Die Papoea-Nieu-Guinese nasionale krieketspan (Engels: Papua New Guinea national cricket team), met die bynaam Barramundis, is die nasionale krieketspan wat Papoea-Nieu-Guinee in internasionale krieket verteenwoordig. Hulle word bestuur deur Krieket PNG (CPNG, van Engels: Cricket PNG) en het in 1973 ’n assosiaatlid van die Internasionale Krieketraad (IKR) geword. Ná hul vierde plek tydens die Krieketwêreldbekerkwalifisering 2014 is aan Papoea-Nieu-Guinee EDI-status toegeken. In Maart 2018 was Papoea-Nieu-Guinee beide sy EDI- en T20I-status kwyt, nadat hulle in die uitspeelwedstryd van die Krieketwêreldbekerkwalifisering 2018 deur Nepal verslaan is, waardeur hul opponent op sy beurt EDI- en T20I-status ontvang het. Op 26 April 2019 het Papoea-Nieu-Guinee in die eindstryd van die Wêreldkrieketliga se afdeling twee Oman verslaan en sodoende in die vierde plek geëindig en hul EDI-status herwin.
Papoea-Nieu-Guinee is tradisioneel die sterkste span sonder toetsstatus in die IKR Oos-Asië-Oseanië-streek en hulle het die meeste plaaslike IKR-toernooie gewen en beskik oor ’n soortgelyke rekord in die Stille Oseaan-spele se kriekettoernooi. Die span het ook aan elke Krieketwêreldbekerkwalifisering (voorheen die IKR-trofee genoem) deelgeneem, maar kon nie vir ’n krieketwêreldbekertoernooi kwalifiseer nie. Papoea-Nieu-Guinee hou die wêreldrekord vir die hoogste telling in ’n EDI-wedstryd, nadat hulle in 2007 572/7 teen Nieu-Kaledonië aangeteken het.
In April 2018 het die IKR besluit om aan al sy lede volle T20I-status toe te ken. Vervolgens word al die T20I-wedstryde wat Papoea-Nieu-Guinee ná 1 Januarie 2019 teen ander IKR-lede speel as ’n volle T20I erken. Papoea-Nieu-Guinee is tans (Oktober 2025) 22ste op die Twintig20-wêreldranglys.
Beheerliggaam
Krieket PNG (Engels: Cricket PNG, CPNG) is in 1972 gestig en verantwoordelik vir die reëling van krieket in Papoea-Nieu-Guinee. In 1973 het hulle as ’n assosiaatlid by die Internasionale Krieketraad (IKR) aangesluit. Talle nasionale spelers vervul verskeie rolle by die beheerliggaam.
Krieket PNG bestuur al die Papoea-Nieu-Guinee-verteenwoordigende nasionale spanne, insluitende die mans, vroue en jeug. Hulle is ook verantwoordelik vir die bestuur en organisasie van EDI- en T20I-reekse teen ander spanne, en die reëling van internasionale wedstryde tuis. Daarbenewens is CPNG verantwoordelik vir inkomsteverkryging deur die verkoop van kaartjies, borgskappe en uitsaairegte, veral in verband met die Papoea-Nieu-Guinese span.
Kinders en jongmense word reeds op skool aan krieket bekend gestel en na gelang van hul belangstelling en talent begin hulle met hul afrigting. Net soos ander krieketlande beskik Papoea-Nieu-Guinee oor ’n o/19-nasionale span wat aan die o/19-krieketwêreldbeker deelneem.
Geskiedenis Voor hul IKR-toetrede duimnael|links|’n Krieketwedstryd op Kwato-eiland, Papoea-Nieu-Guinee, ca. 1905 Krieket is in die 1890’s deur Christelike predikante uit Engeland na die Territorium Papoea saamgebring. Dit is opgeneem deur verskeie inheemse stamme wat dit in hul eie variante beoefen het, waarby spanne met meer as vyftig spelers algemeen was. In die kolonie Duits-Nieu-Guinee was krieket egter heeltemal onbekend. Daar het die sport eers ’n verskyning begin maak, toe Australië in 1920 die Territorium Nieu-Guinee as ’n Volkebondmandaat begin administreer het.
Sedertdien word krieket in landelike gebiede veral deur die inheemse bevolking uitgeoefen, terwyl dit in stedelike gebiede soos Port Moresby veral deur Britse en Australiese emigrante gespeel word. In 1937 is ’n toernooi vir klubs in dié stad van stapel gestuur. In 1972 is die eerste amptelike wedstryd op internasionale vlak teen ’n Australiese keurspan op Aminipark in Port Moresby gespeel. Vir Papoea-Nieu-Guinee het nege emigrante uit Australië en die Verenigde Koninkryk en twee inheemse spelers verskyn. Die dorp Hanuabada naby Port Moresby het in die sentrum van Papoea-Nieu-Guinese krieket ontwikkel, wat sedertdien baie spelers vir die nasionale span oplewer.
IKR-lidmaatskap en eerste wêreldbekerkwalifiseringstoernooie In 1972 is die beheerliggaam Krieket PNG as Papoea-Nieu-Guinese Krieketbeheerraad (Engels: Papua New Guinea Cricket Board of Control, PNGCBC) gestig en dit het een jaar later ’n assosiaatlid van die Internasionale Krieketraad (IKR) geword. Ná die land se onafhanklikheidswording in 1975 het die wêreldkampioen Wes-Indië op pad na Australië Papoea-Nieu-Guinee vir twee wedstryde besoek. Vir die gasheer het ses inheemse spelers verskyn en sedertdien word die span, wat die bynaam Barramundis dra, deur hulle oorheers.
Vir die eerste Krieketwêreldbeker 1975 is Papoea-Nieu-Guinee nie genooi nie. Die Papoeane het hul eerste internasionale verskyning gemaak tydens die IKR-trofee 1979 wat as kwalifisering vir die Krieketwêreldbeker 1979 gedien het. Hulle is egter in die eerste rondte uitgeskakel en het die hooftoernooi misgeloop. In dieselfde jaar het hulle tydens die eerste Suid-Stille Oseaan-spele se kriekettoernooi die goue medalje gewen en sedertdien elke keer met dié medalje weggestap. Ná ’n toer na Australië in 1981 het Papoea-Nieu-Guinee tydens die IKR-trofee 1982 derde geëindig, nadat hulle in die halfeindstryd teen Bermuda verloor het, maar in die uitspeelwedstryd Bangladesj verslaan het. Nogtans het hulle die Krieketwêreldbeker 1983 misgeloop.
Tydens die IKR-trofee 1986 het Papoea-Nieu-Guinee weer versuim om vanaf die eerste rondte te vorder en sodoende die Krieketwêreldbeker 1987 misgeloop, hoewel die span teen Gibraltar die rekord vir die hoogste telling in die toernooigeskiedenis aangeteken het, toe hulle in hul eie beurt 455/9 opgestel en die wedstryd met 369 lopies gewen het. Hulle het daarvan herstel en die Suid-Stille-Oseaan-spele se kriekettoernooi die volgende jaar in Nieu-Kaledonië gewen. Tydens die IKR-trofee 1990 in Nederland het hulle die tweede rondte gehaal, maar nogtans die Krieketwêreldbeker 1992 misgeloop. Tydens die Suid-Stille Oseaan-spele se kriekettoernooi op eie bodem het hulle die goue medalje ingepalm.
Tydens die IKR-trofee 1994 in Nairobi het Papoea-Nieu-Guinee die “plate-eindstryd” (uitspeelwedstryd tussen die eerste rondte se derde en vierde spanne) gehaal, maar nie in dié wedstryd verskyn nie, nadat hul beheerliggaam reeds die vlug huis toe bespreek het, omdat hulle nie ’n kwalifisering verwag het nie. Om dié rede is die nasionale span uit die kwalifisering vir die Krieketwêreldbeker 1996 geskakel. Dit is ’n algemene probleem vir Papoea-Nieu-Guinee, aangesien vlugte van en na die land slegs ongereeld aangebied word. Die Papoeane het ook die AKR-trofee 1998 in Nepal vroeg verlaat, nadat hulle hul eerste twee wedstryde verloor en sodoende hul wedstryd teen die Maledive misgeloop het, omdat hulle andersins meer as ’n week vir die volgende vlug sou moes gewaag het. As gevolg daarvan het hulle selde oorsese toere buite amptelike internasionale toernooie onderneem, noemenswaardige uitsonderinge is ’n besoek aan Fidji in 1977, ’n toer na Hongkong in die vroeë 1980’s en die 1981-toer na Australië.
Moderne tydperk Die AKR-trofee 1996 in Kuala Lumpur het vir Papoea-Nieu-Guinee ’n nuwe kans van internasionale deelname meegebring. Hulle het tot die halfeindstryd gevorder, maar hulle is deur Bangladesj verslaan. In 1998 het hulle weer aan dié toernooi deelgeneem, maar dit vroeg verlaat. Sedert die stigting van die IKR Oos-Asië-Oseanië-ontwikkelingsstreek in 1996 het hulle nie meer aan die toernooi deelgeneem nie, aangesien hulle dienooreenkomstig die Asiatiese Krieketraad verlaat het. Sedert hul oorskakeling word die span as die sterkste in Oos-Asië-Oseanië na die twee toetslande Australië en Nieu-Seeland beskou. Tussen die twee AKR-trofeë het Papoea-Nieu-Guinee tydens die IKR-trofee 1997 in die 13de plek geëindig, wat nie genoeg was om vir die Krieketwêreldbeker 1999 te kwalifiseer nie. Tydens die IKR-trofee 2001 in Ontario het die Papoeane versuim om vanaf die eerste rondte te vorder en sodoende die Krieketwêreldbeker 2003 misgeloop. Tydens die Pacifica-beker 2001 het hulle in die derde plek geëindig, en die Pacifica-beker 2002 het hulle met ’n oorwinning oor Tonga in die eindstryd beklink.
Tydens die Suid-Stille Oseaan-spele 2003 se kriekettoernooi het Papoea-Nieu-Guinee weer die goue medalje ingepalm en in die uitspeelwedstryde vir die IKR-trofee 2005 het hulle in die eindstryd Fidji verslaan. Daarmee het die Papoeane vir die IKR-trofee 2005 gekwalifiseer, waar hulle slegs in die elfde plek geëindig en sodoende die Krieketwêreldbeker 2007 misgeloop het. Tydens die Wêreldkrieketliga se afdeling drie in Darwin het die Papoeane in die derde plek geëindig. Tydens die Suid-Stille Oseaan-spele 2007 se kriekettoernooi het hulle weer goud gewen. Tydens dié toernooi het hulle in die eendaagse wedstryd teen Nieu-Kaledonië ’n rekordtelling van 572/7 aangeteken.
In laat Januarie 2009 het Papoea-Nieu-Guinee vir die Wêreldkrieketliga se afdeling drie die Argentynse hoofstad Buenos Aires besoek, waar hulle die gasheer, die Kaaimanseilande, Uganda en die beste twee spanne van die Wêreldkrieketliga 2008 se afdeling vier – Afghanistan en Hongkong – ontmoet het. Dié toernooi se beste twee spanne kon vir die Krieketwêreldbekerkwalifisering later die jaar in Suid-Afrika kwalifiseer, waarvandan hulle vir die Krieketwêreldbeker 2011 kon kwalifiseer. Die Papoeane het die kwalifisering net naelskraap misgeloop en weens hul swakker lopietempo in die derde plek na Afghanistan en Uganda geëindig (Afghanistan met +0.971, Uganda met +0.768 en Papoea-Nieu-Guinee met +0.665).
In April 2011 het die Papoeane aan die Wêreldkrieketliga se afdeling drie in die Verenigde Arabiese Emirate deelgeneem en in die derde plek geëindig, waarmee hulle vir die Krieketwêreldbekerkwalifisering 2014 in Nieu-Seeland gekwalifiseer het. In Februarie 2013 het Papoea-Nieu-Guinee aan die IKR Oos-Asië-Oseanië in Auckland deelgeneem, waar hulle gedurende die groepfase onoorwonne gebly en in die eindstryd Vanuatu verslaan het. Daarmee het hulle vir die T20I-wêreldbekerkwalifisering in die Verenigde Arabiese Emirate in Oktober gekwalifiseer.
EDI- en T20I-status duimnael|upright|Die paaltjiewagter Geraint Jones het van 2004 tot 2006 vir Engeland en van 2012 tot 2014 vir Papoea-Nieu-Guinee gespeel In die daaropvolgende Wêreldkrieketliga het hulle daarin geslaag om in afdeling drie vanaf die eerste rondte te vorder en hulle is ondanks die nederlaag in die eindstryd teen Hongkong gepromoveer. Tydens die afdeling twee het die Papoeane die derde plek behaal en sodoende vir die Krieketwêreldbekerkwalifisering 2014 gekwalifiseer. Hulle het vanaf die eerste rondte gevorder en die Super Ses in die vierde plek afgesluit. Daarmee het hulle die Krieketwêreldbeker 2015 misgeloop, maar vir hul vertoning EDI-status ontvang. In November dieselfde jaar het hulle tydens ’n reeks van twee wedstryde teen Hongkong in Australië in hul eerste EDI gespeel en hulle kon dié reeks beklink. Nadat die Papoeane die eerste EDI met vier paaltjies en die tweede met drie paaltjies gewen het, het hulle die eerste span geword, wat sy eerste twee EDIs kon wen.
Saam met EDI-status het die IKR aan Papoea-Nieu-Guinee ook T20I-status toegeken. In T20I het die Papoeane aan die kwalifiseringstoernooie vir die drie eerste T20I-wêreldbekertoernooie (in 2007, 2009 en 2010) nie deelgeneem nie. Tydens die T20I-wêreldbekerkwalifisering 2012 het hulle die agtste plek behaal, só ook in 2013 en in 2015. Daarmee het hulle die T20I-wêreldbekertoernooie in 2012, 2014 en 2016 misgeloop. Tydens laasgenoemde kwalifiseringstoernooi sou Papoea-Nieu-Guinee op 13 Julie 2015 sy eerste T20I teen Hongkong speel. Dié wedstryd moes egter weens reën afgelas word. Twee dae later het hulle eindelik hul T20I-debuut teen Ierland gemaak en met twee paaltjies gewen. Met die oorwinning oor Nepal op 17 Julie het hulle as eerste span in die toernooi die uitspeelwedstryde gehaal.