Die Russiese Rewolusie van 1917 het die Russiese keiserryk tot 'n val gebring. 'n Voorlopige regering wat gevorm is ná die abdikasie van tsaar Nikolaas II was ondoeltreffend en ongewild en hul mag is uiteindelik deur die Bolsjewiste oorgeneem. Die rewolusie is gevolg deur die Russiese Burgeroorlog (1917 tot 1922) tussen die Rooi Leër van die Bolsjewiste en rewolusionêre en die Wit Leër van die monargiste, konserwatiewe en gematigde sosialiste wat teen die drastiese hervormings van die Bolsjewiste was. Ná die burgeroorlog het die Sowjetunie in 1922 tot stand gekom.

Hooftrekke Die Russiese Rewolusie kan in drie hooftrekke verdeel word: Die Februarie-rewolusie (Maart volgens die Gregoriaanse kalender), wat spontaan begin het weens groot ontevredenheid oor voedseltekorte en die outokrasie van Nikolaas II, die laaste tsaar van Rusland. Dit het gelei tot die val van die 300-jaar oue Romanof-dinastie en die stigting van 'n voorlopige regering, eers onder voorsitterskap van prins Georgi Lwof en later Aleksander Kerenski van die Sosiaal-Rewolusionêre Party. 'n Periode van dubbele mag, waartydens die staatsmag in die hande van die voorlopige regering was terwyl politieke linkses en die laer klasse die nasionale netwerk van sowjets (rade) onder die sosialiste gesteun het. Die Oktober-rewolusie (November volgens die Gregoriaanse kalender), waarin die Bolsjewiste-party onder Wladimir Lenin en die sowjets die voorlopige regering omvergewerp het en 'n drastiese verandering gebring het aan die sosiale struktuur van Rusland.

Agtergrond Aan die begin van 1917 was Rusland gereed vir 'n rewolusie – en in dié jaar was daar dan ook twee: die eerste, die Februarie-rewolusie, het vinnig versprei en beter sosiale geleenthede geskep, maar ook groot onsekerheid.

Die vinnige industrialisasie van Rusland het gelei tot 'n oorbevolking en swak lewensomstandighede in die stede. Landelike dorpenaars het dikwels tussen landbou- en nywerheidswerkomgewings gewissel en baie het permanent na die stede getrek. Tussen 1890 en 1910 het die bevolking van die hoofstad, Sint Petersburg (vanaf 1914 Petrograd genoem), gegroei van 1 033 600 tot 1 905 600.

'n Middelklas van witboordjie-werknemers, sakelui en professionele mense (dokters, prokureurs, onderwysers, joernaliste, ingenieurs, ens.) was aan die ontstaan. Selfs die adellikes moes nuwe maniere vind om in hierdie veranderende ekonomie te bestaan, en nuwe klasse het gevorm (bv. proletariate en kapitaliste), alhoewel hierdie klasse weer verdeel was in groepe volgens status, geslag, ouderdom, etnisiteit en geloof.

duimnael|240px|links|Tsaristiese troepe skiet op betogers op Bloedige Sondag (1905). Beeld uit 'n Sowjet-propagandafilm van 1925. Dit het al hoe moeiliker geword om te onderskei tussen sosiale groepe. Nie net was die groepe in baie opsigte verdeel nie, maar hul grense het ook al hoe meer vervaag vanweë die ontstaan van verstedelikte boere, werker-intellektuele, middelklas-professionele, ens.

Teen 1917 moes Nikolaas II oortuig gewees het dat hervormings onvermydelik was vanweë die groeiende politieke bewuswording, die impak van rewolusionêre idees en die ondoeltreffende regeringstelsel (wat verder verswak is deur deelname aan die Eerste Wêreldoorlog).

Die mense van Rusland was gekant teen die outokrasie van Nikolaas II en die korrupte en anachronistiese elemente in sy regering. Hy was uit voeling met die behoeftes en aspirasies van die Russiese volk, van wie die meerderheid slagoffers was van die haglike sosiaal-ekonomiese toestande wat geheers het. Op sosiale vlak was die land agter die res van Europa wat betref nywerheid en landbou, en daar was dus min geleenthede vir boere en nywerheidswerkers. Baie werkers het in die stede te doen gekry met materiële dinge wat hulle nooit in die klein dorpies gesien het nie. En die belangrikste van alles: In die stede is hulle blootgestel aan nuwe idees oor die sosiale en politieke orde.Reginald Zelnik, Labor and Society in Tsarist Russia: The Factory Workers of Saint Petersburg, 1855–1870. Stanford, 1971Victoria Bonnell, Roots of Rebellion: Workers’ Politics and Organizations in Saint Petersburg and Moscow, 1900–1914. Berkeley, 1983

Op ekonomiese vlak het wydverspreide inflasie en voedseltekorte bygedra tot die toestande vir 'n rewolusie. Op militêre vlak het onvoldoende voorrade, logistiek en wapens gelei tot groot verliese tydens die Eerste Wêreldoorlog. Uiteindelik het hierdie faktore, saam met die ontwikkeling van rewolusionêre idees en bewegings (veral in die jare ná 1905 se Bloedige Sondag-tragedie), tot uitbarsting gekom.

Die sosiale oorsaak van die rewolusie spruit hoofsaaklik uit eeue van onderdrukking van die laer klasse deur die tsaars, asook Nikolaas II se neerlae in die Eerste Wêreldoorlog. Hoewel lyfeienes in 1861 bevry is, moes hulle nog teen hul sin vrykoopgeld aan die staat betaal en hul omstandighede het nie veel verbeter nie. Die probleem is vererger deur die mislukking van Sergei Witte se landhervormings van die vroeë 1900's. Onrus en opstande het toenemend onder die boere voorgekom met die doel om eienaarskap te kry van die grond wat hulle bewerk het.

Die Eerste Wêreldoorlog Hoofartikel: Eerste Wêreldoorlog. Die Eerste Wêreldoorlog het tot die chaos bygedra. Een van die redes dat Nikolaas in 1914 tot die oorlog toegetree het, was om die aansien van die land te herstel ná sy neerlaag in die Russies-Japannese Oorlog. Hy wou ook die talle verskillende etniese groepe verenig deur hulle te laat veg teen 'n gesamentlike vyand, naamlik Duitsland. Baie van sy kritici glo hy wou boonop die volk se aandag aflei van die armoede, ongelykheid en swak werksomstandighede wat soveel ontevredenheid veroorsaak het. Plaas daarvan om Rusland se politieke en militêre aansien te herstel, het Rusland geweldige verliese gely en dit het die toestande in die land vererger.

Talle onwilliges is deur diensplig geraak. Die groot vraag na die vervaardiging van oorlogsvoorrade en werkers het meer werkersopstande en stakings veroorsaak. Diensplig het bekwame werkers opgeslurp en hulle is vervang deur onervare boere.

Teen einde 1915 was daar talle tekens dat die ekonomie besig is om ineen te stort onder die eise van die oorlog. Die hoofoorsake was voedseltekorte en stygende pryse. Inflasie het mense se salarisse feitlik nutteloos gemaak en weens die tekorte kon hulle nie eens die goed koop wat hulle kon bekostig nie.

Toe hongersnood ontstaan weens die swak spoorwegstelsel, het werkers die stede in hordes verlaat op soek na kos. Uiteindelik het selfs die soldate, wat 'n gebrek aan toerusting en blootstelling aan die elemente moes trotseer, teen die tsaar gedraai. Dit was veral omdat baie offisiere wat getrou was aan die tsaar, met die verloop van die oorlog gesneuwel het – teen einde 1914, ná net vyf maande van oorlogvoering, het byna 400 000 Russiese soldate al gesneuwel en byna 'n miljoen was beseer. Gouer as wat verwag is, moes beswaarlik opgeleide rekrute aktiewe diens doen. Baie van hulle was van die groot stede en het geen lojaliteit teenoor die tsaar gevoel nie.

Aleksandra en Raspoetin duimnael|150px|Grigori Raspoetin In die herfs van 1915 het Nikolaas II self die aanvoering van die weermag oorgeneem en na die hoofkwartier aan die grens vertrek. Hy het die regering gelaat in die hande van sy ambisieuse maar onbekwame vrou, Aleksandra. Gerugte oor korrupsie en onbevoegdheid in die regering het begin ontstaan en talle mense was gekant teen die toenemende invloed van die lekeprediker Grigori Raspoetin op die keiserlike familie.

Aleksandra het geglo hy kan haar seun, die tsarewitsj Aleksei wat aan hemofilie (bloeiersiekte) gely het, gesond maak. Daar was al talle gissings oor hoe Raspoetin 'n helende uitwerking op die tsarewitsj kon gehad het aangesien die siekte destyds nie behandelbaar was nie. Dit lyk egter of hy wel direk of indirek die seun se gesondheid beïnvloed het.

Tydens die oorlog is hy beskuldig van onpatriotiese beïnvloeding aan die Russiese hof. Die ongewilde tsaritsa was boonop Duits-gebore en sy is daarvan verdink dat sy 'n spioen vir die Duitsers is. In die tsaar se afwesigheid het Raspoetin se invloed op die tsaritsa verder toegeneem. Hy het gou haar vertroueling en persoonlike raadgewer geword en haar ook oorreed om sekere regeringsampte te vul met kandidate wat hy self uitgesoek het. Om nog meer mag te kry, het Raspoetin met hoëklas-vroue geslaap en ruil vir politieke gunsies, soos die bevordering van hul mans.

Politieke kwessies Baie Russe, asook nie-Russiese onderdane van die kroon, het talle redes gehad om ontevrede te wees oor die bestaande outokratiese stelsel. Nikolaas II was 'n baie konserwatiewe heerser. Hy het sy kriteria van eerbaarheid, ordelikheid, familie en plig beskou as persoonlike ideale vir elke standvastige individu asook as reëls vir die gemeenskap en politiek. Van individue sowel as die gemeenskap is verwag om selfbeheersing, toewyding aan die gemeenskap en hiërargie asook 'n gees van plig teenoor die land en tradisie te openbaar.

Godsdiens het dit alles help saambind: as 'n bron van troos in moeilike tye, as 'n bron van insig in die Goddelike beskikking, as 'n bron van staatsmag en outoriteit. Nikolaas II het meer as enige vorige tsaar geglo aan die mite dat die leier 'n heilige en geseënde vader vir sy volk is. Dit het hom blind gemaak vir die werklike toestande in die land: Dit was vir hom onmoontlik om te glo dat sy mag nie van God af kom nie en dat die Russiese volk nie so toegewyd aan hom was as wat hy aan hulle was nie. Hy het geweier om die demokratiese hervormings in te stel wat dalk die rewolusie kon verhoed het.

Selfs nadat hy ná die 1905-rewolusie beperkte burgerregte en demokratiese verteenwoordiging toegelaat het, het hy probeer om dit in elke moontlike opsig te kniehalter om sy outokratiese outoriteit te beskerm.Dominic Lieven, Nicholas II: Emperor of all the Russias. Londen, 1993Andrew Verner, The Crisis of the Russian Autocracy: Nicholas II and the 1905 Revolution. Princeton, 1990Mark Steinberg en Vladimir Khrustalev, The Fall of the Romanovs: Political Dreams and Personal Struggles in a Time of Revolution. New Haven, 1995Richard Wortman, Scenarios of Power, vol. 2. Princeton, 2000.

Daar was 'n algemene behoefte aan 'n demokratiese stelsel en verset teen die tsaar se gesag, selfs vóór die krisis wat die Eerste Wêreldoorlog meegebring het. Ontevredenheid oor die Russiese outokrasie het 'n toppunt bereik in die groot nasionale opstand wat gevolg het op die Bloedige Sondag-slagting van Januarie 1905, toe Russiese werkers moes toesien hoe hulle oproepe vir geregtigheid verwerp word toe die tsaar se troepe honderde vreedsame deelnemers aan 'n optog doodskiet. Werkers het daarop gereageer met verlammende stakings regoor die land en Nikolaas II so gedwing om sy Oktober-manifes te onderteken. Daarin is voorsiening gemaak vir 'n demokratiese parlement of staatsdoema. Hy het egter min samewerking gegee om die regering te laat werk en drome van 'n demokratiese Rusland het verydel.

Regeringsamptenare was bekommerd oor hoe lank die mense se geduld sou duur. 'n Verslag deur die Petrograd-tak van die veiligheidspolisie, die Ochrana, in Oktober 1916 bevat 'n waarskuwing oor "die moontlikheid in die nabye toekoms van opstande deur die laer klasse van die land wat woedend is oor die las van hul daaglikse bestaan.""Doklad petrogradskogo ochrannogo otdelenia osobomoe otdeloe departamenta politsii" ["Verslag van die Petrogradse Ochrana aan die spesiale afdeling van die departement van polisie"], Oktober 1916, Krasni archif 17 (1926), 4–35 (quotation 4).