GotenburgGöteborg 280px Kaart Wapen 180px|senter 75px|senter Vlag 90px|senter Land  Landskappe 15px Västergötland,15px Bohuslänen 15px Halland Län 20px Västra Götaland Koördinate  Stigting 1621 Oppervlakte:    - Totaal (kommun) 1 025,32 vk km  - waarvan tätort (kernstad) 203,67 vk km  - water 14,5 vk km  Hoogte bo seevlak 12 m Bevolking:    - Totaal (2023) 604 616  - Bevolkingsdigtheid (kommun) 589,7/vk km  - Metropolitaanse gebied 1 058 278 Tydsone UTC +1 (MET)  - Somertyd UTC +2 (MEST) Klimaat Bernhard Mühr: Die klimaat van Gotenburg    - Tipe Gematigde seeklimaat  - Gemiddelde jaarlikse temperatuur 7,8 °C  - Gem. temp. Januarie/Julie –0,9 / 16,6 °C  - Gemiddelde jaarlikse neerslae 791 mm Burgemeester Axel Josefson (M) Amptelike webwerf www.goteborg.se

Gotenburg (Sweeds: Göteborg, [jœtɛˈbɔrj], ) is die tweede grootste stad van Swede ná die hoofstad Stockholm en die vyfde grootste in Skandinawië met 'n bevolking van sowat 600 000 in die stad (Sweeds: tätorten) en meer as 1 000 000 in die metropolitaanse gebied van Storgöteborg ("Groot-Gotenburg"). Gotenburg is aan die weskus van Swede naby die monding van die rivier Göta älv in die Kattegat geleë.

duimnael|links|Die hawegebied Lilla Bommen in Gotenburg Die geografies gunstige ligging halfpad tussen Stockholm, Kopenhagen en Oslo het van Gotenburg die beduidendste seehawe vir vrag- en passasierskepe in Noord-Europa gemaak. Die Gotenburghawe hanteer met jaarliks 30 miljoen ton vrag 'n groot deel van Swede se in- en uitvoere en moderne passasierskepe van rederye soos Stena Line en Scandinavian Seaways doen hier aan en vervoer jaarliks meer as vier miljoen passasiers uit Denemarke, Duitsland, die Verenigde Koninkryk en Nederland na Swede. Die tradisionele skeepsbou het vanweë die sterk mededinging uit die Verre Ooste lankal agteruitgegaan, maar Gotenburg is nog steeds 'n beduidende nywerheidsentrum en die tuiste van groot maatskappye soos die motorvervaardiger Volvo, SKF (koeëllaers) en Hasselblad (kameras) se hoofkwartiere. Die ryk kulturele lewe het van Gotenburg een van die leidende kunsmetropole in Skandinawië gemaak.

Die huidige stad is reeds die tweede wat die naam Gotenburg dra. Die historiese voorloper is deur koning Karl IX op die nabygeleë eiland Hisingen gestig en in 1611 deur Deense en Noorse troepe verwoes. Vanaf 1621 is op inisiatief van koning Gustav II Adolf 'n nuwe stad deur Nederlandse ingenieurs opgerig. Die terrein is opsetlik gekies – die Deense koning Christiaan IV, 'n aartsvyand van Gustav II Adolf, was hier in oorlogstye nie in staat om sy swaar kanonne te gebruik nie.

Gotenburg is volgens die tipiese voorbeeld van 'n Nederlandse stad uit die 16de en 17de eeu met kanale, twintig brûe en 'n vesting beplan en gebou. Die eerste stadsraad het naas sewe Swede en 'n Skot ook uit tien verteenwoordigers van die plaaslike Nederlandse bevolking bestaan. Alhoewel twee kanale intussen toegegooi is om plek te maak vir twee strate, Östra en Västra Hamngatan, het die stadsentrum van Gotenburg sy Nederlandse karakter grotendeels bewaar.

Etimologie Die stad is na die Gaute (Sweeds: Götar) vernoem, die oorspronklike bewoners van Suid-Swede, en sy naam kan dus letterlik as "versterking of bolwerk van die Gaute" vertaal word. Hellquist, Elof: Svensk etymologisk ordbok. Twee boekdele. Lund: LiberLäromedel 1980. Pamp, Bengt: Ortnamnen i Sverige. Tweede uitgawe. Malmö: Lundastudier i Nordisk Språkvetenskap. Serie B, 2. 1970

In die 17de eeu het die skryfwyse nog gevarieer van Giötheborg (1605) en Göteborgh of Gothenburg (1607) tot Gamble Gotenborg in 1619.

In Duits, Nederlands, Skots en Engels – almal tale wat vanweë Göteborg se geskiedenis as 'n belangrike seehawe en handelsentrum eeue lank hier gebesig is – is tradisioneel name soos Gotenburg en Gothenburg gebruik om na die stad te verwys. Die Afrikaanse Gotenburg word steeds in dié taal gebruik.

Die tradisionele benamings is in sommige tale laat vaar en met die Sweedse vorm Göteborg vervang, byvoorbeeld Göteborg Opera, Göteborg Ballet en Göteborg Film Festival. Die stad verwys in amptelike Engelse tekste na homself eweneens as die City of Göteborg, alhoewel die stad se universiteit University of Gothenburg as sy Engelse benaming gekies het.

Gotenburg het in Swede die bynaam Lilla London ("Klein-Londen") gekry, terwyl die stad in die omgangstaal as Götet bekend staan. Dikwels word die term Sveriges framsida ("Swede se voorkant") gebruik om na die stad te verwys, alhoewel dit eintlik as benaming vir die hele Sweedse weskus bedoel is.

Geografie duimnael|'n Satellietbeeld van Gotenburg Die stadsgebied van Gotenburg het langs die oewers van die Göta älv-rivier en die valleie van die omgewing landinwaarts uitgebrei. Die stadsbuurte noord van die Göta älv is op Hisingen geleë, die vierde grootste eiland van Swede. Groot dele van die eiland maak in administratiewe opsig deel uit van die landskap Bohuslän, terwyl die res van Gotenburg in Västergötland geleë is.

Die suidelike van die talle skere of klein eilandjies in die Kattegat maak deel uit van die munisipaliteit Gotenburg (Sweeds: Göteborgs kommun), terwyl die noordelike gedeelte tot in die munisipaliteit Öckerö strek. Die eilande Tjörn en Orust is noord van die Gotenburghawe geleë. Die skoon seewater het van Gotenburg 'n eersterangse bestemming vir watersportentoesiaste gemaak.

Volgens die amptelike Sweedse statistieke is daar verskillende definisies vir die geografiese uitbreiding van Groter Gotenburg. Die sogenaamde tätorten Göteborg (die digbeboude stadskern met sy voorstede) sluit ook dorpe en stede in die aangrensende munisipaliteite Mölndal (Mölndals kommun) en Partille (Partille kommun) in. Daar is egter ook 'n aantal tätorter in die munisipaliteit Gotenburg wat nie by die tätorten Göteborg gereken word nie, veral in die noordoostelike dele van die munisipaliteit en op Hisingen.

Klimaat duimnael|'n Fjord naby Gotenburg Danksy sy ligging aan die Noordseekus en die matigende invloed van die Golfstroom het Gotenburg 'n tipiese seeklimaat met gematigde temperature en baie reënval dwarsdeur die jaar. Tydens die somer styg die kwik op sonskyndae bedags tot tussen 18 en 25 °C. Die somerdae is langer, met 18 ure se daglig en merendeels helder nagte. Die najaar word deur helder lig en koel weer gekenmerk, met wind en reënbuie tussendeur.

Die winters in Gotenburg is in die algemeen gematig met temperature net bokant vriespunt. Sonnige weer kom net soos sneeuvalle en temperature benede vriespunt dikwels voor. Die winterdae is betreklik korter met slegs ses ure se daglig in Desember en Januarie.

Vroeg in die lente word die dae vinnig langer en die kwik begin duidelik styg. Die gemiddelde daaglikse temperature is tussen -1 en 1 °C in die winter, tussen 3 en 12 °C in die lente, tussen 18 en 25 °C in die somer en tussen 4 en 13 °C in die najaar.

Lugbesoedeling Gotenburg het die hoogste lugbesoedelingsvlakke van alle Sweedse stede. Volgens die Europese Unie se riglyne mag die maksimale daaglikse meetwaarde vir stikstofoksied van 60 milligram per kubieke meter net op sewe dae per jaar oorskry word. Hierdie meetwaarde is in Gotenburg net in Januarie 2006 al meer as sewe keer oorskry. Daarnaas is in 2005 ook die maksimale toelaatbare meetwaarde vir fyn stof in bepaalde stadswyke oorskry.

Inversie in die omgewing van Gotenburg is die grootste vraagstuk ten opsigte van lugbesoedeling vanaf uitlaatgasse. Luguitruiling word deur die topografiese besonderhede soos valleie sterk beperk, sodat baie hoë lugbesoedelingsvlakke bereik word.

Geskiedenis Vroeë geskiedenis duimnael|Die stad Gotenburg het in 1940 'n gedenksteen ter herdenking van sy historiese voorloper Nya Lödöse naby die ou kerk van die dorp laat oprig Omstreeks 1200 het die kusgebiede van die Skagerrak en die Kattegat deel uitgemaak van Denemarke en Noorweë. Van die eilande langs die kus is die Öckerö-eilande as Noorse en die Bränn-eilande as Deense gebied beskou, terwyl Swede destyds nog nie oor enige gebiede langs die weskus beskik het nie.

In die tydperk tussen 1206 en 1261 het Swede nogtans 'n smal kusstrook aan die Noordseekus verwerf wat oor 'n afstand van sowat vyftien kilometer gestrek en uit die distrikte (Sweeds: härader) Askim en Sävedal asook die parogieë Lundby en Truve op Hisingen bestaan het. Sodoende het die suidoewer van die Göta älv se mondingsgebied Sweeds geword, terwyl Halland in die suide Deens en Bohuslän vanaf Hisingen en verder noordwaarts Noors gebly het. Met die hawens in die Göta älv het Swede sy enigste toegang tot die Noordsee in die weste gekry.

Met die bou van die vesting Älvsborg (naby die huidige Klippan) se stadsbuurt Kungsladugård teen die middel van die 14de eeu, het Swede sy aanspraak op die Göta älv se mondingsgebied bevestig. In die 15de eeu het Lödöse, 'n klein rivierhawe, vanweë die groeiende veeuitvoere uit die suidelike Västergötland tot 'n beduidende nedersetting ontwikkel. Handelsbetrekkinge is onder meer met die Hansestad Lübeck aangeknoop en in die periode tussen 1378 en 1400 het jaarliks agt handelskepe Lödöse-hawe aangedoen. Die belangrikste invoere was sout, harings en bier, terwyl Swede veral botter, perde en huide uitgevoer het. Naas Lübeck en Noorse en Deense stede het die handelsbetrekkinge ook seehawens in ander lande langs die Duitse, Vlaamse, Engelse en Skotse Noordseekus ingesluit.

Tydens sy vergadering in Kalmar in 1473 het die Sweedse Ryksraad derhalwe besluit om 'n nuwe hawestad, Götaholm, op die riviereiland Säveholmen naby die samevloeiing van die Säveå met die Göta älv te stig. Dit het egter geblyk dat die terrein minder geskik was en die hawe is na die gebied van die huidige Gamlestaden (die historiese stadskern van Gotenburg) verskuif. Die nuwe seehawe, Nya Lödöse (wat ook as Nylöse bekend gestaan het), was slegs 'n halfmyl vanaf die see geleë en het op grond van hierdie geografies-voordelige ligging die ou Lödöse-hawe vinnig vervang. Nya Lödöse is reeds in 1493 as die vierde belangrikste handelstad in die Sweedse Ryk na Stockholm, Åbo en Söderköping beskryf. In die loop van die 16de eeu het dit selfs tot die tweede grootste handelsplek met sowat 1 500 inwoners ontwikkel.

duimnael|links|Die vesting Nya Elfsborg (17de eeu) Rondom die vesting in die weste het 'n kleiner nedersetting ontstaan. Älvsborg, wat in 1541 gestig is, het sodoende die derde, kortstondige voorloper van die huidige Gotenburg geword. Die vesting is twee keer, in 1563 en 1612, deur Deense troepe ingeneem, en in albei gevalle is die Swede genoodsaak om aansienlike bedrae as losgeld vir die teruggawe te betaal.

Die eerste stad aan die monding van die Göta älv, wat amptelik Gotenburg genoem is, is deur koning Karl IX op die eiland Hisingen, net teenoor Ou-Älvsborg gestig. Die eerste geboue het in 1604 naby Färjenäs op Hisingen ontstaan. Op 14 Augustus 1607 het die koning 'n amptelike dokument onderteken waarin 'n aantal voorregte aan die nuwe stad toegeken is, waaronder belastingvryheid vir 'n tydperk van twintig jaar. Aanvanklik was Gotenburg 'n suiwer Nederlandse nedersetting: die name van die eerste sewe Nederlandse burgers – A. Cabeliau, Paulus de Kempenere, P. Coymans, Herman Pelgroms, Nyclaes de Hand, Peeter Langer en Paridon van Horn – verskyn in 'n brief aan koning Karl IX gedateer 5 Desember 1606, waarin die setlaars vermeld dat hulle 'n kompanjie gestig het met die doel om nuwe koloniste na Gotenburg te lok. Maar reeds in 1611 het Deense troepe die nuwe kolonie tydens die Kalmar-oorlog aan die brand gesteek en Gotenburg so volledig verwoes dat sy oorblyfsels eers tydens argeologiese opgrawings in die 20ste eeu herontdek is.

Die 17de eeu duimnael|'n Kaart wat die staatsgebiede van Swede (groen), Noorweë (olyfgroen) en Denemarke (geel) in die 17de eeu en die ligging van Gotenburg wys