Die Verenigde State se nasionale krieketspan (Engels: United States national cricket team) is die nasionale krieketspan wat die Verenigde State (VSA) in internasionale krieket verteenwoordig. Krieket word in die Verenigde State deur VSA Krieket (USAC, van Engels: USA Cricket) beheer. Die span is voorheen bestuur deur die Amerikaanse Krieketvereniging (United States of America Cricket Association, USACA) wat in 1965 ’n assosiaatlid van die Internasionale Krieketraad (IKR) geword het. In Junie 2017 is die Amerikaanse Krieketvereniging deur die IKR weens kwessies oor bestuur en finansiering geskors en die Amerikaanse span was tydelik onder toesig van die IKR Amerikas, totdat ’n nuwe erkende beheerliggaam gestig is. In Junie 2017 is amptelik geassosieerde lidmaatskap aan VSA Krieket toegestaan.

Die wedywering met die Kanadese nasionale krieketspan is so sterk in krieket as wat dit in enige ander spansport is en albei spanne ding jaarliks om die K.A. Auty-beker mee. Die wedstryd tussen die twee lande is in der waarheid die oudste internasionale wedywering in krieket en is reeds in 1844 uitgespeel. Vir ’n eeu en ’n half het die Verenigde State selde teen ander nasionale spanne te staan gekom. Hulle het meestal teen Kanada of teen besoekende spanne van ander lande gespeel. Saam met Bermuda en Kanada is die Verenigde State tradisioneel een van die sterker nasionale krieketspanne van die Amerikas na die volle lid Wes-Indië.

Die Verenigde State het tydens die IKR-trofee 1979 in Engeland vir die eerste keer aan ’n internasionale toernooi deelgeneem; sedertdien het hulle net twee van dié toernooi misgeloop (nou bekend as die krieketwêreldbekerkwalifisering). Nadat hulle die Sesnasiesuitdaagtoernooi 2004 gewen het, het die span vir die Kampioenetrofee 2004 gekwalifiseer en sy eerste twee EDI-wedstryde gespeel. In April 2018 het die IKR besluit om aan al sy lede volle T20I-status toe te ken. Vervolgens word al die T20I-wedstryde wat die Verenigde State ná 1 Januarie 2019 teen ander IKR-lede speel as ’n volle T20I erken. Die Verenigde State is tans (Februarie 2026) 14de op die eendagranglys en 16de op die Twintig20-wêreldranglys.

Tydens die Wêreldkrieketliga se afdeling twee in 2019 het die Verenigde State in die vierde plek geëindig, nadat hulle die wedstryd om die derde plek teen Papoea-Nieu-Guinee verloor het, ’n wedstryd wat as ’n EDI erken is (en die Verenigde State se derde EDI-wedstryd nog was, 15 jaar ná hul laaste). Met die vierde plek het die land ’n plek in die Wêreldkrieketliga 2019–22 bespreek, waartydens al die wedstryde van die span EDI-status geniet het. Die span se eerste plaaslike EDI-reeks het begin op 13 September 2019, waaraan Papoea-Nieu-Guinee en Namibië deelgeneem het.

Beheerliggaam

VSA Krieket (Engels: USA Cricket, USAC) is in 2017 as opvolger van die beheerliggaam Amerikaanse Krieketvereniging (Engels: United States of America Cricket Association, USACA) gestig en verantwoordelik vir die reëling van krieket in die Verenigde State. Sedert 2018 verteenwoordig dit die Verenigde State as ’n assosiaatlid by die Internasionale Krieketraad (IKR). Die Amerikaanse Maagde-eilande, ’n eilandgebied van die Verenigde State, is ’n lid van Krieket Wes-Indië, waarvolgens van sy spelers vir die Wes-Indiese nasionale krieketspan gekeur mag word.

VSA Krieket bestuur al die VSA-verteenwoordigende nasionale spanne, insluitende die mans, vroue en jeug. Hulle is ook verantwoordelik vir die bestuur en organisasie van EDI- en T20I-reekse teen ander spanne, en die reëling van internasionale wedstryde tuis. Daarbenewens is USAC verantwoordelik vir inkomsteverkryging deur die verkoop van kaartjies, borgskappe en uitsaairegte, veral in verband met die Verenigde State se span.

Kinders en jongmense word reeds op skool aan krieket bekend gestel en na gelang van hul belangstelling en talent begin hul met hul afrigting. Net soos ander krieketlande beskik die Verenigde State oor ’n o/19-nasionale span wat aan die o/19-krieketwêreldbeker deelneem.

Geskiedenis Invoering van krieket duimnael|links|Aankondiging van die eerste internasionale krieketwedstryd tussen Kanada en die Verenigde State in die New York Herald, 1844 In die vroeë 18de eeu het Britse offisiere krieket na die Dertien Kolonies saamgebring. Die vroegste bekende verwysing na krieket dateer uit 1709 in die huidige deelstaat Virginië, toe William Byrd II saam met sy vriende by sy herehuis Westover krieket gespeel het. Teen dié tyd is die eerste krieketklubs gestig. Aanvanklik is krieket veral deur offisiere van die Britse Leër en anglofiele koloniste uitgeoefen, maar ook vir Amerikaanse here het dit ’n gewilde tydverdryf begin geword (van die Verenigde State se stigtingsvaders het krieket gespeel). Die eerste opgetekende wedstryd het in 1751 plaasgevind. Aanvanklik het die klubs teen mekaar gespeel, maar toe ook teen Kanadese spanne. Na wat verneem word was George Washington, later die eerste President van die Verenigde State, ’n groot aanhanger van krieket en hy het tydens die Amerikaanse Rewolusie minstens een keer met sy troepe Wicket, ’n inheemse krieketvariant, gespeel. Bekend is ’n krieketwedstryd met sy troepe by Valley Forge, die winterlaer van sy soldate in 1777/78, waaraan ook Washington deelgeneem het. John Adams het glo in die Amerikaanse Kongres gesê, as leiers van krieketklubs “presidente” genoem kan word, is daar geen rede waarom die leier van die nuwe nasie nie dieselfde genoem kan word nie. In 1833 het studente by die Haverford-kollege ’n krieketspan gestig en die sport in Philadelphia gevestig, wat later in die Verenigde State se krieketvesting ontwikkel het.

Van 24 tot 26 September 1844 het die Verenigde State hul eerste internasionale wedstryd teen Kanada voor ’n gehoor van 20 000 by die St George’s-krieketklub in Bloomingdalepark in New York, die plek van die latere New York-universiteit se latere geneeskundige fakulteit, gespeel. Dit was die eerste internasionale wedstryd nog en word as een van die eerste internasionale sportgebeurtenisse in die moderne geskiedenis beskou. Kanada, wat onder die benaming “Britse Ryk se Kanadese Provinsie” verskyn het, het die wedstryd met 23 lopies gewen. Die wedstryd is tot in die 1910’s jaarliks beslis en het die grondslag vir die oudste sportiewe wedywering geleë, wat self 30 jaar ouer is as die bekendste wedywering in internasionale krieket, Die As tussen Australië en Engeland. In 1845 is die eerste internasionale wedstryd tussen albei spanne in Kanada beslis en deur die gaste met 61 lopies verloor. In 1846 het die Verenigde State die Kanadese span in New York op 28 lopies uitgeboul, die laagste telling vir die nasionale span nog. In 1853 het die Verenigde State in Harlem vir die eerste keer die Kanadese geklop. Die snelbouler Joel Bradbury het in 1854 in Toronto teen die Verenigde State nege paaltjies vir ses lopies geneem, waarna die gaste op net 32 lopies uitgeboul is. Tot op hede is dit die Verenigde State se laagste telling teen Kanada.

Verspreiding in die 19de eeu duimnael|Krieketwedstryd tussen Engeland en die Verenigde State op 3–6 Oktober 1859 in Hoboken, New Jersey duimnael|Fred Lillywhite in sy tent (The English Cricketers’ Trip to Canada and the United States in 1859) George Parr het in 1859 ’n Engelse span op hul toer na die Verenigde State aangevoer, dit was die eerste internasionale kriekettoer nog. Ná dié toer het Fred Lillywhite die boek The English Cricketers’ Trip to Canada and the United States in 1859 geskryf, wat die volgende jaar uitgegee en een van die oudste krieketboeke nog is. Tydens die toer, wat ook Kanada ingesluit het, het die span al sy vyf wedstryde gewen teen spanne wat uit 22 spelers saamgestel is, waaronder wedstryde teen die nasionale spanne van Kanada en die Verenigde State. Tydens die toer is ook uitstallingswedstryde gespeel en twee uitstappies na die Niagara-waterval onderneem. In 1862 het die broers George en Harry Wright vir die Verenigde State verskyn; albei het later invloedryke spelers in die Major League Baseball geword en hulle is in die Bofbalheldesaal ingeskryf. In 1864 het die Haverford-kollege vir die eerste keer teen die Universiteit van Pennsilvanië in die derde oudste interkollegiale wedstryd in die Verenigde State te staan gekom. In 1868 en 1872 het verdere toere deur Engelse spanne na Noord-Amerika gevolg, waartydens die gaste ook teen Kanada en die Verenigde State te staan gekom het. Hierdie toere was suiwer finansiële ondernemings. Die meeste wedstryde is “teen kanse” gespeel om ’n gebalanseerde wedstryd moontlik te maak; die tuisspan is toegelaat om meer as elf spelers in te span (meestal 22).

In 1872 het die bekende krieketspeler W.G. Grace saam met sy Engelse span die Verenigde State ontmoet. In 1874 het Philadelphia se span aan die Halifax Internasionale Kriekettoernooi in Halifax deelgeneem, glo die oudste internasionale kriekettoernooi nog. In dieselfde jaar het ’n bofbalspan Engeland besoek, en beide bofbal en krieket gespeel. In 1878 het ’n Australiese span die Verenigde State besoek en sy wedstryde teen All New York, die Peninsular-krieketklub in St. Louis en Kalifornië in San Francisco gewen, terwyl die wedstryd teen Philadelphia onbeslis geëindig het. Die laasgenoemde wedstryd was die eerste eersterangse wedstryd in die Verenigde State, waarmee hulle nog voor die gevestigde krieketlande in Afrika en Asië eersterangse krieket gespeel het. In 1879 het Ierland die Verenigde Staate besoek en in die reeks van twee wedstryde teen Philadelphia onbeslis gespeel. In 1882 het Australië tydens sy tweede besoek ’n uit 18 spelers bestaande span van Philadelphia met nege paaltjies geklop en een jaar later het George Wright vir die nasionale span in die eersterangse wedstryd teen Philadelphia verskyn, waarmee hy die eerste en tot dusver enigste sportlui geword het wat beide eersterangse krieket en Major League Baseball gespeel het. Wes-Indië het op hul 1886-toer onder andere in New York en Philadelphia gespeel.

Van die 1880’s het hulle ook toere op hul eie onderneem, onder andere na Brits-Guayana, waar hulle in 1888 Wes-Indië geklop het. ’n Vroeë noemenswaardige speler was Bart King, wat vir Philadelphia teen internasionale spanne soos Engeland en Australië as bouler uitstekend presteer het. King het in 1892 vir die Verenigde State in die jaarlikse wedstryd teen Kanada verskyn en hy word as die beste Amerikaanse krieketspeler beskou. Gedurende die 1890’s het die wedersydse wedstryde met Kanada nuwe gewildheid verkry met die twee glo beste veelsydiges in die Noord-Amerikaanse krieketgeskiedenis: Die Amerikaanse Bart King en die Kanadese Jack Laing. Albei spelers het die plaaslike krieket vir amper 20 jaar oorheers en groot gehore het hulle tweestryde dopgehou. Wedstryde teen Kanada het gereeld voortgegaan tot die onderbreking in 1912.

Agteruitgang Ondanks krieket se gewildheid gedurende die 18de en vroeë 19de eeu is dit vanaf die 1850’s en 1860’s deur bofbal verdring. Toe die belangstelling in bofbal toegeneem het, is die reëls van dié sport effens aangepas om sy gewildheid verder te verhoog. Byvoorbeeld is maklik vervardigbare ronde bofbalkolwe ingevoer om ’n verskil te maak met die plat krieketkolwe. ’n Ander rede vir die afname van krieket se gewildheid mag dalk wees dat in die laat 19de eeu Amerikaanse krieket ’n amateursport vir ryk mense was, terwyl in beide Engeland en Australië ’n professionele weergawe van dié sport ontwikkel het. Nadat die krieketvlak met professionaliteit elders in die wêreld verbeter het, het baie Noord-Amerikaanse krieketklubs hardnekkig elitisties gebly. Klubs soos Philadelphia en Merion het met krieket weggedoen en hul fasiliteite na ander sportsoorte soos gholf en tennis omgeskakel. Sommige stadkrieketklubs het onwetend bygedra tot hul eie afsterwe deur bofbalspanne te borg. Teen 1900 was bofbal in die Verenigde State numeries en kultureel oorheersend.