Nieu-Seeland Krieket (Engels: New Zealand Cricket, afgekort “NZC”), voorheen bekend as die Nieu-Seelandse Krieketraad (New Zealand Cricket Council, “NZCC”), is die bestuursliggaam wat krieket in Nieu-Seeland beheer. Die beheerliggaam is in 1894 gestig en in Christchurch gesetel. Sedert 1926 verteenwoordig dit Nieu-Seeland by die Internasionale Krieketraad (IKR) as ’n volle lid en ook by IKR Oos-Asië-Oseanië (ICC East Asia-Pacific).
Geskiedenis Die Nieu-Seelandse Krieketraad is op 27 Desember 1894 gestig. Op 31 Mei 1926 het die Nieu-Seelandse beheerliggaam saam met sy Indiese en Wes-Indiese eweknieë volle lede geword van die Imperiale Krieketkonferensie (IKK; nou Internasionale Krieketraad, IKR) wat voorheen slegs uit die Marylebone-krieketklub (MKK) en verteenwoordigers uit Australië en Suid-Afrika bestaan het. Hulle mag dus toetskrieket speel, wat na die belangrikste en vernaamste internasionale krieketwedstryde verwys.
Taak Nieu-Seeland Krieket organiseer verskeie nasionale spanne, insluitend Nieu-Seeland se nasionale seniorkrieketspan vir mans (die Black Caps), vroue (die White Ferns) en jeug. Hulle is ook verantwoordelik vir die bestuur en organisasie van toets-, EDI- en T20I-reekse teen ander spanne, en vir die reëling van internasionale wedstryde tuis. Daarbenewens is Nieu-Seeland Krieket verantwoordelik vir inkomsteverkryging deur die verkoop van kaartjies, borgskappe en uitsaairegte, veral in verband met die Nieu-Seelandse spanne.
Daarbenewens bestuur die beheerliggaam kinder- en jeugkrieket in Nieu-Seeland. Net soos ander krieketlande beskik Nieu-Seeland oor ’n o/19-nasionale span wat aan die o/19-krieketwêreldbeker deelneem. Nieu-Seeland A is die tweede nasionale span van Nieu-Seeland en van hul wedstryde geniet eersterangse of A-lys-status.
Die beheerliggaam reël ook die plaaslike kompetisies. Die belangrikste krieketligas in Nieu-Seeland is die Plunket Shield in eersterangse krieket (ses spanne), die Ford-trofee in A-lys-krieket (ses spanne) en die Super Smash in T20-krieket (ses spanne).
Nieu-Seeland Krieket organiseer ook gereeld internasionale toernooie. Hulle het reeds opgetree as gasheer van die krieketwêreldbekertoernooie in 1992 en 2015 (albei saam met Australië). Saam met Australië sal Nieu-Seeland ook die T20I-wêreldbeker 2028 aanbied. In vrouekrieket was Nieu-Seeland Krieket reeds gasheer van vername toernooie soos die Vrouekrieketwêreldbeker 2022.
Sien ook
Nieu-Seeland Rugby
Verwysings
Eksterne skakels Amptelike webwerf van Nieu-Seeland Krieket
Kategorie:Krieket in Nieu-Seeland Kategorie:Krieketbeheerliggaam Kategorie:Internasionale Krieketraad