Iwan Misjoekof (Russies: Иван Мишуков, gebore 6 Mei 1992 in Reoetof) is 'n Russiese burger wat daarvoor bekend is dat hy 'n wilde kind was wat sowat twee jaar, tussen die ouderdomme van vier en ses jaar, saam met honde gewoon het.

Vroeë lewe Toe Iwan vier jaar oud was, het hy weggeloop van sy ma en haar alkoholis-kêrel. Hy het in 'n stadium ook by sy alkoholis-oupa gewoon, wat hom vir dae op 'n slag alleen gelos het.Will Stewart, "Man raised by a pack of stray DOGS as a child reveals how they saved his life by keeping him warm and sharing their food with him – before Russian officials killed the animals", Daily Mail Online, 23 Mei 2019. Besoek op 10 Augustus 2021. Hy het die vertroue van 'n trop honde gewen deur vir hulle kos te gee. In ruil daarvoor het hulle hom beskerm. Eindelik het hulle hom die tropleier gemaak.

Iwan is in 1998, toe hy ses jaar oud was, deur die Moskouse polisie gevang. Die polisie het die seun van die trop geskei deur vir die honde kos in 'n restaurant se kombuis te los. Voordat hy gevang is, het Iwan drie keer van die polisie ontsnap deurdat die honde hom verdedig het.

Iwan is daarna deur 'n peetma grootgemaak. Omdat Iwan net twee jaar lank tussen die honde gebly het, kon hy Russies gou weer aanleer. Hy praat nou vlot en intelligent, en het al onderhoude op Russiese en Oekraïense TV toegestaan. Hy het aan 'n militêre instelling studeer en in die Russiese weermag gedien.

Sy verhaal verewig Iwan se storie het die Engelse dramaturg Hattie Naylor in 2009 geïnspireer om 'n pryswennertoneelstuk, Ivan and the Dogs, oor sy tyd as straatkind te skryf.Naylor, Hattie. Ivan and the Dogs. Methuen Drama, 2014. Dit is vir die silwerdoek aangepas as Lek and the Dogs (2017).

Die Australiese skrywer Eva Hornung het 'n roman, Dog Boy (2009), geskryf met baie van dieselfde elemente as die toneelstuk en rolprent. Ook die skrywer Bobbie Pyron het 'n boek, The Dogs of Winter, oor Iwan en die honde geskryf.

Verwysings

Skakels

Kategorie:Wilde kinders