duimnael|Christiaan en Marcia se troue in Sedona, Arizona (VSA) Christiaan Mathys Bakkes (Vredenburg, 3 Augustus 1965) is 'n Afrikaanse skrywer van veral natuurbewaring- en veldkortverhale.HAT Taal-en-feitegids, Pearson, Desember 2013, Hy is die seun van Cas en Margaret Bakkes en die broer van C. Johan Bakkes. Margaret en C. Johan is ook skrywers.LitNet: http://www.litnet.co.za/christiaan-bakkes-1965/
Bakkes werk vir 'n tydperk as veldwagter in die Krugerwildtuin en was in die vroeë 1990's by die uitdunning van olifante betrokke, 'n saak waarteen hy etiese besware ontwikkel. In 1994 word hy ernstig in die wildtuin beseer en verloor sy arm in ’n onderonsie met ’n krokodil. Hy slaan daarna 'n nuwe loopbaanrigting in en gaan werk in die Damaralandse woestyn as 'n gids en bewaringsbeampte vir Wilderness Safaris. Hy lei ook gorillasafari’s in die woude van Uganda. Bakkes word as 'n liefhebber van heavy metal musiek beskryf.
Lewe en werk Christiaan Mathys Bakkes is op 3 Augustus 1965 op Vredenburg gebore, as die jongste seun en een van vier kinders van dr. Casparus Marius Bakkes, ’n militêre historikus, en die skryfster Margaret Magdel Bakkes. Hy het twee ouer broers, die skrywer en dosent C. Johan, en Marius wat werksaam is in die filmbedryf, en ’n suster, Matilde, ’n spraakterapeut. Hulle trek terug Pretoria toe, waar sy ouers benewens ’n huis in die stad ook ’n plasie buite die stad koop. Op die plaas raak hy geheg aan die natuurlewe. Sy skoolopleiding kry hy aan Pretoria-Oos Laerskool, Afrikaans Hoër Seunskool in Pretoria en in 1983 matrikuleer hy aan die Pro Arte Kunsskool in Pretoria, waar hy onder meer Kuns as vak neem. Hy studeer filmproduksie na skool, want hy wou graag natuurlewefilms maak, maar skop hierdie studies op. Hy begin dan as ongeskoolde arbeider by die Krugerwildtuin werk, waar hy onder andere lakens opvou en die kasregister beman. Dan keer hy terug na Pretoria en behaal ’n Diploma in Natuurbewaring aan die Pretoria Technikon, waarna hy vir ’n ruk op ’n wildplaas werk. Hy word dan opgeroep vir sy twee jaar verpligte militêre diensplig. Vir ’n ruk is hy offisier in die Inligtingskorps wanneer Militêre Intelligensie (MI) hom werf om die weermag se veldwagter by Fort Saint Michel aan die Angolese grens te wees. Dit is net voor Resolusie 435, wat bepaal die Suid-Afrikaanse soldate uit Suidwes-Afrika moet onttrek en hy kom gou agter dat die veldwagterskap slegs ’n front van die MI is sodat Suid-Afrika nie die bevrydingsbeweging Unita oornag in Angola alleen los nie. Geheime sendings ry in hierdie tyd steeds wapens en voorrade oor die grens aan. In 1989 lei hy ’n eenheid in die Wes-Caprivi wat saam met San-spoorsnyers op die Kwandorivier patrollies doen om stropers en ivoordiewe vas te trek.
Ná voltooiing van sy diensplig is hy natuurbewaarder in die Caprivi, Mpumalanga, KwaNdebele en dan staptoerveldwagter in die Krugerwildtuin. Onder andere neem hy Nelson Mandela kort ná sy vrylating op ’n staptoer deur die wildtuin en maak hom touwys oor die natuur. Op 26 Februarie 1994 is hy betrokke in ’n ernstige krokodilaanval nadat hy in ’n dam spring om af te koel en meer as een krokodil hom aanval. Sy linkerarm word afgebyt en hy word ook aan die regterskouer gebyt, sodat hy die gebruik van sy linkerarm verloor en daar lank gevrees is dat sy regterarm ook in die slag gaan bly. Aanvanklik is daar ook groot vrees vir sy lewe weens die ontsaglike gevaar van bakteriese infeksie in sy veelvuldige wonde. Hy is vyf weke in 1 Militêre Hospitaal in Pretoria en is vir nog vier maande daarna in rehabilitasie. Omdat hy links is, moes hy nou leer om alles regs te doen.NB-Uitgewers: http://www.nb.co.za/authors/3037 Hy word hierna deur die Parkeraad in kennis gestel dat hy nie meer ’n staptoerveldwagter in die Krugerwildtuin kan wees nie en eerder ’n kampbestuurder moet word, wat sy tyd in die kantoor sou deurbring.
Die noodsaaklikheid om sy ongeluk en verlies van sy werk as veldwagter te verwerk, lei hom in 1996 op ’n vyf maande staptoer deur Afrika, waar hy vanaf Kaapstad duimry deur die Weskus en Namibië en daarna na Zambië, waar hy malaria opdoen en vir lank ernstig siek is. Deurentyd doen hy by groot wildkampe en wildplase aansoek om werk, maar sonder sukses. Hierna is hy na Malawi, waar hy die berugte Malawi-diarree opdoen en sy enigste hand breek, en daarvandaan na die Serengeti in Tanzanië. Hiervandaan neem hy ’n boot na Uganda, waar hy ’n boodskap van sy ma kry dat hy na die Kaokoveld in die noorde van Namibië moet kom, aangesien daar vir hom werk is by die Wêreldnatuurlewefonds (WWF). Hy is hier vir drie jaar betrokke by natuurbewaring en by die oplei van plaaslike mense as veldwagters. Hierna sluit hy aan by Wilderness Safari’s en gaan na Botswana, waar hy help om safari’s te reël. Hy keer weer terug na die Kaokoveld wanneer hy ’n pos kry as konsessiebestuurder in die Skedelkuspark langs die grens van Namibië in die Damaralandwoestyn. Hoewel hy meeste van hierdie tyd in die veld is, deel hy ’n huis op Sesfontein met vriende. In 2000 is hy as gas van die Vlaams-Afrikaanse Vereniging die gasspreker by hulle byeenkoms in Vlaandere. Sy kliënte in die safari-wêreld is normaalweg welaf en hy ontmoet onder andere vir Pete Jones, een van die rykste mense ter wêreld. Jones neem hom op ’n avontuurreis deur die wêreld. In New Orleans sing hy saam met Pete se rockorkes die internasionale rockgroep The Doors se Roadhouse Blues en kuier met Pink Floyd se Nick Mason en rocksterre soos Peter Gabriel.
In 2006 trou Christiaan met Emsie Verwey en hulle woon in ’n tent in Damaraland in die noordweste van Namibië, vanwaar hy steeds gids en areabestuurder by Wilderness Safari’s is en onder andere ook gorillasafari’s in die woude van Uganda lei. Later word hy veldwagter van die Palmwag-konsessie, ’n halfmiljoen hektaar van klipwoestyn wat tuiste is vir swartrenosters in ’n poging om hierdie bedreigde spesie te bewaar.Sarie: http://www.sarie.com/lewe-liefdes/boeke/5-boekminute-met-christiaan-bakkes/ Hier bly hy meestal in die talle kampe oor die grootste gedeelte van die noord-westelike woestyngebied van Namibië, van Sossusvlei in die Namib tot Rhino Camp in Damaraland, Palmwag in die Kaokoveld, Angra Frio teen die Skedelkus en Serra Cafema by die mond van die Kunene aan die grens met Angola. Hy aanvaar ook Namibiese burgerskap. Sy huwelik eindig in ’n egskeiding, waarna hy ’n vaste verhouding aanknoop met die Amerikaanse regsgeleerde Marcia Fargnoli wat haar in Namibië kom vestig het. Christiaan en sy deel ’n woonstel in die kusdorp Swakopmund.
Skryfwerk In sy boeke beskryf hy kennelik outobiografiese vertellings, waar Stoffel Mathysen sy alter ego is. Dit bevat opwindende jagavonture, beskryf ook die voorval met die krokodilaanval en vertel van al sy ander wedervaringe as wildbewaarder, met ’n goeie kwota humor. Die lang pad van Stoffel Mathysen lui sy biografiese romans in, met vryheid wat aan die einde eers werklik verwerf word wanneer hy kan werk waaraan hy regtig wil. Die boek neem die leser op die helende reis tot aan die oewers van die Victoria-meer nadat die hoofkarakter sy arm verloor in ’n krokodil-aanval. Sy pad kruis met baie ander, maar dit is nie blywende vriendskappe of uiteindes wat saak maak nie, maar dat daar altyd verder gereis kan word. Die hele Afrika lê vir die reisiger oop.Venter, L.S. “Beeld” 8 Junie 1998
Stoffel in die wildernis is ’n bundel kortverhale en sketse waarin sy avonture beskryf word vanaf die tyd toe hy ’n sorgelose student was, deur sy weermagervarings, tot waar hy as ervare veldwagter in die afgeleë Kaokoland werk. Dit is ’n harde lewe, een van eensaamheid en afsondering, maar ook een waarin die betowering van Afrika ’n houvas op die mens kry. Aangrypend is die verhaal van ’n kollega wie se seuntjie dood is, waar die liefde, verlange en eensaamheid in die bos uitgebeeld word. Die afsonderlike verhale in die bundel vorm ’n geheel met Stoffel se veranderende perspektief op sy betrokkenheid by natuurbewaring wat weergegee word. Waar hy aanvanklik as jong veldwagter hom en sy kollegas beskou as redders van mens en dier, vind hy later in die soeke na avontuur nie ’n vastigheid en gevoel van behoort nie en hunker hy na ’n lewensmaat, ten spyte van sy onveranderde liefde vir die natuur.Joubert, Jan-Jan “Rapport” 20 Mei 2001Visagie, Andries “Beeld” 11 Desember 2000
Stoffel by die afdraaipad is ’n soort veldjoernaal of kortverhaalbundel wat in sy geheel in die Kaokoveld in Namibië afspeel, waar Stoffel eers as wildbewaarder en later as toergids die diere, plante en mense asook geskiedenis van die streek (insluitende die Dorslandtrekkers) beskryf. Daar is verhale uit sy tydperk as veldwagter in die Kaokoveld en verhale uit sy jare as safarileier aan die Skedelkus. Hy gee ’n noodsaaklike blik op die werking van verantwoordelike toerisme.Botha, Jaco “Rapport” 27 Februarie 2005 Hierdie boek is in 2005 op die kortlys vir die toekenning van die M-Net-prys vir boeke in kort formaat.
Stoffel se veldnotas sit die reeds bekende patroon van kort vertellings oor belewenisse in die veld (en tydens die bosoorlog) voort, met sommige van die verhale wat deur die slot daarin slaag om die brug tussen die ooglopende en die universele oor te steek. Op veertig is die skrywer nou ouer, wyser en rustiger. Hierdie boek sluit ook ’n vrouekarakter in, Nina met haar katte, sy medebestuurder by die renosterkamp wat later sy verloofde word. Die bitter verlies wat die dood van ’n boesemvriend meebring word ook beskryf. Hierdie boek belig benewens die geharde veldwagter se werk en ervarings ook sy lewe en menswees.Jordaan, Dirk “Beeld” 25 Junie 2007
Stoffel in Afrika se 27 verhale behandel weereens episodes uit Stoffel se kleurryke lewe, vanaf sy vroeë jare as wildbewaarder en sy werk as soldaat en teenstroper-veldwagter, en sy tyd as WWF-beampte in die Kaokoveld tot by sy huidige betrokkenheid in Damaraland by die bewaring van swartrenosters. Hy vertel ook van die safari’s om na die gorillas in Uganda en Rwanda te gaan kyk en van sy besoeke aan Engeland. Sommige verhale is meer persoonlik van aard en belig ook sy huislike lewe en troeteldiere.Van der Walt, Sarel “Beeld” 13 September 2010
In Stoffel op safari tree die aktuele kwessie van renosterstropery op die voorgrond en hy behandel hierdie onderwerp met insig in drie verhale. Dit is ’n ouer en wyser Bakkes wat hier aan die woord is, met benewens verhale oor sy veldwagter ervarings ook stories van gewone mense en skatryk safari-kliënte, sy huislike lewe en die navorsing van sy vrou, Nina. Aangrypend is ’n aantal hondeverhale. Soos in sy ander bundels is elke verhaal ’n alleenstaande eenheid, wat tematies by die ander aansluit, en bevat elkeen gewoonlik ’n finale paragraaf wat die leser laat nadink oor die wyer implikasie van wat gesê is.Pretorius, Willem “Beeld” 23 April 2012Van der Spuy, Alicia “Tydskrif vir Letterkunde” Jaargang 49 no. 2 Lente 2012
In Stoffel: die beste stories word ’n keur van 45 verhale uit die Stoffel-stories saamgebundel.Smith, Charles “Beeld” 9 November 2015