Margaret Magdel Bakkes (14 Desember 1931, Sterkstroom – 29 Junie 2016; gebore Aucamp) was 'n Afrikaanse skrywer van romans, kort- en jeugverhale. Sy het ongeveer dertig boeke en kortverhale geskryf. Haar werk sluit onder meer in: die romans Elegie vir ’n onbekende en Susanna die geliefde,Storiewerf: http://www.storiewerf.co.za/cvs/cv_margaretbakkes_ph.htm asook die kortverhaalbundels Sing vir ons, Matilde en ’n Baksel in die môre.HAT Taal-en-feitegids, Pearson, Desember 2013, LitNet ATKV-Skrywersalbum 2016.06.30: http://www.litnet.co.za/margaret-bakkes-1931/
Sy was getroud met die geskiedskrywer Cas Bakkes en het vier kinders gehad: Johannes, Marius, Matilde en Christiaan. Beide Johannes (C. Johan Bakkes) en Christiaan (Christiaan Bakkes) is ook skrywers.NB-Uitgewers: http://www.nb.co.za/authors/271 Sy was 'n niggie van Hennie Aucamp.
Lewe en werk Margaret Magdel Aucamp is op 14 Desember 1931 op die plaas Klapkloof in die distrik Sterkstroom gebore as die oudste kind van Hendrik Aucamp en Matilda de Villiers. Die bekende skrywer Hennie Aucamp is ’n neef van haar. As gevolg van die depressie kan haar pa en oupa nie saam ’n bestaan op die plaas Klapkloof maak nie en toe sy ongeveer drie jaar oud is, kry haar pa werk as bestuurder van ’n melkplaas in die Transvaal. Die gesin trek baie, want ná die werk by die melkplaas kry haar pa ’n pos by die Departement Landbou en hulle bly onder andere in Pretoria, Brits, Döhne, Grootfontein en toe weer in Pretoria. Wanneer sy twaalf jaar oud is, sterf haar oupa en hulle keer weer terug na haar geboorteplek op Klapkloof, wat aan die voet van die Stormberge geleë is. Haar skoolopleiding ontvang sy dan onder andere aan Queenstown Girls High School, waarna sy matrikuleer aan Sterkstroom Hoërskool.
Na skool werk sy ’n jaar lank in die Staatsvertaalburo in Pretoria. Daarna studeer sy aan die Universiteit van Pretoria en die Pretoriase Onderwyskollege met Afrikaans, Engels en Geskiedenis as hoofvakke en behaal ’n B.A.-graad en ’n Hoër Onderwysdiploma. As student loseer sy by die weduwee Bakkes, waar sy haar toekomstige man, die historikus dr. Casparus Marius Bakkes, ontmoet. Sy hou vir twee jaar lank skool aan Clapham High School in Pretoria en trou dan in 1955 met Cas Bakkes. Hulle bly eers in Pretoria, trek dan na Stellenbosch en vestig hulle later in Saldanha, waar haar man aangestel word as dosent aan die militêre akademie. Hier woon die gesin vir twaalf jaar waarna hulle terugkeer na Pretoria en hulle eindelik in Waterkloofrif vestig. In 1965 word ’n kwaadaardige melanoom by haar gediagnoseer, maar na intensiewe behandeling herstel sy volkome. Die egpaar het vier kinders, naamlik Johannes, Marius, Matilde en Christiaan. Christiaan en Johan volg in hulle moeder se voetspore en publiseer elkeen verskeie boeke, Christiaan hoofsaaklik oor sy ondervindinge as veldwagter en Johan oor die vele reise wat hy wêreldwyd na hoofsaaklik ongerepte en veraf geleë bestemmings onderneem. Nadat die kinders uit die huis is, onderneem sy ’n reis na Europa met die geld wat sy uit haar skryfwerk verdien het. Sy en haar man tree eindelik in die Paarl af, waar Cas in Januarie 2016 na ’n lang siekte oorlede is.
Sy was ’n lid van die Pretoriase tak van die internasionale skrywersorganisasie PEN en tree as spreker by verskeie byeenkomste op, waaronder die Woordfees op Stellenbosch en die Boekjol by die Universiteit van Pretoria, terwyl sy in 2007 die Bloemfonteinse Skrywersvereniging se jaarlikse slypskool aanbied.LitNet: http://www.litnet.co.za/woordfees-onderhoud-hennie-aucamp-in-gesprek-met-margaret-bakkes/ In haar vrye tyd skilder sy ook graag. Sy is op 29 Junie 2016 oorlede.
Skryfwerk
Kortverhale Sy begin haar skryfloopbaan deur kortverhale in tydskrifte te publiseer. Haar eerste kortverhaal verskyn in 1954 in Rooi Rose en vanaf 1973 publiseer sy ook verhale in Tydskrif vir Letterkunde en Standpunte.
As kortverhaalskrywer trek sy vir die eerste keer ernstige aandag wanneer van haar gevoelvolle streekverhale saam met verhale van haar neef Hennie Aucamp in ʼn Baksel in die môre verskyn.Bouwer, Alba. Sarie Marais, 21 November 1973 In Die vuurdoop word die seun Daantjie uitgebeeld, wat ná sy krisiservaring met die Engelse met groter volwassenheid en rypheid na die wêreld kyk. Daarna publiseer sy verskeie kortverhaalbundels.
Wat op die middag verwoes word in 1981 en daarna wyd in skole in Kaapland voorgeskryf. In dié bundel speel dood en ontnugtering, dikwels geplaas teen die agtergrond van die Anglo-Boereoorlog, ’n prominente rol. Dit bevat egter ook verhale soos Die eerste klip, waar die enkeling se botsing met die morele opvattings van hierdie tyd tot ondergang lei. In hierdie verhaal trap ’n meisie oor die tou, waarna sy ingekerker word.
In Sing vir ons, Mathilda (met die subtitel verhale oor die begin en die einde) staan die dood en kennismaking met die dood dikwels sentraal. Die titelverhaal bestryk feitlik die hele leeftyd van die hoofkarakter, Matilda, wat na ’n sorgelose jeug gevul met sang ’n eerste kennismaking met die dood het. Hierna is daar groeiende eensaamheid in haar lewe wanneer haar nabye familie en vriende geleidelik afsterf, ook haar man, wat indirek haar sangstem stilmaak. Jare later is die krisis oomblik wanneer ’n afgeleefde suster die ou versoek rig: “Sing vir ons, Matilda” en sy tog sing. Die woorde van die liedjie wat sy aan die begin gesing het, dra egter nou die insig en berusting van ’n leeftyd. Inkrimp is ’n verhaal oor die al kleiner wordende fisieke ruimte van ’n ou vrou, van huis na hotelkamer, tehuis, hospitaalbed en eindelik graf. Vroeëre besittings verminder sodat sy later slegs die basiese oorhou en sy neem afskeid van meubels en gordyne en dies meer. Ook haar psigiese ruimte krimp, veral gekenmerk deur die feit dat die verhaal uit die skoondogter se perspektief vertel word. Voorheen was sy die vyand, maar nou is sy die enigste een wat vir haar sorg, met haar eie kinders wat haar selde besoek. Algaande verloor sy so alle intieme kontak met die buitewêreld. Benewens die nege doodsverhale is daar ook twee beginverhale oor seuns in die bundel. Die verhoudings tussen mense is deurentyd die kernpunt van die verhale, soos in Die windbuks, waar ’n seuntjie die harde les leer dat grootmense nie vertrou kan word nie, selfs nie eens sy eie vader nie.Olivier, Gerrit. Standpunte. Nuwe reeks 149, Oktober 1980Van Zyl, Ia. Tydskrif vir Letterkunde. Nuwe reeks 18 no. 3, Augustus 1980Van Zyl, Wium. Beeld, 5 Mei 1980
Die langste nag en ander verhale is ’n keur uit haar kortverhale wat vroeër in tydskrifte verskyn het. Temas sluit in persoonlike verhoudings tussen man, vrou en kinders in die huisgesin en die geborgenheid wat hieruit spruit. Die troudag word deur Annemarie van Niekerk opgeneem in die versamelbundel Vrouevertellers 1843–1993.
Ontheemdes het as subtitel vertellings van ander mense, ander plekke en ander tye, waarin die skrywer met meelewing die lot van die ontworteldes van die verhale vertel. Daar is onder andere Russiese ontheemdes in Afrika, terwyl Grafskrifte vertel van huise en ’n dorpie wat sterf nadat die inwoners weggetrek het.Van Zyl, Ia. Tydskrif vir Letterkunde. Jaargang 23 no. 2, Mei 1985
Die reise van Olga Dolsjikowa en ander omswerwinge beeld mense uit wat ten spyte van hulle omswerwinge nie hulle droom of passie in vervulling kon laat gaan nie. Die klem op reis in die titel is omdat die mees deurslaggewende dinge gebeur wanneer grense oorgesteek word, en die mees ingrypende insigte opdaag wanneer die veiligheid van ’n bekende omgewing agtergelaat word. In die titelverhaal verbind die verteller haar eie treinreis in Rusland met die Russiese literatuur. Tydens haar eie treinreis hoor sy die verhaal van Olga Dolsjikowa, wat reeds twintig jaar lank een keer per maand die reis van 650 kilometer van Moskou na St. Petersburg aflê om ’n naweek deur te bring naby haar geliefde, wat getroud is met ’n ander. Eindelik suggereer die slot dat reise soos dié van Olga en die verhale daaroor geen einde het nie en dat dit tot in die oneindigheid sal voortduur. Ná ’n dubbele mastektomie bied ’n vrou in Geen sagte troos aanvanklik weerstand teen haar man se seksuele toenadering, maar vind eindelik juis in sy omhelsing skuiling en heling. Die hoofkarakter in Die rooi draad se lewensideaal was om soldaat te wees. As middeljarige gaan hierdie wens in vervulling, maar nou is dit gedwonge en gaan dit gepaard met vrees en ervaring van die dood, die teenkant van die romantiese ideaal. Die groot verskil tussen droom en werklikheid vind ook uiting in Op soek na Henk Haringa. Hierin reis ’n Suid-Afrikaner na Nederland op soek na die penmaat van sy jeugjare, maar vind uit dat hy reeds jare gelede oorlede is. Van sy drome om te reis en die wêreld te sien het daar niks van gekom nie en hy was al die jare slegs stuurman op die Amsterdamse gragte. Die verhale se krag lê deurentyd in die delikate peiling van situasies en gevoelens, eerder as in die verblindende insig aan die einde.Kannemeyer, J.C. Rapport, 25 Junie 1995Kannemeyer, J.C. Op weg na 2000. Tafelberg-Uitgewers Beperk Eerste uitgawe 1998Müller, Petra. Insig, Julie 1995Van Zyl, Ia. Tydskrif vir Letterkunde. Jaargang 34 no. 4, November 1996
Littekens verteenwoordig ’n hoogtepunt in haar kortverhaalkuns en hierdie bundel hanteer seerkry, verlies, afskeid, siekte, dood, die liefde – alles wat in die lewe wonde laat. Sy neem dan bestek op van ’n lewe se wonde wat genees het sodat net die litteken bly. Vele kere is daar egter nie ’n afsluiting nie, met die volgende wond wat wag. In Manus was ’n sagte man skiet Manus die moordenaar van sy seun dood en voltooi so die sirkel van weerwraak, maar dan wag die onvermydelike boetedoening. In Keuses sien die ouma in haar dogter se leed oor ’n verlore kind die herhaling van haar eie leed, met die wete dat elke kind ’n lewe van seerkry te wagte kan wees. Eietydse gebeure soos plaasmoorde, emigrasie, grondverlies en gesinsgeweld vorm die basis vir sommige verhale, wat aan die bundel ook ’n aktuele betekenis gee.Venter, L.S. Beeld, 28 November 2005
Verskeie van haar verhale is in Nederlands vertaal en van haar publikasies verskyn ook in die Vlaamse tydskrif ZAN. Haar kortverhale word opgeneem in verskeie versamelbundels, waaronder Vertellers, Hoogtepunte in die Afrikaanse kortverhaalkuns, Biltong en barakat, Die Afrikaanse kortverhaalboek, Vertellers 2, Dogters van Afrika, Vrou: mens, Kortgolf, Dit kom van ver af, Vrouevertellers 1843–1993, Boereoorlogstories, Uit die kontreie vandaan, Kortverhale vir verkenning, Vuurslag, Op Afrikaanse werf, Sarie: 40 flitsverhale en Wys my waar is Timboektoe. Die kortverhaal Die hut op Hartbeesvlakte word in die versamelbundel Om lief te hê opgeneem, wat ’n keur bevat van die mooiste liefdesverhale wat in Sarie verskyn het. Die skets Sevilla verskyn in Stad en stedelig, ’n versamelbundel met sketse en vertellings oor wêreldstede.
Romans en novelles