Costa Rica (Spaans: [kosta ˈrika], , letterlik: "Ryk Kus"), amptelik die Republiek Costa Rica (Spaans: República de Costa Rica, [reˈpuβlika ðe ˈkosta ˈrika]), is 'n klein republiek in Sentraal-Amerika met 'n oppervlakte van 51 100 vierkante kilometer en 'n bevolking van 5,3 miljoen in 2024. Die land grens in die noorde aan Nicaragua, in die suidooste aan Panama, in die noorde en suide aan die Stille Oseaan en die Karibiese See in die ooste.HAT Taal-en-feitegids, Pearson, Desember 2013,
duimnael|links|Nasa-satellietbeeld van Costa Rica Die Spaanse benaming vir die land, wat letterlik "Ryk Kus" beteken, was oorspronklik baie misleidend – die gebied was tydens die Spaanse koloniale bewind die mees agtergeblewe streek in Sentraal-Amerika. Lexikon-Institut Bertelsmann (reds.): Das moderne Länderlexikon in zehn Bänden. Gütersloh: Bertelsmann 1979, bl. 255 Aangesien die gebied nie oor enige mineraalbronne beskik het en daar ook geen groot plantasies ontstaan het nie, is daar nouliks slawe uit Afrika ingevoer. Selfs die inheemse Indiaanse bevolking was reeds voor die koloniale tydperk baie klein sodat Costa Rica in teenstelling met sy buurlande 'n merendeels Europese blanke samelewing gebly het.
Reisverhale uit die 19de en vroeë 20ste eeu het die land as 'n soort "Switserland in Sentraal-Amerika" beskryf en sodoende na die vreedsame naasbestaan verwys wat sy oorwegend landelike bevolking van relatief welvarende kleinboere gevoer het. Lexikon-Institut Bertelsmann (1979), bl. 255 Koffieverbouing was die vernaamste inkomstebron.
Sommige van hierdie beskrywings was moontlik oordrewe, maar die land het nogtans ná 300 jaar se koloniale bewind in 1821 van Spanje onafhanklik geword en tot 'n relatief stabiele demokrasie met hoë onderwysstandaarde, 'n hoë lewensverwagting, die hoogste per capita-inkomste in Sentraal-Amerika en min sosiale spanning tussen armes en welvarendes ontwikkel. Volgens die standaarde van die Menslike Ontwikkelingsindeks (MOI) was Costa Rica in 2023 op drie na die mees ontwikkelde land van Latyns-Amerika en 62ste op die wêreldwye ranglys.
Costa Rica handhaaf daarnaas ook hoë ekologiese standaarde en sy strande en woude is gewild by toeriste, veral ekotoeriste. Die land het al lank ’n vreedsame demokrasie en sedert die 1950's geen weermag nie. Dit was die eerste land wat volgens 'n aankondiging van sy regering in 2007 beplan om tot 2021 'n koolstofdioksied-neutrale samelewing te wees.
Etimologie Die naam la costa rica beteken "die ryk kus" in Spaans en is volgens sommige optekeninge die eerste keer gebruik deur Christophorus Columbus wat tydens sy laaste reis in 1502 langs die oostelike kus van Costa Rica geseil en oor groot hoeveelhede juweliersware berig het wat deur inheemse mense gedra is. Die naam is dalk ook gegee deur die conquistador Gil González Dávila, wat in 1522 aan die weskus geland het, inboorlinge teëgekom en deur roof of soms as geskenke van plaaslike leiers van hulle goud gekry het.
Geografie duimnael|links|Die Irazú is die hoogste vulkaan van Costa Rica duimnael|links|Die Arenal is die aktiefste en jongste vulkaan van Costa Rica Costa Rica is in die smal suidelike gedeelte van die Sentraal-Amerikaanse landbrug geleë en word in die weste en suidweste deur die waters van die Stille Oseaan en in die ooste deur die Karibiese See begrens. Dit het vulkaniese berge in die binneland en vlaktes aan die kus. In teenstelling met die Karibiese kuslyn en sy homogene landskapsvorm word die Pasifiese kusstreek deur 'n aantal baaie en skiereilande gekenmerk. Die grootste baaie is die Golf van Nicoya, die Golf van Dulce en die Coronadabaai. Die Nicaraguameer en die San Juanrivier vorm 'n natuurlike noordelike grens met Nicaragua, terwyl Costa Rica in die suide aan Panama grens.
Drie bergreekse vorm die geografiese ruggraat van die land wat die Noordelike en Karibiese Vlaktes van die Guanacaste-vlaktes en die bergland van die skiereiland Nicoya in die noordweste en van die voorgebergtes en heuwellande in die suidweste skei.
Die noordweste van Costa Rica word oorheers deur die bergreeks Cordillera de Guanacaste, 'n smal ketting van vulkaankeëls, waarvan die vulkaan Orosí 'n hoogte van 1 971 meter bo seevlak bereik. Miravalles (2 020 meter) is een van vyf aktiewe vulkane in hierdie bergreeks. Met sy relatief droë klimaat het Guanacaste tot 'n sentrum van die veeteeltbedryf ontwikkel. Die Cordillera Central of Sentrale Bergreeks, wat by die Guanacaste-reeks aansluit, behels magtige vulkane wat nog nie almal geblus is nie. Irazú is met 3 432 meter die hoogste van hierdie vulkane en was net soos Poás (2 705 meter) in die 20ste eeu nog steeds aktief. Stonehouse, Dr. Bernard (red.): Philips' Illustrated Atlas of the World. Londen: Guild Publishing 1985, bl. 138
Die Sentrale Bergreeks gaan in die suide geleidelik oor in die lang Valle Central of Sentraal-Vallei. Hierdie vallei met 'n hoogte tussen 1 100 en 1 500 meter vorm danksy sy vrugbare vulkaniese grond en sy gunstige klimaattoestande die demografiese en ekonomiese sentrum van Costa Rica met die hoofstad San José.
Die derde en hoogste bergreeks Cordillera de Talamanca loop tot by Panama. Met die Chirripó Grande (3 820 meter) behels dit ook die hoogste piek van Costa Rica. Die noordwestelike gedeelte van die bergreeks gaan oor in die berglande van Bustamante en Turraberes met hul kenmerkende diep ravyne.
Die Noordelike en Karibiese Vlaktes lyk ten opsigte van hul landskapsvorm baie op mekaar. Ongunstige klimaatstoestande met hoë reënval van jaarliks tussen 3 000 en 6 000 millimeter het daartoe gelei dat die gebied – met uitsondering van die kusstreek rondom die seehawe Puerto Limón – yl bevolk gebly het. Die ondeurdringbare reënwoud lewer waardevolle houtsoorte op.
Klimaat duimnael|links|'n Costa Ricaanse kolibrie duimnael|Klimaatsones in Costa Rica volgens die Köppen-klimaatklassifikasie Costa Rica het – behalwe vir die gematigde berggebiede – 'n tropiese klimaat met relatief klein temperatuurskommelings, alhoewel daar as gevolg van sy hoogs verskillende landskapsvorme geen homogene klimaatsones bestaan nie. Die gemiddelde jaarlikse temperature beweeg tussen 31,7 °C in die kusvlaktes en 16,7 °C in die bergagtige binneland. Die reënseisoen duur van Mei tot Desember.
Die noordoostelike vlaktes en die berglande langs die Karibiese See kry dwarsdeur die jaar baie reën (omtrent 6 000 millimeter), terwyl daar in die noordwestelike vlaktes, die skiereiland Nicoya, die bekkens van die bergreekse en teen die oostelike hellings van die Cordillera de Talamanca ook droë seisoene voorkom. In die Pasifiese kusstreke word 'n gemiddelde jaarlikse reënval tussen 2 000 en 3 000 millimeter aangeteken. Die hoogste berggebiede word deur mis met hoë vogtigheid, sterk winde en lae temperature gekenmerk.
Administratiewe verdeling duimnael|Costa Rica se sewe provinsies Costa Rica bestaan uit sewe provinsies wat verder verdeel is in 82 kantone (Spaans: cantón, meervoud: cantones), elkeen word deur 'n burgemeester gelei. Burgemeesters word elke vier jaar demokraties gekies. Daar is geen provinsiale wetgewers nie. Die kantone is verder verdeel in 488 distrikte (distritos). Die provinsies is:
Provinsie ISO 3166-2 Hoofstad Kantone Distrikte Bevolking http://www.inec.go.cr/A/MS/Censos/Censo%202011/Creations%20preliminares/15.%20Results%20Generales%20Censo%202011.pdf Bevolking (km²) San José CR-SJ San José 20 123 1 404 242 4 965,90 Alajuela CR-A Alajuela 16 118 848 146 9 757,53 Cartago CR-C Cartago 8 51 490 903 3 124,67 Heredia CR-H Heredia 10 47 433 677 2 656,98 Guanacaste CR-G Liberia 11 59 326 953 10 140,71 Puntarenas CR-P Puntarenas 11 60 410 929 11 265,69 Limón CR-L Limón 6 29 386 862 9 188,52 Totaal 82 483 4 301 712 51 100
Geskiedenis Vroeë geskiedenis duimnael|Die nasionale monument Guayabo Die oudste argeologiese vondse van menslike nedersettings in Costa Rica dateer uit die periode van voor 8 000 v.C., maar dit wil voorkom asof die gebied in die Voor-Kolumbiaanse tydperk as gevolg van sy lae bevolkingsdigtheid slegs 'n ondergeskikte rol in Sentraal-Amerika gespeel het. Central America.com/Green Arrow Guide: A Brief History of Costa Rica Daar is ten minste geen oorblyfsels van groter nedersettings of enige indrukwekkende steengeboue soos in die geval van die meer gevorderde beskawings van die noordelike Sentraal-Amerika of die Andes-streek van Suid-Amerika nie.
Die enigste beduidende argeologiese vindplek in Costa Rica is naby Guayabo, sowat 48 kilometer oos van San José, geleë. Die nedersetting, wat hier ontdek is, het omstreeks 1 000 v.C. ontstaan en gedurende sy bloeitydperk 10 000 inwoners gehad. Die argeologiese vondse uit die gebied, waaronder voorwerpe uit goud en jade asook pottebakkersware, word in verskillende musea in San José vertoon.
Die Spaanse koloniale bewind
duimnael|links|Die bouvalle van die ou basiliek van Cartago. Die stad is in 1563 as die eerste Spaanse nedersetting in Costa Rica gestig duimnael|'n Klipsfeer van die Diquis-beskawing by die Nasionale Museum van Costa Rica. Die sfeer is die ikoon van die land se kulturele identiteit Toe Christophorus Columbus tydens sy derde en laaste reis op 18 September 1502 naby die huidige Limón voet aan wal gesit het, was daar vermoedelik slegs 'n klein inheemse bevolking van sowat 20 000 mense wat uit 'n aantal stamme met verskillende tradisies bestaan het. Vanweë die goud, wat Columbus van die bewoners ontvang het, het hy die gebied Costa Rica of "Ryke Kus" genoem. Sy verhale oor rykdomme in die gebied het 'n aantal avonturiere na Costa Rica gelok, maar in plaas van goudskatte het die Spanjaarde in 'n vyandelike omgewing met weerbare inboorlinge, uitgestrekte moerasgebiede en tropiese siektes te doen gekry.
Die Spanjaarde het nogtans daarin geslaag om die gebied te verower en in 1520 by die Kapitanaat-Generaal Guatemala in te lyf. Lexikon-Institut Bertelsmann (1979), bl. 257 Vroeë pogings om die Atlantiese kusstreke te koloniseer het egter misluk. Eers in 1561 is die weerstand van die inheemse bevolking gebreek, en die Spanjaarde het tot by die hartland van Costa Rica deurgedring. Die koloniale owerhede in Guatemala het in 1563 Juan Vazquez de Coronado as goewerneur na Costa Rica gestuur. Die stad Cartago, wat in dieselfde jaar as administratiewe sentrum gestig is, het tot in 1823 as die hoofstad van Costa Rica gefungeer. Nogtans is gedurende die 17de en 18de eeu alle belangrike politieke besluite in Guatemala geneem en die Spaanse bewindhebbers het min belang in die nuwe kolonie gestel.
Vanweë die gebrek aan ingevoerde slawe was die Spaanse koloniste genoodsaak om hul land self te bewerk. Die meestal klein plase was beperk tot bestaansboerdery en sodoende was daar aanvanklik geen sprake van enige noemenswaardige ekonomiese ontwikkeling. Eers vanaf die laat 18de eeu is nuwe nedersettings gestig wat met uitvoere soos koring en tabak beter lewensomstandighede vir hul bewoners verseker het. Die handel met Europa, waarheen veral tabak, balsemolie en huide uitgevoer is, is in die periode tussen 1640 en 1820 deur seerowery in die Karibiese See ontwrig sodat die meeste handels- en uitvoeraktiwiteite na die Pasifiese kus verskuif moes word. Duitse Departement van Buitelandse Sake – Costa Rica: Geskiedenis
Onafhanklikheid in die 19de eeu duimnael|'n Posseël van 1863 met die staatswapen van Costa Rica Op 15 September 1821 het Sentraal-Amerika van Spanje onafhanklik geword, alhoewel die eerste berigte oor hierdie gebeurtenis Costa Rica eers een maand later bereik het. Die land was nou verdeeld oor sy politieke toekoms – terwyl leiers in Cartago en Heredia vir die toetreding tot die nuutgestigte staat Meksiko gepleit het, was hul teenstanders in San José ten gunste van 'n nuwe konfederasie van Sentraal-Amerikaanse state. Ná 'n kortstondige burgeroorlog het San José gewen en Costa Rica het by die Verenigde Provinsies van Sentraal-Amerika aangesluit, 'n konfederasie wat in 1823 deur Guatemala, Honduras, El Salvador, Nicaragua en Costa Rica gestig is.