Fanus Rautenbach (1928–2011), ook bekend as Umfaanus, was 'n bekende radio-omroeper, skrywer en mediapersoonlikheid. Hy het 'n ARTES-toekenning en verskeie ATKV-toekennings ontvang en is in 2007 as RSG se radiolegende van die voorafgaande 70 jaar aangewys. Hy het ook onder die skuilnaam Mot geskryf.

Lewe en werk Fanus Rautenbach is op 23 September 1928 in Lichtenburg gebore as die middelste van sewe kinders, onder wie twee seuns en vyf dogters. Sy ouers was die aartappelboere Nicolaas Frans Rautenbach (Junie 1891 – 29 Augustus 1962) en Susanna Hermina van den Berg (12 Julie 1898 – 8 Julie 1970). Toe Fanus vier jaar oud was, verlaat die gesin die plaas ten tyde van die Groot Depressie en verhuis na Johannesburg, waar hulle eers in armoede in Vrededorp bly en later Westdene toe trek. Hier werk sy pa vir die munisipaliteit, waar hy sypaadjies aanlê, rioolslote grawe en teerpaaie maak. Fanus gaan skool aan die Generaal De la Rey Laerskool in Westdene in Johannesburg en matrikuleer aan die Hoër Seunskool Helpmekaar in Braamfontein. Hierna studeer hy verder aan die Normaalkollege in Pretoria en verwerf ’n Onderwysdiploma. Tydens vakansies werk hy as klerk vir ’n korrespondensiekollege of as kelner op die treine. Sy onderwysloopbaan begin op die plaasskool van Elandslaagte naby Middelburg en daarna die skoolplaas van Laersdrif. Laasgenoemde was ’n onderwys-eksperiment, met die seuns wat die werk op die plaas self doen en tussenin studeer. Fanus keer dan terug na Pretoria om die oorblywende vakke van sy B.A.-graad aan die Universiteit van Pretoria af te skryf en word vervolgens onderwyser aan die Generaal De la Rey Laerskool in Westdene. Hy sluit sy onderwysloopbaan af as Afrikaansonderwyser aan die Ben Viljoen Hoërskool op Groblersdal.

Daarna word hy ’n draaiboekskrywer vir die Kerklike Afrikaanse Rolprent- en Fotografiese Organisasie (Karfo). Sy eerste opdrag is ’n draaiboek vir ’n dokumentêre rolprent oor Pretoria, waaraan hy die titel “Lente in Pretoria” gee. Hulle benodig net ’n stem om die draaiboek voor te lees en Fanus bied sy dienste aan, maar word vertel dat hulle iemand professioneel wil hê. Dit spoor hom aan om ’n stemtoets af te lê om ’n professionele omroeper te word. In 1955 sluit hy dan as omroeper aan vir die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie (SAUK). Die eerste program wat hy behartig, is In almal se kraal, wat destyds aangebied is deur Douwlina Grobler, sy toekomstige vrou, wat hy op hierdie manier ontmoet. Hy verander die formaat van hierdie program van ’n versoekprogram na ’n inbelprogram, die eerste van sy soort in Suid-Afrika. Tydens sy uitsaaidae is hy deurlopend op soek na die regte Afrikaanse woord vir dinge en nuutskeppings van hom sluit in woorde wat vandag algemeen gebruik word, waaronder “bromponie” en “kitskoffie”. Hiermee lewer hy ’n onskatbare bydrae tot die ontwikkeling van Afrikaans. Hy en Douwlina Grobler trou in 1957 en die egpaar het twee seuns (Frans en Gerrit). Hulle het in Northcliff in Johannesburg gewoon.

Fanus verlaat ná sy troue die SAUK en is ’n ruk lank skrywer wat verhale onder die naam Fanus Bach skryf vir Rooi Rose en Die Brandwag. Hy begin ook saam met I.D. van der Walt ’n eie tydskrif, wat misluk. Hy werk hierna as vryskutjoernalis en deeltyds as reklame-kopieskrywer en keer dan in Oktober 1961 terug na die SAUK.Fanus Rautenbach “My voet in ’n visblik” hoofstuk 9 “My werk”, bladsye 54-99 Vanaf 16 Oktober 1961 vermaak hy baie jare lank luisteraars met sy vroegoggendprogram Flink uit die vere, tot hierdie program in 1974 plek maak vir die aktualiteitsprogram Monitor. Hierna bied hy vir ’n ruk die inbelprogram Vra vir Fanus aan, waarna hy administratiewe werk doen, vervolgverhale skryf en hoorbeelde produseer.

Hy raak in die sestigerjare betrokke by ’n sakeonderneming wat met die vakansiebedryf gemoeid is en bedank selfs by die SAUK om hom hierop toe te spits, maar die onderneming vaar in troebel waters nog voordat hy die SAUK kan verlaat en sy diens by die SAUK word dus nie onderbreek nie. Weens ’n voorval in 1985 word ’n klag van korrupsie in 1986 teen hom ingedien.Artikel in Die Burger van http://152.111.1.87/argief/berigte/dieburger/1986/03/08/1/4.html Die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) het op versoek van Leon Schuster twee goudklaskaartjies aan hulle geskenk om komedie in Amerika te gaan ondersoek. Hulle het vooraf toestemming verkry om bydraes te lewer vir Monitor, wat hulle regstreeks uit Amerika uitgesaai het. ’n Standaardbrief van ’n SAL-amptenaar waarin hy bedank word vir radiotyd in ruil vir vliegkaartjies, lei egter tot die aanklag van korrupsie. Vir die duur van die ondersoek word hy geskors. In die regsproses is bevind dat daar geen saak teen Fanus en Leon is nie en dat hulle in alle opsigte eerbaar opgetree het.

Rautenbach het 13 jaar lank elke dag "Flink uit die vere" vir die destydse Afrikaanse Radiodiens aangebied en het 'n ARTES-toekenning gekry vir "Die Hemelkinders", 'n dokumentêre program oor kinders met Down-sindroom. Hy het ook verskeie ATKV-toekennings ontvang vir sy bydrae tot Afrikaans.

Rautenbach was ook die medeskrywer van die bekende radioverhaal "Staal Burger", saam met Daan Retief. Die reeks is van 1961 tot 1974 uitgesaai.

Rautenbach was 'n omroeper by RSG, Jacaranda 94.2 en ander radiostasies.

In 2007 word Rautenbach met 27 000 stemme aangewys as RSG se radiolegende van die afgelope 70 jaar.Afrikaans se legendariese woordwewer: Naomi Bruwer gesels met Fanus Rautenbach by litnet.co.za. Laaste besoek op 25 Mei 2008.

Vir die televisiediens van die SAUK skryf hy Nuustak, ’n poppeprogram waarin die jongste nuus op aweregse manier aangebied word. Van 1985 tot met sy aftrede in 1991 by die SAUK saai hy uit by die streeksender Radio Jakaranda, waar hy die program Oepsie Daisy tot 30 September 1991 behartig. Op 1 November 1995 begin hy as omroeper by Radio Oos-Rand, waar hy Woensdae en Vrydae die oggendprogram Flink uit die vere vanaf sesuur tot halfnege aanbied, asook Maandae van twaalfuur tot halfdrie ’n program behartig. ’n Bonatuurlike gebeurtenis in die hospitaal ná ’n ernstige hartoperasie in September 1996 lei hom tot bekering.Artikel in Die Burger van 27 Oktober 1997: http://152.111.1.87/argief/berigte/dieburger/1997/10/27/12/4.html

Wanneer hy vanaf 1998 omroepwerk by Suid-Kaap Stereo begin doen, trek hy na Oudtshoorn, waar hy en sy vrou in die Rotariër Aftreeoord woon. Sy vrou doen Alzheimer se siekte op en hulle vestig hulle dan in 2000 in Kaapstad, waar sy vrou op 15 Junie 2002 in Huis Lückhoff oorlede is. Hierna bly hy in ’n aftreeoord, eers in die Disa-tehuis naby die Mount Nelson Hotel en toe in die Arkadia tehuis vir bejaardes in Observatory naby die Groote Schuur Hospitaal. Hy hou hom steeds besig met vryskutwerk en skryf onder andere die “Wysneusnuus” vir KykNet, waar die poppe Einstein en Wysneus kommentaar lewer op die jongste nuusgebeure, asook ’n weeklikse rubriek vir Radio Laeveld. Op LitNet versorg hy ’n ruk lank die rubriek “Umfaanus”. In Maart 2009 val hy tydens ’n kuier by ’n vriend en breek albei heupbene en sy skouer. Hy is op 29 Januarie 2011, op 82-jarige ouderdom, in Kaapstad oorlede.Fanus Rautenbach oorlede, News24, 29 Januarie 2010.

Skryfwerk Op Normaalkollege word sy eerste kortverhaal, “Die vis en Petrus de Beer”, in Die Huisgenoot gepubliseer. Terwyl hy onderwys gee publiseer hy onder die naam Fanus Bach verskeie kortverhale in tydskrifte soos Huisgenoot, Rooi Rose, Sarie Marais en Die Brandwag en word hy ook by geleentheid aangewys as die kortverhaalwenner by Huisgenoot. Eindelik skryf hy meer as tweehonderd kortverhale.  Na sy aanstelling as omroeper by die SAUK begin hy ook om radiovervolgverhale te skryf. Die eerste een, “Swaard vir die liefde”, word in 1956 uitgesaai. Hy skryf hierdie verhaal onder die skuilnaam Stefan Rauch, maar “My seun Herman”, wat in 1957 uitgesaai word, is onder sy eie naam.Fanus Rautenbach “My voet in ’n visblik” hoofstuk 9 “My werk”, bladsy 92 Later volg meer as twintig radiovervolgverhale, insluitende “Staal Burger” en “Buksie”. Na sy bekering in 1996 skryf Fanus die radiovervolgverhaal “Droom vir my ’n reënboog”, wat vanaf 1999 landswyd oor Christen Netwerk Radio uitgesaai is. Hierdie verhaal handel oor die Christelike worsteling van gewone mense, met die De Winnaar-gesin as sentrale karakters. Die reënboog se sewe kleure is in die verhaal simbool van die sewe sondes wat telkens in die storie opduik (trots, selfsug, naywer, woede, haat, skindersug en jaloesie), maar ook van sewe deugde, sewe wonders en die sewe boodskappe aan die sewe gemeentes. Die droom van die titel verwys na die droom wat hy gehad het voor sy bekering, wat hy toe in ’n storie verwerk het.

Hy is die skrywer van die baie bekende radiovervolgverhaalCilliers, Stoffel “Beeld” 2 Maart 2009 “Staal Burger”, wat ook in boekvorm verskyn en later verfilm word. Die hoofkarakters is Staal Burger, sy handlanger Willem, Koos van der Merwe (’n verkeersinspekteur, vertolk deur die skrywer Mike Heine), Dada en oom Zak. Die rol van Staal Burger is vertolk deur Daan Retief, ook bekend as skrywer en regisseur, wat na ’n paar jaar die karakter so goed ken dat hy die skryf van hierdie radioverhaal by Fanus oorneem. Hierdie speurheld se avonture word beskryf in knap dialoog en met ’n streep humor deur alles, wat dit ’n genotvolle lees- en luisterervaring maak. Die eiesoortige styl en vorm van hierdie aksieverhaal sonder spanning, wat nie realisties maar ook nie satiries is nie en waar die handelinge en beskrywings doelbewus oordryf word as deel van die humor, laat baie kritici kopkrap oor die mark waarop dit gerig is. Die antwoord is dat enigeen die boek kan geniet, die jeug en ook volwassenes. Dit is ’n humorverhaal wat uitsluitlik daarop gerig is om vermaak te verskaf, wat dit dan ook baie suksesvol doen. “Die wonderdade van Staal Burger en ander stories” is ’n bundel met ’n aantal kortverhale in soortgelyke trant oor Staal Burger saam met ander humoristiese kortverhale. “Staal Burger in die warm water” is ’n versamelbundel van Voortrekkerpers waarin ’n episode van Staal Burger se radiovervolgverhaal opgeneem is, asook bydraes van etlike ander skrywers. “Avontuur Limpopo – Staal Burger en Mannetjies de Wet” is ’n tipiese Staal Burger storie, met die verskil dat dit ’n nuwe held voorstel, naamlik Mannetjies de Wet. Mannetjies word saam met ’n groep seuns uitgenooi om ’n Staal Burger-kamp langs die Limpoporivier by te woon, maar hierdie kamp is in werklikheid deur Kasper Barendse gereël om die jeug aan dwelmmiddels verslaaf te maak. Barendse hou ’n hiëna as troeteldier aan en laat nie toe dat iets in sy pad staan om sy doel te bereik nie. Hierdie keer kry hy egter met Staal Burger en Mannetjies te doen.