duimnael|250px|Die Krugerstandbeeld op Kerkplein in Pretoria.

Die Krugerstandbeeld is 'n standbeeld op die middelpunt van Kerkplein, Pretoria, ter ere van die oud-president Paul Kruger. Die standbeeld is deur Anton van Wouw ontwerp en die projek is oorspronklik deur Sammy Marks gefinansier. Alhoewel die beplanning vir die standbeeld reeds in 1895 begin is, is die beeld as gevolg van die Tweede Vryheidsoorlog en ander ontwikkelinge eers in 1913 opgerig, in Prinsepark in Pretoria. Dit is in 1925 na die plein voor Pretoria se hoofstasie verskuif en in 1954 na sy huidige staanplek op Kerkplein. Die fonteine wat voorheen in die posisie gestaan het is na die Pretoria Dieretuin verskuif.

In 2025 is 'n replika van die Krugerstandbeeld in Orania onthul.

Voorgeskiedenis In Augustus 1895 was die Krugerregering nie baie gewild onder die buitelandse mynbestuurders en grootkapitaliste in Johannesburg nie. Paul Kruger is deur sommige as outokraties, bekromp en haas onbeskaaf beskryf; gerugte het die rondte gedoen dat die "oligargie" (soos die regering bekendgestaan het) in Pretoria omvergewerp sou word.

duimnael|250px|Sammy Marks links|duimnael|220px|Die brief waarin Sammy Marks aanbied om £10 000 aan die stad Pretoria te skenk vir die oprigting van 'n standbeeld van pres. Kruger. Die president het hierop besluit dat die standbeeld in Burgerspark opgerig sou word en dat die balans vir 'n dieretuin gebruik moes word. Marks het toe aan die hand gedoen dat die beeld ten weste van die destydse kerk op Kerkplein opgerig word en in Junie 1899 het die uitvoerende raad van die ZAR hierdie voorstel aanvaar.

Sammy Marks was 'n nyweraar wat sy fortuin uit die Suid-Afrikaanse, en in die eerste plek die Transvaalse, bodem gehaal het. Anders as baie ander kapitaliste was hy 'n groot aanhanger van Paul Kruger: hy het die President gesien as die verpersoonliking van die Afrikanervolk, die man wat, vir alle geslagte in Afrika, sou bly wat George Washington vir die Verenigde State was. Sy bewondering vir Kruger en dankbaarheid vir 'n land wat hom weelde besorg het, het hom aangespoor om 'n standbeeld van Kruger te laat oprig.

Marks het op 20 Augustus 1895 sy hoofboekhouer geraadpleeg en 'n brief aan die President en Uitvoerende Raad gerig waarin hy berig dat hy besluit het om die stad Pretoria met £10 000 te begiftig, op voorwaarde dat daar uit dié fonds 'n marmerstandbeeld van president Kurger opgerig moet word, op 'n plek wat Kruger self sou aanwys. Marks het egter versoek dat "indien mogelyk", die bestelling van die standbeeld aan hom opgedra moet word en het geskryf dat hy bly sou wees om so spoedig moontlik te verneem op wie se naam en in watter bank hy die geld moes deponeer.

Op 5 September het hy 'n antwoord ontvang: die Regering het hom "voor deze rijke gift" bedank en hom meegedeel dat Kruger Burgerspark as 'n geskikte plek vir die standbeeld beskou en dat hy verkies dat die balans van die geldsom bestee sou word aan die op te rigte dieretuin in Pretoria. Die geld kon in die Nasionale Bank van die Republiek op die naam van die Tesourier-generaal gedeponeer word, wat 'n afsonderlike rekening daarvan sou hou.

Die hoofde van die onderskeie staatsdepartemente en ander hoofamptenare van die Republiek het die voorgenome standbeeld bespreek en dr. Nico Mansvelt, die Superintendent van Onderwys en 'n kunskenner, het genoem dat brons miskien verkiesliker as marmer is, aangesien marmer moontlik nie teen die sterk temperatuursveranderings van die Transvaalse klimaat bestand sou blyk te wees nie. Hy het ook voorgestel dat, ten spyte van Marks se versoek om self die standbeeld te bestel, dié stap tog in oorleg met die Regering moet gebeur. Marks was dit met Mansvelt eens en het na 'n kort periode, met die Regering se goedkeuring, op 'n kunstenaar besluit: Anton van Wouw, 'n totaal onbekende figuur in die kunstenaarswêreld.

Van Wouw en sy ontwerp duimnael|250px|Anton van Wouw. Die Hollandse Anton van Wouw het as 'n jong man in 1889 na die Suid-Afrikaanse Republiek gekom en hom in Pretoria gevestig, waar hy, na 'n tydperk as winkelklerk, aangestel is om tekenklasse in die staatsgimnasium en die bestaande skool vir meisies te gee. Hy het, nes Marks, 'n groot bewondering vir president Kruger gehad. Die president se manel en keil was vir hom 'n onafskeidbare deel van die President – hy sou later deur kritici geroskam word omdat hy Kruger nie sonder keil of hoed uitgebeeld het nie. Daarop het hy geantwoord: "So" - sonder sy gebruiklike hoofbedekking - "het ek hom nie geken nie! Maar met die manel en die keil, ja, "so het ek hom geken!"

Van Wouw was besonders onder die indruk van wat hy as Kruger se "alledaagsheid" beskou het: Kruger op sy stoep, waar mense van sesuur die oggend hom kom besoek het en nie noodwendig oor staatsake gepraat het nie, maar om raat vir 'n siek bees te kry of troos te soek vir 'n verlies wat hulle gely het. Vir Van Wouw was Kruger die hoeksteen van die onafhanklikheid en hy wou hierdie "alledaagse" eienskappe van die president ook aan die lig stel in sy monument.

Sy sketsmodel het Kruger in sy gebruiklike formele drag as staatshoof uitgebeeld, rustig staande op 'n hoë voetstuk, in wat Van Wouw beskou het as 'n vaderlike houding. Kruger se beeld was omring deur vier gewapende burgers, twee uit die Voortrekkertyd en twee uit Van Wouw se tyd, wat in die vier windrigtings rondom die sentrale Krugerfiguur brandwag staan. Die was vir Van Wouw belangrik dat die burgers nie in die stereotipiese houding van afgerigte soldate op aandag staan nie, maar soos tipiese burgerkrygers: sittende, maar waaksaam. Vir Van Wouw sou Kruger, as die sentrale figuur, die simbool wees van die sentrale posisie wat hy as vader in die hart van sy volk inneem en ook van die Republikeinse vryheidsgedagte.

Marks het die sketsmodel besigtig en ook lede van die Volksraad en Uitvoerende Raad van die Republiek uitgenooi om dit te aanskou. Die model is goedgekeur en op 7 Oktober 1896, meer as dertien maande na die skenking, het Marks, na oorleg met onder andere Kruger en Van Wouw, vir Van Wouw skriftelike opdrag gegee om na Europa te vertrek om die werk in Frankryk of Italië onder sy toesig te laat uitvoer. Hy is tot 1 April 1898 gegun, waarna hy na Pretoria moes terugkeer om toesig oor die oprigting van die monument te hou. Van Wouw sou 'n salaris van £40 per maand vir 'n tydperk van nie langer nie as twee jaar ontvang, asook vergoeding van alle koste wat hy in verband met die maak en giet van die beelde mog hê. Verder sou hy, sy vrou en kind, ook vrye reispasse na en van Europa bekom, asook na plekke in Europa wat hy met die oog op die uitvoering van sy werk moes besoek.

duimnael|250px|Van Wouw se oorspronklike sketsmodel van die Krugerstandbeeld. Teen Desember 1896 was Van Wouw reeds in Europa, waar hy die Gesant van die Republiek en gesaghebbendes in die modelleer- en gietkuns in Nederland geraadpleeg het oor sy voorgenome skepping en die maak en giet daarvan. Die Gesant van die Republiek, dr. J.G.T. Beelaerts van Blokland, het beswaar geopper teen die keil op die beeld se kop, omdat dit 'n voortdurende skaduwee oor die figuur se gelaat sou werp en die gelaatstrekke daarvan dan sou verskuil. Van Wouw wou egter onder geen omstandighede toegee nie – dit was vir hom ondenkbaar dat sy hooggeagte president Kruger kaalkop onder die warm son van Afrika sou staan; Transvaalse Boere was feitlik sonder uitsondering hoededraers. Die enigste wenk van die Gesant wat, sover bekend, by Van Wouw aanklank gevind het, was om 'n passende teks op een van die vlakke van die voetstuk aan te bring. Die Gesant het die laaste twee verse van Psalm 91 voorgestel:

"Hij zal Mij aanroepen, en Ik zal het verhooren; in die benauwdheid zal Ik bij hem zijn; Ik zal er hem uittrekken, en zal hem verheerlijken. Ik zal het met langheid der dagen verzadigen, en Ik zal hem mijn heil doen zien."

Volgens die Gesant was dié teks op besondere toepassing van Kruger, maar Kruger was nie gelukkig met 'n lofspraak wat op homself van toepassing is nie, al kom dit ook uit die Bybel. Dit was in stryd met sy lewensopvatting dat alle eer aan God gegee moes word en nie aan die mens nie. Hy het dus die wens uitgespreek dat in plaas van die voorgestelde teks, die woorde van Psalm 105 verse vier en vyf op die voetstuk uitgebeitel word:

"Vraagt naar den Heere en zijne sterkte; zoekt zijn aangezicht geduriglyk. Gedenkt zijner wonderen, die hij gedaan heeft, zijner wonderteekenen, en der oordeelen zijnz monds."

Weens die omstandighede waaronder die monument later opgerig is, is aan hierdie wens egter nooit uitvoering gegee nie en het daar op die voetstuk nooit 'n teks verskyn nie.

Gesoek na gegewens Die standbeeld se voetstuk was egter nie iets waaroor Van Wouw hom aanvanklik verknies het nie: alles wat óp die voetstuk moes staan of daaraan geheg moet word, moes nog gemaak en gegiet word en dit het gou geblyk dat die vorming daarvan moeiliker sou wees as wat hy ooit voorsien het.

Toe Van Wouw moes begin met die modelleer van 'n tipiese Voortrekker wat brandwag staan, het hy tot die ontdekking gekom dat hy nie weet hoe 'n Voortrekker in volle mondering en wapenuitrusting eintlik gelyk het nie. Vir die twee Boere was dit maklik, het Van Wouw gedink: 'n baard, 'n bandelier en 'n Martini Henri-geweer – só het hy hulle gesien sedert sy vestiging in Suid-Afrika. Daar het geen foto's van Voortrekkers bestaan wat hy kon bestudeer nie en goeie beskrywings was yl gesaai. Van Wouw het dus die Regering in Pretoria gekontak en versoek dat hulle 'n volledige Voortrekkermondering, kompleet met kruithoring, sanna en bandelier aan hom stuur sodat hy dit kon bestudeer. Dié soort klere het egter byna nie meer bestaan nie en die Regering het met moeite 'n gedeelte van 'n Voortrekkerkostuum wat in die staatsmuseum van Pretoria was, volledig aangevul met die hulp van mense in die distrik van Rustenburg wat nog oor stukke Voortrekkerklere beskik het.

Nog 'n probleem het ontstaan rondom vier bronspanele wat, volgens Van Wouw se model, op die sykante van die voetstuk, tussen die vier brandwagte aangebring moes word. Dié panele sou vier belangrike gebeurtenisse uit Kruger se lewe uitbeeld. Die eerste sou Kruger as tienjarige kind uitbeeld, as deelgenoot aan die Groot Trek, toe hy nog 'n skaapwagter was van sy vader. Hierdie toneel was vir Van Wouw onmoontlik om te vervaardig, klaarblyklik by gebrek aan gegewens en goeie foto's, en hy het toestemming verkry om dit te vervang deur 'n voorstelling van die vredesluiting in die huis van O'Neill te Laingsnek in 1881. Hier het Kruger (as die Visepresident van die Transvaalse Boere), na die oorwinning van die Boere by Amajuba, die verteenwoordigers van Groot Brittanje die voorwaardes verduidelik waarop die burgers bereid was om die stryd te staak en huis toe te gaan, ter wille van die herstel van die onafhanklikheid van die Republiek wat in 1877 deur sir Theophilus Shepstone in die naam van die Britse Kroon geannekseer is.

Die tweede bronspaneel het ook probleme besorg en was byna deur Van Wouw laat vaar, maar die Staatsekretaris het daarop aangedring dat hy daarmee moes deurdring. Hierdie paneel moes 'n onverskrokke en dapper Kruger op 29-jarige leeftyd uitbeeld, as kommandant van Rustenburg in die oorlog teen Makapaan, waar Kruger, in die slag by Makapaansgrotte alleen tussen die teenstanders ingespring het. Daar het egter ook nie van hierdie gebeurtenis 'n foto of gedetailleerde beskrywing bestaan nie. Die Staatsekretaris in Pretoria het Van Wouw tegemoet gekom deur, teen groot onkoste, 'n ekspedisie, vergesel van 'n fotograaf en 'n ooggetuie van die gebeure, na die grotte te stuur, waar die fotograaf op aanwysing van die ooggetuie 'n stel foto's van die terrein geneem het. Dié foto's, saam met uitvoerige beskrywings van wat elkeen voorstel, is aan Van Wouw in Rome gestuur. Die Staatsekretaris het ook 'n verklaring van die gebeure ingesluit, afkomstig van oud-kommandant Hercules Malan van Rustenburg.