’n wit kruis op ’n rooi agtergrond in die boonste veld digby die vlagpaal. Op 26 Oktober 1818 het ’n gemeenskaplike handelsvlag gevolg wat dieselfde motief vertoon het, maar reggesny is. Hierdie vlag is ook in verder geleë seegebiede tot by die Spaanse Kaap Finisterre in die suide gebruik – veral as beskerming teen Noord-Afrikaanse Barbaryse seerowers wat ’n losgeld van Swede ontvang het. Munksgaard, Jan Henrik (2012): Flagget − Et nasjonal symbol blir til. Årbok Vest-Agder-museet, Kristiansand, bl. 76–80 Daarnaas kon Noorse skepe in internasionale waters ook onder die Sweedse vlag seil. Sodoende was in die periode tussen 1818 en 1821 drie verskillende handelsvlae tegelykertyd gebruiklik.

Die huidige vlag duimnael|Omstreeks 1850 was Skandinawië ’n politieke visioen. Die Noorse en Sweedse vlae op hierdie beeld toon albei die uniekenmerk duimnael|Carl Sundt-Hansen se 1890-skildery Begrafnis op see toon ’n Noorse vlag met Sildesalaten duimnael|Christian Krohg se skildery van 17 Mei 1893 toon ’n Noorse vlag sonder Sildesalaten Die huidige vlag van Noorweë is in 1821 deur Fredrik Meltzer, ’n afgevaardigde in die parlement (Storting), ontwerp. As ’n verwysing na die vorige unie met Denemarke en die nuwe gemeenskaplike staat van Noorweë en Swede het Meltzer elemente uit die vlae van albei buurlande in sy ontwerp verenig – Denemarke se rooi en wit met Swede se blou kleur met ’n kruis in die middel volgens die patroon van ander Skandinawiese vlae. Die kombinasie van rooi, wit en blou het daarnaas ook by die tradisies van ’n aantal demokratiese lande aangesluit – die rewolusionêre Frankryk, die Verenigde State, die Verenigde Koninkryk en Nederland.

Die Storting het Meltzer se voorstel vir ’n nuwe vlag goedgekeur, tog het koning Karl XIV Johan geweier om hierdie wettige besluit te bekragtig. Die monarg het die vlag op 13 Julie 1821 nogtans in ’n koninklike resolusie aanvaar. Volgens ’n bykomende koninklike resolusie van 17 Julie is die gebruik van die nuwe driekleurvlag tot die noordelike waters beperk. Die skepe van albei lande was nou verplig om in suidelike waters die gemeenskaplike handelsvlag van 1818 – die Sweedse vlag met ’n insetsel van Noorse kleure – te gebruik. Nadat die Noord-Afrikaanse Barbareske-state in 1830 deur Frankryk verower is, het Swede die betaling van losgelde aan die plaaslike seerowers gestaak. Noorweë het nou daarop begin aandring dat sy goedgekeurde nasionale vlag ook in suidelike waters gebruik sou kon word. Hierdie toestemming is in 1838 verleen. Aangesien die Noorse grondwet van 4 November 1814 die oorlogsvlag tot vlag van die unie verklaar het, is hierdie vlag van 1815 af deur albei lande gebruik.

Gedurende Karl XIV Johan se regeringstydperk het die Noorse misnoeë oor die vlagstelsel, wat niks meer as Swede se oorheersende rol in die unie weerspieël het, steeds toegeneem. Volgens ’n voorstel van ’n gemeenskaplike Noors-Sweedse komitee het koning Oscar I in 1844 ’n nuwe vlag ingevoer wat aan Noorse eise vir ’n gelyke status binne die unie voldoen het. Elkeen van die twee lande het nou sy eie handels- en oorlogsvlag gekry, met ’n gemeenskaplike kenteken aan die linkerkant bo. Hierdie kenmerk het as ’n simbool van die politieke unie die kleure van albei lande in gelyke dele vertoon.

Hierdie kenteken het in die volksmond van albei lande as die Sildesalaten of “Haringslaai” bekend gestaan aangesien sy ontwerp aan ’n kleurryke ontbytgereg van Swede en Noorweë herinner het. Die bynaam het aanvanklik in Swede opgekom waar mense beswaar gemaak het teen die verlies van die oorspronklike Sweedse vlag, terwyl die nuwe kenteken in Noorweë as ’n vervulling van eise vir ’n nasionale simbool verwelkom is.

Vlootskepe van albei lande het die kenteken ook as geus op hulle boeg gebruik. Daarnaas is dit as ’n gemeenskaplike vlag van albei ryke deur die unie se diplomatieke missies in die buiteland gehys. Hier het dit egter ’n langgestrekte vorm met ’n verhouding van 4:5 gehad, net soos die kenmerk in die Sweedse vlag, terwyl dit op die Noorse unievlag as ’n vierkant verskyn het.